Elza Rademeyer Omnibus 7. Elza Rademeyer

Читать онлайн.
Название Elza Rademeyer Omnibus 7
Автор произведения Elza Rademeyer
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624068228



Скачать книгу

en kyk, agterkom dat daar walvisse in die baai na Robbe-eiland moet wees. Sy het ook stilgehou om te kyk. En die volgende oomblik was hy sommer net daar langs haar op die wal langs die pad. Die man met sy git-swart hare, potblou oë en tergende glimlag.

      Esbeth gee onbewustelik ’n suggie. Sy was totaal oordonder deur sy aantreklikheid en sjarme. Dieselfde aand nog het hy vir haar kom kuier op die plaas. Oupa Janus was glad nie geïmponeer nie, maar sý was. Haar voete was totaal onder haar uit. Sy was oombliklik verlief.

      “Kom,” sê sy vir Eben. “Laat ek jou gesig en hande skoonmaak. Oupa sal wonder waar draai ons so lank.”

      Gustav staar deur die hotel se kamervenster uit oor die see. Ook hy kan die walvisse met hul logge liggame sien waar hulle met ’n soort potsierlike baldadigheid water in die lug in sproei. Dit is die eerste keer vandat hy in Mosselbaai kom werk het dat hy hulle sien. ’n Kollega het vir hom gesê die walvisse is vroeg vanjaar. Hy weet nie of dit waar is nie, want hy ken nie die walvisse se gewoontes nie.

      Hy dink skielik weer aan die meisie wat hy vroeër die middag amper raakgery het. Wat hom besiel het om haar so te verskree! Maar sy het hom darem baie groot laat skrik. Miskien sal dit haar leer om in die vervolg versigtiger te wees wanneer sy ’n straat oorsteek. Dit kon ’n lelike ding afgegee het as hy nie betyds gerem het nie.

      Aan die feit dat sy ondanks haar verskrikte gesig en swiepende hare ’n mooi prentjie uitgemaak het, wil hy nie dink nie. Hy sal in sy lewe nooit weer ’n vrou vertrou nie. Vroue is onverstaanbaar en onbetroubaar. Hy het dit baie gou uitgevind ná hy met Selma getrou het. ’n Ongelukkige huwelik wat uit die staanspoor gedoem was. Tog het hy hard probeer om ’n sukses daarvan te maak toe …

      Hy knip sy gedagtes kort en raap sy baadjie van die stoel af op. Miskien sal die koel seelug help om die verskroeiende haat wat hy teenoor sy vrou en haar minnaar koester, te temper.

      2

      Esbeth kan nie besluit of sy haar oupa moet vertel van die man wat so baie na Richard lyk nie. Dalk is dit nie hy nie. Sy kon nie sy gesig mooi sien nie. Sy weet ook nie wat oupa Janus se reaksie gaan wees nie. Miskien ontstel dit hom. Sy sal maar eers wag. Eers sekerheid kry.

      Maar die onsekerheid hou haar uit die slaap. En toe sy tog uiteindelik aan die slaap raak, droom sy van Richard en van die dam waar hy gewerk het.

      Die volgende oggend, toe oupa Janus sê hy sal nie saam met haar na Groot-Brakrivier se kerk toe ry nie omdat sy keel nog te veel kriewel van die verkoue wat hy gehad het, is sy bly. Nou kan sy met die terugkom by die dam ’n draai gaan maak. Dalk kry sy Richard daar. Dalk ly hy aan geheueverlies … soek hy leidrade om sy geheue te herwin.

      “Sal ek dan maar vir Eben hier by Oupa los?”

      “Ja, los hom hier. Ek sal op die sonstoep gaan sit, dan kan ek ’n ogie oor hom hou as hy buite wil speel.”

      Toe Gustav die Sondagoggend opstaan, weet hy nie wat om met homself aan te vang nie. Dit gaan makliker deur die week. Dan hou die werk hom besig; kry hy nie tyd om te tob oor die dinge waarvan hy liefs moet vergeet nie. Verteer die haat hom nie so nie.

      Sy oog val op ’n brief van tant Eunice Bruwer in Durban. Dit het hier aangekom terwyl hy in Johannesburg was vir die hofsaak. Tant Eunice maak in die brief melding van haar seun Frans wat, jy kan maar sê, van die aardbol af verdwyn het. Die laaste wat sy van hom gehoor het, was vyf jaar gelede toe hy help bou het aan die Wolwedansdam naby Groot-Brakrivier. Wat sy daarná kon uitvind, was dat hy wel sy laaste maand se salaris ontvang het. Maar waar hy hom nou bevind, weet niemand nie.

      Hy, Gustav, het daardie tyd op Secunda gewerk. Maar hy weet van die dam. Dis die dam wat Mossgas van water voorsien. Miskien moet hy ry en gaan kyk hoe die dam lyk. Hy weet tant Eunice skimp eintlik dat hy moet probeer uitvind of iemand hier rond nie dalk vir Frans ken nie. Of hy nie dalk hier êrens woon nie.

