Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids. Lilian Paramor

Читать онлайн.
Название Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids
Автор произведения Lilian Paramor
Жанр Секс и семейная психология
Серия
Издательство Секс и семейная психология
Год выпуска 0
isbn 9780798171434



Скачать книгу

      Tot 70% van alle swanger vroue ly aan hiperpigmentasie of verdonkering van die vel. Dit is normaal dat sproete, moesies en vlekke groter of donkerder word. Dit word in die algemeen veroorsaak deur die verhoogde vlakke van progesteroon en estrogeen in jou liggaam en ’n toename in melanien in jou vel. Dit verdwyn gewoonlik binne ’n paar maande ná geboorte.

      Hiperpigmentasie affekteer meestal dié areas:

      •Die areola om die tepels.

      •Dele van die gesig, veral om jou mond (chloasma), die neus en wange (amper in ’n skoenlappervorm).

      •’n Reguit lyn vanaf die skaambeen tot by die naeltjie (die linea nigra).

      •Dele soos die geslagsdele, binnebene en onderarms.

      •Enige dele wat aan die son blootgestel is.

      Tuissorg:

      ✓Moenie lang tye in die son deurbring nie. Dra bedags ’n hoed en gebruik ’n sonskerm wat veilig is tydens swangerskap. Sinkpreparate is baie doeltreffend.

      ✓Bly weg van sonbeddens af.

      ✓Moenie bleikrome of kruiemiddels gebruik wat moontlik skadelik vir jou baba kan wees nie.

      ✓Gebruik ’n sagte, verkieslik organiese velroom wat nie die aangetaste dele verder sal irriteer nie.

      Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

      •Die meeste middels vir pigmentasie kan nie tydens swangerskap gebruik word nie. As jy ernstige hiperpigmentasie het wat nie binne ’n paar maande ná geboorte ligter raak nie, kan jy jou dokter vra om ’n behandeling voor te skryf.

      •Vra jou dokter om moesies wat jou pla te verwyder.

      4.Aknee

      Baie swanger vroue het las van aknee, veral as hulle maklik gespanne raak! Swangerskapaknee is ook meer algemeen onder donkerkoppe en vroue met ’n blas gelaat. Puisies kan oral op die liggaam voorkom, maar slaan gewoonlik op die gesig, rug en boarms uit.

      Tuissorg:

      ✓Dit is belangrik om te ontspan en na jouself te kyk, veral omdat aknee grotendeels deur stres veroorsaak word.

      ✓Eet minder rooivleis en kos soos pekeluie wat gis bevat, omdat dit die suurvlakke in die liggaam verhoog.

      ✓Eet geregte wat nie te gekompliseerd is nie en uit net ’n paar bestanddele bestaan.

      ✓Eet meer vrugte en groente en sluit speserye soos dille, vinkel en ment, wat ’n kalmerende uitwerking op die spysverteringstelsel het, in.

      ✓Werk suurheid teë deur nie vrugte saam met ander kosse te eet nie.

      ✓Drink agt glase water per dag en sny kafeïendrankies uit.

      ✓Was probleemareas met flou rooibostee.

      ✓Neem die weefselsoute Ferrum Phos en Calc Sulph, en homeopatiese gousblom- (calendula-) tablette. Al hierdie middels bevorder ’n gesonde vel.

      ✓Stap elke dag flink vir 20 minute om die bloedsomloop na jou vel aan te help.

      Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

      As geeneen van bogenoemde rate help nie, moet jy mediese raad kry.

      5. Droë of skilfervel

      Om droë of skilfervel te kan behandel moet jy eers vasstel wat dit veroorsaak. Dit kan byvoorbeeld ’n nuwe velsorgproduk, ’n verandering in jou dieet of selfs jou vitamienaanvulling wees. As jy die skuldige kan elimineer, behoort jou vel te verbeter.

      Tuissorg:

      ✓Gebruik plantolies wat ryk is aan omega 3-vetsure en eet kos soos dadels, avokado’s, neute en sade wat ryk is daaraan.

      ✓Voeg ’n pot rooibostee by jou badwater en wend koel rooibostee direk op die aangetaste areas aan.

      ✓Wend hipoallergeniese olie of room wat met vitamien E verryk is aan op die areas.

