Название | Sêgoed met slaankrag |
---|---|
Автор произведения | George Claassen |
Жанр | Руководства |
Серия | |
Издательство | Руководства |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624063193 |
Sêgoed
met slaankrag
3 000+ van die slimste,
snaaksste en soms onnoselste
Suid-Afrikaanse aanhalings
GEORGE CLAASSEN
Tafelberg
Oor die uitleg
Die uitleg van aanhalings in hierdie digitale uitgawe van Sêgoed met slaankrag mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op veral die gedigte.
Voorwoord
“Al te veel woorden versmoren de waarheid,” het die Vlaamse priester-digter Guido Gezelle beklemtoon; in dié versameling van wat Suid-Afrikaners oor meer as drie eeue in woorde vasgevang het, bly Gezelle se woorde jou by omdat so ’n byeenbring van sêgoed, soms swaarwigtig in digterlike formaat, spottend, kru, kwytgeraak in die hitte van die stryd om gehoor te word, of verskietend in die hemelruim van ’n era, net spatsels van ’n tyd kan weergee. Konteks moet behoue bly sonder om ’n frase of paragraaf ellelank uit te rek, dus ’n delikate balans om die woorde van die verlede steeds relevant te maak vir die eeu van die internet met sy woordvlugtige oppervlakkigheid.
En dan is daar die probleem van woordbeperkings wat die uitdaging om te ontkom aan Shakespeare se “Words, words, mere words, no matter from the heart”, soveel uitdagender maak, verder ook met Horatius se Sunt verba et voces, praetereaque nihil, daar is die woorde en stemme en niks meer nie, in gedagte.
Wat dan hier aangebied word, is hopelik meer as net woorde en stemme omdat dit iets van die tydsgees van Suid-Afrika en sy mense reflekteer. Dit maak nie aanspraak op ’n volledig geskilderde portret nie, maar eerder kwashale wat die buitelyne van ons samelewing probeer uitbeeld.
Wat onteenseglik blyk uit die woorde hier aangehaal, is dat Suid-Afrika geen vervelige land is nie. Dit rumoer, vibreer, stu opdyend en sing in woorde, dit jubel en treur en raak sentimenteel, befoeterd, beledigend, wysgerig.
Wie sal in enige ander land wil woon as jy na hierdie woorde van sy mense kyk?
My dank aan die twee Annies, Olivier en De Beer, wat as redakteurs met geduld gewag het dat hierdie versameling beslag kry. Maar ook aan Linette Viljoen met wie ek al oor jare as redakteur en skerp leser kon saamwerk.
GEORGE CLAASSEN
Somerset-Wes en El Vicario, Andalusië, Maart 2014
Opgedra aan my pa, George,
en my ma, Nella,
mense van die boek.
Afrika en Afrikane
Seën ons Here God, seën Afrika.
Laat sy mag tot in die hemel reik,
Hoor ons as ons in gebede vra,
Seën ons in Afrika,
Kinders van Afrika.
ENOCH SONTONGA,
onderwyser, koormeester en komponis,
“Nkosi sikelel’ iAfrika”, 1897
Ontsaglike geduld: Afrika se beste kenmerk,
en sy ondergang.
DENIS BECKETT,
joernalis en redakteur van Frontline (1979–1991)
Daar is nie iets soos Afrika-tyd nie; daar is wel iets soos
om ander se tyd te mors.
JONATHAN JANSEN,
onderwyskundige, Briewe aan my kinders, 2012
Die hergeboorte van Afrika beteken dat ’n nuwe en unieke beskawing binnekort tot die wêreld gevoeg sal word. Die Afrikaan is nie ’n proletariër in die wêreld van wetenskap en kuns nie. Hy het kosbare skeppings van sy eie, van ivoor, koper en goud, vergulde houtwerk en wapens van superieure vakmanskap. Beskawing trek na ’n organiese wese in sy ontwikkeling – dit word gebore, dit sterf en dit kan homself voortplant. Meer nog, dit is soos ’n plant, dit skiet wortel in die vrugbare aarde, en wanneer die saad op ander grond val, ontspring nuwe variëteite. Die wesenlikste onderskeiding van hierdie nuwe beskawing is dat dit diepgrondig spiritueel en humanisties sal wees – inderdaad ’n morele en ewige hergeboorte!
PIXLEY KA ISAKA SEME,
stigterslid van die South African Native National Congress
(later die ANC), prokureur, koerantuitgewer en president-generaal
van die ANC, 1906
Ons kontinent is een van opstand teen onderdrukking. En vrede en revolusie is ongemaklike bedmaats. Daar sal geen vrede wees totdat die magte van onderdrukking omvergewerp is nie . . . Maar nou stoot die revolusionêre beroerings van ons kontinent die verlede opsy. Ons mense van oraloor die kontinent, van noord tot suid, herwin hulle grond, hulle reg om deel te hê aan regering, hul waardigheid as mense, hul nasieskap. So word te midde van die onrus van revolusie die grondslag vir vrede en broederskap in Afrika deur die opstanding van nasionale soewereiniteit en onafhanklikheid herstel, van die gelykheid en waardigheid van die mensdom.
ALBERT LUTULI,
ANC-president en wenner van die Nobelvredesprys, in sy Nobelprystoespraak,
Oslo, 11 Desember 1961 1
. . . laat my Afrika uitnooi om verby die verlede te kyk en selfs die hede, met hul smarte en beproewings, swaarkry en mislukkings, en etlike suksesse, en homself te sien as ’n ontluikende kontinent wat deur die skulp van eeue se slawedom tot vrede uitbars. Dié is Afrika se tyd – die dagbreek van sy vervulling, ja, die oomblik dat hy moet stoei met die noodlot om die pieke van verheerliking te bereik, en sê: Ons geveg was een vir edel waardes en loflike doelstellings, en nie vir grondgebiede en die verslawing van die mensdom nie.
ALBERT LUTULI,
Oslo, 11 Desember 1961
. . . die mense van Afrika is keer op keer vertel dat hulle babas is, dat hulle ’n minderwaardige ras is, dat hulle nie enigiets waardevols op hul eie kan bereik of sonder ’n wit man as hul ‘trustee’ of ‘leier’ nie. Dié verraderlike voorstelling het hul verstand vergiftig en gelei tot ’n patologiese ingesteldheid. Daarom het die Afrikaan sy verdienstelike kwaliteite van selfrespek, selfvertroue en selfstandigheid verloor of is besig om dit te verloor. Selfs in die politieke wêreld is beweer dat Afrikane nie hulself kan organiseer of enige vordering kan maak sonder wit ‘leiers’ nie. Nou staan ek vir die opstand teen hierdie sielkundige verslawing van my mense. Ek streef na die uitwissing van hierdie ‘Ja-Baas’-mentaliteit, wat vir eeue sistematies en subtiel in die koppe van Afrikane ingeplant is.
ANTON LEMBEDE,
regsgeleerde en ANC JEUGLIGA-stigterslid en -president, 1941