Sluimerliefde. Susan Pienaar

Читать онлайн.
Название Sluimerliefde
Автор произведения Susan Pienaar
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057710



Скачать книгу

>

      Sluimerliefde

      Susan Pienaar

      Satyn

      1

      “Nee, mán, los my! Dis nog te vroeg vir ’n vryery.” Karli probeer losruk uit Maritz se arms, maar hy is sterk en hy verstewig net sy greep om haar. Sy lyf is warm teen haar rug, en sy is nou só verdomp geïrriteerd.

      Maritz soen haar agter in haar nek en grom: “Huh-uh, nee, dis nooit te vroeg nie, veral nie met my meisie se sexy lyfie so cosy teen my nie. Weet jy, het jy énige clue wat jy aan my doen?”

      Sy asem is warm teen haar wang en sy ruik ’n sweempie naskeermiddel. Dis duur en smaakvol, soos alles wat Maritz aanskaf. Hy druk haar styf teen hom vas en Karli voel die harde lengte van sy begeerte teen haar agterstewe. Flip! Sy is vanoggend só nie in die bui vir hom nie!

      “Ek sê lós my, déksels!” Karli mik met haar sandaal se hak na sy enkel, maar hy tree rats agteruit en sy mis. Sy is moeg gespook. Sy skep asem en kyk oprit toe.

      Henk staan halflyf agterin sy viertrek, besig om bagasie vir die langnaweek in te laai. Oral op die plaveisel staan tasse, en vlak voor sy enorme motorhuis staan twee koelbokse en nog ’n hele spul ander goed. Henk is al heeloggend knorrig, maar dis glad nie iets nuuts nie. Hoewel, hy behoort vir ’n verandering tevrede te wees – sy en hy het mos darem lank gewag vir die langnaweek tussen die berge by Golden Gate. Maar hy het haar netnou ingevlieg oor ’n simpel ou dingetjie wat sy hom gevra het, dus bly sy liewer uit sy pad uit.

      Henk kom regop agter sy voertuig. Sy donker wenkbroue trek fronsend saam terwyl hy humeurig na hulle kyk. “Hey, Maritz!” En toe Maritz opkyk: “Ag nee, demmit, man. Hoor jy nie wat Karli sê nie? Los haar en kom help inlaai.” Karli kan duidelik sien hoe ’n spier teen sy kakebeen spring.

      Maritz plant ’n soen op Karli se wang, los haar onmiddellik en kom staan voor haar. Sy oë vonkel spelerig en hy streep ’n hand deur sy blonde hare.

      “Oukei, rissiepit, ek los jou. Maar moenie scheme jy gaan altyd jou sin kry nie.”

      Karli kyk Maritz agterna. Hulle gaan nou maar eers drie weke vas uit en sy ken hom nog nie naastenby goed genoeg nie, maar hy’s fun en sover kom hulle goed klaar . . .

      Flip, maar sy voel buierig vanoggend. Sy kan natuurlik haar vinger op ’n hele spul moontlike oorsake lê, maar sy gaan nie nou staan en dinge probeer uitrafel nie. Sy sien al te lank uit na die naweek in die Oos-Vrystaat om die dag verder te bederf. Eintlik kan sy nie wág om Golden Gate in al sy glorie te gaan verken nie.

      Kyk net hoe sukkel Henk en Maritz om Anchen se goed in te laai. Die mans meet en pas, haal Karli se kleiner tas uit om in sy plek een van Anchen se groter tasse in te pak. Mens sal sweer Henk se girlfriend gaan vir ’n bleddie maand vakansie hou! Drie nagte en vier dae, dís hoe lank sy en Maritz en Henk en Anchen weg sal wees. Dis vandag Donderdag, Maartmaand en Menseregtedag. Hulle kom Sondag terug. Henk het vroegtydig Vrydag se hofsake geskuif, Maritz is sy eie baas en Anchen kan blykbaar ook doen wat sy wil. Karli het nie Vrydag klas nie, so alles het mooi uitgewerk.

      Die naweek is al lank gelede beplan. Lank voor Henk vir Anchen ontmoet het. Anchen is Henk se latest, een van ’n la-a-ang string meisies. Karli werk gou uit. Sy’s reg, hulle date nou presies ses weke. Dis regtig lank vir Henk, wat klokslag al om die maand van meisie verander. Karli het ses maande lank by Henk geloseer, so sy weet nogal baie van sy gewoontes.

      Dit was darem gaaf van Kobie se ouers om haar en Henk vir die langnaweek te nooi. Hulle gaan in die vakansie­rondawels op die ouer mense se plaas in Clarens bly. Eintlik is oom Neels en sy vrou, tannie Martie, maar net baie dankbaar teenoor haar en Henk dat die plek uiteindelik op hulle naam is. Karli het vir Henk gevra om sy invloed te gebruik om iemand in die akteafdeling te kry om die oordrag van die verwaarloosde plaas op oom Neels-hulle se naam te bespoedig – Henk is advokaat by die regsfirma Myburg en Myburg, wat aan hom en sy pa behoort. Maar natuurlik moet Maritz en Anchen nou ook saampiekel.

