Slagoffer. François Smuts

Читать онлайн.
Название Slagoffer
Автор произведения François Smuts
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780795802218



Скачать книгу

was daar ’n trompetgeskal. Ander deure het oopgegaan en die twee groot, gepantserde perde het uitgestap, op hulle rûe die mans met die lanse oor die arm. Die bul is uitgelok om ’n perd te bestorm en terwyl hy die perd gegaffel het, het die picador sy lans se punt net agter die bul se skof ingedruk.

      “Hulle kyk hoe bereid die bul is om te storm ten spyte van die lans in sy skof. Dié een is aggressief en die stekery met die lans maak hom net nog kwaaier. Dis buitengewoon. Dit gaan ’n mooi geveg wees.”

      Die bul is van die perd af weggelok en die helpers het agter die barrera inbeweeg. Die matador het die mantel dié keer agter hom gehou. Hy het voetjie vir voetjie nader aan die bul gestap. Die bul het skielik sy kop laat sak en gestorm. Die matador het die mantel na regs geswaai en die bul het gedraai, agter die mantel aan. Op die laaste oomblik het die matador die mantel weggepluk en na links uitgeswaai. Die bul het instinktief van rigting verander en rakelings aan die matador se linkerkant verbygestorm. Dawid het van skrik uitgeroep voor hy kon keer, en die skare saam met hom.

      Die matador het ’n paar sulke verbygange gedoen en toe die bul na die perd aan die oorkant van die arena gelok, waar dit weer gesteek is.

      “Hoekom fluit die mense elke keer as die bul gesteek word?”

      “Want daar sal altyd mense wees wat dink die bul word te lank of te diep gesteek, sodat dit te gou moeg word of te veel bloed verloor. Maar hulle is sommer laf – dié picadores weet wat hulle doen.”

      Daarna is die bul weer na die middel van die arena gelok. Een van die subalternos het twee veelkleurige stokkies wat soos pyle gelyk het, in sy hande gevat en die bul uitgelok om hom te bestorm. Hy het begin om skuins na die bul te hardloop en net toe die bul sy kop laat sak om hom te gaffel, die punte van die stokkies in sy skof ingedruk. Dit het gelyk asof hy ’n oomblik in die lug oor die bul se horings hang toe hy die stokkies plaas. Die skare het entoesiasties hande geklap.

      “Hoe bly die stokkies sit?”

      “Die banderillas het harpoenvormige punte en dit het ’n gewriggie wat kan draai, sodat die skag kan afhang as dit klaar geplaas is,” het Juan geantwoord. Teen dié tyd was die bul se skof al blink van die bloed.

      Styf teen Dawid het Eva gesit, vingerpunte teen haar lippe. Drie keer is twee banderillas in die bul se skof geplaas. Die bul het met elke plasing sigbaar meer aggressief geword. Die laaste keer het die man wat die stokkies geplaas het hom misreken, oor sy eie voete gestruikel, geval. Oombliklik was die bul op hom, met ’n gemaal van horings en hoewe en stof. En die rollende man wat telkens ruk wanneer die bul se horings hom gaffel. Eva het Dawid se arm vasgegryp. Dit het oneindige oomblikke geneem om die bul se aandag weg te lei – die ander assistente het met mantels na sy gesig gewaai terwyl hy die man weer en weer met sy horings boor. Toe die bul wel wegdraai, het die man soos ’n gebreekte pop bly lê, sy gesig in die grond. Hy is haastig opgetel en luidkeels kermend weggedra. Die skare het weer onder mekaar begin praat.

      Die matador het met ’n rooi mantel na die middel van die arena gestap, met sy swart Mickey Mouse-hoed in die hand die skare gegroet en toe die hoed oor sy skouer laat val.

      “Die derde van die dood.” Juan se stem was skor van emosie.

      Die matador het koponderstebo en stokstyf gaan staan, ’n ent van die rustelose bul af. Sy voete was teenmekaar, die rooi mantel ’n vlag voor hom, sy lyf reghoekig met die bul. Hy het die bul onderlangs beloer, die mantel geskud.

      “É, torro!”

      Die bul het gestorm. Deur die mantel, rakelings by die matador verby. Sy besef dat hy aan niks geraak het nie en sy omdraai was een. Maar toe was hy al weer tien meter van die matador af, wat steeds stokstyf gestaan het met sy vlag voor hom. Die bul het sonder meer weer gestorm, weer niks gevind nie en weer omgedraai, maar dié keer gouer, sodat die matador vinnig moes wegtrippel en homself posisioneer om plek te maak vir die bul se stormloop. Hierdie keer was die bul só naby hom toe hy storm, dat sy agterlyf in die verbygaan teen die matador s’n geraak het. Weer en weer het die bul gestorm, totdat hy uiteindelik ná ’n stormloop gaan staan het sonder om om te draai, klaarblyklik winduit.

