Die Bolander. Tryna du Toit

Читать онлайн.
Название Die Bolander
Автор произведения Tryna du Toit
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798158459



Скачать книгу

Hulle is nou almal daar en Annie wonder watter indruk hulle op hul beurt op die nuwe skoolhoof maak. Haar oë gaan deur die kamer terwyl sy die res van die personeel gadeslaan.

      Daar is meneer Kriek, onderwyser in die natuurwetenskappe, ’n stil, hardwerkende man van sowat veertig jaar. Hy is getroud en het drie jong kinders, al drie in die laerskool. Oënskynlik ’n bedaarde, teruggetrokke mens, is hy nietemin vasbeslote en hardkoppig – soos ou meneer Fouché dikwels tot sy ergernis uitgevind het. Hulle het nooit baie goed saamgewerk nie en meneer Kriek het herhaaldelik gedreig om te bedank, maar twaalf somers het gekom en gegaan sonder dat hy sy dreigement uitgevoer het.

      Abie Greef kla gedurig die onderwysberoep sal hom in die malhuis laat beland. Meneer Fouché was nooit baie tevrede met Duits se uitslae nie en Abie moes dit dikwels hoor. Hy is dertig jaar oud, groot, blond, goedgeaard en ’n goeie sportman. Hy is vir sport ook verantwoordelik en het in die begin baie hard geveg om vir die seuns meer voorregte op sportgebied te verkry, maar tevergeefs. Ou meneer Fouché was onversetlik. As die seuns een of twee middae in die week ’n uur of wat oefen, is dit oorgenoeg. Daar is nie tyd vir wedstryde nie, liewers ’n paar ekstra lesse in Latyn of Duits. En Abie moes uiteindelik swig.

      Meneer Nieuwenhuys is ’n kort, gesette man met ’n pankop en swart ogies wat kan blits as hy die dag kwaad is. Die leerlinge, sy seun Frederik in die matriekklas inkluis, is vir hom en sy rottang amper so bang soos hulle vir meneer Fouché was. Hy het sekerlik gedink hy sal meneer Fouché se opvolger word. Hy beskou dit dan ook, heeltemal tereg meen hy, as ’n groot skandaal en ’n gruwelike belediging vir sy jare en die diens wat hy so getrou aan die skool gelewer het dat ’n ouer, bekwamer, meer ervare man soos hy oor die hoof gesien word vir ’n snuiter van agt en twintig jaar wat as skoolhoof aangestel word omdat hy ’n Springbok was. Natuurlik die invloed van Ben Pienaar, wat nog sy hele lewe gedweep het met rugby. Hy het dan ook al vir meer as een ouer voorspel dat dit nie lank sal wees voor die skoolkomitee besef wat ’n flater hulle begaan het deur hom so smadelik oor die hoof te sien nie.

      Meneer Du Pré, onderwyser in Geskiedenis en Engels, is ’n wakker, energieke man met ’n lelike, aantreklike gesig – mooi van lelik, soos die skooldogters hom so paslik beskrywe. Miskien besef hy beter as enigiemand anders op die personeel, met die moontlike uitsondering van haarself, wat ’n onaantreklike plek hul skool was. As daar ooit geluk en vrolikheid binne die somber mure van die skool was, was dit net omdat geluk en vrolikheid so ’n onafskeidbare deel van die jeug is. Die leerlinge is nie daartoe aangemoedig nie en hulle het gewoonlik met ’n sug van verligting hul skooldae vaarwel gesê. Meer as een dag is meneer Du Pré tot in die diepste van sy siel gepynig deur die onverstandige en onsimpatieke optrede van die ou hoof teenoor die kinders se onskuldige pret, en dis net die wete dat die ou man se heerssugtige bestuur vinnig einde se kant toe staan wat meneer Du Pré laat afsien het van sy voorneme om sy seun Francois na ’n ander skool toe te stuur. Wat hom betref, het die skoolkomitee ’n goeie keuse gedoen en die nuwe hoof sal in hom ’n getroue helper vind.

      En dan syself: twee en twintig jaar oud, ’n jaar lank al onderwyseres in Afrikaans aan Saailaagte se hoërskool. Meneer Fouché se metode van onderwys en sy behandeling van die kinders het haar dwars in die krop gesteek, maar sy het nie durf teëpraat nie. Sy het self by meneer Fouché skoolgegaan en hy het haar nog altyd soos ’n skooldogter behandel behalwe dat hy haar altyd baie stiptelik ge-mejuffrou het. In sy geselskap het sy gevoel soos ’n lomp skooldogter, onbelangrik, en sy het ook maar die drome en ideale waarmee elke jong onderwyser begin, opsygesit vir ’n beter en ’n gelukkiger dag. En nou die noodlottige ontmoeting met die nuwe hoof! Wat hy van haar dink, kan sy goed raai. En sy kan daar niks aan doen nie, niks meer as om ’n geskikte oomblik af te wag om hom om verskoning te vra nie.

      Die skool heropen dié môre soos gewoonlik.

