City Girl en die swart hings. Marga Jonker

Читать онлайн.
Название City Girl en die swart hings
Автор произведения Marga Jonker
Жанр Учебная литература
Серия
Издательство Учебная литература
Год выпуска 0
isbn 9780624069249



Скачать книгу

hol asof hulle so pas die geheim van alle vreugde ontdek het.

      Nicole staar verstom na die huisie. Kan dít wees waar sy die vakansie moet kuier? By ’n tannie skaars langer as ’n dwergie en met ’n gesig soos Liewe Heksie wat in ’n sinkdakhuisie woon? Hoe gaan hierdie plekkie vergelyk met Chané se Mauritius-foto’s! Of met Monique se perdrykursus by Golden Acres, dié perdryklub van Pretoria. Nicole laat sak haar kop in haar hande. Sy is gedoem, hierdie vakansie gaan haar naam ruk.

      2

      Die stertkant van die aarde

      Nicole word uit ’n diep slaap wakker van die son wat deur die gordynlose vensters skyn. Sy maak haar oë stadig oop, maar bly roerloos lê. Haar lyf en hande voel traag om te beweeg. Deur die slaap kyk sy om haar rond.

      Die bed het ’n dakkie waarvan die boonste deel versier is met valletjies, asof die bed ’n rok dra.

      “Dis ’n hemelbed,” het haar ma gisteraand gesê.

      “Help! Ek is nog steeds in die boeremuseum,” fluister Nicole vir haarself terwyl sy regop sit, nou helder wakker. Sy rek na die spieëlkassie toe vir haar selfoon. Agtuur.

      “Ek sal nie foto’s van hierdie plek op ons blog kan sit nie,” sê sy vir die stilte in die kamer.

      Gelukkig was die troue darem asemrowend genoeg vir Chané se spog-blog.

      Claire se bruiloffotograaf het ’n blog waar sy die bruid en bruidegom se verlowingsfoto’s, die onthaal- en troudagfoto’s saam met die troupaartjie se romantiese storie plaas. Nicole was deel van die romantiese blogstorie wat die fotograaf geskryf het en Monique en Chané is ook genoem.

      “Moet ons nie ook ’n blog begin nie?” het Monique een middag gewonder nadat hulle weer hulle rokke moes gaan pas.

      “Absoluut ’n fantastiese idee, Moni!” het Chané saamgestem.

      “Ja, ons kan dit die Ruitersblad-blog noem,” het Nicole gesê. “Ons kan die ruiterklub se perde en die interskole-skouspringuitslae daarop blog.”

      “Vervelig! Nee, Nicole, nie ’n perde-blog nie. Ons wil nie net vir ons perdryvriende blog nie, dit moet ’n baie beter naam hê. Iets sensasioneel!” het Chané gesê. “Niemand in graad 9 in Hoërskool Jakaranda het so ’n blog nie, ons kan regtig iets spesiaals begin.”

      Nicole het met ’n internetsoektog begin. Sy was vies oor Chané nie van haar idee gehou het nie, want sy sou graag haar perdefoto’s op die blog wou plaas. Bárry meen haar perdefoto’s is besonders.

      “Ons noem ons blog Populars’ corner!” het Chané opgewonde verklaar.

      Monique was ewe opgewonde. “Só ’n blog sal gons en almal in die skool sal weet wie ons is. Ons kan dit as ’n CV gebruik, ’n tipe advertensie vir as ons vir die leerderraad wil staan!”

      “Soos ’n Amerikaanse verkiesingsveldtog?” het Nicole gewonder.

      “Monique, jy is ’n genius! Ons kan in ons toesprake verwys na ons blog, nes Amerikaanse tieners,” het Chané geborrel asof sy reeds aan haar toespraak begin skryf het.

      Sy het haar skooldagboek uitgehaal en na die vakansiedatums geblaai. “Kom, vriendinne, uit met die dagboeke. Skryf!” Chané het haar pen met die geveerde pienk tosseltjie soos ’n dirigeerstokkie deur die lug geswaai.

      Vakansie: Blog-huiswerk: Populars’ corner.

      • Maak ’n blog. Bloggers.com of WordPress. Dankie, Monique!

      • Versamel inligting en kry dit gereed om op die blog te plaas. Charné, Monique en Nicole. Stories en foto’ s. NB: Versigtig, Nicole, net nie nog perdefoto’ s nie! Perdryfoto’ s van ons skool se skouspring kan onder die sportafdeling kom.

