Название | Susanna M Lingua Gunstelinge 3 |
---|---|
Автор произведения | Susanna M Lingua |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068075 |
Later, toe hul teekoppies leeg is, stoot Renier sy stoel nader aan Tina s’n. Die hitte van die stoof laat hom heerlik ontspanne voel, en die sagte geur van Tina se parfuum is strelend en aangenaam.
Dit herinner hom aan ’n tuin vol lentebloeisels, wanneer die dou nog koel in die blomkelke nestel. Sy blik streel liefkosend oor haar mooi, stil gelaat, terwyl sy afgetrokke na die gloeiende kole in die stoof staar.
“Ek wonder waarom die noodlot my so vyandiggesind is,” sê hy na ’n rukkie, en vir Tina klink dit al asof daar ’n tikkie moedeloosheid in sy stem is.
Sy draai haar blik in sy rigting en vra belangstellend: “Waarom sê jy so, Renier? Wat laat jou dink dat die noodlot jou vyandiggesind is?”
“Omdat hy my pad met joune laat kruis het,” antwoord hy bedaard.
’n Ligte frons verskyn tussen haar wenkbroue, ’n duidelike teken dat sy effens verward voel.
“Ek kan nog nie insien waarom jy dit as ’n . . . in so ’n ongunstige lig beskou nie,” sê sy, duidelik teleurgesteld. Haar hart het vanmiddag al vir haar gesê dat Renier die enigste man vir haar is, en nou beskou hy hul kennismaking as ’n ramp . . .
Maar dan sê hy weer: “As jou pa nie so ryk was nie, Tinatjie, sou ek op hierdie oomblik die gelukkigste man gewees het wat leef. Maar met so ’n ryk en gesiene pa . . . Nee, ek vrees ons vriendskap sal nooit dieper as ’n platoniese vlak kan gaan nie. Jy verstaan dit tog, nè?”
“Nee, ek verstaan dit nie,” stribbel sy teë. “Wat het my pa se aardse besittings met jou en my lewe te doen?”
“Alles, my ou Tinatjie. ’n Arm ou soos ek kan jou byvoorbeeld nie die hof maak met die oog op ’n huwelik nie, want dan sal almal sê ek wil met jou trou omdat jy ’n ryk pa het. En wat dink jy sal jou pa sê as ’n arm ou soos ek sy dogter die hof maak?”
“Oom Johan Beukes is nie ryk nie, Renier, en my pa belet my nie om met Riana, Gerrie en Wessel bevriend te wees nie –”
“Om met die Beukes-kinders bevriend te wees, is ’n ander saak,” val hy haar sag in die rede. “Vriendskap en liefde is twee dinge en . . . nou ja, ek kan maar net sowel nóú vir jou sê dat ek jou liefhet . . .”
“Ek glo dit nie. As ’n mens regtig liefhet, sal jy niks in die pad van jou liefde laat staan nie, Renier,” sê sy kalm. “Jy kan dus gerus wees, want die liefde wat jy vir my koester, is nie die regte soort liefde nie – altans, nie die soort liefde wat later tot ’n huwelik lei nie.”
Etlike sekondes lank sê nie een van hulle ’n woord nie. Hulle staar net na die rooi kole wat voor teen die stoof se rooster lê. Op hierdie oomblik dink hulle albei aan die liefde wat so skielik en onverwags van hul harte besit geneem het.
“Jy sal dus nie toelaat dat armoede in die pad van jou liefde staan nie?” sê-vra hy na ’n rukkie sonder om sy blik van die gloeiende kole af weg te neem.
“Nee, ek sal nie,” sê sy. “Ek sal saam met die man wat ek liefhet van onder af begin.”
“Jou pa sal nie toelaat dat jy met ’n arm man trou nie en . . . wel, jy sal oor vier jaar eers mondig wees,” sê hy beslis, asof hy hierdie feit, waaroor sy bepaald nog nie gedink het nie, wil beklemtoon.
Maar Tina verras hom toe sy saggies begin lag en met ’n ondeunde uitdrukking in haar oë sê: “Jy het gelyk, my pa is te veel van ’n snob om ’n arm skoonseun te aanvaar. Rykdom en aansien is die enigste god wat hy aanbid, en dit is ook al wat in sy lewe tel. Maar ek wed jou, ek sal sonder my pa se toestemming trou, al is ek nog nie mondig nie.”
“Jy speel seker.” Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlaggie aan. “Ek dink so iets is . . . e . . . ietwat gewaag.”
