Etosha. Piet van Rooyen

Читать онлайн.
Название Etosha
Автор произведения Piet van Rooyen
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780798153324



Скачать книгу

Mans hou daarvan, het sy agtergekom, hulle hou van daardie bietjie tarting, ’n uitdagende houding en ’n goeie klap selfvertroue. Sy kon tot dusver nooit die onderdanigheid aanleer waarmee hierdie wêreld se boervroue so bedrewe is nie.

      Dis ’n dubbelkajuit-Cruiser, daardie soort wat al oor ’n halfmiljoen kos, ’n witte met silwer modderskerms en ’n Windhoek-registrasienommer, die nuutste dieselaangedrewe model. Daar is drie jagters. Hulle stap uit die kring van plaaswerkers uit en beweeg na waar sy in die Land Rover bly sit. Die werkers, haar twee spoorsnyers inkluis, kyk almal om na haar. Sy voel steeds lam en sonder energie.

      Die gesig van een van die jagters, ’n lang man met gladde, donker hare en ’n dun swart baard, verskyn langs haar in die oop venster: “Môre, dis nou ’n verrassing!” Die aksent is vreemd, sy kan dit nie dadelik plaas nie.

      Sy skat die man so vyf-en-veertig. Hy’s nie ’n gewone boer nie, kan sy uit die gepoleerde voorkoms aflei. Sy kan sien dat hy sukkel om haar in fokus te kry. Dis nog sterk donker; die oggend is pas besig om te breek. Die maan se weerkaatsing lê ’n ronde kol op die Land Rover se enjinkap.

      Die twee ander mans kom ook nou reg langs die voertuig staan. Sy vermoed dat haar spoorsnyers die jagters reeds van haar teenwoordigheid vertel het. Sy word nou van ’n kant af getakseer, weet sy. Dit traak haar nie – sy is gewoond daaraan dat mans haar so openlik staan en bekyk. Tog is sy bly die lig is sleg.

      Olivia is jonk, jonger as wat ’n mens sou verwag ’n wit vrou moet wees wat jy in sulke harde buitelugomstandighede aantref. Haar jonkheid en die sagtheid van haar gesig laat haar dikwels na ’n tienermeisie lyk. Tog is sy reeds volwasse, ervare en wêreldwys genoeg, en sy ken dié soort staar van mans.

      Sy’s mooi, weet sy – dit het sy lankal vir haarself besluit. Sy weet hoe sy in die spieël lyk, met haar breë voorkop, haar sterk ariese neus, haar groot bruin oë, haar hoë wangbene en vol lippe. Sy kan sien dat die bebaarde jagter beïndruk is toe hy haar gelaatstrekke behoorlik kan uitmaak, waar sy agter die stuurwiel sit.

      Sy bly sit, haar arms breed om die stuurwiel gevou, in ’n tipiese macho houding. Sy praat by die oop ruit uit: “Ek hoor julle kom kyk hoe ek die leeu verdoof?” Haar stem klink vir haar lomp en vreemd in hierdie stowwerige oggendlug. Sy weet dat sy haar Britse agtergrond met haar aksent verraai, maar op daardie oomblik skeel dit haar min.

      “Gmf!” hoor sy een van die mans snork: “Ons kom self leeu skiet. Ons het nie verniet gery nie!” Hy is korter en dikker as die ander twee.

      Sy opmerking dwing haar om uit te klim. Sy reik dus langs haar af en laat die deurknip skiet. Die man met die baard trek die deur hoflik vir haar oop, en sy hoor duidelik die sisgeluid wat hy tussen sy tande deur maak toe sy in haar volle lengte langs hulle staan.

      Sy staan bykans twee meter in haar sokkies, heelwat oor die ses voet, in Britse terme. Haar lengte laat haar lyf effens ongebalanseerd lyk. Haar hele lyf, die manier waarop sy beweeg, skep die indruk van lompheid, traagheid, gebrek aan grasie.

      “Vito Palazzolo,” sê die donker man.

      “Hutton,” sê Olivia kortaf, en dan hardop: “Kyk, mense, ek was eerste hier. Ek volg hom al drie dae lank.”

      “Dis my grond hierdie, my bees wat gevang is,” antwoord die man met die baard. “Ek is jammer vir jou leeu, maar ons het ver gekom om hom te skiet.”

      “Ons sal sien,” sê sy. Sy draai om en skuif terug agter die Land Rover se stuur in. Palazzolo haal sy skouers op.

      Olivia draai die aansitter. Haar twee spoorsnyers, Halfkop en Kasupi, sit reeds agter op die bak. Sy sou verkies dat een van hulle voor by haar in die kajuit sit – sy mis die geselskap. Sy het hulle die eerste paar keer na vore probeer dwing, maar hulle het botweg geweier. Hulle het beweer dat hulle agterop moet staan om die veld beter te lees, al sou hulle nie direk op spore loop nie (“Ons wil die dinge uittjek,” sê hulle altyd), maar sy vermoed dat dit eerder is omdat hulle mekaar se geselskap bo hare verkies. Sy sien nou in die weerkaatsing teen die ruit die kooltjie van die twak rooi gloei waar hulle plat op die bak sit en om die beurt aan die slordige kort zol trek wat sy hulle al soveel keer tevore uit ’n reep koerantpapier sien draai het.

