Название | Die Afrikaners |
---|---|
Автор произведения | Hermann Giliomee |
Жанр | Историческая литература |
Серия | |
Издательство | Историческая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050759 |
Gemengde huwelike, wat aanvanklik redelik algemeen voorgekom het, het van ongeveer 1725 afgeneem. Europese vroue kon hul relatiewe posisie van mag gebruik om hul mans en hul seuns te verhinder om vaste verbintenisse oor die kleurgrens heen met slawe en vryswartes aan te gaan. ’n Europese man het eerder ’n oujongkêrel gebly as om te trou met ’n vrou wat nie as Europeër aanvaar is nie. ’n Studie van 1731 se sensus wys dat 59% van Kaapstad se Europese mans en 51% van dié in die landelike Wes-Kaap nooit getrou het nie. Dit het ook baie moeiliker geword vir kinders van gemengde huwelike, veral seuns, om in die Europese gemeenskap opgeneem te word.
’n Vergelykende perspektief werp lig hierop. Die sterk posisie van die vrou in Holland en ook aan die Kaap was waarskynlik ongeëwenaard in die Weste (as die agtiende-eeuse Kaap as deel van die Weste beskou kan word). Aan die Kaap het die Romeins-Hollandse reg van die provinsie Holland gegeld. Volgens Andreas van Wyk was hierdie reg, saam met die reg in Portugal, die enigste regstelsel in Europa wat die beginsel van die gemeenskap van goedere as die basis van eiendom in die huwelik erken het.
Die Romeins-Hollandse reg was in die algemeen meer liberaal as enige reg wat in ander Europese kolonies gegeld het. Skeiding van bed en tafel of ’n egskeiding kon aangevra word op grond van owerspel. By egskeiding het die vrou kragtens die Romeins-Hollandse reg die helfte van die boedel gekry. Die vrou kon alle roerende eiendom wat die eggenoot aan ’n bywyf of minnares geskenk het, van die hand sit. By afsterwe van die man het die vrou die helfte van die boedel geërf en die seuns en dogters die ander helfte.
Die vrou het volgens die Romeins-Hollandse reg die kontraktuele vermoë gehad om ’n beroep te beoefen en sake te doen sonder haar man se verlof. In die sewentiende eeu was vroue in Nederland ten nouste verbonde met hul mans se werk as dié ’n onderneming gehad het of ’n handelaar was. Die reg het egter geen perke geplaas op die man se mag om gemeenskaplike goedere van die hand te sit nie.
Waar vroue volgens die Romeins-Hollandse reg eiendom gedeel het wat in die huwelik ingebring is, het die man in die Amerikaanse kolonies die eienaar van die vrou se roerende goed geword en sy het alle aanspraak daarop verloor, selfs al het sy hom oorleef. Edmund Morgan, ’n kenner van die vroeë Amerikaanse geskiedenis, stel dit so: “Women were excluded from any share in formal public power and even in the privacy of the family a woman’s very identity was subsumed in her husband’s; any property she brought into the marriage was his, any debt she owed was his, almost any tort she committed was his.”
Anders as die Katolieke Kerk het die Gereformeerde Kerk egskeiding toegelaat, maar egskeiding was nie maklik nie. Sowel die kerk as die staat was sterk daarteen gekant, aangesien albei die huwelik as die hoeksteen van ’n geordende samelewing beskou het. Nigel Penn het vertel hoe die brouer Willem Mensinck vroeg in die agtiende eeu sy vrou getreiter het deur voortdurend met die slawe in die huishouding buite-egtelike verbintenisse te hê. Sy kon nie ’n egskeiding kry nie. Dit wil voorkom of hy spesiale beskerming van mense met gesag gehad het.
Effens meer as ’n eeu later was daar die geval van Abraham Carel Greyling, wie se vrou hom verlaat het nadat Clara, hul slavin, die lewe geskenk het aan ’n baba wat sy vermoed het deur Abraham verwek is. Greyling het die skuld op sy seun probeer afskuif, maar sy vrou het ’n egskeidingsbevel en ’n skikking ten opsigte van die gemeenskaplike boedel verkry.
Europese vroue aan die Kaap was in die praktyk daartoe in staat om hul seuns te verhinder om met slawe of vryswartes te trou. Terselfdertyd het getroude mans gou besef dat om hul basterkinders by slawevroue in die familie op te neem daartoe kon lei dat hul vroue regstappe doen. Kinders wat buite die huwelik deur ’n Europese vader verwek is, was in ’n swak posisie. Hulle kon geen aanspraak op hul vaders se boedels maak nie. “De Bastaard heeft geen vader of erfenis”, was die bepaling van die wet, en behalwe in die geval van ’n spesifieke bemaking het so ’n kind niks geërf nie.