      Die skoolterrein is ’n blok erwe aan die dorpsgrens waarop die laer- en die hoërskoolgeboue geleë is. Die skoolgeboue, wat sowat honderd tree van mekaar af staan, is modern en goed toegerus. Die hoërskoolgebou is sowat drie jaar tevore ingewy en die ruim perseel is omring met jong boompies wat al lekker skaduwee maak. Die speelterrein is ruim, maar stowwerig. Dit is die gebruik op Saailaagte dat albei skole se leerlinge en personeel aan die begin van ’n kwartaal by die hoërskool vergader. In die saal staan die skoliere in ordelike rye toe die komiteelede en die personeel hul plekke op die verhoog inneem.

      Dominee Marais begin deur Psalm 23 te lees: “Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie.”

      Sy stem is sterk en gevoelvol en dis vir Johan asof die dominee, bewus van sy huiwerende gees, net vir hom lees. In die gebed wat daarop volg, vra die dominee ook om krag en leiding vir die jong man op wie daar so ’n groot verantwoordelikheid rus, en Johan, diep onder die indruk van die opregte en ernstige woorde, sê met ’n ongekende kinderlikheid “Amen” in sy hart.

      En toe kom Ben Pienaar aan die woord. Luimig omskep hy gou die atmosfeer en die erns van ’n paar oomblikke gelede vervaag. Hy is ’n goeie spreker en die skoliere luister aandagtig. Hy gesels lekker oor die vakansie wat verby is, hieroor en daaroor, en net teen die einde van sy toespraak word hy ’n bietjie ernstig: “Seuns en dogters, ek wonder of julle besef wat ’n belangrike mylpaal julle skool vandag bereik het. ’n Nuwe prinsipaal is altyd ’n groot gebeurtenis in die geskiedenis van ’n skool, maar ek voorspel vandag dat meneer De Kock se koms na Saailaagte die grootste gebeurtenis in die hele geskiedenis van ons skool sal wees.” Hy glimlag. “Weet julle wat meneer De Kock julle kom leer?”

      ’n See jong gesigte, maar niemand sê ’n woord nie.

      “Toe, kom, kan julle nie raai nie?”

      ’n Handjie gaan op – een van die laerskoolkindertjies. Die ouer kinders is te goed geleerd om aan sulke kinderspeletjies deel te neem.

      “Ja?”

      “Om somme te doen,” raai die seuntjie.

      Ben Pienaar glimlag. “Ja. Om somme te doen. En wat nog? Nou toe, miskien kan Susie de Wet ons sê?”

      “Om soet te wees,” sê Susie met ’n piepstemmetjie en ’n vroom gesiggie, en die groter kinders glimlag so effens uit die hoogte.

      ’n Derde handjie waai hewig, wat Johan laat glimlag. Dit is klein Attie Botha. Meneer Fouché het nie die geleentheid gehad om sy stempel op Attie se persoonlikheid af te druk nie.

      “Om rugby te speel,” sê Attie met ’n ondeunde laggie, en hy kyk Johan met agting en verering aan.

      Ben Pienaar lag en die res van die skool lag saam, nog steeds so uit die hoogte uit, maar Johan sou ’n uitbundige geskater verkies het.

      “Attie is reg. Meneer De Kock het julle kom leer hoe om rugby te speel. En hy behoort dit baie goed te kan doen, hy was dan ’n Springbok.”

      Uiteindelik bars ’n luide, aanhoudende applous los en te midde daarvan gaan meneer Pienaar met ’n bemoedigende knikkie vir Johan sit.

      Toe word dit stil. Iedere oog in die saal is op Johan gerig. Stadig staan hy op en stap ’n paar tree vorentoe. Voor hom som die jong gesigte hom genadeloos op. Hy weet die helder, kritiese oë van die jeug mis nie veel nie. Vir ’n oomblik kan hy nie praat nie, nie omdat hy verleë of verbouereerd is nie, maar omdat die taak wat vir hom voorlê, so oorweldigend lyk. Hy kyk oor die kleiner kinders se koppe na die ongeveer tweehonderd seuns en dogters agter in die saal. Hy is hul skoolhoof, ja, en as sodanig sal hulle hom die nodige respek en eerbied betoon. Sal dit baie moeilik gaan om hulle te laat verstaan hy wil graag hul vriend ook wees?

      Hy spreek sy waardering uit vir die vertroue wat die skoolkomitee in hom gestel het en daarna praat hy met die kinders. Hy vertrou, sê hy, dat hulle almal baie gelukkig saam sal wees. Nie net gaan hulle leer somme maak en soet wees nie, voeg hy glimlaggend by, maar soos meneer Pienaar sê, ook om rugby en ander speletjies te speel. Want opvoeding, en die hele lewe, bestaan uit al dié dinge. En ’n gesonde, gebalanseerde persoon het ’n beter kans om ’n gelukkige lewe te lei as iemand wie se lewe uit verband geruk is omdat te veel nadruk op een rigting gelê en die ander verontagsaam is. En hy raak die kinders. Voor hy halfpad is, luister hulle aandagtig na hom, en toe hulle die saal verlaat, is die gort gaar. Almal praat tegelyk. So ’n rumoer was daar