Название | Wie met vuur speel |
---|---|
Автор произведения | Deon Meyer |
Жанр | Ужасы и Мистика |
Серия | |
Издательство | Ужасы и Мистика |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624056324 |
Maar hy gaan nie ’n venster oopmaak nie. Hy gaan sy eie venster maak. Hy bêre die spieël in die sak en laat die glassnyer weer sy fyn geluid teen die ruit maak. Dié keer sny hy ’n groot ronde gat waardeur hy sal kan klim. Weer druk hy die glas na binne, waar dit stil op die mat kan val. Hy klim in.
Hy het ’n foto van die Vermeer gememoriseer. Diensmeisie in die kombuis, noem hulle dit. Meer as driehonderd jaar oud en, met die huidige wisselkoers, ’n hele paar miljoen rand werd.
Dit hang nie teen die sitkamermuur nie.
Opstandig besef hy: Hoe langer hy in die huis deurbring, hoe groter is die kans dat hy betrap gaan word.
Boonop sal hy nou die ultrasoniese sensor van elke vertrek buite werking moet probeer stel – sonder die hulp van ’n venster wat as skans tussen hom en die klankgolwe dien.
Dit neem kosbare minute met die loerspieëltjie om agter te kom dat geen sensor die gang bewaak nie. Natuurlik. Te veel deure wat in ’n ligte briesie kan beweeg en ’n vals alarm kan maak. Hy beweeg versigtig in die gang af. Die volgende moontlike hangplek van die Vermeer is in Spano se studeerkamer. “Hy het dit laat steel om dit te kan geniet. Dit sal iewers hang – kyk eers in die sitkamer. Spano sal dit nie kan weerstaan om daarmee te spog nie,” het Smittie geredeneer.
Nie die sitkamer nie, Smittie. Spano kon die verdomde skildery opgerol in sy brandkluis toegesluit het.
Die studeerkamer se deur is toe. Dit beteken nog moeite, nog tyd. Hy sal moet uitgaan, die sensor deur die glas soek, dan die pistool van buite gebruik voor hy kan terugkom om die deur oop te maak.
Onder die swart rolnektrui en denimbroek sweet hy. Maar dit is nie net die hitte nie. Die tyd stap aan. Hoe lank kan Carla die dobermanns besig hou? Hoe lank voor ’n sekuriteitswag die gat in die sitkamervenster ontdek? Of hy ’n versteekte alarm aktiveer?
Hy glip soos ’n groot swart nagdier in die gang af, deur die sitkamer en by die venster uit. Nou begin die moeisame, stadige tog weer langs die huis se muur af na die studeerkamervenster.
Hy moet kruip om die borshoogte trapdrade te vermy, maar daar kan ander ook wees, laer af. Die aand is besig om stil te word en elke geluid wat hy maak, klink vir hom oorverdowend.
Dit neem hom sewe versigtige minute tot by die studeerkamervenster, waar nog ’n terugslag wag – die swaar gordyne. Versteur hulle en jy gaan die sensor laat praat. Maar as hy hulle nie uit die pad kry nie, kan hy nie sien wat binne aangaan nie – infrarooi of nie. En dan is daar die moontlikheid dat Spano die skildery op ’n ander plek kon gehang het, soos in sy slaapkamer.
Dink! beveel hy homself terwyl hy met sy mou die sweet van sy gesig afvee.
Hy oorweeg die opsies – net een kan regtig werk. Die enigste manier om ’n gat in die gordyne te bewerkstellig sonder om die golfpatroon te versteur, is om ’n vlam te gebruik. Maar hy sal dit vinnig moet blus.
Die risiko word te groot, dink hy. Hy sny die gat in die glas, dié keer effens groter, aangesien die gordyne nog as skans tussen hom en die sensor hang.
Hy haal ’n weggooi-aansteker uit die sak en stel die vlam op sy hoogste. Hy sal dit in klein dosisse moet aanwend as hy nie die hele huis wil afbrand nie.
Dit raak amper buite beheer. Die swaar gordyne is kurkdroog en brand maklik. Hy wend die vlam net een keer aan en moet dadelik begin blaas. Die vlammetjie wil opskiet teen die gordyne. Die asem plof uit sy longe en blus die vlam dadelik, maar die gordyn hou aan met smeul.
Die dringendheid van die situasie laat sy maag op ’n knop trek. Sutherland se stem vir die eerste keer vanaand in sy kop. “Diep asem.” Naand, kaptein Sutherland. “Konsentreer op wat jy moet doen, nie op wat verkeerd kan gaan nie.” Goed, kaptein. Hoe gaan ek ooit van jou presiese bevele ontslae raak, kaptein?
