Название | Engel van my hart |
---|---|
Автор произведения | Kristel Loots |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624067726 |
O, daar is baie wat sy hom hierop kan antwoord, baie sogenaamde toevallighede waarop sy kan wys, maar sy wil nie onnodig met hom koppe stamp nie. Alles aan haar is seer – haar hart, haar kop, selfs haar ego is gekneus. Sy’t nie nog die krag vir ’n volbloed konfrontasie nie.
“Jy’s hopeloos te sensitief oor jou swak oë en jou bril, Breg,” berispe hy. “Die advertensie het bloot ...” Hy aarsel ’n oomblik en grinnik dan. “Wel, jy weet, met my perfekte 20/20-visie het dit natuurlik dadelik my oog gevang.”
“Baie snaaks!”
“Daar’s selfs blyplek vir jou in ’n heel aparte deel van die huis waar die dokter bly. Dit sal jou tydelik uit Suid-Afrika neem.”
“Sodat die mense oor iets anders begin skinder?”
Dis nie nodig dat hy haar antwoord nie.
“So maklik sal dit nie wees nie, Erik.”
“Ek weet. Wat met jou gebeur het, sal jy met jou saamneem, of jy hier bly en of jy die pos in Londen kry.”
Gewoonlik is sy bly om Erik te sien – natuurlik is sy! Hy’s haar ouboet en sy’s lief vir hom. Al dryf hy haar ook teen die mure uit wanneer hy so sonder die nodige insig in ’n ander mens se pyn optree, so sonder finesse.
Dis net dat dit deesdae vir haar moeilik is om gaaf en gesellig teenoor énigiemand te wees. Soveel inspanning! En dat sy so deksels lewensmoeg is dat sy nie eens wil probeer nie.
Sy nooi Erik nog steeds nie in nie, maar moet noodgedwonge opsy staan toe hy in elk geval verby haar skuur om by die oop deur in te stap.
“Hoe gaan dit met jou? Cope jy darem?” wil hy weet en maak die voordeur agter hulle toe.
“Dit gaan goed, dankie.”
“Ag twak, man!” Hy waai haar woorde met sy hand weg. “Jy praat nou met mý – jou bloedbroer. Ek ken jou mos. As jy die dag so bitterbek uit die bed klim, gaan dit beslis nie goed met jou nie.”
Hy stap deur kombuis toe en mik om te gaan sit. Ag aarde tog! Sy’t so gewens hy’s haastig en sal nie van haar verwag om koffie te maak of kopstukke te gesels nie. Sy’t nie eens die krag om praatjies oor die weer te maak nie, wat nog te sê die storie van haar lewe vir die hoeveelste keer voor hom oop te vlek!
Sy stap willoos agter hom aan. “Dit gaan orraait met my. Ek sê mos.”
“Nou’s dit darem al orraait, nie meer goed, dankie nie. Ons vorder. As jy so aangaan, kom ons dalk nog by die waarheid uit voor die son vandag oor ons sak.” Erik gaan sit langs die tafel en skop sy lang bene voor hom uit.
Berge val op my, kreun Breggie innerlik. Hy’s hier om met mening te kuier.
Sy wil-wil haar vererg. Vir wat karring hy so? Is dit vir hom lekker om haar uit te dop totdat al haar gedermtes voor hom uitgesprei lê?
“Wat wil jy van my hê, Erik?” vra sy moeg toe sy op die stoel oorkant hom neerval.
“Die waarheid, Sus. Ek wil regtig weet hoe dit met jou gaan.”
Breggie sug gelate. “Hoe dink jy gaan dit met my? Ellendig, dankie. Sommer simpel. Is dit wat jy wou hoor?” Sy wag nie vir ’n antwoord nie. “Al wat ek wil doen, is om onder die bed te gaan wegkruip. Waar niemand van my sal weet nie en niemand my sal kom pla nie.”
Sy gluur hom aan, hoop hy vang die skimp. Sy’t nie lus vir mense nie, nie lus vir hom nie, nie lus om soos ’n vrolike vinkie aan die tjirp te gaan terwyl sy eerder in sak en as wil sit en krepeer nie.
