Onse Vaders. Karin Brynard

Читать онлайн.
Название Onse Vaders
Автор произведения Karin Brynard
Жанр Триллеры
Серия
Издательство Триллеры
Год выпуска 0
isbn 9780798158312



Скачать книгу

daarin. Selfoon. ID-boekie. Rybewys. Kleinpiet se dagmoedergeld, haar grimering. Kredietkaarte.

      Die handsak moet eintlik in die kattebak. Maar soggens is moeilik. Dan vergeet sy.

      Kleinpiet is nie ’n oggendkind nie. Dis of hy bang is om die dag in te gaan. Wil nie eet nie. Wil net heeltyd vasgehou word. Sy weet eintlik hoekom. Sy was al swanger met hom toe alles gebeur het. En dit móét hom mos getref het, daar in sy gietsel in haar buik. Waar hy ook nie wou uit nie. Dit het ’n induksie gekos...

      En soggens is daar haar pa ook. Wat uitgesorteer moet word vir die dag. Pa, wat nou weer kind word, vlak voor haar oë. Sy weet nie hoe lank sy hom nog tuis sal kan versorg nie.

      ’n Toeter agter haar. Geïrriteer. Die verkeer het begin beweeg. Sy laat skiet die rem. Net om maar weer vas te val.

      Baz wil trou. Maar sy weet nie. Daar’s te veel dinge nou. Te veel vloeibaarheid. Ingewikkeldheid.

      Dis juis sy punt: “Kom tog huis toe, Maggie.” Hy noem haar so. Verwys na die ou popliedjie van Rod Stewart, “Maggie May”. Want hy’s ’n jaar of wat jonger as sy.

      Maar sy geniet haar werk. Die feit dat sy vir haar ’n nuwe lewe bou. Die salaris is pateties, ja, maar sy’s oukei met geld. Ma het vir haar gesorg uit die groot klomp geld wat oupa se plaas opgelewer het. Ma het nooit daaraan geraak nie. Dit belê vir ’n oudag wat sy toe self nie kan meemaak nie.

      Vorentoe is daar ’n verkeerslig wat nie werk nie. Dis elke oggend se ding: óf verkeersligte buite werking, óf die nuwe Rea Vaya-buslaan tussen die stad en Soweto waaraan hulle bou.

      Sy was aanvanklik heel ingenome met die kort afstand tussen Kleinpiet se dagmoeder, die werk en die huis. Maar die verkeer is erg. Die klein privaat skool in Parktown waar sy werk is net ’n klipgooi. Op die kaart dan. Die huis is in Sewende Laan, direk teen die Melville-koppies aan. Die dagmoeder sit net ágter die koppies. Maar dis óm: soggens noord met Beyers Naudé, dan regs af in Judith. Die lekkerste deel van die pad is die mooi stukke tussen die munisipale sportgronde deur tot in die boomryke Emmarentia.

      As Kleinpiet afgelaai is, is dit weer terug, suide toe. Na Empireweg, vasgepak soos ’n betonmuur. En daar is nie keuses nie, sy moet daar in, in die tregter wat die pad maak. Verby Wits, onderdeur die M1. Dan af met Jan Smuts. Tot hy haar in Parktown uitgooi by ’n afdraai na die stil, boomryke skoolbuurt. Die werk is nie kernfisika nie, maar darem ook nie vervelig nie. En die mense is nice. Sy geniet dit om tussen normale mense te wees. Mense wat niks met... géén polisiemanne. Geen dood...

      Maar die dood... Sy ril. Hy kry jou altyd weer uitgesnuffel.

      Soos met Ma.

      Beroerte.

      Tjoeps.

      Verby.

      Tog het haar ma se dood die deurslag gegee. Sy’t skielik geen ankers meer in Germiston gehad nie. En sy moes in elk geval ’n groter plek kry sodat sy na haar pa kan kyk.

      Maar in ’n beter omgewing. Meer beskaafd. Weg tussen die mynhope uit. Te veel spoke dwaal daar rond.

      Maar nou kan sy weer begin. Dálk. Met Baz, ’n glimmering van hoop.

      Bazhunaishvili Rezart.

      Hy, met die melancholiese gelaat van die Balkanmense. Ou nasies. Diep geskiedenis – waarvan sy eintlik niks weet nie. Baz sélf eintlik ook nie. Dit was sy oupa wat Suid-Afrika toe gekom het – ’n toekoms hier kom soek het in die goudmyne. Maar hy het vinnig die plafon bereik. Te blas, glo, in die tyd van Afrikaner-regstellende aksie.

      ’n Winkel was die uiteinde, meestal swart klante. Baz se pa sou oorvat, maar die grensoorlog het hom gevat, destyds. In Angola. ’n Landmyn of iets.

