Название | Eendekuil |
---|---|
Автор произведения | Tryna du Toit |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798158473 |
Hy lag.
“Dié keer kan dit maar reën, ek sal sorg dat ek hier is.”
“Ek sal eers sien of ek saam met jou sal gaan,” sê sy. “Bel my weer môreoggend, dan sal ek definitief kan sê.”
Maar die gekskeerdery vlot vandag nie so goed soos gewoonlik nie, en telkemale kyk Kosie op sy horlosie. Hy bly gespanne, ontstig en haastig om weer terug op die plaas te kom. Hy wil ook daar wees as die veearts aankom. Elaine kom gou agter dat sy nie sy volle aandag het nie en effens gesteurd staan sy op.
“Dit lyk my ek verveel jou. Ek sal maar my werk gaan doen,” verwyt sy kom.
Dadelik spring hy op en gaan na haar toe.
“Vergewe my, Elaine. Maar ek het groot ergernis en skade gehad en ek voel bekommerd. Ek moet dadelik weer terug plaas toe, daarom dat ek so haastig en ongeduldig is dat oom Andries moet kom.”
Sy is nou die ene belangstelling.
“Ek is jammer om dit te hoor, Kosie. Wat het gebeur?”
Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “Hou dit vir eers dig, Elaine, maar ’n hond van oom Gideon Bruwer van Skeerpoort het by die tagtig van my beste lammerooie doodgebyt.”
“Kosie! Wat ’n skade!” roep sy uit. Hy kan sien sy wil baie graag nog meer weet, maar hy skud sy kop.
“Nee, later vertel ek jou alles. Gaan doen nou maar jou werk, ek sal hier vir oom Andries wag. En Saterdagaand gaan ons bioskoop toe, nè?”
Sy staan nog voor hom, onwillig om te gaan, dan draai sy stadig om. Sy weet sommer dit sal nie help om nou verder te lol nie.
“Goed,” willig sy in. “Kom vroeg, dan speel ons eers tennis.”
“Ek sal sien. Ek sal jou bel,” belowe hy.
Sy was skaars terug in die algemene kantoor of Andries Celliers maak sy verskyning.
Die Celliers-gesin was ook met die Desembervakansie by die see en oom Andries lyk gesond en bruingebrand. Barry trek nogal sterk op sy oom Andries, dink Kosie weer. Albei is lank en donker en hulle het dieselfde gelaatstrekke en dieselfde warm glinstering in die bruin oë.
Oom Andries is gewoonlik vol grappies, maar hy sien dat Kosie vanmôre gespanne is en vra hom dadelik om te sit.
“Wat hoor jy van Barry-hulle?” verneem hy vriendelik. “Wanneer kom hulle huis toe?”
“Dit gaan goed en hulle kuier nog baie lekker. Ongelukkig weet ek glad nie wanneer hulle huis toe kom nie.”
“Ongelukkig?”
Kosie aarsel asof hy nie weet hoe om te begin nie. Dan kom dit meteens: “Ja, oom Dries. Ek het ’n vreeslike skade gehad en ek het Barry se raad en bystand bitter nodig. Maar ek wil hom nie graag hinder solank hulle so heerlik vakansie hou nie, daarom het ek na oom Dries toe gekom.”
Dan volg die hele storie tot in die kleinste besonderhede. Noukeurig bestudeer die prokureur die ernstige gesig van die jong man voor hom. Hy praat nie onnodig tussenin nie, stel net af en toe ’n vraag tot die hele verhaal eindelik vertel is.
’n Rukkie rook oom Dries in stilte, dan sê hy stadig: “Nee, Koos, dis nie nodig om Barry te laat kom nie. Jammer jy het nie dadelik gisteraand met my in aanraking gekom nie. ’n Mens kan nooit te gou wees met sulke sakies nie.”
“Ek is jammer, oom Dries. Ek moet eerlik sê ek het nooit daaraan gedink nie. Ek was te oorbluf en ek het net een gedagte gehad: om die arme ooie so gou moontlik uit hul lyding te verlos. Ek het ook nooit vir een oomblik gedink oom Gideon sou weier om aanspreeklikheid vir die skade te aanvaar nie. Hy is ’n gawe man vir wie ek nog altyd ’n hoë agting gehad het. Dis tog nie of daar die minste twyfel is nie. Ek het sy hond daar by die skaap doodgeskiet, en ek het verwag dat hy dadelik sou aanbied om my vir die skade, of ’n groot deel daarvan, te vergoed.”
Oom Andries glimlag effens.
