Название | City Girl en die swart hings |
---|---|
Автор произведения | Marga Jonker |
Жанр | Учебная литература |
Серия | |
Издательство | Учебная литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624069249 |
“Onthou, wat ook al, waar ook al, lyk net asseblief altyd op jou beste – mens weet nooit wanneer jy ander Populars ontmoet nie.” Dit is Chané se motto.
Chané het ’n stelsel uitgewerk waarvolgens sy mense klassifiseer. Die Populars is die cool mense in die lewe, die mense met wie hulle wil vriende wees. Die middelgroep is die tusseninmense met wie jy maybe vriende kan wees, maar nie sommer nie. Laastens, volgens Chané, kry mens die No-potential-groep. Die IGNORE them!-groep.
Chané self is ’n Popular, terwyl Nicole en Monique eintlik in die middelgroep was. Noudat sy en Monique met Chané maats is, kan hulle, danksy haar, toenemend pouses in die Popular-groepies gesels. Chané meen sy en Monique moet baie dankbaar wees dat sy hulle van die netbalbaan af kom red het waar hulle tot onlangs toe nog tussen die gewone gemiddelde kinders pouse gehou het. Danksy Chané het sy en Monique hierdie kwartaal baie nuwe vriende gemaak.
Maar sy en Monique mis pouses vir Barry. Barry en Chané sit nie langs een vuur nie. Barry het eenkeer vir Chané gesê sy skeep haar perd af en sy kan maar netsowel ophou perdry, want Johnny rig in elk geval haar perd vir haar af.
Tannie Pollie het gisteraand verduidelik dat haar huis gebou is lank voordat elektrisiteit beskikbaar was. Toe sy uiteindelik wel krag gekry het, het sy nie gedink aan rekenaars en haardroërs nie. “Jy moet maar jou hare hier in die kombuis droogblaas.”
Sy het darem uiteindelik ’n oop prop gekry om haar haardroër by in te prop tussen die kraaines van verlengkoorde onder die tafel met die ou rekenaar daarop.
“Pirr-miaau, pirr-miaau!”
Nicole vryf die kat se kop en hy druk sy snor teen haar hand met ’n sterk kopstampbeweging. Hy spring van die spieëlkas af en hardloop tot by die toe deur. Daar druk hy met sy voet teen die deur.
“Pirr-miaau!”
Die gemmerkat hardloop voor haar uit toe sy die kamerdeur vir hom oopmaak. Hier is nie ’n mens in die huis nie, ook nie die Jack Russelltjies, Jors en Buks, of die beeshond Nero nie. Gisteraand kon sy tot laat in die nag haar ma en tannie Pollie se stemme hoor. Nou is daar geen stemme nie.
Dalk is hulle in die kombuis? Maar dis ook leeg. Daar is nie briefies op die tafel nie, daar is geen teksboodskappe op haar foon nie. Daar is nie ontbyt nie. Die kombuis is netjies opgeruim en dit lyk nie of enige iemand al vanoggend hier geëet het nie. ’n Foto van ’n dolfyn met ’n kort neus en ’n wit kol op sy sy verskyn op die rekenaarskerm toe sy die muis ’n draai gee.
Die vorige twee dae het haar ma elke uur van die dag gereël en beplan en vertel wat hulle gaan doen. Haar ma was soos hulle graadhoof by die skool: alles word die hele tyd haarfyn gereël en gereguleer.
Sy het ’n SMS vir elke dag se planne op haar foon ontvang. Maar vanoggend, in hierdie verlate, vreemde plaashuisie, los haar ma haar sommer net alleen, sonder ontbyt! Daar is iets wat lyk soos ’n rou pastei in die yskas, toegemaak met kleefplastiek. Die kat spring op die tafel. Hy hou haar dop. Sy klap die yskas se deur toe.
“Primm-miaau,” roep Gemmerkat en hardloop stert in lug by die kombuis uit, deur die sitkamer met die regop stoeltjies en gehekelde kussinkies, deur die oop voordeur tot op die potplantjie-stoep.
Die stoep kyk uit oor ’n helder horison: ’n oopte sonder enige ander huise naby, net ’n grondpaadjie wat deur ’n plaashek uitrol tot teen wit sandduine met vaalgroen duinegraspluime. Agter die duine steek die see uit soos ’n blou koki-streep.