      En ná 1999, met die etniese suiwering in Kosovo, het daar ’n stewige Albanese gemeenskap in die Goudstad tot stand gekom. Die winkel het begin spesialiseer in die invoer van Albanese voedselprodukte. En toe ’n restaurant bygekry – Griekse en Albanese kos, wat baie ooreenstem.

      Baz het feitlik in die winkel grootgeword, vertel sy ma. Ma Bet, soos hy haar noem.

      Hy was die liefling van ’n ieder. Vanselfsprekend – met sy groot kaneelsuikerbruin oë en die pikswart krulle. Deesdae hang dit óf los in ’n weelderige bos oor sy skouers óf dit is in ’n poniestert vasgevang. Groot, sensitiewe mond, ’n sterk, reguit neus en swaar wenkbroue. Sy het nou maar eenmaal ’n swak vir ’n donker man. Toe Gerda hom die eerste keer sien, het hy haar asem weggeslaan. Hy’t soos ’n verdwaalde GQ-model gelyk. Met ’n heerlike voorliefde vir ouer vroue. Veral vir ouer rooikopvroue.

      Die verkeer kom weer in beweging en Gerda trek weg, sien ’n gaping regs van haar en druk in. Sy word beloon met ’n bulderende toeter. Varke. Sal eerder sterf as om iemand anders ’n kans te gee. Sy swenk af in die straat waarin die skool is en gee vet.

      Voel die kleintjie in haar maag beweeg. Haar hart smelt. Sy voel behoorlik hoe die endorfiene oor haar brein spoel, deur haar hart, tot in die verste uithoekies van haar lyf. Haar wange gloei, sy voel haar tepels tintel.

      ’n Ou meisietjie. Wat van feetjies sal hou. En pienk goetertjies. Met wie sy sag sal kan wees, wat vir Pietman ’n maatjie sal wees. Wat hom sal soen, sy handjie vat, hom troos...

      Die trane kom voor sy kan keer. Sy knip haar oë en draai haar ruit af vir lug.

      Dit sal nooit weggaan nie. Hierdie pyn. Hy sit sy sit. Staar haar meedoënloos uit. ’n Skroeiende wit vlam, ingebed in elk sel van haar liggaam. En op sekere dae...

      Dalk is dit net die herfs. Johannesburg met sy miljoene bome. Die naaldeike wat rooi en roes raak, die verbleikte lug, asof die hemel wegvlug van die koue aardkors.

      Sy draai in by die skool se hek en trek onder ’n plataanboom in. Hy het nog nie al sy blare afgegooi nie. Goddank, want die son kan steeds bitsig raak, al word die nagte koud.

      Sy kyk vir oulaas in die truspieëltjie, herstel die effense traanskade aan haar oë.

      Oukei, loop die dag tegemoet. Dapper en stapper.

      Maar diep binne-in weet sy: Op dae soos vandag... dis of die wêreld kantel, lang skaduwees maak. Pa wat bietjie wilder lyk as gister. Baz – wat net so ’n effe... wat? Afstandelik? Sy skud haar kop, maak haar deur oop. Op en uit, sê sy vir haarself.

      Dis toe sy uitklim dat sy die wit Honda Ballade stadig by die skoolhek sien verbyry. Binne-in sit twee jong manne, diep in hul stoele ingesak. Die passasier het ’n hoodie oor sy kop getrek. Sy kan sy gesig glad nie sien nie. Die ander een kyk stip na haar, ’n swart pet laag oor sy voorkop getrek, ’n donkerbril wat sy oë verskuil. Sodra hulle verby die hek is, hoor sy hoe hulle met skreeuende bande vetgee.

      En skielik is die skaduwee terug in haar gemoed.

      Hoofstuk14

      14

      Beeslaar voel soos ’n kind wat ’n gebreekte speelding in sy Krismispakkie gekry het: opgewondenheid wat op misnoeë gestrand het.

      Hy baklei teen die opgewonde gevoel, want hy weet dit beteken moeilikheid. As hy doen wat goed is vir hom, ry hy.

      Terug na sy tuin toe. Wat hy besig is om in die rooi grond van sy agterplaas aan te lê. Na die lewe van ’n kleindorpse langarm, die gemaklike ritme wat sy lewe die afgelope tyd daar begin inneem het.

      Hy staar vir ’n sekonde nog na die vreemde vrou oorkant hom wat afgemete haar bord leegrusper. Val dan self weg.

      Kaptein Quebeka is eerste klaar. Sy breek behoorlik maar beleef wind agter ’n delikate vuis en trek die tandestokkies nader, waarmee sy fyntjies iets hinderliks uit ’n holte tussen haar tande loswoel. Dan sit sy behaaglik agteroor en drink haar koffie in stilte. Wag vir hom om klaar te eet.

      “Drink eers jou koffie,” sê sy vir hom sodra hy sy mes en vurk neersit.

      Hy grinnik, maar maak soos sy sê.

      “Werk die Panado’s al?”

      “Die kos werk.”

      “Wat