Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Omnibus 9
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798157780



Скачать книгу

sy grou oë met kalme belangstelling oor Peet en Elsje gaan. Toe vertel hy rustig wat met Maryn en die hond gebeur het, en oom Frederik stel hom aan die ander voor. Almal lag vir Pote wat, nie toegelaat in die huis nie, nou lang sugte lê en sug by die venster wat op die stoep uitkyk. Dit val Maryn dadelik op dat Marcel Hoffman veel genaakbaarder skyn te wees in ’n groep as wanneer hy alleen is met iemand. Die beskutting wat getalle darem bied! dink sy suur, en glip weg om die koffie te gaan maak. Toe sy terugkeer met ’n skinkbord geurige gemaalde koffie in lang, regop bekers en Selina se karringmelkbeskuit, het Eugene hom ook by die ander gevoeg en sit in entoesiastiese gesprek met Marcel. Dis duidelik dat hy sy pa se geesdrif vir ’n Simmentaler-stoetery gou-gou aangesteek het. Hy het geen moeite om lekker met die vreemdeling te kommunikeer nie. Maklike mens wat hy self ook is, praat hy met Marcel of hulle al sakke sout saam opgeëet het.

      En, dink Maryn met verwondering toe hy opstaan om die skinkbord by haar te kom vat, dit sal nie eens by haar liewe ou broer opkom dat ’n wewenaar soos Marcel – baie aantreklik en met ’n byna droewe misterie wat aan hom kleef – dalk meer as een faset kan hê nie. Eugene vra geen vrae nie. Die lewe is vir hom basies eenvoudig. Hy is Eugene Basson, seun van skatryk Frederik Basson, en skatryk is vir hom bloot ’n kwalifikasie soos mooi of lelik of blas of blond, en basta! Dis net daar waar hy en Peet so baie verskil. Peet is soos sy – hy wil wéét wat onder die vel lê. Kyk nou hoe sit hy die man en beskou van agter sy dik brilglase, en sy kan sweer hy dink lang gedagtes wat ver draaie maak. En Elsje, sy roer vanoggend haar suikerlose koffie asof haar lewe daarvan afhang, en haar oë is op ’n punt op die mat voor Peet se voete.

      “Ek het eintlik net kom hoor of oom weet na watter motorhawe ek my bakkie kan neem,” hoor sy Marcel sê.

      “Hoekom? Is daar dan fout?” vra oom Frederik.

      “Daar moet wees … Ek weet nie juis veel van motors af nie, maar die bakkie gor-gor iewers waar hy nie moet nie. Ek sal maar laat kyk daarna …”

      “Ek sal hom vir jou regmaak,” bied Peet op sy kalm manier aan, en Marcel kyk enigsins verbaas na die skraal man met die effe ruie swart hare en dikraambril.

      “Hy sal, ja,” beaam Maryn skielik ná haar taamlik lang swye, “hy’s lief om met motors te torring en hy kry meesal iets reg met hulle.”

      “Ja-nee, Peet sal jou kan help,” glimlag oom Frederik. “Maar as julle nou nie regkom nie, moet jy net praat, man … Dan kan jy sommer my bakkie leen as jy iewers moet ry.”

      “Nee dankie, oom,” sê Marcel en staan op. “Dit doen ek nie. Dis baie gaaf van oom, maar ek moet eenvoudig my eie ryding hê. Nou ja, verskoon my dan, asseblief.”

      “Ek gaan saam,” konstateer Peet, en Marcel beduie met ’n handgebaar dat hy welkom is.

      “Ek ook,” voeg Eugene by, en sit sy beker terug op die skinkbord.

      Toe groet die drie mans en stap druk in gesprek die huis uit op pad na die Ou Huis, met Pote op ’n lui draffie agterna.

      “En toe?” vra oom Frederik toe hulle weg is. “Wat dink julle van Marcel Hoffman?”

      “Moeilik om te sê,” antwoord Maryn, versluk haar aan haar koffie en begin sommer koppies bymekaar maak. “In elk geval nie ’n man wat dit vir ’n mens maklik maak om ’n opinie te vorm oor hom nie …”

      “Iemand wat ’n deel van homself weggesluit het,” sê Elsje wyslik, en hou die skinkbord vir Maryn om die leë koppies op te pak. En om die dood kan Maryn niks vind om daarop te sê nie. Dis kompleet asof Elsje die sleutel in die slot gedraai het van ’n deur wat reeds toe was.

