Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 33
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624054726



Скачать книгу

      “Ek het dit so gedoen, meneer Hammond. Nie een enkele keer het ek u naam gebruik nie. Maar mense kon afleidings maak. U en die man na wie ons soek, het dieselfde van. Iemand kon maklik wonder of daar nie ’n verband is nie, en die oproep het dit nou bevestig. Die persoon weet nou dié Sean Hammond na wie gesoek word, is die koning van Babel se seun. U moet baie versigtig wees, meneer. Die kans is goed dat dié man nie die vaagste benul het waar Sean hom bevind nie. Hy kan voorgee hy weet. Hy kan inligting verkoop wat dalk niks werd is nie. Dis ’n maklike manier om geld te maak – en hy weet u sal enigiets betaal om u seun op te spoor.”

      “Dink jy ek is so onnosel dat ek nie reeds self aan so ’n moontlikheid gedink het nie? Maar dis ’n kans wat ek moet waag. Tog … ek het net die gevoel daardie man sal ons wel kan help.”

      “Dan moet u net versigtig wees. Hy kan aan die begin die regte inligting terughou totdat hy voel hy het genoeg uit u gekry en dan eers die waarheid praat. Ek ken daardie soort mens. Hulle kry nooit genoeg nie. Daar is nog ’n ander moontlikheid …”

      “Ja?”

      Dick aarsel. Dit kan hom Midas Hammond se gramskap op die hals haal, maar hy besluit om op die man af te praat.

      “Ons weet nie hoe ’n soort mens Sean is nie. Dit kan u meer kwaad as goed doen om hom op te spoor en groot skade beteken as die wêreld moet weet hy is u seun.”

      Midas frons. “Wat bedoel jy? Wil jy te kenne gee my kind is die een of ander misbaksel?”

      “Ek sê niks, meneer Hammond. Ek wil net u oë oopmaak. Ons sal baie versigtig te werk moet gaan met enige inligting wat ons kry. Ek het netnou gesê dit kan een van ’n paar honderd mense wees wat geskakel het. Maar tog het ek ’n vermoede uit watter rigting daardie oproep kan wees.”

      “Ja?”

      “Eerstens sal iemand met planne om u af te pers, nie lank gewag het om met u in verbinding te tree nadat hy gehoor het daar word na Sean gesoek nie. Dit moet dus iemand wees wat baie onlangs daarvan gehoor het. Ek het gisternag, net voordat ek u gebel het, teruggekom uit die swakker deel van die stad. Ek het my vasgeloop teen ’n bende wat The Bats genoem word. Hulle het my voorgekeer en gevra of ek iets daar verloor het. Hulle hou nie van vreemde mense wat skynbaar doelloos ronddwaal nie. Ek kon niks anders sê as dat ek na Sean Hammond soek nie. Hulle het óf regtig nie die naam geken nie, óf voorgegee hulle ken dit nie. Ek is aangesê om te verkas, om Sean op ’n ander plek te gaan soek. Ek is terug hotel toe en het met u in verbinding getree. Dis net vir my vreemd dat u ’n uur of twee later ’n oproep ontvang het. Maar as dit een van die Vlermuise was wat u gebel het, wil ek net sê u het met ’n klomp kriminele te doen wat vir niks stuit nie. En as hulle weet waar Sean is, moet daar die een of ander skakel wees, en as u seun enigiets met daardie spul te doen het …”

      Dis ’n oomblik stil. Dan kyk Midas Hammond op. “Wat ook al die geval is, Sean moet gekry word. Jy bly voorlopig in Babel. Ons sal verder planne beraam wanneer daardie man weer gebel het.”

      Maar die onbekende man bel nie weer nie. Die dag gaan verby. Die aandskaduwees kruip nader, word verdring deur Babel se kunsmatige ligte. Die laserflitse speel, die gordyne trek oop, die dobbelwiele draai, telefone lui …

      Toby voel bekommerd. ’n Mens vereenselwig nie moegheid met die dinamiese Midas nie. Maar teen die vroeë oggendure lyk Midas moeg. En gespanne, besef sy bestuurder. Die bekommernis eis sy tol. Dis nie goed vir hom nie. Hy het blykbaar heeltemal herstel ná daardie eerste hartaanval, maar as hy so voortgaan, is ’n tweede sy voorland.

      “Gaan rus, Midas, ek sal jou wakker maak sodra …”

      “Dis soos hulle maak, meneer Hammond,” laat Dick hoor. “Hy is besig om jou sag te maak. Hy sal waarskynlik nog ’n dag of twee wag voordat hy weer van hom laat hoor. Teen daardie tyd, hoop hy, sal jy enigiets sluk wat hy jou vertel en enige bedrag betaal. Die enigste manier om met daardie soort te werk, is om sy eie metodes te gebruik.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Weier om met hom te praat wanneer hy bel.”

