Onse Vaders. Karin Brynard

Читать онлайн.
Название Onse Vaders
Автор произведения Karin Brynard
Жанр Триллеры
Серия
Издательство Триллеры
Год выпуска 0
isbn 9780798158312



Скачать книгу

aan om die swangerskap se las te verlig. Self het sy nooit kinders gehad nie, maar sy’t baie grootgemaak. Namate haar vier broers en een suster deur die Groot Siek kom haal is, het sy hulle kinders versorg.

      Gerda kon dit nog nooit regkry om selfs die liewe Alison te vertrou met haar lewensverhaal nie. Hennie Jordaan weet uiteraard, maar hy hou dit tussen hulle. Want simpatie, het sy geleer, het ’n angel. Dit ketting jou vas aan jou ellende. Sodra mense weet, raak hulle anders, genope om te simpatiseer, te vra hoe hou jy dit. Jou van voor af herinner. Agterna bly jy hulpeloos rondflop terwyl hulle vroom en deugdelik verder wals!

      “Ai, mangwane.” Gerda gebruik die respekvolle Sothowoord vir “tante” – uit erkenning vir die vertederende ngwanaka: my meisie. “Dis my ntate. Ek dink hy’s vandag bietjie erger.”

      “Au, sorrie-sorrie.” Alison klap haar tong simpatiek. “Gee vir my daai werk van jou. Ek maak dit vinnig klaar.”

      “Is orraait, Alison. Dankie. Die werk lei my gedagtes af.” Sy roer die rekenaarmuis om haar skerm te verfris, sien dan sy het e-pos. Dis van Baz.

      Sorrie, Pops. Moet deurskiet Durbs toe. Staking op die hawe (what’s new)! My merchandise sit vas. Vliegtuie vol – scheme ek ry gou deur. Wou vamnaad lamsbredie kook om jou laaaaste dagt te voer. Moet wafg naweek! Lus jou! Net so. Nie eens die moeite gedoen om haar uit die kar te bel nie. Of om die spelfoute reg te maak nie. So... min gespin, soos hyself sou sê.

      Die trane kom voor sy kan keer. Verbrands! Sy probeer so onopsigtelik as moontlik afvee. Maar in ’n kantoor met vyf vroue...

      Alison reageer eerste: “Auwe!” Sy staan op en kom slaan haar arms om Gerda. “Miskien moet jy maar huis toe gaan. Gaan kyk agter jou ntate. Ons kan mos ander dag brunch.”

      Gerda skud haar kop, probeer haar bes om die trane te keer, maar sonder sukses. Haar hormoondeurspoelde lyf maak soos hy lus kry. En hy’s nou lus vir ’n groot ween!

      Toe sy na ’n minuut of wat bedaar, het die hele tikpoel om haar lessenaar vergader. “Dis haar pa,” hoor sy Alison fluister. “Hy’s baie siek.”

      Sy vee met ’n tissue onder haar oë, probeer haar beste glimlag: “Vader weet, hierdie swangerskap werk darem nou régtig nie meer vir my nie.” Hoe meer sy praat, hoe sterker voel sy. “Dis die koei in my wat wakker word!”

      Die vroue glimlag onseker.

      “En hierdie koei is honger. Aanhoudend. Wat sê julle van vonkelwyn by die brunch? Ek koop, maar ek drink nie saam nie. So julle drink namens die pregnant fairy! Ek sal hoor of my pa oukei is, dan gaan ons.”

      Hoofstuk 18

      18

      “Ek ruik ’n rot,” sê Quebeka en tik liggies met haar rooi naels op die stuurwiel van die polisiebakkie.

      Sy staar ingedagte voor haar uit, skakel nog nie die bakkie aan nie.

      Iemand, sien Beeslaar, het die spuitfontein voor die Du Toit-huis afgeskakel. Hy kyk na die sperbande aan die tralieheining voor. ’n Los stuk wapper lusteloos in die warm herfslug. Die wind het gaan lê. Hy het nie eens agtergekom nie. Laas nag het dit soos ’n hondsdol ding probeer om alles om te gooi. Vanoggend is daar genade in die lug.

      ’n Verposing.

      Dat jy weer die beendere bymekaar kan rakel voor die volgende aanslag. En ’n rukkie se rus, maar wat almal soek. Voor die finale Groot Slaap. Seker maar sý soeke ook. Genade en rus. Hoeka die rede dat hy hier is. Hier in hierdie plek.

      Dis wat Malan du Toit ook soek. Daardie afskeidswoorde van hom was nie net survivor’s guilt nie. Hy worstel met groter skuld: nie net die feit dat hy nie sy familie kon veilig hou nie. Maar om die gesin héél te hou. Dis ’n pa se werk. Mos. Hy’s die hond by die hek wat die gevare buite hou.