      ✓Neem homeopatiese gousblom- (calendula-) tablette drie keer per dag en wend calendula-room aan areas wat kwaai jeuk.

      Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

      As jy sleg voel of geeneen van hierdie rate help nie, moet jy mediese raad kry.

      VEILIGE SKOONHEIDSPRODUKTE

      Sommige chemiese middels in lyf- en gesigrome kan skadelik wees vir jou baba. Dit is belangrik om die etiket op elke produk te lees en seker te maak dat dit veilig is voor jy begin om dit te gebruik. Wees bedag op produkte wat dié bestanddele bevat en vermy hulle in die reël:

      •Salisielsuur Dit word aangetref in ’n verskeidenheid reinigers, verfrissers, afskilferaars en chemiese afskilfermiddels. Dit staan ook bekend as betahidroksisuur of BHA.

      •Retinoïede Dit word aangetref in teenveroudering-vogrome en weefselolie. Retinoïede wat in pilvorm geneem word, veroorsaak ernstige geboortedefekte en dit sal wys wees om ook rome waarin dit voorkom te vermy. Dit word ook Retin A, retinoësuur en tazarotene genoem.

      •Ftalate Dit word gebruik om produkte “sagter” te maak en kom voor in talle produkte, van velsorgmiddels tot plastiek en kosverpakking. Daar word dikwels bloot na verwys as “fragrance”, wat dit uiters moeilik maak om ftalate geheel en al te vermy. Doen nogtans jou bes om jou blootstelling tot die minimum te beperk.

      Terwyl jy swanger is moet jy skoonheidsbehandelings met groot omsigtigheid gebruik. Die volgende kan almal moontlik skadelik wees:

      •Chemiese bleiking of afskilfering Die chemikalieë wat gebruik word hou gevaar in vir ongebore babas. Indien jy chloasma het, sal velsorgprodukte met ’n sojabasis dit net vererger.

      •Wasbehandeling Dit is veilig, maar besoek liefs ’n betroubare salon en sorg dat die skoonheidsterapeut weet dat jy swanger is. Wasbehandelings is pynliker wanneer jy swanger is omdat meer bloed in dié tyd na jou vel vloei. Dit geld veral vir ’n bikini- of Brasiliaanse wasbehandeling.

      •Sonbruin ’n Bietjie son is goed vir jou, maar sorg dat jy nie sonbrand kry nie en moenie op die warmste tyd van die dag in die son sit nie. Jou baarmoeder kan oorverhit. Moet onder geen omstandighede ’n sonbed gebruik nie en bly ook weg van sonbruinrome en -sproeie wat chemikalieë bevat wat nadelig vir jou baba kan wees.

      •Haarkleurmiddels en -behandelings Die meeste salonprodukte is veilig as dit net af en toe gebruik word. Besoek ’n goeie salon en maak seker dat die stilis weet dat jy swanger is.

      •Manikure en pedikure Naellak kan tolueen, dibutielftalaat en formaldehied bevat wat almal gevaarlik is vir babas. Moenie jou naels in die eerste trimester verf nie en kies daarna naellak wat nie hierdie chemikalieë bevat nie.

      HOOFSTUK 7

      Jou gesondheid

      Die nege maande van jou swangerskap behoort grotendeels normaal, ongekompliseerd en positief te wees. Ongelukkig is daar talle dinge – soms klein en soms groot – wat ’n invloed het op hoe jy voel. Hier is ’n paar slim, veilige en doeltreffende maniere om hulle teen te werk.

      MOEGHEID

      Moegheid is ’n algemene klagte by swanger vroue. Onthou, jou liggaam is nou soos ’n fabriek wat 24 uur per dag moet werk met net een persoon aan diens. Dit is te verwagte dat jy ’n mate van moegheid sal ervaar. Die goeie nuus is dat dit gewoonlik beter gaan in die tweede trimester, maar dan vererger die ekstra gewig van die groter wordende baba weer sake in die derde trimester.

      Tuissorg:

      ✓Volg ’n dieet propvol vars seisoenale vrugte en liggies gestoomde groente. Dit is deurslaggewend.

      ✓Drink baie water, want jy kan moeg voel as jy gedehidreer is. Koue gesonde drankies