      Gustav trek sy skouers op. Hy onthou dat almal op skool altyd gesê het hy en Frans lyk eerder na broers as na vriende, maar hy het sy vriend Frans laas nog met hul matriekafskeid gesien. Hul hele hoërskoolloopbaan lank was hulle groot rugbykamerade, maar nadat hy universiteit toe is, het sy en Frans se paaie nie weer gekruis nie. Van sy jeugvriend se manewales het hy maar via tant Mietie se korrespondensie met tant Eunice gehoor; hoedat Frans sy ma al meer grys hare gee en al meer die pad byster raak. Daar was selfs sprake dat hy by die polisie in die pekel was.

      Omdat Frans so ’n wilde lewe voer en hom klaarblyklik nie aan konvensies steur nie, sal dit seker nie maklik maak om hom op te spoor nie, dink Gustav toe hy by die hotel uitstap om in sy motor te klim.

      Die gebeier van ’n kerkklok laat hom skuldig vassteek. Maar dan klim hy vinnig in sy motor. Die kerk sal hom net weer herinner aan die dae toe dit met hom beter gegaan het. Toe hy nog iets en iemand gehad het om voor te leef …

      In Groot-Brakrivier hou hy by die polisiekantoor stil om uit te vind hoe hy moet ry om by Wolwedansdam uit te kom. Daar aangekom, vind hy die hekke na die dam gesluit en geen siel in sig nie. Hy is nie lus om terug te ry hotel toe nie. Toe hy weer by die groter stofpad kom, draai hy links. Later weer links, totdat hy by ’n bosboustasie met die naam Jonkersberg uitkom. Hy het nie magtiging om die bosbougebied binne te gaan nie, dus draai hy daar om.

      Ná ’n ruk kom hy agter hy weet nie meer waar hy hom bevind nie. Hy is verplig om by ’n plaashuis langs die pad stil te hou om die pad te vra.

      ’n Fors boer kom hom op die werf tegemoet toe hy stilhou. En gee hom so ’n stewige handdruk dat Gustav hom verbeel hy hoor beentjies in sy hand kraak. Oom Frik van Zyl beduie die pad, maar toe hy daarmee klaar is, wil hy nuuskierig weet wie Gustav dan nou eintlik is en waar hy werk.

      “Ek werk by Mossgas, oom. Ek is net ’n paar maande hier in Mosselbaai en ken nog nie die wêreld so goed nie. Maar soos oom nou beduie het, sal ek regkom.”

      “By Mossgas, seg jy? Enne watse werk doen jy nou eintlik daar?”

      “Ek is ’n instandhoudingsbestuurder, oom.” Gustav aarsel so ’n oomblik, vra dan tog: “Oom het nie dalk vir Frans Bruwer geken wat destyds hier gewerk het met die bou van die Wolwedansdam nie?”

      “Frans Bruwer? Nee, ek het hom nie geken nie. Eigentlik het ek nie een van die werkers hier geken nie. Net die Ingelsman wat met my buurman se dogter getroud was so op ’n manier. Sies tog, en toe Esbeth haar oë uitvee, toe sit sy ook maar weer sonder man. En toe nog die kind ook agterna. Gelukkig is sy darem goed met die naaldwerk. ’n Talent wat sy van haar moeder geërf het, sien. Neef moet maar daar by ou Janus Terblanche gaan vra. Ek dink amper Esbeth is ook vir die naweek by die huis. Maar as hy uitvind jy werk by Mossgas, jaag hy jou straks van sy werf af.”

      “Hoekom sal hy my van die werf af jaag?” vra Gustav wat maar geduldig geluister het na die familie-uitleg wat oom Frik so ongevraag gegee het.

      “Nee, ou Janus is ’n anderster soort mens. Glo mos glad nie aan vooruitgang nie. Hy was omtrént omgesukkel toe hulle die dam hier kom bou het. Al die weiveld wat nou onder die water lê en vergaan. Hy voer aan die regering praat van die land selfonderhoudend maak, maar nou lok hy allerhande uitlanders en volksvreemdes met die Mossgas-besigheid om hier te kom werk, en ons belastingbetalers is die mense wat die spit moet afbyt om die indringers se hoge salarisse te betaal.”

      Gustav skud sy kop. “En wat dan van die voordele wat die projek vir ons land inhou en die werkgeleenthede wat dit vir die mense van die omgewing geskep het?”

      “Dis mos nou juis waarteen ou Janus dit so het: die werkgeleenthede. Buiten die klomp vreemdes wat die regering ingevoer het, het al wat leef en beef hier kom afklim om werk te soek. En dié wat nie kon kry nie, of wie se dienstyd om was, met hulle sit ons nou hier. G’n een van hulle wil terug Transvaal toe nie, want daar’s ook nie werk nie.”

      Gustav voel ’n ergerlikheid in hom opkom, maar die oom raak skielik haastig.

      “Ek dink die vrou soek al na my daar in die huis. Neef wou nie ingekom het nie?”

      “Nee, dankie,” sê Gustav. “Ek wil ook maar verder.” Toe hy wegry, weet hy hy versuim eintlik sy plig. Hy moes oom Frik