Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids. Lilian Paramor

Читать онлайн.
Название Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids
Автор произведения Lilian Paramor
Жанр Секс и семейная психология
Серия
Издательство Секс и семейная психология
Год выпуска 0
isbn 9780798171434



Скачать книгу

loop ’n groter risiko van preëklampsie. Probeer dus om jou gewigstoename met swangerskap onder beheer te hou met ’n gesonde dieet. Daar is onlangs bevind dat ’n tekort aan jodium en essensiële vetsure (EVS’e) verwagtende ma’s in groter gevaar stel. ’n Dieet ryk aan seekos (vis en seewier) en ’n aanvulling om jou inname van essensiële vetsure te verhoog, is ’n maklike manier om dit te voorkom.

      Ander faktore wat preëklampsie voorspel is:

      •Familiegeskiedenis As ’n nabye familielid preëklampsie gehad het, is jou risiko groter.

      •Persoonlike geskiedenis As jy voorheen preëklampsie gehad het, kan jy verwag om dit weer in jou volgende swangerskap te ontwikkel.

      •Sekere mediese toestande of siektes byvoorbeeld diabetes of chroniese niersiekte.

      •Leefstyl Rook en alkoholgebruik verhoog jou kanse om preëklampsie te ontwikkel.

      Behandeling

      Die behandeling sal afhang van die ergheidsgraad, maar behels baie bedrus en spesiale bloeddrukmedikasie. Die medikasie kan jou duiselig en lighoofdig laat voel en jy sal stadig moet gaan sit en opstaan. Jy sal moontlik ’n paar dae in die hospitaal moet deurbring sodat hulle jou en jou baba kan monitor.

      Kalsiumaanvullings kan help vir hoë bloeddruk en aspiriene kan bloedklonte voorkom. Raadpleeg egter altyd eers jou dokter voordat jy enigiets gebruik. Alhoewel angstigheid nie preëklampsie veroorsaak nie, kan dit die toestand vererger. Probeer om soveel moontlik te ontspan. Homeopatiese middels vir angstigheid is veilig om tydens swangerskap te neem, maar kry veiligheidshalwe eers advies by ’n homeopaat voor jy enigiets begin gebruik.

      Ná geboorte sal jy vir ongeveer drie tot ses weke noukeurig gemonitor en behandel word.

      Indien preëklampsie nie behandel word nie, kan dit ernstige nagevolge hê. Maak seker dat jy vir gereelde opvolgondersoeke gaan en besoek onmiddellik ’n dokter as jy enige van die simptome van preëklampsie ervaar.

      Wat gebeur as ek hoë bloeddruk gehad het voor ek swanger geraak het?

      As jy hoë bloeddruk gehad het voor jy swanger geraak het, sal jou bloeddruk en medikasie reg deur jou swangerskap noukeurig gemonitor word. Jy sal ook jou dieet moet aanpas deur byvoorbeeld minder sout, diereproteïene en vetterige en verwerkte voedsel, en meer vars vrugte en groente, te eet.

      Dit is doodnormaal dat jou hande en voete tydens swangerskap swel. Tagtig persent van swanger vroue ervaar dit! As dié ledemate uitermate geswel is, of as jy ook oor jou bekken, arms en gesig opswel, moet jy jou dokter raadpleeg. Dit kan ’n teken van preëklampsie wees.

      6.Toksoplasmose

      Toksoplasmose is ’n infeksie wat deur die protosoë Toxoplasma gondii veroorsaak word. Dié parasiet word in baie voëls en soogdiere aangetref en word gewoonlik na mense oorgedra as hulle in aanraking kom met ’n besmette kat se ontlasting, veral in katsand wat nie gereeld skoongemaak word nie. As jou katte potplante of blombeddings as ’n katboks gebruik, kan jy dit ook opdoen wanneer jy in die tuin werk. Kinders se sandputte is nog ’n gevaarsone.

      Indien jy toksoplasmose opdoen, kan jy griepagtige simptome hê, soos geswelde kliere, uitputting, koors en spierpyn. Baie mense toon egter geen simptome nie. As ’n verwagtende ma dit opdoen, kan dit deur die plasenta na haar baba oorgedra word en geelsug, konvulsies, wangeskapenheid en verstandelike gestremdheid veroorsaak. Jou dokter sal egter medikasie voorskryf om dit te verhoed. Slegs ongeveer 10% van besmette babas toon enige simptome.

