Die rooikop van Sonnerus. Susanna M Lingua

Читать онлайн.
Название Die rooikop van Sonnerus
Автор произведения Susanna M Lingua
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624057406



Скачать книгу

sal jy nie nog spot nie! En wat my rok betref, kan jy jouself maar gerusstel, dis glad nie te deftig nie. Inteendeel, dis bedoel vir sulke informele partytjies.”

      Hy klap die deur langs haar toe, dan stap hy voor om die motor en klim self in.

      In stilte spoed hulle voort en etlike minute later hou hulle voor die Meyers se huis stil.

      Hennie klim uit die motor en stap haastig in die rigting van die voordeur. Hy gee twee harde kloppe, draai die deurknop en stap binne. Estelle moes klaarblyklik al op hom gewag het, want dit duur nie lank voordat hulle te voorskyn kom en na die motor aangestap kom nie. Elise groet haar vriendelik en weldra is hulle, laggend en geselsend, op pad na De Wilgers.

      Hoe nader hulle aan De Wilgers kom, hoe teësinniger raak Elise vir die hele gedoente. Sy weet die moontlikheid is groot dat die vent wat haar vanmôre by die rivier so diep beledig het, ook teenwoordig mag wees. En daardie gedagte stem haar glad nie gelukkig nie. Dit bederf die hele vooruitsig vir ’n aangename aand.

      As hy egter dan nou moet teenwoordig wees, kan sy niks daaraan doen nie. Hy moet net sorg dat hy uit haar pad bly en nie opdringerig raak nie, besluit sy later toe Hennie tussen die ander voertuie stilhou en die motor afskakel.

      Terwyl Hennie en Estelle liggies met mekaar skerts, stap die drie stadig in die rigting van die voordeur wat wawyd oop staan. Ook die sitkamer se vensters staan oop, en Elise merk dat daar al groepies binne rondstaan.

      Die gasheer moes blykbaar die harde geklap van hul motordeure gehoor het, want toe die drie die ruim, helder verligte stoep bereik, staan hy hulle alreeds en inwag.

      Oombliklik herken Elise sy gesig en sy lang, breedgeskouerde gestalte wat nou in ’n sportbaadjie en sajetbroek geklee is, en terstond voel sy weer hoe die wrewel teenoor hierdie man in haar begin oplaai.

      Met ’n vriendelike “Welkom, mense!” groet hy die drie, en Elise hoor byna onmiddellik daarna haar broer se stem: “Armand, ontmoet my ousus. Haar naam is Elise. Ousus, dis Armand van Rijn. Noem hom maar sommer op sy voornaam. Dis mos ons gewoonte in hierdie kontrei, ingeval jy miskien vergeet het.”

      Vinnig en skerp trek sy haar asem in, dan voel sy hoe die bloed vinnig uit haar gesig sypel. Haar hart klop snel en dis asof sy gaan flou word.

      Maar van haar ontsteltenis merk Hennie niks nie, want byna onmiddellik nadat hy haar aan hul gasheer bekendgestel het, neem hy Estelle se arm en stap na binne.

      “Aangename kennis, juffrou Veldman,” hoor sy Armand onverstoord sê, maar om sy sterk, aantreklike mond speel daar ’n openlik geamuseerde glimlaggie. Hy reik haar sy hand, maar hierdie gebaar ignoreer sy totaal.

      “Jy!” hyg sy toe sy eindelik tot verhaal kom. Dan ontmoet hul oë vir ’n breukdeel van ’n sekonde. Hare blits groen vonke van diep verontwaardiging en syne vonkel van pure pretlus.

      “Ja, ék, juffrou Elise,” laat hy geamuseerd hoor. “Jy het natuurlik nie verwag dat ek vanaand die gasheer gaan wees nie, nè?” Sy oë fynkam haar bekoorlike gestalte.

      “As ek dit geweet het, sou ek beslis nie nou hier op jou stoep gestaan het nie, meneer Van Rijn!” werp sy bitsig terug. “Dis ongelukkig dat ek die pret vir ’n paar minute kom bederf het, maar ek gaan nou dadelik. Maak asseblief vir my verskoning by my broer. Jy kan maar die ou resep gebruik – hoofpyn.”

      Met hierdie woorde draai sy vinnig om en wil net wegstap toe sy die ferm greep van ’n hand op haar arm voel, wat haar in haar vaart stuit en haar half terugdwing.

      Sy kyk op, en weer is dit in daardie onverstoorde bruin oë wat haar soos ’n onvolwasse kind laat voel.

      “Nie so haastig nie, juffroutjie,” hoor sy Armand sag sê, en nou klink sy stem geensins geamuseerd nie, maar duidelik onheilspellend. “Kom, as jy ’n bietjie buitelug wil skep, sal ek jou vergesel.” Met haar arm nog steeds in sy sterk vingers vasgeklem, lei hy haar om die hoek van die huis totdat hulle buite hoorafstand is.

