Название | 'n Belofte vir Bippie |
---|---|
Автор произведения | Elsa Winckler |
Жанр | Религия: прочее |
Серия | McGregor-reeks |
Издательство | Религия: прочее |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780796321466 |
Maar geen keuse wat sy sou maak, sou sonder nagevolge wees nie. Wat sy ook uiteindelik geweet het, is dat om van ’n swangerskap ontslae te raak, nie vir haar ’n opsie is nie. Baie ander kan dalk so redeneer en in ons land is hospitale verplig om vroue te help wat aandring op ’n aborsie, so dis moontlik om vinnig en met min ongemak nie meer swanger te wees nie.
Maar dit is nie vir haar ’n keuse nie. Vir twee weke kon sy nie slaap nie. Sy het haar kussing nag ná nag natgehuil, lang gesprekke met die Here gehad totdat sy uiteindelik besef het wat sy wil doen.
Sy het dalk nie “gewens” om swanger te raak nie, maar Papawer gaan nie grootword met die idee dat sy “ongewens” is nie. Hierdie baba gaan weet haar ma het haar lief, hierdie babatjie gaan weet niks anders is vir haar ma so belangrik soos haar kind nie.
Die afgelope vier en ’n half maande doen sy haar bes om op die positiewe dinge te fokus. Daar is mense wat haar bystaan, sy is nie alleen nie.
Die geluid van ’n swaar voertuig wat stilhou, laat Bippie opkyk. ’n Groot vragmotor parkeer aan die oorkant van die straat en daaragter, ’n bakkie. Die deur vlieg oop en ’n paar bruingebrande bene swaai uit. Riekert Tredoux, besef sy nog voor sy die res van sy lyf kan sien. Riekert is terug op McGregor.
Sy loop nader aan die venster, haar hand nog steeds teen haar buik. Derek Retief, die man met wie Reina in Desember getroud is, het die eiendom aan die oorkant van die pad gekoop, en Riekert het die opdrag gekry om die huis te restoureer. Die huis waaraan hy moet werk, is klaarblyklik nog een van die oorspronklike huise wat in die vroeë 1800’s gebou is.
Die lang, blonde man met die breë kakebeen wat sy verlede jaar ontmoet het terwyl hy na die eiendom kom kyk het, was ook op Derek en Reina se troue. Hy praat nie veel nie, maar hy kan nogal ongemerk oorvat. Soos die dag toe sy effens sleg gevoel het en hy haar, sonder om eers te vra, sommer opgetel en met haar kamer toe gestap het. En dít terwyl sy die hele tyd vir hom gesê het dis nie nodig nie, sy was net vir ’n oomblik duiselig.
Gelukkig sal dit nie weer gebeur nie, want die verskriklike naarheid van die eerste paar maande is verby. Deesdae voel sy baie goed.
Bippie stap nog nader aan die venster. Of sy dit nou wil erken of nie, sy het tog gewonder wanneer Riekert sy verskyning gaan maak.
Terwyl sy na die toneel aan die oorkant van die pad kyk, stap Riekert om die vragmotor en beduie iets aan een van die werkers wat saam met hom afgeklim het.
Skielik draai hy om en kyk reguit na die venster waar sy staan.
Bippie se eerste instink is om weg te duik, maar dis asof haar bene nie na haar brein wil luister nie. Buitendien is hier kantgordyne voor die venster, hy kan haar tog nie sien nie.
Iets beweeg teen haar hand. Verras kyk sy af en druk haar hand stywer teen haar baie effense boepie. Daar is dit weer. Sy snak na asem. Kan dit Papawer wees? Toe sy in Oktober by die ginekoloog was, het hy gesê sy behoort die baba so tussen sestien en twintig weke te voel beweeg.
Sy is nou twintig weke swanger en die afgelope twee weke was sy af en toe bewus van ’n ligte fladdering, maar dit was só effentjies, sy het gereken sy verbeel haar net. Maar wat sy nou voel, is ’n baie definitiewe beweging.
“Hallo, Papawer,” glimlag sy en vryf haar vingers liggies oor die ronding. Weer die beweginkie. Toe sy opkyk, is Riekert nie meer daar nie. Die beweging onder haar vingers het stilgeraak.
Uit die rigting van die kombuis kom gesellige geluide van potte en panne. Tant Trina en tant Cora se stemme word net af en toe onderbreek deur ’n tussenvoegsel van oom Fred se dieper basstem.
Sy moet iets eet voor sy gaan werk. Die twee tantes, vriendinne van ouma Reina, wat ook in die groot ou huis bly, bederf haar gruwelik en wil net keer wanneer sy iets probeer doen. Oom Fred, wat laer af in die straat bly, maar meestal hier is en gedurig iets vind om te herstel, is net so gedienstig. As dit nie vir hulle was nie …
Die volgende brander van paniek wil net oor haar breek, maar Bippie skep diep asem. Kan sy nie maar sommer net weghardloop nie? Waarnatoe?
