Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Helena Hugo Eerste Keur
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624083627



Скачать книгу

geskenk georganise. Love you.”

      “Love you too.”

      Hoe maklik val die woorde tussen hulle, en sonder enige betekenis. Hy druk die interkom se skakelaar. Diedericks antwoord dadelik. “Kry asseblief my aandpak gereed, pak ’n oornagtas vir Johannesburg. Vra mevrou Hendricks of ek sesuur kan eet en sê vir Sam hy moet kyk of die Maserati vol is.”

      Diedericks vra nie vrae nie. “Ja, meneer. Goed, meneer. Ek reël dit,” sê hy saaklik.

      Theo sluk sy whiskey weg, roep die honde en stap na sy kamer om sy swembroek aan te trek. Met die handdoek om sy nek en Bismarck en Rommel op sy hakke draf hy swembad toe en duik sonder huiwering in die koel water. Hy swem vyftien keer heen en weer, maar niks kan sy frustrasie hokslaan nie. Hy wil haar kaal hê, in hierdie swembad, en hy sal nie rus voor hy haar het nie. Al wat hy in die Karoo gaan soek het, was weiding vir sy vee en ’n dag of twee se rus en vrede. Toe ontdek hy haar en nou is die bietjie vrede wat hy gehad het, totaal en al daarmee heen. Sy is oral.

      Sierlik kelk sy haar arms, strek sy haar bene, swaai sy haar goue hare oor haar rug, staan sy afgeteken teen die son. Hel, hy kan in ’n digter verander. Hy kan weer kind word saam met haar, vry van die bande van geld en mag, teruggaan grond toe. Uitgeput staan hy aan die vlak kant van die swembad met sy rug teen die wal. Hy is nie uitasem ná die gesonde oefening nie, maar in sy hande – so voel dit vir hom – hou hy sy sterwende hart vas. Toe hy stad toe is om sy fortuin te maak, het sy oorlede pa hom gewaarsku dat hy eendag sal terugverlang plaas toe.

      “Jy was toe reg, Pa,” sê hy in die rigting van die daklig. “Nou wil ek, maar ek is vas.”

      Die honde wag geduldig op die rand van die swembad vir sy teken. Hy wink vir hulle om in te spring. Hulle is nie links nie, die swemmery saam met hom is ’n hoogtepunt. Hy speel met hulle en baljaar vir seker tien minute voor hy hulle uitjaag en die volgende vyftien lengtes pak. Selfs dít kan hom nie bevredig nie. Hy moet uit sy omgewing wegkom, gaan na ’n plek waar niemand wat hom ken as dr. Theo Wessels, Sakeman van die Jaar, hom sal wil volg nie – ontslae raak van hierdie wanbalans.

      Die gesondheidplase en rusoorde wat hy gereeld besoek, is nie meer ’n opsie nie. Daar kruip altyd iemand uit wat hom herken en besigheid wil praat, of Sylvia volg hom, baiekeer met ma en al. Hy het min of meer twee weke oor voor die jaarlikse familiesaamtrek en hy is nie lus vir die De Wildts nie. Twee weke van suiwer, ongenadige foltering lê nog voor voordat hy kan vlug, ás hy dit regkry. Jaareindfunksies, afskeidspartytjies, familiebyeenkomste en, vir die kersie op die koek, die tradisionele Kersnaweek by die seehuis teen die hange van Gordonsbaai. Vanjaar loop hy weg Karoo toe. Maar wat sê hy? Sy skape het hom nodig? Of vertel hy haar die waarheid? Dat hy keelvol is van high society, haar salonskoonheid hom afskrik, sy huis en sy karre hom bang maak, sy kantoor en die direksie en haar pa se kantoor en sy direksie hom walg, dat sy ontwerperspakke hom knel en sy gholf-buddies hom irriteer. Sylvia sal dink hy is gek. Dalk is hy? Het hy vandag te veel gedink en sy verstand verloor op pad van die Karoo af tot hier? Woedend klap en skop hy waterstrale in alle rigtings en skreeu so hard soos hy kan. “Ek wil ontsnap!”

      Die honde, wat waarskynlik dink hy is in die moeilikheid, duik in en kom skuur hul nat lywe teen hom. Hy kry trane in sy oë toe hy sy arms om hulle slaan. “Julle kom saam. Ek sal julle nie hier los nie.”

      Hulle spook en spartel en speel soos lank gelede toe hy nog ’n seuntjie was, sy pa na sy geldsake omgesien het en sy ma en susters die enigste vroue in sy lewe was.

      ***

      Toe Marissa die klop aan die deur hoor, besef sy dat sy tog ingesluimer het. Sy spring van die bed af op en draf na die voordeur. Deur die loergaatjie sien sy Diana met arms vol inkopiesakke. Sy maak dadelik vir haar oop.

