Название | Satyn Omnibus 4 |
---|---|
Автор произведения | Ettie Bierman |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624071587 |
“Ek weet, en ek neem jou nie kwalik nie. Ek sou ook moord wou pleeg – ’n geweer vat en hulle platskiet. Dis nie daaroor dat ek wil uittrek nie.”
“As iemand moet verskoning vra, is dit ek.” Hy reik uit en sy groot hand vou om hare. “Jy is ’n pragtige entjie vroumens, Aralie. Dié kompliment hoor jy seker gereeld en jy weet watter uitwerking jy op ons manne het. Ek is geen uitsondering nie. Nou die aand se … e … insident was mý skuld, want ek het dit begin. Gevoelens het amper handuit geruk, maar geen skade is gedoen nie. Trouens, dit was besonder lekker om jou in my arms te hou. Ek erken ek sou graag my halwe werk wou voltooi en jou behoorlik soen. Dit was ’n stryd om die versoeking te weerstaan en jou te laat gaan. So, moenie sleg voel nie – jy was die slagoffer, nie die skuldige nie.”
Dis hoekom hy so ’n spesiale charisma het, dink Aralie. Hy besit ’n ouwêreldse hoflikheid en sjarme, en die takt van ’n jintelman om niks te meld van die oormaat rooiwyn wat onbehoorlike woelinge in haar vrouelyf wakker gemaak het nie. Hy moes tog iets agtergekom het, geweet het sy wou hê hy moes ’n bietjie verder gaan …
Franco lees die verleentheid op haar gesig wat sy probeer wegsteek. Die kuiltjie in sy ken is baie prominent, maar hy onderdruk ’n grinnik en sê niks. Lig net haar hand, maak haar vingers een vir een oop en druk ’n sagte soentjie in die holte van haar palm. Dan neem hy die leë bekers en borde en staan op.
“Klim terug in die bed en slaap. Los jou tasse waar hulle is. Jy gaan nêrens nie, Dok.”
Agter haar ooglede vorm ’n skielike branderigheid. Sy vryf soos ’n skooldogter met die agterkant van haar hand oor haar oë. Die lêer netnou was ’n voorwendsel, besef sy. Hy het sommer die naaste een opgetel en gemaak of hy iets daarin soek. Nie omdat hy ’n verskuilde agenda gehad het nie, maar omdat hy ’n verskoning gesoek het om vir haar kos te bring en vir sy afsydigheid te vergoed. Taktvol, bedagsaam en sorgsaam … Franco Conradie sal eendag ’n wonderlike man vir sy vrou wees.
Hoekom dink sy nou dááraan? Aralie stoot die gedagte uit haar kop. Wat maak dit saak? Daardie vrou gaan nie sý wees nie. As sy ooit weer tot trou sal kom, sal dit met Niel wees. Hulle sal sake uitpraat. Tot ’n vergelyk kom. Weer probeer en nuut begin.
Op die trap steek Franco vas. “Kan jy ’n geweer hanteer?”
“Natuurlik. Ek het op ’n plaas grootgeword.”
“Ek praat nie van ’n windbuks en ’n propgeweer nie. Ek het gedink Sef en Koosjan is genoeg, maar jy het gesien wat vandag gebeur het. Jy is nie veilig in die veld sonder ’n behoorlike vuurwapen nie. Ek sal vir jou ’n haelgeweer gee en seker maak jy kan hom gebruik.”
“Dankie.” Aralie wonder hoeveel keer sy dié woord al teenoor hom gebruik het. Dit raak ’n gewoonte.
“Lekker slaap.” Hy klim die laaste trappie af en stoot die deur agter hom toe.
Dan roep hy tergerig: “Onthou om die skuifie op te sit! En moenie weer so goedvertrouend wees om ’n wellustige man met ’n flou verskoning binne te laat nie.”
8
Franco was bedrywig by die bouwerk, die tuinuitleg en die olifante, sodat Aralie hom ’n paar dae net skrams te sien gekry het. Sy sit gehurk, besig met die gekweste koedoe toe hy by die hokke aankom.
“Hoe lyk dit?” wil hy weet.
Sy is versigtig om ’n voorspelling te waag. “Hy het baie bloed verloor. Gee hom nog ’n paar dae, dan sal ons weer kyk. Die duiker en die meerkat is perdfris, reeds vrygelaat in die veld, maar ek hou die jakkals in kwarantyn tot ons seker is. Die vlakvark sterk goed aan, en ek wag vir die uitslag van die bek-en-klouseer-bloedmonsters,” lewer sy verslag. “Hoe gaan dit met die verwagtende moeder?”
“Ek voorspel môre is die Groot Dag. Die filmspan is op ’n gereedheidsgrondslag. Het jy vanmiddag ’n uur of wat oop vir jou skietles?”