      “Jy is mal!”

      Toby frons: “Hoekom sê jy so, Dick?”

      “As hy net ’n fortuinsoeker is wat nie regtig inligting in verband met Sean het nie, sal dit hom ’n bietjie ontmoedig. Maar as hy Sean ken of weet waar hy is, seker is sy kennis kan hom geld in die sak bring, sal hy weer bel. Hy sal dan ook besef dat hy nie te ver moet gaan nie. Midas Hammond is dalk nie só gretig om sy inligting te koop nie – nie teen elke prys nie. Dán kan ’n mens praat.”

      Midas staan ’n rukkie en dink, vra dan amper teësinnig: “Wat stel jy voor? Watter prosedure moet gevolg word?”

      “Toby antwoord as hy weer bel. As hy op ’n onmoontlike tyd bel, rus meneer Hammond en word onder geen omstandighede gesteur nie. As hy weer bel, is meneer Hammond net nie in Babel nie, is hy selfs ’n dag of twee oorsee. Hou hóm nou aan ’n lyntjie vir ’n dag of drie totdat hy ’n bietjie sag word en besef hy kan ’n paar duisend note deur sy vingers laat glip as hy met sy senuoorlog voortgaan. Daarna sal hy bereid wees om te onderhandel.”

      “En as hy dalk tou opgooi en ophou bel?”

      “Dan, meneer Hammond, kan jy amper honderd persent seker wees hy weet niks van jou kind wat jou tot nut kan wees nie. ’n Man wat seker van sy feite is, gooi nie so maklik tou op nie. Veral nie as hy ’n paar rand daarmee kan verdien nie.”

      Toby draai na Midas. “Dick het gelyk. Hierdie vuilgoed moenie agterkom dat dit so belangrik vir jou is om Sean op te spoor nie. Nie só belangrik dat jy met jou sal laat speel en enige bedrag sal betaal nie. Doen wat Dick voorstel, Midas. Dis in jou eie belang en dalk in Sean s’n ook. ’n Ander gedagte tref my nou. Dis ’n moontlikheid waaraan ons nog nie gedink het nie. Hy en sy makkers probeer dalk om Sean te ontvoer en eis dan ’n losprys om só hul slag te slaan.”

      Midas se mond vertrek. “Geluk met die briljante stukkie breinwerk, maar vir jou inligting – ek is dag en nag van daardie moontlikheid bewus, al van daardie eerste dag dat ek ’n speurder Durban toe gestuur het. Daar is baie moontlikhede, maar hoe sal ons weet watter een dit is as ek nie met die man mag praat nie?” Dan sug hy. “Goed. Dick het iets beet. Ek gaan slaap. Ek voel ’n bietjie moeg,” erken hy.

      Hulle kyk hom agterna, en Toby laat hoor: “Daar loop die eensaamste mens op aarde. Ek het nooit gedink ek sal Midas Hammond ooit jammer kry nie … maar dis hoe ek nou teenoor hom voel.”

      Dick kyk hom aan. “Ja, ek weet wat jy bedoel. Dit klink wonderlik om die koning van Babel te wees, totdat jy met hom kan plekke ruil … dan besluit jy daarteen. Wat maak die man juis nóú so behep met sy kinders?”

      “Hy het nou eers ontdek hy is ook ’n sterflike mens … en dat daar niemand is wat Babel by hom kan oorneem nie.”

      Dick frons. “Maar daar is jý, sy opgeleide personeel, talle ander …”

      Toby glimlag effens. “Nie een van ons is ’n Midas nie, Dick. Nie een van ons kan een word nie. Daar is net een Midas Hammond … en dis hy wat Babel aanmekaarhou en sy voortbestaan verseker. Daarom wil hy iemand kry wat van sy bloed is – sy seun.”

      Die speurder skud sy kop. “Ek hoop ter wille van hom ek is verkeerd, maar ek het ’n nare gevoel daar wag ’n ontnugtering op hom. Daardie mannetjie is nou al vyf-en-twintig en as hy enigsins iets van sy pa geërf het, sou hy nou al sy spoor getrap het. En ek vermoed dis een wat eerder na ’n tronksel as na die troon van Babel sal lei.”

      “Wel, aan die feite kan ons niks verander nie. Ons moet Sean net opspoor, maar ek is bang, Dick. Midas het al sy hoop op sy kinders geplaas. Minstens een van hulle sal sy koninkryk moet oorneem. En as dit nie gebeur nie … Die woord nee ken hy nie. En dis ’n nee wat hy glad nie sal kan aanvaar en verwerk nie. Dit sal die einde wees: nie net van Midas Hammond nie, maar ook van Babel.”

      Die koning van Babel is vas aan die slaap toe die verwagte oproep eindelik kom. Toby antwoord terwyl Dick by ’n ander telefoon inluister. Eersgenoemde staan sy man, klink baie