      Die matador het skuins gaan staan, linkerarm in die sy en die mantel in sy regterhand na die bul uitgehou, wat intussen weer omgedraai het. Toe die bul weer storm, het hy gedraai tydens die verbystorm, sodat die bul in ’n halfsirkel om hom beweeg het. Die matador is agter om die bul en het die volgende keer die mantel soos ’n tennisraket vir ’n rughandhou vasgehou. Die bul se verbygange het al hoe nouer om die matador geword, sodat dié later sy arm vlugtig oor die bul se rug gesit het om sy balans te hou.

      Die reeks het geëindig met die bul wat uitgeput na die matador staan en staar, flanke wat sy hortende asemstote wys, sy bek oopgesper en sy tong gekrul. Die matador het sy hand gelig en teatraal sy rug op die bul gekeer en weggeloop, sy rug krom, terwyl hy die skare toekyk en die mantel onder sy arm vou.

      “Hoekom so teatraal, en so dramaties?” wou Dawid weet.

      Juan het ’n rukkie gedink.

      “Enige uitvoerende kunsvorm is teatraal. Kyk opera, drama … ballet, selfs musiekkonserte. En dis natuurlik eg Spaans,” het hy met ’n grinnik bygevoeg. “Maar dit simboliseer ook Eros, die lewensdrang, viriliteit, wat dié enkele keer oor Thanatos getriomfeer het …”

      Juan se woorde het weggesyfer, want die stiervegter het weer gaan staan en die bul uitgelok, nou ’n hele ent van die dier af en met die mantel skuins agter hom. Toe die bul storm, het hy die mantel agter sy rug gehou, sodat die bul rakelings teen sy rug verby is. Toe die bul omdraai, het die man weer reg gestaan en toe die bul storm, ’n tree of wat vorentoe gegee, sodat die bul van rigting moes verander om hom te mis en die mantel te raak. Hy het hierdie reeks verbygange op min of meer dieselfde manier herhaal, sodat sy klere aan die voorkant later besmeer was met die bul se bloed soos hy telkens teen die matador verbyskuur. Aan die einde van die stel faenas het hy met ’n kreet die seremoniële swaard met ’n tennishou geswaai en omgedraai na die skare toe, terwyl hy weer van die hygende bul af wegloop.

      Teen die derde stel faenas kon die matador voetjie vir voetjie nader skuifel, totdat hy twee treë voor die bul, met sy lyf skuins gedraai, tot stilstand gekom het. Met sy gesig vertrek van die konsentrasie, het hy die rooi mantel agter sy rug vasgehou en dit stadig van links na regs beweeg terwyl die bul dit amper hipnoties met sy kop volg. Oomblikke lank het die mantel agter die man verdwyn, net om weer stadig aan sy ander kant te verskyn. Telkens het die bul die mantel bekyk, dan die man, dan weer die materiaal wat verskyn. Die skare het met ingehoue asem sit en kyk. Eensklaps het die bul gestorm, die matador in die verbygang opsy gestamp en in die lug in probeer spring om die mantel te gaffel wat oor sy kop en skof sleep. Hy was klaarblyklik moeg, maar nog nie klaar baklei nie.

      “Hoe weet hy wanneer die bul gaan storm?” het Dawid gevra.

      “Elke bul het ’n gebied om hom wat hy sal handhaaf en verdedig. Wanneer die matador dié gebied betree, sal die bul storm, of wanneer hy die bul uitlok op die grens van daardie gebied. Hoe langer die geveg aanhou, hoe kleiner word dié gebied. Een van die basiese vaardighede van ’n goeie matador is om te weet waar ’n spesifieke bul se gebied op ’n spesifieke tydstip is. Die matador ken teen dié stadium van die geveg die bul so goed soos sy eie siel. Hy vereenselwig hom totaal met die bul. So hy weet al instinktief wanneer die bul gaan storm. En plaas natuurlik elke keer sy lyf op die spel met sy oordeel.”

      Oplaas was die bul só moeg dat hy al hoe moeiliker gestorm het. Die matador het nader en nader aan hom moes stap en die mantel byna in sy gesig moes skud om nog ’n stormloop uit te lok. Die stormlope was stadiger en minder egalig, met die bul wat selfs langs die matador tot stilstand kom en uitgelok moes word om die mantel te volg. Elke keer wat die stormloop voltooi is, het die bul korter gedraai, met sy horings nader aan die matador se lyf.

      Aan die einde van hierdie stel faenas het die matador die bul in die middel van die arena gelos en na die barrera toe geloop.

      “En nou?”

      “Nou gaan hy die staalswaard haal.”

      Die matador is weer na die middel toe. Hy het weer die bul uitgelok om ’n slag of wat te storm, sodat