      Dis nou belangrik om by die leeu te kom voordat die jagters daar is. Die drie wit mans het weggedraai en staan nog tussen die werkers rond, besig om te beduie en uit te vra. “Waar het die leeu gevang?” vra sy dringend deur die oop ruit na agter.

      “Nee, ons ken nie die plaas nie,” sê Kasupi.

      “Hoekom het julle nie een man opgelaai nie?” Die irritasie blyk duidelik uit haar stemtoon.

      “Nee, hulle wil nie klim nie.”

      Sy weet sy moet begrip hê vir die veewagters se onwilligheid. Met hulle werkgewer teenwoordig, lê daar by hulle sterker lojaliteite. Hulle weet sekerlik ook maar te goed hoe gevaarlik dit is om saam met haar op die oop Land Rover te ry. Hulle Cruiser is toe agterop, met ’n behoorlike kap. Haar voertuig het ’n baie kwesbare stel tralies waaroor ’n leeumannetjie met gemak kan spring. Die verdowingspyle is buitendien veel minder dodelik as die drie groot gewere waarmee die wit mans gekom het.

      Sy brand van frustrasie. Sy self het geen idee waar die veepos lê waar die bees gevang is nie. En selfs al sou sy die waarskynlikste rigting inslaan en die ou wielspore langs die draad af volg op ’n windpomp se blink af, het sy geen versekering dat hulle die spore by die drinkplek sal optel nie. Die plantegroei is so dig hier, so vol swarthaak, mopanie, vaalbos, sekelbos en rosyntjiebos, dat die leeu sy prooi twintig tree van die water af kon neertrek sonder dat hulle die plek gou genoeg sal kry. Al manier is om die omgewing in al groter sirkels te vee. En so ’n soek na spore vat tyd, weet sy maar alte goed. Sy weet dat hierdie twee manne waarmee sy al drie jaar werk towenaars op ’n spoor is, selfs op ’n sagte spoor soos ’n leeu s’n – maar steeds, spoorsny vat tyd. Sy het dus geen ander opsie as om vir die jagters en die plaaswerkers te wag nie. Hulle is die enigstes wat weet waar die dooie kalf lê.

      Dis nou reeds goed lig. Die man met die baard hou die deur van die kap agter oop dat die twee veewagters kan inklim. Nou en dan gee hy ’n sydelingse kyk na waar sy in die luierende voertuig sit en wag. Teen sy lang gestalte lyk die veewagters klein en ondervoed. Aan die onwillige manier waarop hulle klim, die bot staar van hulle oë, kan sy sien dat die twee veewagters baie bang is.

      Die jagters klim een vir een in die kajuit. Nie een van hulle lyk na ’n leeujagter nie, daarvoor is die hande te sag, die gesigte te glad, die houdings te selfversekerd. Sy weet sommer dat nie een van hulle al in die oop veld deur ’n leeu gekonfronteer is nie. Mense wat daardie ontmoeting deurgemaak het, stap met veel meer respek op die leeujag uit.

      Sy verwens hulle hul bravade, hulle arrogansie.

      Die jagters se voertuig kom trek direk langs haar in. “Kom jy saam?” vra die man met die swart hare met sy kop by die venster uit. Sy kan haar nie misreken met die koggeling in sy stem nie.

      ’n Tros jongetjies het reeds die netwerk van hekke by die krale gaan beman. Wanneer sy die voertuig in beweging sit, sien Olivia die spookagtige lywe soos wagtende naggeeste, sommige kaalbolyf en in kortbroek, ander met geskeurde en grondkleurige rokkies aan, in die skemer by die oop hekke staan.

      4

      Die Cruiser jaag in volle vaart voor haar by die hekke uit en in die tweespoorpaadjie langs die kampdrade af. Sy trap die brandstofpedaal van die ou Land Rover plat en ry so vinnig sy kan agter die jagters aan. Sy moet woes karring aan die stuurwiel om te bly in die pad waaroor ’n dik laag stof hang. Sy verwens die ou rammelkas sy sukkelende toestand, sy gebrek aan spoed. Die voorwiele dreig gedurig om uit die sandspoor te klim en sy moet behoorlik bontsit om die voertuig op koers te hou.

      Drie, vier kilometer ver ry die twee voertuie kort op mekaar se hakke, so vinnig as wat die slingerende paadjie toelaat, in die rigting van waar sy reken die veepos moet lê waar die leeu gevang het. Sy kan maar net hoop dat die leeu met hierdie raserige genaderjaag sal padgee van sy vreetplek af, dieper die veld sal inbeweeg. Sy weet dis ’n skrale hoop – ’n volgevrete leeumannetjie laat hom nie maklik verjaag nie. En die leeus is voertuie