      Maar Du Toit. Hy was nie op sy pos nie.

      Dís wat hy eintlik gesê het.

      “Pennie?” Quebeka vou haar arms oor die stuurwiel en draai haar gesig na hom.

      “Ek dink aan die langpad.”

      Sy laat bring haar nie van stryk nie: “Hoe skat jy hom in, die man?”

      “Soos ’n ou wat nie die volle waarheid vertel nie. Maar dit doen vir die verkeerde redes. Want ek kan nie sien hoekom ’n huisrower die liggaam sou verskuif nie. Hy’s haastig, wil wegkom. Dit maak nie sin nie. En dit, kaptein, is al wat ek te biede het.”

      Sy frons en glimlag tegelyk. “Oom Van Blerk sou trots gewees het.”

      Beeslaar sê niks. Kyk by die venster uit.

      “Hy was by die CPF,” sê sy na ’n hele ruk. “Community Police Forum. Om te praat oor veiligheid by aftreeoorde. So iets.” Sy bly ’n oomblik stil, herinnering wat haar oë versag. Dan hik-lag sy: “Ek moes nogal aan hom werk.”

      “Ja?”

      “Ouskool, die oom. Maar jy sal weet. Toe hy uit is... Dink hy’t nie baie ooghare gehad vir ons darkies nie. En dan’s dit nou nog ’n kli’meid ook.” Sy skud haar kop en draai haar ruit af, loom herfslug wat inkom.

      “Hy’t my net so ge... so gekýk. Jy weet?”

      Beeslaar antwoord nie. Hy wil eintlik nie hoor nie. Dis te naby. Sý’s te naby. Hy voel die benoudheid wat onder sy ribbes inpomp. Hy draai sy ruit ook af.

      “Toe, op ’n agtermiddag... Ek was in Jan Cats – kroeg van die Stellenbosch Hotel,” verduidelik sy. “En die oubaas was daar. Hy’t sy eie plekkie daar gehad. Reg aan die verste punt van die kroeg. Jy sien hom nie as jy daar inkom nie. Maar hy sien jou.”

      Sy glimlag, kuiltjies in die neutbruin wange. “Saans as die ander oumense hekelwerk uithaal, stories smokkel oor die kleinkinders... dan kom sit hy hier. Anyways, ek was besig met ’n moeilike saak. Moord. Een van die personeel daar was ’n verdagte. Dis maar hoe... ”

      Sy maak nie die sin klaar nie. “Ek wou vir hom ’n dop koop. Hy was besig met ’n whisky – vitamien W, het hy dit genoem. Ek wou nog ’n rondte koop. Respek, sien? Hy’t gesê hy’s besig met die laaste. Toe bestel ek maar ’n Coke en hy vra of ek my medaljes wil polish, want dis die enigste ding wat Coke voor goed is. ‘Gee vir die meisie ’n glas sauvignon,’ bestel hy sommer. ‘Nié van die pêrepis uit ’n varkblaas wat jy die toeriste voer nie. Iets ordentliks.’ Dis toe moeilik, want ek drink nie juis nie. Hier in die Wes-Kaap... Dis ’n pes hier.”

      Dit raak warm in die kar. Beeslaar kyk op sy horlosie. Al tienuur.

      Quebeka maak nie aanstaltes nie.

      “Ek dink dis oor die saak waarmee ek besig was. Ou Prammie is gefast-track, jy weet? Geen ervaring nie, maar oornag van platvoet tot kolonel.”

      “Poot,” help Beeslaar. “Platpóót tot kolonel!”

      “En dié oubaas. Hy’t die kyk gehad. Jy kan sien hy’t al groot manne weggesit. Maar ek vertel jou nou goed... ag, jy weet dit self.”

      Toe hy steeds nie reageer nie, sug sy en skakel die bakkie aan. In die terugry maak sy ’n oproep. Beeslaar lei af dis werk toe. Sy vra of Malan du Toit se finansiële state al in is. “Staan vas,” eindig sy die gesprek.

      By Beeslaar se gastehuis stop sy.

      “Nou ja, kaptein Koebeka.” Hy klim uit, leun terug in die oop venster in. “Sterkte.”

      “Laat weet as jy aanbly vir die asstrooiery,” sê sy. “Jy hét my nommer. Drink ons saam ’n dop of iets.” Sy glimlag, ’n wit sekel wat haar gesig ophelder, haar oë met duiweltjies laat dans.

      Dan skiet sy weg.

      Die foon tril in sy hempsak.

      “Ja!”

      “En goeiemôre vir jou ook, kaptein Baas Beeslaar! En ja, ek is besig om in my malle moer in te verdwaal. En ja, ek sien nog steeds geen teken van my kar nie. En nee, ek bel nie vir jou hulp nie!”

      “Jissie,