Название | Helene de Kock Keur 2 |
---|---|
Автор произведения | Helene de Kock |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798176446 |
“So asof julle nog laas in soete harmonie uitmekaar is,” snork Karel minagtend toe hy een aand teen skemer saam met haar gaan stap.
Jessica byt op haar lip en haak gemeensaam by hom in. Die afgelope dae is dit asof hy innerlik bedaar het, want die arm wat hy dadelik om haar skouers slaan, is broederlik vertroostend. Al weet sy dat dit hom iets moet kos. Jare se stil, stuwende bewondering sal nie in ’n goeie man se hart sommer weer gaan lê nie.
Toe hulle ’n kwartier later met hygende asem tot bo-op ’n sandsteenkoppie klouter, tuur sy oor die bosse populiere en die rooiblink plaasdam wat onder hulle lê, en sê: “Jy is my heel beste vriend, Karel Malan.”
“Ek weet,” sug hy, “en dis nie maklik nie.”
Die woorde is so warm, so eg dat daar trane in haar oë spring. “Wat moet ek tog doen?” fluister sy. “Ek sal hom byna elke dag by die Regsfakulteit raakloop. En … ek sal nie weet of ek moet lag of huil nie.”
Hy knik sy kop gewigtig en sy mond vertrek effens. “Die waarheid word selde in flitse geopenbaar, Jessica. Om te weet wat is wát in die lewe, moet ons bereid wees om deel van ’n proses te word.”
Sy staar hom vraend aan, vee met haar handpalms die trane weg. “Hoe bedoel jy nou?”
Hy blaas sy asem hard uit en toe hy praat, is sy stem laag en gedrewe. “Ek bedoel dat ’n mens moet bereid wees om te soek as jy wil vind. Dis immers wat ek gedoen het toe ek jou hierheen saamgebring het.”
Sy byt haar lip vas, voel hoe haar ken beef. “Maar nou het jy nie gevind nie, Karel. Dit was verniet …”
Hy trek haar met een haal teen hom vas en vou haar toe asof sy ’n bang kind is. Sy laat hom begaan; voel die warm, wrang emosie wat hom noop om teen haar hare te fluister: “Maar dit was nie verniet nie, Jessica. Ek het immers die waarheid gevind.” Hy laat sy arms sak en sy staan effens tru, kyk op in sy oë.
“Watter waarheid? Die een wat jy gesoek het?”
“Nee, natuurlik nie,” sê hy en vee ’n stringetjie los hare van haar voorkop af weg. “Die waarheid is dat jy nie vir my bedoel is nie. Jou hart is elders, al weet jy self dalk nie waar nie. Die waarheid is ook dat ek wel my weg sal vind sonder jou, maar ook dat ek altyd daar sal wees vir jou. Maak dit vir jou sin?”
Sy knik stadig en ’n glimlag roer om haar mond. “Ek wil nooit jou vriendskap verloor nie, Karel. En ek gaan jou nog baie nodig kry, ek weet dit net. Ek het net geen idee hoe ek gaan voel wanneer ek Daniël weer sien nie.”
“Wel, daarop kan ’n mens jou nooit voorberei nie. Geniet nou liefs die paar dae hier op Populier. Dalk bou jy ’n soort kalmte daardeur op.”
Karel het ’n punt beet, besef Jessica een middag toe sy saam met Anna sit en perskes skil om in te lê. Dis of die oesbedrywigheid op die plaas en die gesellige gewerskaf in die huis salwend op haar gemoed inwerk. En nie net dit nie. Sy voel al meer gebonde aan Populier en sy mense.
Dis kompleet asof sy en Anna mekaar maar altyd geken en begryp het. En Karel pas al snoesiger in die leemte wat sy altoos voel omdat sy nie ’n broer het nie. Ook Adam is goedig gaaf met haar, en Jansie bewonder haar openlik: “O, om soos jy te lyk, Jessica! Veral nou sal ek wat wil gee om daardie latlyfie van jou te hê. En jou hare … so swaar en blink.”
Kiewiet is by met een van Jansie se lofredes op Jessica se voorkoms. Dis na een van sy sessies by die droogoond en hy is in sy plaasuniform, ’n oorpak wat ruik na gistende koring, en ’n wilde kuif, vaalbruin van die fyn kaf. Hy sluk sy koffie vinnig weg en plak die beker op die kombuistafel neer. Sy hande gaan na sy heupe en ’n oomblik lyk dit asof hy ’n rits woorde gaan kwytraak. Maar hy vang Anna se blik en maak sy mond toe, kyk stip na Jessica se fyn, taai vingers wat knap aan die sappige perske skil en draai in sy spore om om mompelend oor sy skouer te groet.
