Название | Keerkring van die hart |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624066422 |
“Liesel,” het hy dan teen sy beterwete probeer, wetende dat dit tog nie sou help nie. “Kas is ’n ordentlike jong man …”
“Ek het ook nie gesê hy is nie ordentlik nie. Maar wil Paps hê ek moet ou Joop Burger se seun aanmoedig? As Mamma …”
“Jou ma is in haar graf. Ek sê ook nie jy moet hom aanmoedig nie. Maar net ’n bietjie meer beleef wees en …”
“O, Pa ken nog nie dáárdie soort nie. As ek vir Kas die pinkie gee, gaan hy die hele hand gryp. Nee, dis al manier om hom op ’n afstand te hou.”
“Kas is nie dáárdie soort nie, my kind. Soos ek hom ken, sal hy hom nooit opdring of indring nie. Jy …”
“Pa is skielik vreeslik danig met hom,” het die ongeduldige stem hom weer kortgeknip. “As ek reg onthou, het Pa saam met Mamma altyd vir my gepreek van wie my klas is, en soort hoort by soort en …”
Dit was sy beurt om haar in die rede te val.
“Ja, ek weet, Liesel. Ag, laat staan tog maar. As jy eendag ouer is, sal jy miskien beter begryp.”
Hy het nie weer met haar probeer redeneer nie, en eers nadat sy uit was, het hy ongemaklik ontdek dat die deur tussen sy kantoor en die aangrensende kantoor nie heeltemal toe was nie. Hy het byna hardop ’n sug geslaak toe Kas ’n oomblik later by die voorste deur ingekom het. Dan was hy gelukkig nie op kantoor nie, het hy gedink. Die jong man se gesig het hom niks vertel nie, ook nie dat hy al enkele minute gelede van die landdroskantoor af terug was en al ’n hele rukkie in die voorste kantoor gewag het dat Liesel uit haar pa se kantoor moes kom nie. Niks in sy stil gesig het sy baas vertel dat hy saam met die tikster na die gesprek geluister het nie.
Hierdie voorval het plaasgevind kort nadat Kas hom by prokureur Dempers ingeskryf het as prokureursklerk. Vier jaar het sedertdien verloop. Die situasie het niks verander nie. Liesel is verlede jaar uit die skool en sy het besluit om eers ’n jaar by die huis te bly voordat sy universiteit toe gaan om ’n kursus in beeldende kuns te volg, want haar ma het haar in haar laaste skooljaar ontval en dit was eintlik ter wille van haar pa dat sy besluit het om eers haar planne vir ’n jaar uit te stel.
Nie dat haar pa veel van haar te sien gekry het nie. Dit was uitsonderlik as sy twee aande van die week tuis was. Faan Dempers het dit maar eers oogluikend toegelaat. Liesel is jonk, het hy gedink en haar uithuisigheid verontskuldig. Dis beter dat sy liewer besig bly, opgaan in die sosiale lewe van die dorp as om, saam met hom, saans met die smart van verlange en hartseer tuis te sit. Maar haar ma is nou al byna ’n jaar oorlede en nog gaan die dolle plesiervaart voort. Dit neem eerder in tempo toe – en Faan Dempers begin bekommerd word. Nie dat hy omgee dat sy dogter genot uit die lewe put en alles uit haar jeug haal nie. Hy misgun haar nie die jonkheidsvreugde van die lente nie. Maar wat hom al hoe meer kwel, is die geselskap waarin sy dit vind.
En dit is die vreemde deel van sy kommer. Rob Rabe en sy groep is die groep waarin sy dogter grootgemaak is. Van kleins af het hy en sy vrou hulle geselskap en vriende fyn gekeur. Die Rabes van Rondom was onder hulle vriende. Hulle, die Rabes en enkele ander gesinne, het ’n geslote kring gevorm – ’n uitverkore, hoogste kring in die dorp se sosiale lewe. Nie dat Faan Dempers ooit in sy hart ’n snob geword het nie. In sy hart het hy die eenvoudige boerseun gebly, maar die vrou met wie hy getrou het en die kring waarin veral sy gesorg het dat hulle beweeg, het noodgedwonge meegebring dat hy daardie boerseun diep in sy hart moes wegsluit. Hy moes meedoen en beantwoord aan die ongeskrewe reëls van daardie besondere kring waarin hy beweeg het.
Baie dikwels, onthou hy nou in hierdie dae van eensaamheid vandat sy lewensmaat hom ontval het, het hy verlang na die eenvoudiger lewe wat hy as seun op Skaars-van-als, die ou familieplaas, geken het. Hoekom dit so is, kan hy self nie juis duidelik verklaar nie en het hy nog nie werklik gaan sit en probeer uitpluis nie, maar hy verlang deesdae al hoe meer na die geselskap van eenvoudige mense – of wat Grasbult se elite as eenvoudig beskou. Hy verlang in sy wese terug na die eenvoudige dinge van die lewe, die eenvoudige waarhede wat hy as seun geken het. In die kring waarin hy al baie jare lank beweeg, word daar nooit oor sulke dinge gesels nie. Daar word baie gesels, ja, maar daar word nooit veel gesê nie – nooit iets wat jy voel tot jou siel deurdring, iets wat jy met jou kan saamneem wanneer jy weer groet nie.