      • SMEL : Slim, Modieus, Eksoties en Luuks.

      “Girlfriends, ons moet wakker wees, let op hoe julle iets oorvertel. Hierdie blog moet spoggerig wees. Ons kan mekaar met een afkorting op koers hou: SMEL – ons eie akrom- … mononiem.”

      “Akroniem,” het Monique gehelp.

      “Ja, dit is die woord, akroniem: Slim, Modieus, Eksoties en Luuks!”

      “Ons moet nog ’n ‘L’ bysit,” het Nicole gesê. “Mens spel smell mos met twee l’e.”

      “Ek weet, maar hierdie is net ons akromononiem. Met een L.”

      “Akroniem,” het Monique weer gehelp. “Ek stem saam, niemand moet dink ons kan nie spel nie.”

      “Ja, whatever, nog ’n L dan,” het Chané ongeduldig toegegee.

      “Vir Liefde,” het Monique voorgestel.

      “Of Leierskap?” het Nicole gevra.

      “Goed, ons sê dit is vir leierskap, maar ons drie weet dit kan ook vir liefde staan, mens weet nooit watter potensiaal ’n vakansie kan oplewer nie,” het Chané haar goedkeuring aan beide Monique en Nicole se voorstelle verleen.

      Hulle het almal gelag en saamgestem: die ekstra L van SMELL staan eintlik vir Liefde, soos in ’n vakansieromanse.

      “Slim, Eksoties, Luuks en Leierskap – of Liefde.”

      “Populars’ corner gaan dié blog wees wat alle graad 9’s in Hoërskool Jakaranda gaan wil lees,” het Monique verklaar.

      “SMELL! Ruik die geur van ons fantastiese blog. Lees hier hoe gewildheid rock! Populars’ corner – dié graad 9-blog!”

      Nicole sug en sak terug teen die roomkleurige kussing van die hemelbed met die valletjiesdakkie. Kyk waar sit sy nou: in haar ma se vreemde tannie se plaashuisie – ’n tannie en ’n huisie wat nou nie juis by Chané se SMELL-tema inpas nie. Chané sal haar neus vir dié plek optrek. Nie Monique nie; Monique en haar ma hou van outydse meubels. Maar Ouma Grace sou saam met Chané baie te sê gehad het oor dié huisie.

      Daar is net een badkamer wat sy met haar ma en tannie Pollie moet deel. Die badkamer is langs die kombuis; jy moet deur die kombuis stap om daar te kom. Die koue, harde bad voel soos ’n Voortrekker-blikbeker en die water kom in ’n dun straaltjie by ’n gas-waterverwarmer uit.

      ’n Paar voëlgeluide wat van buite af opklink, is al teken van lewe om die stil huis. Verder is dit so stil dat haar ore suis.

      “Eendag gaan die ruimtemannetjies kom en al die groot susters in ’n spaceship laai en hulle na ’n ander planeet in die ruimte toe vat, vir altyd,” vertel Monique se boetie Werner graag. Hy is vyf jaar oud en baie lief vir stories oor ruimtewesens. Hy dreig graag vir haar, Chané en Monique met die wrede aliens as hy nie in Monique se kamer mag inkom nie.

      Nicole vryf oor haar oë.

      “Ai, Monique, jou stoutstertboetie was reg. Ek voel of ek in ’n ruimteskip weggevoer is.”

      Of is sy dalk met ’n tydmasjien die verlede in geslinger? Sy verlang na Monique, Chané, haar pa en Ouma Grace. En na Shadow.

      Daar is houthortjies voor die skuifraamvensters wat jy soos deurtjies oop- en toemaak pleks van gordyne. Sy moet onthou om dit vanaand toe te maak sodat die son haar nie weer so vroeg wakker maak nie. Dan kan sy elke oggend tot tienuur, elfuur slaap en is ’n groot deel van die dag klaar verby teen die tyd dat sy opstaan.

      ’n Gemmerkat sit vir haar en kyk van die spieëltafel af. Dit lyk of daar ’n hele trop rooi streepkatte daar sit soos die verskillende vlakke van die spieëls hom weerkaats. Die kat kyk beïndruk na sy spieëlbeeld, ’n weermagpeloton van homself.

      Nicole trek vinnig aan: haar nuwe Sissy Boy-jeans, swart tekkies, turkoois