1 Recce. Alexander Strachan

Читать онлайн.
Название 1 Recce
Автор произведения Alexander Strachan
Жанр Военное дело, спецслужбы
Серия
Издательство Военное дело, спецслужбы
Год выпуска 0
isbn 9780624081500



Скачать книгу

geplaas het om konsternasie in Bloemfontein te saai.

      5

      Eerste Recce-ongeval

      “Stop! Stop! Stop!” roep Dewald skielik uit. In die sand voor hulle het stewelspore duidelik gewys waar die Swapo’s die ou Ovambo-pad oorgesteek het. Die spoor kan nie te oud wees, sê hy. Op grond van Dewald de Beer se skatting het hulle ’n idee hoe ver die Swapo’s van dié punt sou loop. Hulle moet teen dié tyd al taamlik dors wees. Die groep Recces besluit om so vinnig as moontlik by die watergate uit te kom en die Swapo’s daar in te wag. Hulle is haastig ingeval Dewald ’n dag of wat uit is met sy skatting van die spoor.

      Dit was 23 Junie 1974, baie ná aan die kortste dag en langste nag in die Suidelike Halfrond.

      ’n Week of so tevore het die Recces inligting gekry dat Swapo-kaders besig was om na Suid-Angola te beweeg. Breytenbach se span het die gebied goed geken – hulle het immers vier jaar tevore met hul eerste operasie, Operasie da Gama, al die watergate daar opgeteken. Dit was destyds in ’n mate vervelige werk, maar nou het hulle die vrugte gepluk omdat hulle onder meer geweet het waarlangs die ou Ovambo-pad loop.

      Die Swapo-groep is toe al twee weke lank onderweg en die Recce-span is vinnig met twee Land Rovers dieper in Angola in om hulle te onderskep. Dit was winter en die span het gemeen dat die Swapo’s van watergat tot watergat sou beweeg. Hulle het dan ook hul strategie op dié aanname gegrond.

      Jan Breytenbach was in die voorste voertuig wat deur Trevor Floyd bestuur is. Dewald, die een spoorsnyer, het voor op die linkermodderskerm gesit en Eric, die Boesman-spoorsnyer, op die regtermodderskerm. Fred Zeelie, Nella Nel en Chris Hillebrand was ook op die voorste voertuig. Agter hulle het John More, FC van Zyl, Koos Moorcroft, Kenaas Conradie, Anton Retief en die ander Boesman-spoorsnyer, Langman, gery.

      More se Land Rover, wat agter gery het, stop eerste en die bemanning klim af om hul hinderlaag by ’n watergat daar naby te lê. Dewald-hulle ry nog ’n paar kilometers aan tot naby ’n mooi waterpan. Hulle neem hul posisies ’n entjie daarvandaan in.

      Fred het onder ’n groterige bos inbeweeg. Voor hom het die wind van die kant af oor die water gekabbel. Al die spore na die pan het daarop gedui dat dit gereeld besoek word.

      Dewald en Eric was aan die heel linkerkant opgestel ingeval die vyand dalk om die groterige bos sou kom. Fred en Chris het nou tot taamlik in die middel beweeg en was op effense hoë grond naby ’n miershoop wat inmekaargesak het. Uit hierdie posisie kon hulle reg langs die watergat afkyk na die oorkant toe. Nella was regs en effens voor hulle binne-in die uitgeholde miershoop en met takke toegepak.

      Net toe die groep klaar opgestel is, kom daar ’n dringende radio-oproep van Rundu deur en Breytenbach moet terug na die voertuig toe. Terwyl hy en Trevor by die Land Rover doenig is, sien Dewald ’n beweging. Hy moet sy oë twee keer knip om seker te maak wat hy sien … vyf Swapo’s kom doodluiters uit die bos aangestap! Die een loop so lekker windgat met ’n beesstertjie in sy een hand waarmee hy teen ’n boomstam slaan. Dewald hoor hoe dit “grrrts-grrrts” maak. Die volgende oomblik vuur Fred se LMG oorverdowend. Dis net ’n kort sarsie want die ligte masjiengeweer stoor (weier om te vuur) byna onmiddellik. Toe trek Chris los.

      Die bos bars uit in ’n chaos van geweervuur. Op die pan spat die water in alle rigtings die lug in. Vir ’n paar oomblikke lyk dit amper asof almal hul vuur op die waterpan konsentreer. Die Swapo-kaders het van die verkeerde kant af om die miershoop gekom en dit het sake ’n bietjie deurmekaar gekrap. Die eerste een, die leier, word by die groot boom voor die miershoop doodgeskiet. Net daarna val nog een en hulle draai om. Naby die miershoop begin die LMG weer verwoed vuur en almal weet Fred het sy wapen se storing herstel.

      Dewald sien ’n Swapo-soldaat wat bly lê, maar hy was byna onsigbaar in die stof van Fred se geweervuur. Albei sy bene was afgeskiet en hy was reeds dood. Maar Fred het nog nie opgehou skiet nie en die stof het aanhoudend om die dooie gedwarrel.