En namate hierdie nuwe, vreemde gewaarwordinge in hom toeneem, neem ook sy kommer oor sy dogter toe. Hierdie pragtige en enigste dogter van hom word ook vasgevang in die web van prestige, status, geld en valse waardes waarin hy haar laat grootword het. Dis met knaende kommer en selfverwyt dat hy opmerk dat sy gedurig na partytjies toe gaan. Saterdag is dit Rob se partytjie, Woensdag is dit Marie se mondigwording, volgende Saterdag is dit weer ’n troue … Dis ’n leë, doellose sirkel waarin sy dogter vasgevang is, en sy koop die een nuwe aandrok ná die ander, en kort-kort wil sy ’n nuwe sportmotor hê.
En die geselskap waarin sy haar kosbare jeugure deurbring … Dis die grootpratery van ’n Rob Rabe, ’n klein windlawaai wat van kleins af, nes Liesel, nooit die woordjie nee gehoor het nie. Dis haar vriendinne wat net oor klere en modewinkels kan gesels, dis ander jong manne wat hulle bes doen om te kyk hoe goed hulle die verkeersmanne kan flous, hoe ver hulle tot op die gevaarstreep kan beweeg sonder om gevang te word. Hulle is die kinders van vooraanstaande mense, maar binne-in, weet Faan Dempers, is die verrotting reeds besig om dit wat kerngesond moet wees, te bederf.
Hulle is nog baie jonk, dink hy. Hulle is nog maar net kinders, al dink hulle hulle is reeds grootmense. Hulle sal regkom. Hulle is maar almal om en by twintig. Hy is verniet bekommerd. Liesel en haar maats is darem tog volgens ’n sekere kode grootgemaak. Hulle sal nie werklik ontrou daaraan raak nie. Dis maar net omdat hulle nog nie verantwoordelikhede moes dra nie.
En dan, onwillekeurig, verskyn sy jong klerk se gesig voor hom – jong Kas Burger, wat deur so baie mense hier op die dorp geminag word, ook deur sy eie dogter, bloot omdat hy ou Joop Burger se seun is, ’n man wat sy lewe lank sy munisipale loon uitgedrink en sy huis verwaarloos het sodat sy vrou met stop- en naaldwerkies en wasgoed was die pot aan die kook moes hou. ’n Man wat eindelik deur siekte en selfaftakeling sy werk en gesondheid verloor het en, sonder hulp van ’n inrigting of enige ander medemens, die stryd teen die drank gewen het en nou, in die laat jare van sy lewe, gebroke na gees en liggaam, van ouderdomspensioen lewe in die platdakhuisie duskant die noodsloot.
Faan Dempers kyk op en sien dat die jong man nog steeds beleef staan en wag by die deur. Hy knip sy oë, dwing sy gedagtes ’n oomblik terug na die hede.
“Dankie, Kas. Ek sal jou roep sodra ek klaar is met hierdie watersaak. Ons kan dit gerus dan ’n bietjie bespreek.”
“Goed, meneer.”
Die deur gaan agter Kas toe en Faan bly daarna staar. Joop Burger se seun – maar beslis nie ’n tweede Joop Burger nie.
Hy onthou die dag nog goed toe die jong Kas, nog in sy matriekjaar, in verslete maar skoon klere voor sy lessenaar gestaan en die wens uitgespreek, eintlik gesmeek het, om hom van die volgende jaar af by hom in die kantoor in te skryf as prokureursklerk. Hy het gehou van wat hy gesien het, en nog meer gehou van wat hy gehoor het, want Grasbult is nie so groot dat die mense nie maar, soos in die meeste gevalle op dorpe, alles van almal geweet het nie. Hy het reeds geweet dat klein Kas van ou Joop elke kwartaal eerste in sy klas gestaan het, dat hy tot dusver wonderlike simbole gehandhaaf het, dat hy ’n goeie verstand het en ’n gebore student is. Dat ou Joop Burger nou so ’n slim kind moet hê … ’n Mens kan wonder waar kom dit vandaan, was die algemene gevoel van die dorpenaars wanneer klein Kas die enkele kere onder bespreking gekom het.
Faan het daardie middag afgestap in die rigting van ou Joop se huisie. Hy het lank daar aan die oorkant van die straat gestaan en daarna gekyk – die viervertrek-platdakhuisie, spierwit afgekalk met ’n lowergroen wingerdstok al om die voordeur gerank. ’n Netjies gesnyde soutboslaning het die klein erfie afgekamp van die langsaan geleë sportterrein van die dorp en hier, weerskante van die voordeur, aan die voorkant van die wingerdstok, het twee roosboompies en ’n paar vilette enkele pers en rooi spatsels teen die wit muur geteken. Dit was baie eenvoudig en armoedig, en tog mooi. In hierdie laat uur van die middag, met die oranje skakerings van ’n plattelandse