      Voorkom toksoplasmose

      As jy higiënies is en jou troeteldiere gesond is, is dit onwaarskynlik dat jy toksoplasmose sal opdoen deur middel van jou alledaagse interaksie met jou troeteldiere. Jy kan wel die volgende ekstra veiligheidsmaatreëls tref:

      ✓Vra iemand anders om die katsand skoon te maak.

      ✓Dra dik handskoene wanneer jy in die tuin werk.

      ✓Maak seker dat die kinders se sandput altyd toe is as dit nie gebruik word nie en vervang die sand as die kat dit as ’n katboks gebruik het.

      ✓Was alle vrugte en groente deeglik.

      ✓Moenie halfgaar vleis eet nie.

      ✓Was jou hande nadat jy aan troeteldiere gevat het of met rou vleis gewerk het.

      HOOFSTUK 9

      Praktiese sake

      Die helfte van die pret is om reg te maak vir jou lewe saam met jou baba! Jy hoef nie oorboord te gaan nie en minder is dikwels meer. Daar is egter ’n paar praktiese sake waaraan jy moet aandag skenk.

      KRAAMVERLOF

      Dit kan kopkrap verg om te besluit presies wanneer jy kraamverlof moet neem. Dit is wonderlik om ’n paar weke voor die bevalling vry te hê om die pas teen die einde van die swangerskap te verslap, maar dan het jy weer minder tyd saam met jou baba. ’n Goeie riglyn is om minstens 10 dae voor jou verwagte datum op te hou werk.

      Kraamvoordele wissel van land tot land. Op die oomblik geld die volgende in Suid-Afrika:

      •Jy is geregtig op vier maande se kraamverlof*:

      –Jy kan dit een maand voor jou verwagte datum neem, of later, na gelang van jou gesondheid.

      –Jy mag nie binne ses weke ná die geboorte terugkeer werk toe nie, tensy jou dokter of vroedvrou meen dit is veilig.

      •Net omdat jy geregtig is op hierdie verlof, beteken nie dat jy ’n salaris sal ontvang nie. Jou werkgewer se interne kraamregulasies sal dit bepaal, maar regtens is hulle nie verplig om jou te betaal nie. Jy kan wel ’n persentasie van jou salaris eis van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

      •Terwyl jy swanger is of borsvoed, mag jy nie enige werk doen wat jou of jou baba skade kan berokken nie, soos om swaar voorwerpe op te tel of gevaarlike chemikalieë te hanteer. Praat met jou bestuurder om seker te maak dat hierdie voorwaardes streng nagekom word.

      Onthou dat jou werkgewer ook regte het. As jy dit oorweeg om nie ná geboorte terug te keer werk toe nie, moet jy vir jou werkgewer kennis gee ingevolge jou werkskontrak.

      * Die voordele is nie van toepassing indien jy vir die Nasionale Weermag, die Nasionale Intelligensie-agentskap of die Suid-Afrikaanse Geheimediens werk nie. Dit geld ook nie as jy ’n onbetaalde liefdadigheidswerker is, in verkope werk en jou eie werksure reël of as jy minder as 24 uur per maand werk nie.

      NOODSAAKLIKE AANKOPIES

      Die voorbereidings kan oorweldigend wees, maar babas het in die eerste paar jaar nie baie nodig nie, net liefde, aandag en ’n paar belangrike hulpmiddels. Dit kan duur wees, maar goedkoop is duur koop. Verminder die finansiële impak deur elke maand een of twee dinge te koop. Baie van hierdie items sal hopelik ook geskenke van familielede wees of iets wat jou vriende vir jou kan leen.

      Hier volg ’n lys van die algemeenste basiese noodsaaklikhede:

      Sagteware

      •6 frokkies

      •6 katoenkruippakkies (“onesies” of “Babygro’s”)

      •3 truitjies of baadjies

      •6 borslappe

      •2 mussies

      •4 pare babasokkies of -skoentjies (dalk kan Ouma dit sommer brei)

      •4-5 katoenkombersies (“receiving blankets”)

      •4-5 paslakens vir ’n bababedjie

      •2-3 dikker komberse vir koue nagte

      •Sagte speelgoed

Koop weggooidoeke vir verskillende ouderdomme deur die loop van jou swangerskap om die finansiële impak te versag. Hulle moet absorberend en sag op ’n baba se vel wees. Indien jy nie weggooidoeke gebruik nie, het