Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 40
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624065685



Скачать книгу

krimp ineen. As jy ’n onskuldige mens doodry, word jy toegesluit … Sy en Niel is nou albei in die tronk.

      Die ervare polisieman sien die verstarring in haar, besef dat sy nog nie nugter kan dink nie.

      “U het die reg om u regsverteenwoordiger te spreek. Wie is hy?”

      Wie is hy? Sy het nog nooit so ’n ding gehad nie. Niel het regsverteenwoordigers gehad. ’n Hele paar … Maar sy … sý het nog nooit een nodig gehad nie.

      “Ek weet advokaat Pelzer het u man verteenwoordig. Moet ons hom skakel?”

      Sy knik net stom. Daar is niks om te sê nie. Daar is niks wat van binne af wil uitkom nie. Alles in haar is vasgevries van vrees en skok.

      ’n Uur later gaan die deur weer oop. Sy sit steeds roerloos in stomme verdwasing.

      “Wanya!”

      Hy sak op sy hurke voor haar neer, sy gesig streng. Hy kon sy ore nie glo toe hy die oproep ontvang nie. Hy kan dit nou nog nie glo nie. Om hierdie vrou in ’n tronksel aan te tref … en onder sulke omstandighede!

      Sy sit en kyk hom net aan sonder ’n sprankie hoop in haar oë. Sy weet nie wat hy hier kom maak nie. Daar is niks te make nie. Sy het die dood van ’n mens veroorsaak terwyl sy dronk was. Dis al. Sy gaan die res van haar lewe hier sit.

      Maar ’n ruk later lei advokaat Pelzer haar na buite, word sy in sy motor ingehelp. Hoe dit kan gebeur, verstaan sy nie. Maar sy laat haar soos ’n stom skaap haar eie huis inlei, voel hoe sy op ’n stoel neergedruk word.

      “Wie is jul huisdokter?”

      “Dokter Raath.” Sy praat die eerste keer, maar weet ook nie hoekom sy antwoord nie. Sy is nie siek nie.

      Toe hy terugkeer van die telefoon, kom sit hy langs haar, neem haar willose hand in syne. “Wanya, luister nou mooi. Die dokter kom so gou hy kan. Intussen wil ek hê jy moet nie paniekerig word nie. Ek sal … kyk wat ek kan doen. Ek het jou op borgtog uitgekry. Intussen wil ek hê jy moet kalm raak. Wie kan ek bel om hier na jou toe te kom? ’n Vriendin?”

      Sy kyk met leë oë op, en hy herhaal: “Wie van jou vriendinne kan ek bel?”

      Sy skud haar kop heen en weer, laat dit vooroor sak.

      “Daar moet tog één mens wees wat ek kan bel wat nie sal omgee om na jou toe te kom nie!”

      Onbetrokke staar sy hom aan. Sy het nie meer sulke goed nie. Baie gehad in die dae toe dit goed gegaan het. Die afgelope maande … “Ek sal regkom. Wanneer … wanneer moet ek terug?”

      “Terug waarheen?”

      “Terug … tronk toe?”

      “My liewe mens … ” Hy voel verlig toe hy ’n nuuskierige Alfred skielik in die binnedeur gewaar. “Alfred … wie is almal hier in die huis?”

      “Dis ek en Thomas en Rosy, meneer,” antwoord hy, sy oë op sy werkgeefster. Wat gaan deesdae in hierdie huis aan? Toe hy vanoggend inkom om die oggendtee te maak, is daar geen spoor van ’n mens nie en die hele huis staan wawyd oop.

      “Gaan roep vir Rosy.”

      Ook Rosy het allerhande afleidings te make terwyl sy mevrou help uittrek en in die bed kry. Dis deesdae darem ’n deurmekaarspul in hierdie huis. Sy moet maar uitkyk vir ander werk. Hier is dinge glad nie meer reg nie.

      In die weke wat volg, ervaar Wanya alles wat haar man enkele weke voor haar deurgegaan het. Die hofsaal, die landdros op die regbank, die flitsende mediakameras, die nuuskieriges saamgepak agter in die hofsaal … en sy in die beskuldigdebank.

      Die klag word gestel. Sy het ’n motor onder die invloed van drank bestuur. Die bloedtoets het ’n ontoelaatbaar hoë persentasie alkohol getoon. Wanneer die bloedtoets gedoen is, kan sy nie eens onthou nie. Dit was seker voordat hulle haar in die sel gestop het. Tweedens het sy roekeloos bestuur en ’n rooi verkeerslig geïgnoreer. Derdens het sy ’n mens, ’n straatkind van net agt jaar, doodgery. Hy is op slag dood. Daar is ’n klomp ooggetuies om alles te staaf. Die staat se saak sluit hiermee.

