Название | Donderslag |
---|---|
Автор произведения | Wilbur Smith |
Жанр | Исторические приключения |
Серия | |
Издательство | Исторические приключения |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795707551 |
En dan raak Sean se stem sagter. Hy moet aan Saul en aan homself verduidelik. Hy moet hom daarvan vertel, om dit te regverdig en in die groter prentjie in te pas.
Skielik voel hy baie oud en wys. In sy hande het hy die sleutel tot die lewe se geheime. Dis als so duidelik, vir die eerste keer verstaan hy en kan hy dit verduidelik.
Hulle sit naby mekaar in die son, ’n ent van die ander manne af, en Sean se stem raak ’n dringende fluister terwyl hy vir Saul probeer verduidelik, terwyl hy hierdie kennis wat alle waarheid omvat met Saul probeer deel.
Langs hulle lê ’n korporaal, een van die Fusilliers. Hy lê op sy rug, dood, en die vlieë swerm om sy oë en lê hulle eiers. Dit lyk soos klein ryskorrels in die wimpers om sy oop, dooie oë.
Saul leun swaar teen Sean se skouer, nou en dan skud hy sy kop, deurmekaar, terwyl hy na Sean luister. Hy luister na Sean se stem wat hort en stotter, en dan haastig voortgaan soos wat sy idees krummel en vou, hoor die desperaatheid daarin terwyl Sean probeer om net ’n paar stukkies oor te hou van die kennis wat hy oomblikke tevore so helder gehad het. Hy hoor die stem wegsterf en stil raak omdat Sean hartseer besef die insig is verlore.
“Ek weet nie,” erken Sean uiteindelik.
Dan praat Saul. Sy stem is dof en sy oë is glasig, kan nie ordentlik fokus nie, terwyl hy Sean van onder die bloedbevlekte tulband aankyk.
“Ruth,” sê hy. “Jy praat soos Ruth. Partykeer as sy nie in die nag kan slaap nie, probeer sy my vertel. Ek verstaan amper, sy kry dit amper gesê en dan stop sy. ‘Ek weet nie,’ sê sy oplaas. ‘Ek weet eenvoudig nie.’ ”
Sean ruk weg van Saul af, staar in sy gesig. “Ruth?” vra hy sag.
“Ruth, my vrou. Jy sal van haar hou, Sean, en sy van jou. So dapper. Sy het deur die Boerelinies na my toe gekom. Al die pad van Pretoria af, op haar eie. Sy het na my toe gekom. Ek kon dit nie glo nie. Die ganse pad! Sy het eendag doodluiters in die kamp in gestap en gesê: ‘Hallo, Saul. Ek’s hier!’ Sommer net so. Jy sal van haar hou as jy haar ontmoet, Sean. Sy is so mooi, so rustig …”
In Oktober as die groot winde waai, kom hulle ná ’n groot stilte. Vir omtrent ’n maand is dit warm en droog, en dan hoor jy hulle van ver af druis. Die gedruis word harder, die stof warrel bruin voor die wind en die bome leun skeef, swaai en roei met hulle takke. Jy sien dit kom, maar al jou voorbereidings is niks werd wanneer dit jou tref nie. Die ontsaglike dreuning en die stof vou jou toe en jy is stomgeslaan en verblind deur die geweld daarvan.
Net so sien Sean dit kom, hy herken dit as die moorddadige woede wat voorheen amper ’n man se lewe gekos het, maar hy kan hom desondanks nie voorberei nie. En dan is dit op hom en die gedreun daarvan vul sy kop en laat sy visie vernou totdat hy niks anders kan sien as Saul Friedman se gesig nie. Die gesig is in profiel, want Saul kyk terug oor die vlakte na Colenso se kant toe, na die Britse linies.
Sean tel die dooie korporaal se geweer op en lê dit dwars oor sy skoot. Met sy duim druk hy die veiligheidsknip af, maar Saul merk dit nie.
“Sy is in Pietermaritzburg. Ek het verlede week ’n brief van haar af gekry,” prewel Saul, en Sean verskuif die geweer op sy skoot sodat die loop na die kant van Saul se bors mik, onder die arm.
“Ek het haar na Pietermaritzburg toe gestuur. Sy bly daar by haar oom.” Saul lig sy hand en vat aan sy kop. Sean se vinger krul om die sneller. “Ek wens jy kon haar ontmoet, Sean. Sy sal van jou hou.” Nou kyk hy Sean reg in die gesig, sy uitdrukking vol patetiese vertroue. “Wanneer ek skryf, gaan ek haar van vandag vertel, van wat jy gedoen het.”
Sean druk die sneller al die pad tot by die laaste haakplek.