“Gideon Bruwer ís ’n gawe man, Kosie. Ek ken hom en hou ook van hom. Moontlik is hy maar net versigtig. As ’n mens ouer word, leer jy dat hoe minder jy sê, hoe minder kans is daar dat jy jou vaspraat of te veel sê. Moontlik is hy opreg oortuig daarvan dat sy hond nie die enigste was wat onder jou skaap gekom het nie en wil hy darem eers seker maak. Maar aan die ander kant kan ’n mens nooit daarop reken dat jou medemens, hoe gaaf hy ook al in gewone omstandighede is, altyd volgens jou verwagtings sal optree nie, veral nie waar dit sy sak so kwaai raak nie. Die beste is om maar aan die veilige kant te wees en ons voor te berei op enige moeilikheid wat daar mag kom. Het jy miskien die polisie in kennis gestel?”
Kosie se oë rek en hy sê ongelukkig: “Is dit dan nodig?”
“Nee, dis in hierdie geval nie nodig nie. Jy sê die veearts gaan vanmôre nog uit Eendekuil toe? Dan moet ons maar dadelik klaarmaak en ry. Ek wil op die plaas wees as Venter daar aankom.”
Nog voor elfuur is Kosie weer terug op Eendekuil saam met oom Dries en Ben Pienaar, sy vennoot, wat ook uit nuuskierigheid saamgekom het. En kort ná Venter, die veearts, daag die jong konstabel in wie se wyk Kosie val ook daar op. Hy het op ’n buurplaas van Kosie se skade gehoor en kom sommer kyk of Kosie hulp nodig het.
Kosie kon nie help om lag te kry nie, maar hy voel darem nie op sy gemak nie. Hy hoop oom Gideon kom nie te hore van al sy besoekers van vanmôre nie. Dit sal bepaald lyk of hy nie die minste vertroue in sy buurman se integriteit het nie en hom vir alle gebeurlikhede voorberei, wat miskien ook die geval is.
Terwyl Selina vir hulle tee maak, gaan die hele klomp na die waenhuis waar die veearts die hond noukeurig ondersoek.
“Die hond was seker dol,” sê Ben Pienaar met afsku.
“Dit lyk my nie so nie, meneer Pienaar, maar ons sal seker maak. Ek hoop in elk geval nie so nie.” Venter is ’n skraal jong kêreltjie met wakker bruin oë en knap hande. “Dis maar die ou primitiewe instink wat skielik ontwaak het. Die Dobermanns is gevaarlike honde. Besonder intelligent maar ook besonder fynbesnaard, en in gevalle waar hulle te veel ingeteel word, tref ’n mens nogal dikwels onstabiliteit en valsheid aan en dan kan jy hulle nooit vertrou nie. Eendag breek hulle skielik los …”
“… en bewaar jou buurman se skape,” vul oom Dries aan.
“Ja. Wil jy hê ek moet die maag uitsny, meneer Niemeyer?”
Kosie aarsel, dan kyk hy vraend na oom Andries.
“Sny maar uit,” sê Ben Pienaar. “’n Mens weet nooit nie …”
Versigtig begin die jong veearts sny en noukeurig hou die toeskouers al sy bewegings dop. ’n Hele rukkie is hy besig en uiteindelik lê die hond se maag, rond en hard soos ’n klip, in sy hand.
So verdiep is hulle in alles wat Venter doen dat nie een van hulle die perdepote hoor voor die ruiters feitlik voor die waenhuisdeur is nie. Verbaas kyk Kosie op, dan stap hy vinnig na buite en ’n oomblik later voel hy die warm bloed na sy kop styg.
Waarlik, die ongeluk ry hom bloots die laaste paar dae! Dis Esther Bruwer en haar broer Isak wat net langs die waenhuisdeur stilhou; die laaste persone op aarde wat hy graag vanmôre hier wil sien. Vinnig stap hy weg van die waenhuis af. As hy dit kon gedoen het sonder om agterdog te wek, sou hy die waenhuisdeur toegemaak het om Esther en Isak in onkunde te laat in verband met sy ander gaste.
Maar die waenhuisdeur staan wawyd oop en die veearts is feitlik klaar met sy ondersoek. Hulle kan nou enige oomblik te voorskyn kom. Uit die hoek van sy oog sien hy ook oom Andries se blou motor in die skaduwee van die groot moerbeiboom langs die klipmuur staan …
“Dag, Esther. Dag, Isak.” Hy weet sy groet is styf, onvriendelik byna, maar hy kan hom nie tot hartlikheid dwing nie. Hy kan nie die gevoel van hom afskud dat oom Gideon hom sy handelswyse baie kwalik gaan neem nie. En tog het hy niks gedoen wat verkeerd is nie. Hy het maar net oom Dries se raad gaan vra.
Isak het ook alreeds die vreemde motor onder die moerbeiboom gewaar en daar is ’n