Eintlik, dink Jessica, is dit al wat pla. Die feit dat Kiewiet om die een of ander rede nie wil vrede maak met haar teenwoordigheid hier op Populier nie. Ook Jansie sit met oopmond-ergerlikheid en kyk na die sifdeur wat hy weer agter hom laat klap het, maar Anna gooi doodbedaard vir hulle drie nog koffie in.
“Ma het darem baie geduld met Kiewiet,” verwyt Jansie ligweg. “As Adam darem soos hy moet maak!”
Maar Anna glimlag onverstoord, staan op om solank aan die stroopsoet konkoksie op die stoof te roer. “Adam sal nooit,” sê sy getroos. “En Kiewiet het net ’n bietjie tyd nodig om ’n nuwe situasie gewoond te raak.”
“Watter, situasie?” vra Jansie gretig en leun vooroor sodat haar ronde buik teen die tafelrand druk.
Jessica skil die laaste perske in haar bak en lag saggies vir die bloesende verwagting op Jansie se gesig.
“Daar is nie werklik so iets nie, hoor. Maar Kiewiet staan baie skepties teenoor my. Ek neem hom nie kwalik nie. Dit klink altyd banaal as mense sê hulle is net goeie vriende. Maar hy sal nog sien – dis al wat ek en Karel werklik is. Baie goeie vriende.”
Jansie se gesig val ooglopend, maar Anna glimlag wyslik toe sy van die kokende perskes in flesse begin skep. “Jy verstaan vir Kiewiet,” sê sy sag en tevrede.
Jessica wil haar reghelp, maar sluk liefs die woorde weg. Anna wil niks weet van haar Kiewiet-kind nie. Sy sal stellig nie glo dat hy nou die dag, toe sy wat Jessica is saam dorp toe gery het, nie een enkele woord op pad soontoe met haar gepraat het nie. Behalwe dat hy haar bot beveel het om haar sitplekgordel ordentlik vas te maak en by die kafee ’n paar rand in die hand gestop het met die opdrag om vir hulle suigstokkies te koop vir die pad terug. Nee, Anna weet sekerlik nie dat Loek-alias-Kiewiet met rooi suigstokkies maak soos wat kettingrokers met sigarette maak nie. En dat hy haar net één aangebied het en toe gesê het die res is syne, en basta.
Jessica buk vooroor en haal nog ’n perske uit Jansie se bak, begin met intense konsentrasie daaraan skil. Anna en haar skoondogter se geselsies oor die baba wat kom, raak stadig weg. Sy hoor die klank van hul stemme, maar nie die woorde nie. Sy sien nou nog die suigstokkie bol staan in Kiewiet se stoppelwang, hoor sy ongeërgde geneurie saam met Leonard Cohen wat Everybody knows ritmies oor die radio uitkreun. En haar half geskokte verbasing toe hy eensklaps by ’n grondpaadjie afdraai en tot by ’n ry kronkelende wilgers ry.
“Klim uit,” het hy beveel en die stokkie na sy ander kies verskuif, “dan wys ek jou iets.”
Sy het effens bedug agter hom aangeloop deur die lang gras tot onder die koepels van die klamgroen bome. Toe eers het sy die bosse riete gewaar en die blink weerkaatsing van damwater.
Kiewiet het omgedraai en sy vinger voor sy lippe gesit, haar aan haar arm saam met hom afgedruk sodat hulle hurkend deur die riete kon loer. Sy het dit nie gewaag om na hom te kyk nie, was net skerp bewus van sy warm, sterk vingers wat nog op haar voorarm gerus en skielik stywer geklem het toe daar ’n geritsel vanuit die riete opklink. ’n Paar skelrooi vinke het raserig uit die boonste fladdering van rietblare gevlieg en sy het liggies geskrik. Sy hand het paaiend oor haar arm gevryf en sy het geheel en al verstil onder die aanraking. Maar voordat haar gedagtes aan die roer kon kom daaroor, was daar weer die skuifelende geluid van iets wat skugter deur die riete beweeg.
Toe sy weer sien, stap vyf ligroos flaminke op hul dun pienk bene die vlak water voor hulle in. Die voëls het met ’n soort komieklike grasie deur die water gewaad, hul roosrooi weerkaatsings wiegend op die mosgroen vlak. Nou en dan het een sy lang nek in die water gesteek op soek na iets te ete. Dit was ’n volkome vredige toneel. ’n Soel, skemer oomblik vol aandbries en warm, klam geure. Iewers dieper in die wilgers het ’n ontydige sonbesie saggies begin sanik, byna soos bloed wat singend in ’n mens se ore suis. Sy het gevoel hoedat haar spiere onder sy hand ontspan en sy het suutjies afgekyk. Sterk, lang vingers wat haar stil hou sodat sy nie ’n skielike beweging maak en die rus saam met die voëls verwilder nie. Hy het ook skielik afgekyk, hul oë so naby mekaar dat sy haar eie, effens verwronge refleksie in syne kon sien en die soet