      “Vriendin!” gil Diana, skop die deur toe en plak haar sakke op die kombuistoonbank. Sy val Marissa om die nek. “So nice dat jy hier is! Jy lyk goed! Darem net die lieflikste hare. Hoe kry jy dit reg om dit lank te hou? Kyk myne.” Diana het haar hare kort gesny en skokkend pienk gekleur. “Pas by die somerkleure. Was en dra soos ’n droom. As ek ander hare benodig, sit ek ’n pruik op. Hoe laat het jy hier aangeland?”

      “Vyfuur se kant. Ek het aan die slaap geraak. Hoe laat is dit?”

      “Weet nie. Sesuur? Jy is seker nie meer moeg nie!” Sy pluk die yskasdeur oop. “Waar’s daai sodawater, ek sterf van die dors. Aha! Het jy al iets te drinke gehad of join jy my? Sodawater of ystee?” Diana spring kas toe en haal twee glase uit. “Dis kitskorrels, koop dit op die vlooimark. So ’n nice couple wat dit maak, vrek van die armoede, maar bly nice. Come to think of it, ek’s lus vir iets sterkers. Jy? Wat van sodawater-plus?”

      Die jenewerbottel staan tussen die olyfolie en balsemieke asyn. Sy giet ’n goeie skoot in elke halwe glas sodawater, dan gryp sy ’n suurlemoen in die vrugtebak, sny dit in skywe. “Mint is daar ver in die tuin, anders het ek gou gaan pluk. Oeps! Eers gou ons etes versorg. Hierdie kombuis is so deurmekaar, ek sal ’n dag moet vat en regpak.” Sy grawe in haar inkopiesak, maak die vriesgedeelte van die yskas oop en gooi ’n paar pakkies in.

      Marissa wil glimlag. Sy het vergeet hoe hiperaktief Diana is. Binne die volgende uur gaan sy gedaan wees van kyk en luister en sukkel om ’n woord in te kry.

      “Oukei! Gryp jou glas, ons gaan sit, dan vertel jy my als. Was Theo Wessels toe hier? Nie geweet julle ken mekaar nie. Was ook te haastig toe hy bel en my vra om die sleutel te los. Vir hom doen jy wat hy vra. Een van daais wat ’n gevaarteken om sy nek moet hang, maar jy weet seker al. Sit! Ek wil alles hoor. Hoe was die troue?” Marissa neem ’n slukkie van haar gedokterde sodawater en kry nie kans om te antwoord nie.

      “Gelukkig is jy nog vry soos ’n vlinder! Hoop nie jy gee om om vanaand saam met my uit te gaan nie? Hier’s die goddelikste man aan wie ek jou wil voorstel. Hy regisseer by Goue dae, soek altyd mooi meisies vir walk-ons. Dink net, jy kan sy volgende ster wees.”

      Marissa maak haar mond oop, sy wil sê sy stel nie belang in toneelspeel nie, en regtig? Moet hulle vanaand al uitgaan?

      “He’s not bad. Was al getroud, sy eks is ’n mediese dokter. What an unlikely couple! Sy’t niks van sy werk verstaan nie, nêrens gegaan sonder haar stetoskoop om haar nek nie. Hy werk weer net wanneer hy die regte break kry. Mind you, Goue dae is nie juis hoë kuns nie. Kunstenaars moet ongelukkig nou en dan compromise om ’n slag te kan eet. Voorheen het mevrou die malie ingebring. Hy skilder ook. Jy sal mal wees oor sy skilderye. En musiek! Hy’t vir ons comps gekry vir die opening van Madama Butterfly in die Civic. Altyd ’n okkasie, hoewel party mense deesdae tekkies en jeans dra al gaan hulle waar. Madama Butterfly … Was ons nie eenkeer by ’n show in die Baxter nie?”

      Marissa wil haar reghelp, dit was die Artscape, nie die Baxter nie.

      “Al wat ek kan onthou, is dat dit vrek treurig was. Ons moet vir ons tissues inpak. Sy naam is Gunter Winterbach, maar hy’s nie Duits nie. Wat wil jy nog weet? Ek gaan uit met Vernon Palmer, fotograaf en kameraman. Ek en Schalk het nie uitgewerk nie. Mal oor Vern. Hy’t ’n huis op die wal van die Hartbeespoortdam. As my werk nie hier rond was nie, het ek my goed gepak en soontoe getrek, dis so in die natuur. Maar hy bly ook net daar as hy nie skiet nie. Nog sodawater?”

      Sy skud haar kop, sy het net ’n paar slukke gedrink.

      “Jy is stil.”

      “Vra my ’n vraag en gee my kans om te antwoord.”

      Diana gooi haar kop agteroor en lag. “Ek hoor jou loud and clear! Gee jy om as ons vanaand opera toe gaan?”

      “Ek glo nie ek het die regte rok nie, vir ingeval ons moet opdress.”

      “Geen probleem nie, ek leen jou een van myne. Sal jou so mooi maak, Dawie sal spyt wees. Kom ek wys jou.”

      Diana wil opspring, maar Marissa keer haar. “Daar is iets wat ek jou moet vertel.”

      “Jip?”

      “Hulle is toe nooit getroud nie.”

      “En nou?”

      “Hy’t gister vir Mart geskiet en toe skiet hy homself.”