      Advokaat Pelzer se stem klink op ter verdediging en versagting. Almal is bewus van die uiters moeilike tyd wat mevrou Cloete die afgelope jaar beleef het. Almal wat mevrou Cloete ken, sal getuig dat sy nie ’n alkoholis is nie. ’n Sosiale drinker, maar nie ’n alkoholis nie. Haar emosionele toestand het haar daardie ongelukkige aand na drank laat gryp. Haar situasie moet in ag geneem word: Haar man is onlangs tronkstraf opgelê, hulle was mense van aansien en sy het haar skielik so te sê geldloos en dakloos bevind. Al hierdie faktore het daartoe bygedra dat sy daardie aand in menslike swakheid na die bottel gegryp het. Sy is ’n jong vrou van ses-en-twintig wat skielik weerloos teen die aanslae van die lewe staan. Sy het nie doelbewus in die motor geklim met die voorneme om iemand te gaan doodry nie. Dit was bloot ’n instinktiewe ontvlugtingsdrang teen haar haglike omstandighede wat haar laat wegjaag het. Sy het nie eens besef dat sy iemand getref het nie. Daar is dus versagtende omstandighede wat aangevoer kan word en in ag geneem moet word wanneer vonnis gevel word. Hiermee sluit die verdediging sy saak.

      Vonnis sal die volgende dag gevel word. Die beskuldigde word op eie verantwoordelikheid vrygelaat tot dan. Landdros Marais verdaag die hof.

      Die landdros sit in sy kantoor agter die lessenaar toe iemand saggies aan sy deur klop. Hy glimlag toe hy sy besoeker herken.

      “A, Roelof! Jy is net die man wat ek wil sien. Kom binne.”

      “Dagsê. Is daar ’n probleem waarmee ek kan help?”

      “Ja, ek wil jou mening hoor. Maar sê my eers waaraan het ek hierdie besoek te danke.”

      “Ek was vanoggend in die hof. Hierdie Cloete-saak het my geïnteresseer.”

      “Dan het jy die hofsitting bygewoon? Goed. Ek wil juis met jou daaroor gesels.”

      Uit die aard van hul beroepe en die feit dat ’n landdros en ’n maatskaplike werker soms ten nouste saamwerk, het Daan Marais en Roelof Rossouw deur die jare goeie vriende geword en geleer om respek vir mekaar se standpunte te hê. Veral hierdie Cloete-saak wil hy met sy vriend bespreek.

      “Ek het reeds besluit dat haar straf gemeenskapsdiens sal wees. My probleem is net waar. Ek dink nie die hospitaal se ongevalle-afdeling sal gepas wees nie. Volgens getuies is sy nie gewoonlik ’n roekelose motorryer nie. Dis trouens haar eerste oortreding. Sy is ook nie ’n drankverslaafde nie.”

      “Mag ek ’n voorstel maak?”

      “Dis hoekom ek die saak met jou bespreek.”

      “Stuur haar na tant Bes toe.”

      “Tant Bes … van Sonneblomstraat?”

      “Ja. Laat sy haar gaan help kos kook.”

      “Maar kan sy ooit kos kook? Hierdie ryk vroue … ”

      “Sy kan leer. En al kan sy nie kook nie, sy kan kos inskep, groente skil, skottelgoed was.”

      Daan Marais kyk die ander man onseker aan. ’n Vrou van Sandton wat vir Jan Bom se mense gaan groente skil … “Hoekom dink jy dit gaan die regte terapie vir haar wees?”

      Roelof glimlag. “Dit gaan haar besig hou … en dis wat sy nou nodig het. Sy moet só besig wees dat sy nie tyd het om te dink of te tob nie. En miskien sal dit baie goed wees as die dame van Sandton sien hoe arm mense lewe. Ek glo Jan Bom sal haar ’n paar besonderse lewenslesse leer … lesse wat vir haar van groot waarde kan wees.”

      Wanya staan regop en stil in die beskuldigdebank toe die vonnis oor haar uitgespreek word: ’n Vonnis van vyftien maande onder korrektiewe toesig word opgelê, wat in gemeenskapsdiens uitgedien moet word. Haar rybewys word ook ’n jaar lank ingetrek. Meneer Rossouw is die maat­skaplike werker onder wie se toesig sy sal wees. Die saak is afgehandel.

      Sy staan net daar en huil. Laat die trane van verligting skaamteloos oor haar wange vloei. Sy gaan nie tronk toe nie! Sy gaan nie in ’n sel opgesluit word nie! O, dankie, Here!

      “Wanyatjie