Название | Omdat jy jy is |
---|---|
Автор произведения | Elsa Winckler |
Жанр | Эротическая литература |
Серия | |
Издательство | Эротическая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624083344 |
Kathleen kan nie help om te glimlag vir die vrou nie. Sy is baie verontwaardig en dis duidelik sy is baie betrokke by haar seun. Wie die “meisiekinders” is wat gaan saamkom, sal sy moet wag om te sien.
Nadat sy beduie het waar sy bly en haar selfoonnommer verskaf het, groet hulle en sy begin weer in Steyn se sak na medikasie soek. Al medisyne wat sy saamgebring het Greyton toe, is ’n paar parasetamol-tablette. As sy niks hier kry nie, sal sy dit gaan haal, maar sy dink die man het iets sterkers nodig.
Sy begin die klere stuk vir stuk uithaal. T-hemde, twee paar jeans en … Sy laat val die swart onderbroeke vinnig. Bella het altyd te vertel ’n man se onderbroek sê baie van hom. Daar is dié wat hou van boxers en dié wat hou van briefs. Sy kan nie meer Bella se teorie onthou van wat elkeen sou beteken nie, maar dis nie moeilik om ’n visioen op te tower met die man se gespierde lyf in die piepklein swart onderbroek nie. Hy val beslis in die “briefs”-kategorie.
Fokus, Leen, fokus. Die man is siek en sy sit en kwyl oor sy lyf in ’n swart onderbroek. Verdomp, sy reageer soos ’n gefrustreerde oujongnooi wat nog nooit naby aan ’n man was nie. Oukei, sy wás nog nooit so naby aan ’n man nie, maar sy is darem nog nie ’n oujongnooi nie.
Uiteindelik kry sy die blou badkamersak waarvan sy ma gepraat het. Daar is ’n paar houers pille in, maar sy het geen benul wat dit is nie. Gelukkig het sy ’n suster wat ’n mediese dokter is.
Sy bel vir Livie. Die foon lui en lui. Hoe gaan sy die hele situasie aan haar suster verduidelik? O, vrek, sy moet miskien net die apteek bel. Sy mik net om haar foon dood te druk toe Livie antwoord.
“Leen! Ek het na my foon gesoek om jou te bel toe jy lui. Wat is fout? Is jy veilig op Greyton? Alles oukei?”
Kathleen sug. Livie het die vermoë om altyd te weet wanneer een van hulle moeilikheid het. “Ek is oukei en moet asseblief nie nou baie vrae vra nie, ek sal later alles verduidelik, maar kan jy my sê waarvoor hierdie pille is?” Sy lees die name af voordat Livie iets kan sê.
“Leen! Wat het gebeur?”
“Ek is fine, hier is iemand … Ek het mos gesê ek sal later verduidelik. Kan jy help?”
“Die eerste naam wat jy genoem het, is vir inflammasie en die ander is pynpille, maar sterk pynpille. Vir wie is dit?”
“Sal enige van die pille help vir koors?” vra Leen.
“Ja, maar Leen, wat op aarde gaan aan?” Livie klink ontsteld en Leen sug. Of sy nou wil of nie, sy sal vir haar suster moet vertel wat aangaan.
So bondig moontlik vertel sy vir Livie van die kothuis en die reëling wat sy met die prokureur gemaak het oor Steyn Erasmus.
’n Paar minute is dit doodstil aan die ander kant. “’n Man? In ’n kothuis agter ta’ Peet se huis?”
“Die prokureur ken die man en ek sê mos hy sal vandag ander blyplek kry. Maar toe sy sak nog vanoggend op die stoep staan, moes …”
“… jy gaan kyk of hy oukei is,” sug Livie. “Dis ons Leen. Oukei, dis wat jy moet doen: Kry so gou moontlik medisyne in sy lyf. As dit nodig is, spons hom af en laat hy gemaklik lê. Wat makeer sy skouer, weet jy?”
“Sy ma het iets van ’n fiets gesê, so ek neem aan –”
“Sy ma? Is sy ook daar?”
Kathleen sug en vryf oor haar gesig. Dis ’n totaal absurde situasie en sy het nie nou krag of lus om verder te verduidelik nie. Sy sit die pille op die koffietafel neer.
“Ek praat later weer met jou. Ek gaan eers die man probeer help.”