Prioriteit nommer een is om die sensor onskadelik te stel. Dan bekommer oor die gordyn wat smeul. Die pistool gly uit die borssak en hy rig weer die laser op die sensor.
’n Oomblik wonder hy hoeveel skote Smittie se knaldemper kan deurstaan, maar dan kug die Hammerli en die koeël klap teen die metaalkissie van die sensor. Hy sak af teen die venster en kyk om, in die rigting van die wagkamer. Dit lyk stil. Drie–nul.
As hy opkyk, sien hy die smeulende gordyn wil-wil weer ontvlam.
Sy vingers brand as hy die rooiwarm hitte uit die materiaal pers, maar dit is al wat hy deur die gat in die ruit kan kry. Die reuk van geskroeide vel en gordyn vul sy neusgate. Hy moes handskoene gedra het. Maar hy haat die verlies aan sensitiwiteit wat dit meebring. Vingerafdrukke pla hom nie. Syne bestaan nie.
Die pad terug na die stoep en sitkamer is sonder trapdrade en dit gaan dié keer vinniger. Weer glip hy in die gang af tot by die studeerkamer se deur. Hy maak dit geruisloos oop en gaan in. Die vertrek is amper so groot soos die sitkamer. Deur die infrarooi-kopstuk sien hy duur meubels van donker hout, boekrakke tot teen die dak en ’n handjievol skilderye teen een muur.
Hy stap met groot, haastige treë nader. Hy herken die gesig van die diensmeisie onmiddellik. En selfs deur die kleurlose lense van die kopstuk slaan haar skoonheid sy asem weg. Spano het glo amper ’n miljoen bestee om die skildery uit die private versameling in Zürich te laat steel. Nou weet hy waarom.
Die Vermeer is nie baie groot nie. Hy sou dit met raam en al gemaklik kon saamdra. Dit sou egter sinloos wees om die risiko te loop dat die skildery beskadig word. Hy haal die metaalsilinder uit die sak en skroef die dop af.
Hy beloer die skildery van alle kante, beweeg die onderste deel van die raam versigtig van die muur af weg. In die infrarooi lig kan hy geen kontaksensor sien nie.
Wanneer hy die skildery versigtig van sy hakie aflig, gaan die alarm skril en skielik af.
Een deel van sy brein registreer verligting. Hy weet dié is die laaste troefkaart in Spano se sekuriteit – dié garedun koperdraadsensor teen die hakie van die skildery, dalk al die skilderye in die huis.
Paniek skiet in hom op. “Asemhaling,” het Sutherland oor en oor in sy presiese stem gesê, “is jou enigste wapen teen paniek. Haal eers diep asem. Moenie reageer nie. Beveg jou instink, die adrenalien, jou brein se opdrag aan elke spier om te ontplof, te hardloop. Doen niks behalwe asemhaal nie.”
Terwyl hy die lug met een stadige teug in sy longe indwing, tik die rekenaar in sy kop ’n prioriteitslys uit. Geprogrammeer deur die firma Sutherland en Vennote: 1. Haal die kopstuk af, want die alarm het die huis se ligte aangeskakel. 2. Haal die Vermeer uit die raam en bêre dit in die silinder – dit is nog steeds die belangrikste rede waarom jy moet uitkom. 3. Kom sou gou moontlik buite. Die huis is nou een groot hinderlaag met slegs ’n enkele uitgang.
Hy blaas sy asem stadig uit. Hy begin met vinnige, doelgerigte bewegings werk. Die kopstuk in die sak, die tangetjie uit, die agterkant van die skildery oop, skildery versigtig uit, rol op, sit in die silinder, skroef silinder toe, sit in sak. Hy hardloop na die sitkamer en hoor sleutels in die voordeur van die huis. Natuurlik. Die sekuriteitswagte moet by die deur inkom en eers die huis deursoek. Dit kan die sekondes koop wat hy nodig het.
Hy seil by die gat in die ruit uit, gee drie hale tot by die stoepmuurtjie en glip in die skaduwees van die tuin. Ook hier is nou meer lig. Kolligte teen die huis en die sekuriteitsmuur gooi lang, smal skaduwees heen en weer oor die grasperk.
Wegkruipplek is daar nie. Hy begin na die grasperk hardloop – die stukkie niemandsland wat geen skuiling bied nie. Hy moet dit oorsteek voor die wagte uit die huis kom.
Hy bars tussen twee struike deur en is op die grasperk se soom. Vyftien meter se goed versorgde groen tapyt, dan sewentig van struike en bome tot by sy tou teen die muur.
Hy hardloop gebukkend, sy rugspiere onwillekeurig gespan teen die verwagte koeël, sy stewels wat die grasperk reëlmatig tref, sy brein wat elke tree aftel. Vyftien, veertien, dertien . . .
Die skoot klap en hy