Louisa du Toit Omnibus 7. Louisa du Toit

Читать онлайн.
Название Louisa du Toit Omnibus 7
Автор произведения Louisa du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия Louisa du Toit-omnibus
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057901



Скачать книгу

nie geweet nie.”

      “Sy was waansinnig,” vervolg hy gesmoord. “Toe ek opkyk, het sy op die buitetrappie gestaan en na binne gekyk. ’n Oomblik lank wou ek vlug … maar ek het geweet dan sou ek by haar verby moet kom.”

      Hy hoor hoe sy haar asem intrek en binnehou voordat sy hoorbaar uitasem. Hulle begin weer aanstap, onbewus van hulle eie voetstappe wat hulle stadig wegvoer van die groot, slapende huis met sy leed.

      “Wat kan ’n mens tog doen?” vra sy verslae.

      “Dis ’n groot gemors,” erken hy nugter. “En dit het begin toe julle my daardie eerste dag op die stasie gaan haal het. Ek moes daardie vakansie liewer alleen in die kinderhuis agtergebly het, al was dit stoksielalleen. Ek dink nou dikwels oor jou vraag hoekom ek hier bly. My tyd hier is verby. Dalk moet ek maar my goedjies pak en die pad vat.”

      “Jy moenie,” sê sy haastig. “Ek bedoel, wat sal dit help? Intussen gaan Tillie ten gronde. Daar is een wat moet weg – Matilda.”

      “Dis vir eers uitgesluit,” besluit hy ferm. “Want hóé doen ons dit?”

      “Maar wat anders moet ons doen?”

      “Jy moet in die eerste plek met Tillie praat.” Hy bly kalm. “Dit is jy wat haar taktvol kan inlig oor Matilda se houding.”

      Sy deins terug voor die taak, dog besef terselfdertyd dat sy wel die enigste persoon is wat dit kan doen. “En moet ek haar ook inlig aangaande jóú houding?”

      “Wat bedoel jy?” Hy vra die retoriese vraag slegs om tyd te wen, want hy sien waarheen die gesprek onvermydelik lei.

      “As sy my uitvra aangaande jou gevoelens vir haar?”

      “Jy hoef niks vir haar te sê nie, want daar is niks te sê nie.”

      “Deon, wil jy vir my sê dat … dat dit weer ’n geval van vergeefse liefde by haar is? Kan jy nie probeer om haar lief te kry nie?”

      So smekend en sag is haar stem, dat hy sou geswig het as dit oor enigiets anders gegaan het. “Nee, Irma, dis onmoontlik.”

      “Is dit werklik? Hoe weet jy dat dit nie later kan gebeur nie?”

      Nou is die oomblik, dink hy. Na lange jare is dit nou die oomblik dat hy haar moet vertel; maar hy kan nie woorde vind nie. Hy gaan weer staan en draai haar na hom toe. Terwyl hy met ’n hete aandoening worstel, laat hy sy gesig na hare sak. Toe sy stem eindelik kom, is dit effens hees: “Is jy dan blind, Irma?”

      Stadig registreer sy houding, sy woorde by haar. ’n Vrou weet altyd onfeilbaar, het sy haar nog altyd wysgemaak. En nou het sy al twee keer gefaal.

      Sy probeer die donker deurvors om sy gesig te sien, maar dis net ’n vae vorm naby hare. In ’n vlietende sekonde word baie dinge vir haar duidelik; ook dinge wat haar eie binneste betref. Sy weet nie wie eerste beweeg het nie, maar toe sy arms soos staalbande om haar gaan, was sy gereed daarvoor. En toe sy mond hare vind met oorweldigende verlange, ondervind sy geen greintjie weerstand nie en duisel alles om hulle weg: die vrae, die probleme, die soeke van baie jare.

      Hoe lief het ek hom, hoe verskriklik lief het ek hom, maal dit aaneen deur haar kop. En dat ek dit soveel jare ontken en weggeleef het.

      Eindelik lig hy sy lippe van hare af, maar sy arms laat haar nog nie gaan nie. Hy druk haar kop teen sy skouer vas en vind geen woorde nie. “Nou soek ek nie meer nie,” fluister hy ontroer.

      Maar sy antwoord nie en bied hom weer haar lippe toe hy daarna soek. Eindelik staan sy traag van hom af weg.

      “Moenie,” pleit hy.

      “Ek moet. Dit kán nie.” Haar stem is byna onhoorbaar.

      Geskok luister hy. “Wat sê jy?” vra hy met ingehoue asem.

      “Dis Tillie na wie toe jy moet gaan. Jy het genoeg liefde om te gee. Sy het dit nodiger as ek.”