      3

      Die vakansie op Damplaas begin in ’n roes van somerdae waarin die koring vergeel en die oestyd nader kom. Dis dae waarin die twee meisies eintlik die enigstes is wat werklik vakansie hou, want soggens, nadat hulle klaar ’n bietjie in die huis gehelp en die spyskaart saam met ou Selina beplan het, gaan lê hulle langs die swembad wat oom Frederik ’n paar jaar gelede aan die agterkant van die huis tussen ’n klomp geil kerspopuliere laat bou het. Die lang, regop bome se welige blink blare gooi in die somer genoeg skadu rondom die bad dat hulle nie te lelik verbrand in die warm son nie, en die grootste deel van die dag lê hulle en lees of gesels of luister na die programme oor Maryn se klein draradio. Binne ’n week is hulle uitgerus en baljaar al hoe meer in die warm gebakte blou water, totdat hulle sonbruin en fiks is. Eugene en Peet spot hulle fyntjies hieroor, want hulle speeltyd is maar min dié tyd van die jaar. Slegs saans, so teen skemer, kom hulle – en soms Marcel ook – om saam te swem of sommer net ’n slag in die water te val en dan op die kant te gaan lê en die saligheid oor hulle te laat kom.

      Bedags werk die mans egter baie hard. Eugene en Peet is, soos altyd voor strooptyd, druk besig om die vyf groot stropers se masjinerie na te sien. Want wanneer strooptyd aanbreek, gaan dit soos ’n getygolf oor die plase, en ’n stroper wat gaan staan omdat ’n ketting breek, is ’n seer saak en ’n dooie verlies. Dus verdwyn hulle soggens in die groot skure en kom slegs vir middagete en teen swemtyd te voorskyn. Omdat oom Frederik ’n boer is wat hoofsaaklik in die verbouing van koring en ’n paar ander wintergrane spesialiseer, is hy besonder gesteld op sy menigte peperduur plaasgereedskap, en hy het ’n paar groot sinkskure gebou om dit te huisves. Teenaan dié skure is nog ’n kolossale sinkskuur gebou en ook twee droogoonde, wat gedurende die volgende weke – met uitsondering van die Sabbat – voortdurend sal dreun.

      Dis hier waar Peet en Eugene daagliks die sweet van hul aanskyn sien, want daar is baie werk. Veral Peet – die perfeksionis – werk dat dit klap.

      Soms kom Marcel Hoffman ’n wyle belangstellend toekyk, want sedert Peet sy bakkie bewerk het, loop dit soos ’n bom en het daar ’n soort swygende goedkeuring tussen die twee mans ontstaan. Dis ’n vreemde, bot verhouding, want hoewel hulle soms blikke wissel wat boekdele spreek, is hul woorde min. Wat albei egter weet, is dat hulle sprekend eenders voel oor oom Frederik se grootse filantropie; albei is lief vir die ou man, waardeer sy belangstelling, maar vind die bewyse van sy liefde vir ander mense verswelgend. Hulle kom egter nie sover om tot praat te kom nie. Hulle is eenvoudig te besig.

      Marcel self is druk aan die gang met die oprig van behoorlike en baie moderne stalle en die afkamp van ’n paar weidingskampe. Ook reis hy dikwels, want hy besoek oral in die Oos-Vrystaat vooraanstaande geregistreerde stoetboere wat al op skoue naam gemaak het met hul Simmentalers. Hy is soms dae lank weg, want hy ry na Vrede, na Petrus Steyn om ’n week lank by Vorentoe se mense te gaan kyk hoe die dinge gedoen word, na Reitz, Harrismith en Bethlehem – alles op aandrang van oom Frederik. Tog geniet hy dit skynbaar, want hy kom telkens vol nuwe planne terug, wat hy begeesterd met die baas van die plaas bespreek. Dis asof die koms van Marcel Hoffman en sy enorme hond ’n hele nuwe bedeling op plaas en werf ingelui het.

      Die bloudruk van vakansies op Damplaas was met die eerste verskyning van hierdie somber man aan flarde. Niks verloop sedertdien soos altyd nie. Weg is die kalme rustigheid in die onderlinge verhoudings, want diep onder in die gemoedswaters is daar roeringe soos fonteine wat deur die bodem wil breek. Dit is nie iets wat sommer gepeil kan word nie; dis slegs vae rimpelings wat soos ’n vlietende emosie kom en gaan. Dit is Peet wat hierdie gedagte heel eerste vasvang, en wel uit ’n baie prosaïese gesprek met Eugene terwyl hulle sukkel om die slukketting van ’n stroper die regte spanning te gee.

      “Dié Hoffman-kêrel lyk baie entoesiasties oor al Pa se skemas met die beeste. Ek hou nogal van hom,” sê Eugene toe hy ’n slag sy pêrelende voorkop afvee.

      Peet kyk skaars op.

      “Hm, ek ook. Eersteklas man … Jy weet, ons moet die stroper se tromspoed ook nog regkry. Dit was laas veels te vinnig en het die koring fyn gemaal. Jy sal onthou hoe ’t jou pa gebrom daaroor!”

      “Ja, gits,” beaam Eugene, “daar’s nog baie te doen. Ons moet die perde en leunwaens ook nagaan. Pa het dit nogal spesifiek gevra vanoggend.”

      “Ek het self ook so gedink,” antwoord Peet besadig. Hy dink vlugtig geamuseerd daaraan hoe doodverbaas Marcel was om te ontdek hulle praat in die Vrystaat van ’n perd en sy leunwa, en dat hulle daarmee bedoel