Sy aarsel. “Tian praat van ’n leeu wat slinger en swaar loop. Ek en Koosjan wou hom gaan soek het.”
“Bly weg van die leeus, dis te gevaarlik. Ek het hom gekry. Dis ’n ou alleenloper, verhonger en nie meer in staat om te jag nie. Ek het hom uit sy lyding verlos.”
“Ek is jammer.”
“Ja …” Hy sug en haal sy skouers op. “Sal ons dan ’n les kan inpas?”
“My pa het my ’n keer gewys. Ek sal self regkom.”
“Daaroor sal ék oordeel. Kry jou oor tien minute by die tent?”
Sy knik. Daar sal darem tyd wees vir ’n skoon bloes, darem iets mooiers as ’n T-hemp. Maar nié parfuum en lipstiffie nie, betig sy haarself. Hierdie is werk, nie ’n fliekafspraak nie.
Sy is vyf minute vroeg. Franco ook.
Hy glimlag goedkeurend. “Bly om te sien jy dra jou hoed. En die handeroom? Gebruik jy dit?”
“Gereeld,” jok sy.
Hy neem haar na ’n droë rivierloop met ’n hoë sandwal aan die een kant, waar hy ’n ry bierblikkies uitpak. “Dis nie skyfskiet nie,” verduidelik hy. “Dis net ’n kontrole of jy in die regte rigting mik. Ek verwag dat jy minstens drie uit die vyf blikkies sal tref. Hou die kolf styf vas en stut hom stewig teen jou skouer, anders gaan die terugskop jou seermaak.”
Hy haal twee patrone uit sy sak, knak en laai die dubbelloop, gereed om te skiet. Daarna herhaal hy die aksies stadig in trurat terwyl sy toekyk. Toe hy klaar is, oorhandig hy die geweer en patrone aan haar. “Reg, jou beurt.”
Sy het dit al gedoen, kán dit doen. Maar haar hande is dom. Franco se nabyheid ontwrig haar, só naby sy kan die pepermentgeur op sy asem ruik. Hy het blykbaar pas tande geborsel, en sy kan sien hy het ook ’n skoon kakiehemp aangetrek. Die mou vee kort-kort oor haar gesig, saggies, amper soos ’n liefkosing …
Dit bring haar van stryk en verbreek haar konsentrasie. Haar eerste skoot is mis; stof slaan hoog teen die wal uit.
“Die loop het gelig. Dit beteken jy het die kolf nie stewig vasgedruk nie en daar was waarskynlik ’n terugskop. Hoe voel jou skouer?”
Asof ’n lorrie oor haar gery het … Môre gaan daar ’n lelike bloukol sit.
Sy byt op haar tande. “Piekfyn, ek het dit skaars gevoel.”
Hy lyk skepties. “Is jy seker?”
“Natuurlik. Hoekom sal ek jok?”
’n Duisend redes, wil Franco antwoord, maar hy bly vredesonthalwe stil. Hy buk om die leë doppies op te tel en haal nog twee patrone uit sy sak.
“Probeer weer. Laai … reg so. Maak hom reguit. Nee, knip die oorhaal stewig toe!” keer hy van agter haar, sy arm bo-oor haar skouer en sy hand op hare. “Stewiger! Anders gaan daardie vrag lood in jou gesig ontplof.”
In die posisie waarin hy skuins van agter oor Aralie buig om by te kom, raak bykans die volle lengte van sy lyf teen hare. Sy bors is teen haar nek, sy maag teen haar rug en die voorkant van sy bobene teen haar sitvlak. Sy is bewus van elke beweging van sy spiere wanneer hy roer. Haar hande sweet en haar ledemate voel swaar en warm.
Sy laat die geweer sak, bang sy laat dit val. “Dit sal jou skuld wees! Staan terug. Verder weg!” vra sy.
’n Trek van verbasing wys op Franco se gesig. Dit duur ’n oomblik voor hy snap wat sy bedoel, dan gee hy gehoorsaam pad. Sy wenkbroue lig vraend. “Is dit ver genoeg?”
Die hele Namibwoestyn sal nie ver genoeg wees nie. Sy is bang hy hoor die tamboerslae van haar hart. “Nee, nóg verder.”
Hy gee pad tot oorkant die rivierloop en gaan leun met gevoude arms teen ’n rots.
Dis nie nodig om hom op te ruk en dit te oordoen nie, dink Aralie en loer geamuseerd onder haar wimpers deur na hom. Dan tel sy weer die haelgeweer op. Sy gaan staan wydsbeen en stamp die dubbelloop stewig vas, lê aan en krul haar vinger om die sneller.