      Sonder om sy greep op haar arm te versag, vervolg hy streng: “Luister, as jy dink ek gaan dit duld dat jy ander se pret verongeluk deur nou op die vlug te slaan, begaan jy ’n geweldige fout. Ek weet natuurlik jy is ’n rissie, maar ek het nie geweet jy is ook lafhartig en selfsugtig nie. Ek sê jou nou en hier – vir die ontwil van Hennie en Estelle sal jy nou saam met my na binne gaan en hier bly totdat hulle besluit om huis toe te gaan.”

      “Jy magtig jouself danig baie aan om my so aan te spreek!” voeg sy hom sarkasties toe.

      “Dis jy wat my daartoe dwing met jou lafhartigheid, om soos ’n verslane soldaat op die vlug te wil slaan! Dus, as jy enigsins my agting wil verkry, moet jy na my luister en nou saam met my na binne gaan. Jy behoort jou werklik te skaam oor jou selfsugtigheid, Elise. Jou broer aanbid jou. Vir hom is jy die volmaakte onder alle vroue, en nou wil jy sy plesier bederf deur huis toe te vlug!”

      “Ek kan nie juis sien hoe ek sy plesier daardeur sal bederf nie,” antwoord sy hom met duidelike wrewel in haar stem.

      “Nee, natuurlik sal jy nie. Jy was mos nie vanmôre teenwoordig toe ek met hom oor die foon gepraat het nie. Natuurlik sal jy nie weet hoe opgewonde hy was omdat hy vanaand met sy ousus kan kom spog nie! Maar kom, ek merk daar het al weer gaste opgedaag.”

      Hy weet dat hy nou ’n besonder teer snaar aangeroer het, want sy en Hennie is baie geheg aan mekaar. Hy wil haar ook graag self beter leer ken, dus tree hy beslis nie net vir Hennie as kampvegter op nie, maar ook vir eie gewin.

      “Goed, ek sal bly,” sê sy stuurs. “Vir Hennie se ontwil, maar geensins om jou agting te verkry nie. Wat jy van my dink, kan my bitter min skeel, meneer Van Rijn!”

      Hy verslap sy greep op haar arm en lei haar na die sitkamer waar die gaste reeds in gesellige groepies gesels.

      Met tevredenheid kyk hy na sy gaste. Dan kyk hy weer af na Elise hier langs hom en sê: “Ek neem aan jy ken al die gaste teenwoordig.”

      Sy antwoord hom met slegs ’n knik van haar kop, toe word sy met groot lawaai en geskerts van alkante gegroet, want almal is opreg bly om die bekoorlike nooientjie weer in hul midde te hê.

      “Mense, ek glo glad nie dit sal te veel gevra wees as ek voorstel dat Elise elkeen met ’n soen groet nie!” doen Herman van oom Gert Rooibult aan die hand, tot groot vermaak van almal teenwoordig.

      Met ’n geamuseerde glimlaggie om sy sterk mond, staan Armand die vrolike geskerts vanaf die sitkamerdeur en aanhoor terwyl sy oë elke beweging van Elise met heimlike bewondering volg.

      “Sies vir jou, ek gaan dit sowaar nie duld dat julle Elise aan so ’n pyniging onderwerp nie!” tree Anette as kampvegter vir haar vriendin op.

      “Ja, en wat meer is,” werp Marie ook haar stuiwer in die armbeurs, “as Piet van oom Lang-Hans Beukes van Bloukrans julle so hoor praat, slaan hy sowaar tonnels deur julle!”

      “Ai, ek sien al hoe lekker karnuffel Piet Beukes julle!” skater Bettie van die lag. “Boeties, na julle elkeen ’n soen van Elise gesteel het, sal julle nooit kan waag om siek te word nie. Ek sien al met watter behae sny hy julle oop en hoe vleg hy sy lang vingers deur julle ou deurmekaar draadwerk!”

      ’n Lagbui bars weer tussen die jongklomp los en ook Elise lag nou dat daar trane in haar oë kom.

      “Maar hoe is dit moontlik dat ek die gevaarlike Piet Beukes nog nie ontmoet het nie, of het ek al?” verneem Armand nadat almal se gelag weer bedaar het.

      “Nee, jy het ons beroemde dokter Piet Beukes nog nie ontmoet nie,” kom dit weer ewe bedaard van Neels. “Sien, hy is al byna ’n vreemdeling onder ons ou spul weens die feit dat hy sewe jaar weg was vir sy mediese studie en toe weer twee jaar in die buiteland was. Hy het maar drie maande gelede hier op ons dorpie kom praktiseer. Jy sal hom nog ontmoet. Hy is ’n besonder gawe ou … miskien effens te besadig vir ons klomp, maar jy sal in elk geval van hom hou.”

      Toe die gaste later voltallig is, word daar aan elkeen ’n drankie bedien.

      Die lede van die orkes, wat uit ’n trekklavier en twee kitare bestaan,