“Sê net eers vir my, hoe lyk die man? Jonk, oud? Aantreklik? Sexy?” Livie se stem is vol lag.
“Die man is siek, Livie, ek praat later met jou.”
Sy lui vinnig af voordat Livie nog vrae kan vra. Dis baie maklik om te sê hy is nie oud nie, maar sy wil liewer geen kommentaar lewer oor sy voorkoms nie. Sy sal nooit die einde daarvan hoor as sy vir Livie sê die man is aantreklik én sexy nie.
Haar blik val op die stapeltjie swart onderbroeke in die sak. Sy kyk na Steyn, maar hy lê nog stil met sy arm oor sy gesig. Versigtig tel sy een van die onderbroeke op en hou dit in die lug. Is dit nie besonder … klein nie? Hoe pas …?
Sy laat val die onderbroek vinnig terug in die sak en stap na die klein kombuisie om ’n glas te kry. Met haar een hand probeer sy haar warm gesig koel waai. Wat op aarde gaan met haar aan? Sy is mos nie die tipe wat ’n wildvreemde man se onderbroek sommerso sal bestudeer nie. Hoekom hierdie wildvreemdeling haar nou juis soos ’n … soos ’n …
Vinnig maak sy ’n glas vol water. Daar is nie woorde om haarself te beskryf nie, goeiste. Sy’s skoon laf. Bella sê mos gereeld vir haar sy kort ’n goeie vry, seker dié dat sy soos ’n bakvissie reageer op ’n man.
Toe sy omdraai, is Steyn se arm langs hom op die bank, sy oë op haar. ’n Oomblik staan sy versteen. Hy kon nie gesien het sy hou sy onderbroek in die lug nie, kon hy? Natuurlik nie, sy is heeltemal simpel. Sy moet die man se pille vir hom gee en hier wegkom. Vinnig.
Sy stap tot by hom, haal die pille uit en hou dit saam met die glas uit na hom toe. “Kan jy regop sit?”
Hy beur vorentoe en raak bleek. Sy sit die glas en pille vinnig neer.
“Kom ek help jou,” prewel sy en gaan sit langs hom op die bank sodat sy hom aan sy gesonde skouer kan help oplig. Haar hande beland op sy kaal rug. Sy gespierde kaal rug. Haar asem raak weg, sy kners op haar tande, maak haar oë toe en help hom regop.
“Dankie,” sê hy kortaf en sy spring vinnig op voor sy iets heeltemal onbesonne aanvang.
“Hierso.” Sy gee die glas en pille weer aan en gee nog ’n tree agteruit. Hoe verder weg van hom af, hoe beter vir haar.
Sy oë bly op haar terwyl hy die pille afsluk.
“Uhm … is jy …?”
Hy pers sy lippe op mekaar. “Toemaar, ek weet jy is nie opgewonde oor die feit dat ek nog hier is nie. Ek wil net stort, dan gaan ek ’n ander blyplek soek,” sê hy en leun terug op die kussings. Hy is baie bleek.
Kathleen skud haar kop. “Dis nie nodig om so haastig te wees nie. Bly nog ’n dag of wat. Ek kan sien jy is siek.”
“Ek is nie siek nie,” kners hy uit en gluur haar aan.
Sy kan haar glimlag nie keer nie. Hy klink nes ’n stout kind. “Nou verstaan ek wat jou ma bedoel.”
Sy oë rek. “Hoe nou? Waar is my ma?”
Kathleen begin die situasie geniet. “Sy en die meisiekinders is op pad.”
“Wat? Waar is my foon?”
Sy tel dit van die koffietafel op en gee dit vir hom. “Sy het vroeër gebel. Jy het nie geantwoord nie.”
“Waar kom jy daaraan om ander mense se foon te antwoord?” vra hy vies en probeer opstaan, maar hy raak weer bleek en val agteroor. Hy mompel onderlangs, maar sy ken vloekwoorde as sy dit hoor.
“Dis nie nodig om lelik te praat nie. Ek probeer net help. Sal jy … uhm, het jy hulp nodig met die stort?”
Hitte kruip teen haar nek op. Sy tel die glas op en draai weg sodat hy nie die tekens kan sien nie.
“Jy kan maar sê as jy saam met my wil stort, jy hoef nie te skimp nie.”
Ontsteld draai sy terug. Hy staan wankelrig langs die bank, sy oë halfmas, ’n sardoniese glimlag op sy bleek gesig.
Sy