      Oom Neels en tannie Martie is jarelange huisvriende van Karli en haar ouers. Kobie is hulle enigste kind en laatlam, en ook Karli se jarelange vriendin.

      Karli kyk op haar horlosie. Ja-nee, Henk se meisie kry weer nie vandag klaar nie. Sy’s regtig nie katterig nie, glad nie, maar soos daai vroumens darem kan tof! Mens sal sweer sy’s ’n celebrity of so iets.

      Anchen het ’n goed besoldigde werk as rubriekskrywer vir ’n glam tydskrif. Sy skryf oor haarstyle, grimering, gesig­rome en verjongingskure. Buiten haar salaris word sy ook nog met gratis gesigbehandelings, masserings en allerhande foefies gepamperlang. Gmf, verbeel jou!

      Karli snuif liggies. Al word sy ’n plaas se prys betaal, sal sy nie Anchen se rubriek lees nie. Sy’t net een keer een van die tydskrifte in ’n supermark deurgeblaai, net om bietjie na Anchen se artikel te kyk. Sy was bloot nuuskierig oor Henk se nuwe meisie, dis al.

      Karli haal ’n opgevoude blaadjie uit haar jeans se sak, vou dit oop en lees weer die artikel oor die Oos-Vrystaat. “In die voetheuwels van die Maluti-gebergtes, net bokant Lesotho en suidoos van Bethlehem, lê die Golden Gate Hoogland . . .”

      Sy druk die blaadjie terug in haar cutoff-jeans se sak. Êrens tussen Clarens en QwaQwa se berge is oom Neels en tannie Martie se plaas met die vakansierondawels. Karli het die kaart wat Kobie geteken het om die pad tot by hulle plaas en ruskamp te beduie, vir Henk gegee. Dis nou maar eers vier maande gelede dat oom Neels-hulle Clarens toe getrek het, so nie sy of haar ouers het al kans gehad om te gaan kuier nie. Sy’t by Kobie gehoor van Clarens se enorme vooruitgang die afgelope ses jaar; haar ouers bly immers al jare op Bethlehem.

      Dis darem ’n geluk dat Henk die Oos-Vrystaat soos sy handpalm ken. Hy’t haar verseker hy sal die plaas maklik kry. Henk was al ’n paar keer by Golden Gate en in die omgewing, toe hy student was en ook daarna. Hy’t die Titanic Rock in Naaupoort en die Chain Ladder na die bopunt van die Drakensberge geklim. Abseil en roei, hy’t die hele lot gedoen.

      Karli loop sit op die blinkswart marmerstrook bo die water­valletjie. Henk en Maritz sukkel steeds om al die goed in die viertrek gelaai te kry. Henk tel een van Anchen se groot tasse op, en Karli kan nie anders as om die sterk spiere in sy rug en bo-arms op te merk nie. Henk is stewig gebou en een van die langste mans wat sy ken. Hy’s amper ’n kop langer as Maritz.

      Haar oë luier op Henk. Die wit hemp span oor sy breë skouers en die donker hare is nou effens korter as voorheen. Maar oh boy, het Henk ’n dishy lyf aan hom! Mens bly nie ses maande onder dieselfde dak saam met ’n man sonder om sekere dinge te sien nie. Sy bene is sterk en mooi gevorm, soos ’n naelloper s’n. Ook sy bolyf is gespierd, en sy maag is plat met riffels soos dié van ’n outydse wasgoedplank.

      Karli kry hoendervleis en sy vryf oor haar arms. Sy weet nie wat met haar aangaan nie, sy kyk mos nog altyd op ’n kliniese manier na Henk se lyf, al is dit drop-dead gorgeous. Hulle was en is nog altyd bloot vriende – behalwe nou die kere dat hulle soos kat en hond baklei het, destyds toe sy by hom geloseer het.

      Karli onthou hulle kennismaking asof dit gister was. Sy was ’n derdejaar-regstudent verlede jaar toe hulle ontmoet het. By ’n kampuspartytjie, nogal. Karli frons. Tot vandag toe weet sy nie wat Henk nou eintlik in die eerste plek daar kom maak het nie. Hy was sonder ’n meisie daar en lankal nie meer ’n student nie. Hy was reeds advokaat en vennoot by sy pa se regsfirma.

      Karli se maat vir die aand, André, was ’n medestudent. Sy het heel rustig met ’n glas lemoensap in haar hand by ’n tafeltjie gestaan en geïnteresseerd na die dansende studente gekyk. Die meerderheid kan gerus ’n paar professionele dansklasse by haar en Sonja kom neem, het sy gedink toe Henk onverwags omdraai en haar elmboog stamp. Geel vloeistof het oor haar hand, arm en bloes gespat.

      “Ag, sorry!” Henk het haastig ’n hand vol servette gegryp. “Ek’s vreeslik jammer,” het hy herhaal en in haar gesig gekyk, asof hy toestemming vra om haar af te droog.

      Karli was sprakeloos. Sexy goudbruin oë onder digte swart wenkbroue het wakker in hare gekyk. Toe het hy haar arm en hand met die servette begin droogmaak. Sy hele gesig, die sterk kakebeen, mooi neus en mond – sjoe, sy’t gedink hy moet ’n model of ’n ding wees.

      Maar dit