Sy skud haar kop. “Nie vir my nie. Ek ken my pa en weet presies wat sy swakheid is. Hy sal eerder selfmoord pleeg as om ’n skandaal te beleef, en as sy dogter reeds ’n paar weke getroud is, sal hy dit nie waag om haar van haar man af weg te neem nie, want die opskudding wat dit in die sosiale kringe sal verwek, sal vir hom gelyk aan ’n skandaal wees.”
“En watter predikant, dink jy, sal ’n minderjarige meisie sonder haar pa se toestemming in die huwelik bevestig, ou kleintjie?” Hy kyk haar met ’n stadige glimlaggie aan wat sy hele gesig ophelder.
Tina verras hom weer eens toe sy met ’n breë glimlag sê: “Nie ’n predikant nie, maar ’n landdros wel, en dan moet dit ook een wees wat my pa nie ken nie.” Sy begin weer saggies lag. “Jy ken nie my oom At nie, Renier. Hy is my pa se ouer broer, en ek kan hom maar net vra om daardie spesiale dag vir ’n rukkie my pa se plek in te neem –”
“Tina, meisietjie, waarvan praat jy tog?” val hy haar geamuseer in die rede. “Besef jy dat so ’n optrede groot moeilikheid kan veroorsaak?”
“As ’n ander persoon die takie sou verrig, sou ek bepaald lugtig voel, Renier, maar nie as daardie persoon my oom At is nie.”
“En wat, as ek mag vra, maak jou oom At immuun teen moeilikheid, ou kleintjie?” Hy kyk haar vraend, belangstellend aan. Sy is inderdaad die oulikste, mooiste en liefste meisie met wie hy nog ooit kennis gemaak het, en sy liefde vir haar is diep en grensloos.
“Ek glo nie my oom At is immuun teen moeilikheid nie, Renier,” sê sy, “maar ek weet dat my pa, om die een of ander rede, dit nooit sal waag om ’n potjie met oom At te loop nie . . .”
Wessel se binnekoms maak meteens ’n einde aan hul gesprek.
“Steur ek julle?” vra hy verontskuldigend.
“Nee, sê maar wat jy wil sê, ons luister,” stel Renier hom gerus.
“Wel, ek kom maar net hoor hoe laat Tina by die huis moet wees.”
Tina kyk op haar polshorlosie, merk dat dit al oor elf is en kom dadelik orent.
“Ek vrees ek sal nou moet gaan,” sê sy. “Dankie dat jy my aan die tyd kom herinner het, Wessel.” Sy begin haar jassie aantrek. “Ek veronderstel dat Hennie en Riana my weer huis toe sal neem, of is Hennie reeds weg?”
“Nee, hy en Riana is daar by ons in die sitkamer, maar hulle gaan jou nie huis toe neem nie, Tina. Hennie het gesê Renier kan sy motor gebruik en jou self huis toe neem.”
“Wel, ek moet sê Hennie het meer verstand as wat ek gedink het,” glimlag Renier.
“Ja, hy het nogal iets hier bo,” beaam Wessel en wys met sy vingers na sy kop. “Hy is natuurlik self verlief, daarom dat hy ’n verliefde man ken as hy een sien.” Die twee jong mans glimlag vir mekaar. Tina bloos vuurwarm.
Die twee mans volg haar toe sy vir die jongklomp in die sitkamer gaan nagsê, en weldra vertrek sy en Renier.
Onderweg na die Eksteens se huis, gesels Tina en Renier oor die vakansie wat voorlê. Hul gesprek van vroeër die aand word nie weer aangeroer nie. Renier voel dat daar etlike dinge is wat hy eers met Wessel moet bespreek, voordat hy ’n ernstige verhouding met Tina kan aangaan. Want as daar werklik ’n moontlikheid bestaan dat hulle eendag met haar oom At se hulp in die huwelik bevestig kan word, sal hy niks in sy pad laat staan om Tina se liefde te wen nie. Sy is die enigste meisie met wie hy graag sy lewe sal wil slyt . . . die enigste meisie wat sy hart in die holte van haar fyn handjie hou.
Toe hulle later voor Tina se ouerhuis stilhou, merk hulle albei dat haar pa al tuis is, dus nooi sy Renier nie binne nie, maar neem sommer daar by die motor van hom afskeid.
Tuis tref Renier almal nog in die sitkamer aan. Daar speel ’n sweem van ’n glimlaggie om Wessel se mond toe hy vra: “Wat dink jy van Tina se ouerhuis, Renier? Lyk dit nie ook vir jou soos ’n kasteeltjie nie?”
“Ek was nie binne nie, maar van buite af lyk die plek indrukwekkend,” antwoord Renier en neem op ’n stoel plaas. “Maar vertel my, hoe ’n soort mens is Tina se pa nou werklik? En wat weet jy van