“Ek wil soos ’n stofbolletjie diep onder die bed gaan lê, verstaan jy? As ek in die oggend wakker word en die son skyn in my oë, wil ek sommer ... sommer ... sommer iets oorkom. Ek begin die dag met ’n kreun, want dit voel of een of ander reuse-roofvoël op my bors nes gemaak het en ek kry die nare ding nie weggejaag nie. Die enigste genade van die dekselse dag is dat ek saans weer in die bed kan klim en die komberse oor my kop kan trek.”
“Dis waarvoor ek bang was – dat jy dit later gaan begin geniet om jou wonde te lek. Dis alles tekens van depressie, jy weet dit?”
“Ag toe nou, Erik, hou jou kombuissielkunde vir jouself. As ek berading nodig gehad het, sou ek by iemand gaan aanklop het wat meer van die saak af weet as jy.”
Sy gedra haar sleg, sy weet. Sy’s aaklig met haar broer, wat seker uit die goedheid van sy hart hier by haar kom draai het terwyl die son daar buite skyn en hy sy tyd beter op die gholfbaan kon deurbring. Sy’s ’n ondankbare mens, ’n propperse feeks, sy’s alles wat sleg is – en sy gee nie eens om dat dit so is nie.
“Wat daarvan as ek depro is, Erik? Dink jy nie daar is genoeg rede daarvoor nie?”
“Natuurlik, maar dit gaan jou nie help om weer op jou voete te kom nie.”
“En wie sê ek wil weer op my voete kom?”
“Jy’t nie ’n keuse nie, Breg. Dis wat ’n mens doen – jy staan maar weer op uit die puin as jou wêreldjie ineengestort het. Jy kan nie vir die res van jou lewe hier sit en verlep totdat niemand dit meer naby jou wil waag nie.”
“Jy’s wreed, Erik.” Sy haat die Martie Martelgat-klankie in haar stem.
“Nee, Sus, net eerlik. Kyk hoe lyk jy!”
Dit kriewel in haar nek. “Hoe lyk ek, Erik? Soos ’n stiksienige ou vrou met ’n bril?”
“Nee, Breggie. Jou bril het niks daarmee te make nie. Jy lyk in elk geval soos iets waarmee ma’s hulle kinders sal bangmaak.” Hy glimlag effens. “Dit lyk of ’n muis nes gemaak het in jou hare, jou klere hang soos sakke aan jou lyf, en wanneer het jy laas beenhare geskeer?”
Breggie lag kortaf. “En vir wie sal ek nogal my beenhare skeer? Vir die vrugtesmous op die hoek van die straat, of vir die diaken wat deesdae twee keer ’n maand ’n oorlas van hom hier by my kom maak?”
Erik se gesig verhelder. “Twee keer ’n maand? Hoe so?”
“In die eerste plek natuurlik om te kollekteer, wat anders? En glo ook om van tyd tot tyd te kom kyk hoe dit met my gaan. Sy herderlike plig, jy weet? Hy is tog tweede in bevel van die gemeente.”
Sy verander haar stem, maak die sedige jansalie na wat haar op ’n gereelde basis hier by haar woonstel kom pla. “En u moet asseblief maar verskoon, juffrou – Dominee is só besig dat hy nie al sy draaie kry nie.”
“Hoe lyk hy – hierdie diakentjie wat jou nie wil uitlos nie? Waarmee ry hy? Waar bly hy? En veral: het hy iets in die bank?”
“Wat op aarde maak dit saak?” Die ergernis laai in haar op. “Probeer jy my nou al aan die diaken afsmeer?” Sy hoor hoe skril haar stem raak. “Wel, vergeet dit, ou broer! Hy ry met ’n skedonk, bly heel moontlik nog by sy ma en lyk soos ’n haarnaald – ’n geroeste haarnaald, om presies te wees. Dun soos ’n haarnaald en net so outyds ook.”
“So, jy is darem nog kieskeurig?” lag Erik.
“Wat het jy dan verwag? Dat ek myself op ’n skinkbord aan die eerste die beste man wat op my drumpel beland, sal aanbied?”
“Behalwe dat selfs die eerste die beste man jou nie sal wil hê terwyl jy so verniel is nie.”
Sy weet hy bedoel dit goed. En tog ... tog maak sy woorde vandag seer. Tot haar ontsteltenis voel Breggie hoe ’n traandruppel op haar saamgeklemde hande val.
“Haai?” vra Erik verstom. “Huil jy?” Hy spring op, kom staan agter haar.
“Jy’s seker reg, Erik. Geen man sal dit naby my wil waag nie – ek’s ’n wrak!”
“Met