      Op daardie oomblik kom Trevor en Breytenbach van die voertuig af aangehardloop en roep: “Volg deur, kom!” By die bosse aangekom sê Dewald: “Wag eers, ek het een hier geskiet! Ek het gesien hoe hy swik en sy geweer weggooi!” Hy hardloop om die bos en roep: “Hier lê hy reg by my. Ek het hom met ’n swaar kaliber geskiet, sy skouer is morsaf!”

      Hulle was onder die indruk dat hulle drie Swapo-kaders geskiet het. Maar toe hulle weer sien, lê daar net twee. Een het intussen opgespring en die pad gevat. Twee dae later het die groep ’n radioberig gekry dat hy ook intussen dood is weens ’n skoot wat hy deur die maag gekry het.

      Eric, wat met ’n ou .303 gewapen was, het intussen een van die gevalle Swapo-soldate se moderner SKS-geweer (’n Russiese semi-outomatiese karabyn) by die Recces present gekry – nou het hy ’n baie beter wapen gehad.

      More en sy span kom toe inderhaas daar aan. “Klim!” roep Trevor en Dewald, altyd die spoorsnyer, spring weer links voor op die Land Rover en Eric regs. Die Swapo’s het met ’n paadjie langs weggehardloop en die twee voertuie volg nou dieselfde roete in die hoop om hulle op te spoor.

      So in die ry, selfs nog voordat die Boesman-spoorsnyer se skerp oë dit optel, skreeu Dewald skielik: “Hier’s hy! Hier’s hy!” Hy het weer eens die spoor raakgesien. Die voertuie stop en almal spring af. Vir Trevor lyk dit of die hele groep nou aan die hardloop is – dan is hulle dié kant van sy voertuig, dan daardie kant. Die Boesman-spoorsnyer het boonop iets langs die pad opgemerk en hulle ontdek ’n drom halfvol ammunisie asook ’n rugsak en ’n mediese tas. Dit was ’n aanduiding dat Swapo baie naby was.

      Koos se Land Rover het probleme begin gee en Trevor, wat kennis het van enjins, ruk die enjinkap oop en begin die voertuig regmaak. Dis toe dat hy skielik besef dat hulle groot probleme het. Een kyk na Koos en dié beaam sy vermoede: Hulle was in die middel van die Swapo-hinderlaag se doodsakker, besig om ’n Land Rover reg te maak! Die enigste rede hoekom Swapo nog nie begin vuur het nie, was waarskynlik omdat hulle onseker was oor die Recces se getalle en ook omdat die Recces moontlik die hinderlaag van die verkeerde kant binnegegaan het.

      Trevor gryp die LMG, lê oor die enjin aan en begin vuur, maar daar is heeltemal te veel bos voor hom. Hy hoor duidelik hoe Breytenbach na Fred roep wat saam met Chris die bos vee. Dit behels dat hulle in ’n uitgestrekte linie stap op soek na tekens van die vyand. Toe Floyd begin vuur, het dié twee dadelik ondersteuningsvuur gelewer en toe begin die kontak in alle erns. Dit voel asof alles gelyktydig gebeur en die tyd stil staan.

      Breytenbach skreeu deurgaans vuurleidingsbevele aan die groep. By die Land Rover trek die koeëls oor Trevor en Koos se koppe. Gelukkig skiet die Swapo-soldate hoog. Trevor antwoord met nog ’n paar sarsies oor die enjin. Hy en Koos hoor hul eie mense in die bos en kan derhalwe nie te laag skiet nie maar hoop om darem die Swapo’s se “koppe af te hou”. Daarna maak hy die kap toe want hy weet nie eintlik wat aangaan nie.

      Almal fynkam nou die bos met Fred as die linkerkantse verkenner. “Kom in donnerse lyn!” skreeu Breytenbach vir hom. Dit was waarskynlik die laaste woorde wat Fred gehoor het. Die volgende oomblik klap nog skote. Dewald onthou vandag nog van die vuurleidingsbevele: “Kenaas, gaan vorentoe! Skil af na regs! Buddy-buddy!”

      Met die openingsvuur was Chris dadelik vasgepen, maar Fred het die hinderlaag vreesloos en instinktief gestorm en ’n vyandelike masjiengeweer-skutter doodgeskiet. Chris kon die duidelikste sien wat in die spervuur gebeur. Fred het in sy stormloop ’n goeie 40 tot 60 m gevorder. Toe klap nog skote van Swapo se kant af. “Fred! Fred!” het Breytenbach weer geroep. “Die luitenant is gefloor, kommandant!” het Chris geantwoord. Dit was of daar meteens ’n kort oomblik van stilte neerdaal – dit was presies 17:45. Fred Zeelie se dood was ’n groot verlies vir die Recces.

      Met die geveg steeds aan die gang kom Eric met sy nuwe SKS-geweer uit die bos gestap en gooi dit nukkerig agter op die Land Rover. Dewald dag eers die Boesman gaan padgee, maar hy het net sy ou .303 kom terugvat. Eric kon nie met die moderne SKS oor die weg kom nie. So is hy toe weer die bos in met sy getroue .303, die enigste wapen waarmee hy absoluut vertroud was, en het hy selfversekerd by sy span aangesluit.

      Sporadiese vuur het nog ’n verdere 15 minute geduur met geeneen van die