“Ons is albei in die skuld by jou …” Saul bly stil en glimlag verleë. “Ek wil net hê jy moet weet ek sal dit nooit vergeet nie.”
Skiet hom, druis Sean se kop. Skiet hom nou, doen dit gou. Moenie dat hy praat nie.
Dis sy instink se eerste opdrag.
Nou! Doen dit nou! Maar sy snellervinger ontspan.
Hy is al wat tussen jou en Ruth staan. Doen dit, doen dit nou. Die gedruis in sy kop neem af. Die groot wind het verbygegaan en hy kan dit hoor kwyn. Hy lig die geweer en druk die veiligheidsknip stadig na die ander kant toe.
In die stilte ná die wind weet hy skielik dat Saul Friedman van nou af in sy sorg is. Omdat hy so na daaraan gekom het om Saul se lewe te neem, is dit nou ’n ereskuld.
Hy lê die geweer eenkant neer en sluit sy oë uitgeput.
“Ons beter daaraan dink om hier weg te kom,” sê hy stil. “Anders kry ek dalk nooit die kans om daardie geliefde van jou te ontmoet nie.”
16
“Hart het hom lelik vasgeloop!” Generaal sir Redvers Buller se stem pas by sy boepens. Hy leun skoon agteroor om die lang teleskoop voor sy oog te balanseer. “Wat dink jy, Courtney?”
“Wel, hy het seer sekerlik nie die drif bereik nie, generaal. Dit lyk my hy word by daardie kronkel van die rivier vasgepen,” stem Garry saam.
“Verdomde vent! My bevele was tog duidelik,” brom Buller. “Wat kan julle uitmaak van die kanonne – sien julle enigiets daar?”
Die hele groep offisiere swaai hulle teleskope na die dorp se kant toe waar Colenso se sinkplaatdakke, dof tussen al die stof en rook, bo die doringbome uitsteek.
“Ek kan nie …” begin Garry, en wip dan van die skrik toe die 4.7-vlootkanon in die stelling langs hulle knal. As hy maar net geweet het wanneer dit gaan kom, dink Garry, en hop weer toe die volgende skoot dawer.
“Hulle word nie beman nie,” onderbreek een van die ander stafoffisiere.
Garry is jaloers op sy kalm houding. Hy het die ritteltit so erg dat hy hard met albei hande moet klem om sy verkyker op die dorp gefokus te hou. Elke keer as die vlootkanon skiet, skop dit so erg dat die stof op hulle neersif. Die son is fel en hy is dors. Hy dink aan die fles in sy saalsak en die kanon se volgende skoot vang hom onverhoeds. Hierdie keer lig albei sy voete van die grond af.
“… Stem jy saam, Courtney?” kom Buller se stem.
Hy het nie die vraag se eerste helfte gehoor nie. “Inderdaad, generaal.”
“Goed so.” Die generaal wend hom tot sy adjudant. “Stuur ’n ruiter na Hart toe. Sê hom hy moet so gou moontlik terugtrek, voordat hy te veel verliese ly. So gou as wat jy kan, Clery.”
Op daardie oomblik maak Garry ’n merkwaardige ontdekking: Agter die ondeurdringbare masker van sy gesig met die manjifieke silwer moestas, agter die uitdrukkinglose uitpeuloë, is generaal sir Redvers Buller net so verskrik en onseker soos Garry Courtney. Die manier waarop hy gedurig by Garry kers opsteek bewys dit. Natuurlik kom dit nie by Garry op dat daar ’n ander rede kan wees waarom Buller heeltyd sy mening vra eerder as die ander stafoffisiere s’n nie, naamlik dat Buller uit hierdie oord op blindelingse ondersteuning kan staatmaak.
“Dis dan dit vir die linkerflank.” Buller is kennelik verlig oor sy besluit. Dan begin hy met sy teleskoop regterkant toe kyk, na die lae, ronde bult van Hlangwane-koppie. “Dit lyk of Dundonald sy kant bring.” Vroeër het lustelose geweervuur en pom-poms van die regterflank af opgeklink. Nou is dit stil.
“Maar die middel …” Asof hy die oomblik uitgestel het, wend Buller hom oplaas tot die hel van stof en vlamme en skrapnel wat Colenso omhul.
“Kom saam.” Hy klap sy teleskoop toe. “Ons beter van nader gaan kyk wat hulle daar vermag het.” En hy lei sy staf terug na die perde toe. Garry hink langs, hom, versigtig dat niemand sy plek langs die generaal oorneem nie.
By Lyttelton’s Brigade se hoofkwartier, in ’n diep donga sowat ’n halfmyl duskant die dorp se eerste geboue, vat dit Buller ’n halfminuut om uit te vind wat hulle uitgerig