      “Irma!” Dis waarvoor hy gevrees het. Hy gryp haar arms vas in ’n knellende greep. “Dis onmoontlik. Ek kan jou nooit weer laat gaan nie.”

      “Jy het nie ’n keuse nie.” Haar asem is warm op sy gesig.

      “En wat van jou?” Sy stem is ’n hees pleiting.

      “Ek sal weer iemand kry.”

      “Jy het voorwaar ’n ruim hart.” Bitter laat hy haar los toe hy besef dat sy ernstig is. “Jy weet ek mag nie naby Tillie kom nie.”

      “Sy sal nie altyd minderjarig bly nie. Sodra sy mondig is, vat jy haar weg.”

      “Jy durf my nie voorskryf nie, Irma. Nie hieroor nie.”

      “Nog minder jy vir my; ek sal dit vir jou makliker maak deur weg te gaan.”

      “Irma, luister. Daar is niks meer te sê as dat ons vir mekaar bestem is nie …” Hartstogtelik probeer hy haar oorreed.

      “En dit oor ’n paar soene?” Sy lag kwetsend, terwyl dit voel asof haar lewe stadig in twee skeur. “Jy het gesê jy is bereid om hier by Tillie te bly as dit moet,” herinner sy sagter toe sy sien hoe haar woorde hom seermaak.

      “Dit geld nie meer nie,” sê hy moeg. “Alles het nou verander; hoe kan jy dink dat enigiets hierna nog dieselfde kan wees vir my?”

      Sy antwoord nie.

      “Is alles dan vir jou nog dieselfde?’ vra hy dringend. “Het jy my lief? Sê dit net een keer!”

      Sy weifel, voel hoe die emosie haar weer wil oorweldig. Sonder om aan sy versoek te voldoen, wikkel sy haar los en begin terug huis toe stap. Sonder dat hulle eers oor Matilda, die sentrale probleem, gepraat het. Hy keer haar nie en hoor hoe haar skoene die gruis laat knars totdat die geluid verdof. Toe volg hy stadig in die rigting van sy rondawel.

      Ontstem, ontroer is sy gemoed toe hy in die donker uittrek en op sy bed gaan lê.

      Skaars ’n halfuur het verloop sedert hy sy lamp doodgeblaas en saam met Irma hier uitgestap het; maar die betekenisvolste halfuur van sy hele lewe tot dusver. Toe hy, sonder dat hy enige voorneme daartoe gehad het, plotseling oorweldig is deur sy desperate verlange en haar teen hom vasgedruk het, het hy ’n oomblik lank heftige teenstand verwag.

      En toe, asof die uitspansel oor hom oopvou, het hy besef dat haar lippe oop en sag teen syne is. Verheug het hy geweet, toe hy weer nugter kon dink, dat die lig wat hy in haar oë gewaar het sonder dat sy self daarvan weet, al die tyd ’n beantwoording van sy gevoel was. En nou behoort sy aan hom. Hoër as die probleem van die oomblik, hoër selfs as die vrees dat hy haar weer sal verloor, styg hierdie gedagte uit. Nooit kan sy dit hierna ontken nie. Hy druk sy gloeiende gesig in die kussing en voel hoe sy ooglede brand. Duidelik kan hy haar nog teen hom voel, vas teen sy bors, haar lippe in ’n polsing van verlange onder syne. Hy moes hom ten alle koste beheers om nie verder te gaan en haar saam te sleur, net om dit later te berou nie.

      Môre moet hy opstaan en haar in die oë kyk asof daar niks tussen hulle gebeur het nie.

      En Tillie? Hy draai rusteloos terug op sy rug. Hoe onwerklik is die gedagte aan haar nou. Het Tillie hom ook só lief? Hoe sal hy ooit so ’n liefde kan beantwoord ná wat hy vanaand ervaar het? Irma sien dit anders. In onbaatsugtige opoffering wil sy terugstaan.

      Ons het almal reeds soveel liefde ontbeer dat ons mekaar tot elke prys gelukkig wil maak, en juis daardeur bring ons verdere ongeluk oor ons; soos ’n kosbare vaas wat gebreek word uit oorversigtigheid, dink hy.

      Indien hy aan Irma se wens voldoen, sal dit slegs beteken dat hy homself en Tillie ongelukkig maak. Mettertyd moet Tillie tog agterkom dat sy hart nie by haar is nie, al gee hy ook die teendeel voor. Hy probeer om nugter te dink, maar alles is uit verband geruk.

      Alles … omdat Irma nou aan hom behoort.

      Met die gedagte raak hy eindelik aan die slaap.

      Bewend van ontsteltenis het Irma die huis weer bereik, die agterdeur sag agter haar op knip getrek. Toe sy by Tillie se kamer