Vandat sy hier op McGregor is, het sy begin dagboek hou. Ouma Reina se dagboeke is haar inspirasie. Die manier waarop sy al haar deurmekaar gedagtes neergeskryf het, het Bippie laat dink sy moet dit ook doen. En dit help.
Nie dat sy dit so gereeld soos ouma Reina doen nie, maar so af en toe, wanneer haar gevoelens te oorweldigend raak, trek sy haar rekenaar nader en probeer om orde te skep in die chaos in haar gemoed. En so met die woorde voor haar op die rekenaar, lyk sake nie heeltemal so hopeloos nie. Haar wanhoop, vasgevang op een of twee bladsye in ’n lêer, lyk dan hanteerbaar.
Eeue gelede het die oermens ook daaglikse gebeurlikhede van sy stam op rotse uitgekap, iets wat ons vandag insig gee in hulle doen en late.
Sy het ook haar tribe. Hier is mense wat saam met haar gaan bly wees oor Papawer se eerste bewegings. En oor die feit dat die eksterne eksaminatore vir haar goeie punte gegee het.
Goeiste, dis al amper halftien. As sy tienuur wil oopsluit, sal sy ontbyt gou moet sluk. Sy loop kombuis toe.
Twee
“Dankie, tant Cora, maar ek –”
“Sit, kind.” Cora trek Riekert aan sy arm nader aan die stoel. “Ons het meer as genoeg vir jou ook. Bippie is veronderstel om vir twee te eet, maar dis so ’n gesukkel om haar sover te kry om soggens iets te eet. Sy raak net baie, baie knorrig as sy nie eet nie, vra vir Trina. Deurmekaar hormone en lae bloedsuiker, as jy my vra. Dalk eet sy meer as sy geselskap het.
“Toe, toe, sit, ek hoor haar aankom.”
Riekert sluk die kreun wat wou uitglip terug. Hoekom het hy hom laat ompraat om te kom koffie drink? Hy wou so gou moontlik in die huis verdwyn om te begin werk, maar het nie rekening met tant Cora gehou nie. Hy het skaars stilgehou, toe was sy en tant Trina daar om hom vir koffie te kom haal. En nou gaan hy sommer ontbyt ook kry.
Hy het een voorneme: bly so ver moontlik weg van Bippie Snyman. En kyk waar sit hy nou? In die kombuis van die huis waar sy woon.
“Vertel eers vir my hoe dit gekom het dat jy huise restoureer? Ek verstaan jy was ’n ingenieur in Johannesburg?” vra Cora. “Maar nou bly jy in die Paarl? Dit was seker nogal ’n aanpassing om skielik op ’n dorp te wees en nie meer in die gewoel van ’n stad nie?”
“Wel, een van die redes hoekom ek weg is uit Johannesburg, is juis sodat ek rustiger en eenvoudiger kan lewe,” sê hy. “Na skool het ek meganiese ingenieurswese geswot en by ’n maatskappy begin werk wat masjinerie vir die mynbedryf ontwerp, ontwikkel en bou. Maar na vyf jaar was ek lus vir ’n verandering. Ek sal iewers vorentoe seker weer teruggaan, maar op die oomblik geniet ek wat ek doen.”
Wat hy nie vir die tantes vertel, is dat geld nie vir hom ’n kwessie is nie, danksy die erfporsie wat hulle pa, asook hy en sy broer, na hulle geliefde oupa Alex se dood gekry het. Dit was dus vir hom nie nodig om dadelik finaal te besluit wat hy vir die res van sy lewe wil doen nie.
“Maar hoekom die restourasie van ou huise?” vra Trina.
“My oupa Alex het huise gerestoureer en hy het my lief gemaak vir houtwerk, vir bou, en om met my hande te werk. Hy het ook op Wellington gebly waar ek grootgeword het. My pa is ’n mediese dokter en het sy praktyk nog daar. Om te sien hoe ’n ou plek tot sy oorspronklike glorie gerestoureer word, was altyd vir my besonders.”
“So jou oupa het jou geleer?” wil oom Fred weet.
Riekert knik. “Op hoërskool en as student het ek hom dikwels gedurende vakansies gehelp met die restourasie van ou geskiedkundige geboue en huise. Ek is nog nie seker wat ek die res van my lewe wil doen nie, en tot tyd en wyl restoureer ek huise.”
“Het jy enige ander opleiding?” vra Cora.
“Ek het ’n kursus gevolg en restourasie is wat ek die afgelope twee jaar doen. Ek het ’n uitstekende span byeengekry, baie van die manne weet meer as ek daarvan af.”