’n Groepie ruiters met hulle perde kom rustig aan in die grondpad. Gemmerkat spring op die lae stoepmuurtjie en begin sy poot lek. Daar is twee donkerbruin perde voor in die middel van die pad en ’n bont bruin-en-wit pinto op ’n pronkerige kortgang agter hulle.
Nicci staar die aankomende ruiters ongelowig aan. ’n Mirage uit ’n cowboy movie? Al die ruiters dra jeans, geruite hemde en cowboy-hoede. Groot Stetsons. Hulle sit in Westerse saals, lui agteroor met hulle Westerse-styl rystewels vorentoe uitgestrek. Hierdie plek is sowaar vreemd …
3
Weskus-cowboys
“Haai daar!”
“Hallo, hallo!”
“Is jy Nicola?”
“Nicole.”
“Hallo, Nicole, ek is Liesie,” sê die vriendelike meisie op die bont perd. “Dis my broers, Leon en Louis.”
Sy ry met haar perd tot teen die stoep en die pinto rek sy nek om nuuskierig aan Nicole se hand te ruik. Sy kan sommer sien dit is ’n rustige perd wat van mense hou – dalk ’n boerperd, maar sy is nie seker nie. Al hou sy nie van die cowboy-rystyl nie, kan sy nie help om al drie die perde te bewonder nie. Die twee grotes moet boerperde wees.
Die ouens wat afklim, is ’n tweeling, en hulle perde lyk ook identies. Nicole staar na die lang, benerige lywe. Sy kan nie glo daar is nog tweelinge wat glo hulle moet eenders aantrek nie. Freaky, hulle het nog moeite gedoen om vir hulle twee eenderse perde ook te kry.
Sy kan Chané se stem hoor: “Nie middelstroom nie, nie naby populêr nie. Ignoreer, ignoreer!” Chané sou hierdie twee ouens nie eens gegroet het nie en gemaak het of sy dwarsdeur hulle kyk.
Die twee haal hulle breërandhoede af en stap by die stoeptrappies op om haar te groet. Hulle los hulle perde net so sonder om hulle iewers vas te haak. Die twee bruin perde spits hulle ore en hou die twee broers dop wat haar hand plegtig kom skud.
“Louis,” sê die eerste een met ’n vriendelike glimlag.
“Leon,” sê die tweede een ernstig en gee haar ’n ferm handdruk.
Liesie swaai van haar perd af en kom ook nader om Nicole se hand te skud.
Whatever. Sy skud hulle hande asof sy dit elke dag doen. Liesie het ’n mooi glimlag. Sy is ook lank, maar nie so skraal en benerig soos haar broers nie. Dit lyk of sy die oudste kan wees.
“Ek hoor jy is ons niggie,” sê een van die tweeling.
“Julle niggie?”
Genade. Liesie, Leon en Louis, die vrolike Weskus-cowboys. Dit kan nie wees dat sy hulle niggie is nie.
“Niggie? Hoe kan ek julle niggie wees?”
“Nee, Louis het dit verkeerd. Jy is ons agterkleinniggie,” verduidelik Liesie.
“Hoe werk dit, kry mens so iets?”
“Ons oupa en jou oorlede ouma was niggie en neef,” sê Louis of Leon.
“Jou ma en ons pa is kleinniggie en kleinneef,” sê die ander een.
“So ons is jou agterkleinniggie en agterkleinneefs, dalk nog aangetroude agterkleinniggie en agterkleinneefs,” verduidelik Liesie.
“Dit beteken maar net ons is ver-verlangs familie van mekaar,” sê Louis of Leon. Dit klink nie asof hy baie waarde heg aan dié familieband nie.
“Ek hoor jy kan so goed perdry?” sê-vra Liesie.
“Jy lyk nie aangetrek vir perdry nie, en Hanz het vir jou sy beste merrie gegee,” sê een van die tweeling.
Hier kom dit nou, dink Nicole. Die perd met die drie bene waaroor Ouma Grace so gespot het. Sy voel nie juis lus vir ’n vreemde perd nie, maar as die perd soos een van dié drie cowboys se perde lyk, sal hy seker nie te sleg wees nie.
“Luister,