Weduwees wat eiendom geërf het, het ’n sterk posisie beklee. Daar was in die Kaap amper ’n soort “weduwee-heerskappy”. ’n Weduwee met eiendom kon die opsies vir haar volgende huwelik soos ’n skerpsinnige moderne beleggingsbestuurder oorweeg. Baie weduwees het verskeie kere getrou en party het ’n klein fortuin opgebou.
In Kaapstad was daar geen skerp omlynde wit gemeenskap nie. Die arm burgers en vryswartes het deurmekaar gewoon. Die 1732-sensus dui ongeveer ’n tiende van die Europese bevolking in die Kaap as arm en hulpbehoewend aan, terwyl die proporsie op Stellenbosch selfs een vyfde was. Die amptenare het dikwels met kommer opgemerk dat van die arm burgers saam met slawe drink en dobbel. Die slawelosie in Kaapstad is gebruik as ’n bordeel nie net deur soldate en matrose nie, maar ook deur die burgers en Kompanjiesdienaars in die laer range.
Teen die 1770’s was 13% van die vrye bevolking in Kaapstad vryswartes, wat betreklik hoog was vir slawebesittende gemeenskappe (op die platteland was dit veel laer). As mense wat voorheen slawe was, is hulle beskou as bevryde mense eerder as vryburgers. Party van die vryswartes is in die dominante groep opgeneem, en dit het veral gebeur as hul vaders invloedryk was of as hulle meisies met ’n ligte vel was. Die mag en die status van so ’n tussengroep is bepaal deur die vermoë van die ekonomie om werk in die tussenposisies van die ekonomie te genereer – daardie poste wat lede van die dominante groep nie wou vul nie en wat terselfdertyd nie vir slawe geskik was nie.
Om dit te illustreer, kan ons die Kaap vergelyk met ’n streek soos Pernambuco in Brasilië, waar ’n groot aantal slawe bevry is om soldate, ambagslui, winkeliers en slawe-opsigters te word. ’n Aansienlike deel van die swart mense wat vry was en nie brandarm nie, het ’n prominente deel van die samelewing geword. Hulle het ’n brug gevorm tussen die meer welgestelde wit mense en onvrye swart mense. Op hierdie wyse het ’n samelewing ontwikkel wat later meer op klasseverskille as rasseverskille berus het.
Dit het nie aan die Kaap gebeur nie. Hier het slawe die meeste ambagte in die eenvoudige ekonomie beklee. Die tussenposisies wat vir vryswartes beskikbaar was, was min en het niemand welgesteld gemaak nie. Boere het nie slawe bevry om as slawe-opsigters te dien nie. Teen die einde van die sewentiende eeu het verskeie vryswartes in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch geboer. Teen 1710 het die meeste egter na Kaapstad teruggekeer. In die landelike Wes-Kaap was daar ’n skerp kloof tussen burgers en slawe en tussen mense wat wit was en diegene wat nie wit was nie.
Die meeste mans het hulle met hul vroue in ’n nuwe gebied gevestig of kort daarna getrou. Tog was daar genoeg Europese mans wat ongetroud gebly het om ’n spesiale kategorie, genaamd “eenlopendes”, te vorm. Volgens een skatting het ’n tiende van die grensboere met ’n nie-Europeër getrou of met so ’n vrou saamgeleef. In die eerste dekade van die negentiende eeu was die opvallend gemengde huwelike in die distrikte Graaff-Reinet en Tulbagh slegs 3% en 1% onderskeidelik van die totaal. Sommige grensburgers het met inheemse vroue saamgeleef; die bekendste was Coenraad de Buys, ’n Hugenote-afstammeling. Maar hulle was uitsonderings, en mans wat ’n vaste verbintenis met ’n swart of bruin vrou aangegaan het, is gewoonlik nie ten volle in die burgergemeenskap opgeneem nie.
Klein bastergemeenskappe het in die grensgebiede in die Noordweste gewoon – Namakwaland, die Sederberge, Bokkeveld, Hantam en Roggeveld – en aan die oosgrens. Hulle was gewoonlik mense wat uit die gevestigde gebiede uitgedruk is. Burgers het sonder uitsondering die sterkste aanspraak op grond gehad en ook beter toegang tot die veldkornette, wat geskille besleg het. Die reisiger Heinrich Lichtenstein het opgemerk: “[The] white children of the colonists did not hesitate to make use of the right of the strongest to drive their half yellow relations out of the places where they had fixed abodes. These bastard Hottentots were then obliged to seek an asylum in more remote parts.”
Basters en ander mense van gemengde oorsprong het eers na die buitewyke van die kolonie getrek en later verder weg. Onder hulle was die belangrikste groep die mense van Adam Kok, ’n vryswarte wat daarin geslaag het om burgerregte te verkry en ’n bastergemeenskap in die noordwestelike deel van