Название | Vlinder teen die ruit |
---|---|
Автор произведения | Ettie Bierman |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624052173 |
“Nee, toe maar, ek sal net ’n slaai bring.”
Daar is gedurig misverstande tussen hulle en Douw wil dubbel seker maak. “Slaai? Is dit ’n ja, wat beteken jy sal kom?”
Sy haal haar skouers op. “As jy wil …”
Waar hy net buite die kombuisdeur met ’n seemsleerlap en ’n blik politoer met die renoster besig is, slaak Hendro ’n sug. Net toe hy begin dink het hulle gaan weer vasval in die modder … Hy wou al sy hulp gaan aanbied. Hy weet nie wat die probleem tussen die twee was nie, maar dis blykbaar opgelos. Suri sal saamgaan, en hopelik hoef hy nie bokshandskoene saam te neem nie. Douw is ’n goeie gasheer, en dit sal goed wees om ’n slag uit te kom, die huurhuis raak neerdrukkend. Hy kan insien dat Florence of Milaan in hierdie stadium onprakties is, maar hy voel al hoe meer om teen die mure uit te klim.
Toe Hendro terugkom nadat hy Douw weggesien het, sit Suri by die kombuistafel, besig om Maja te voer. Sy los die lepel en ’n laaste paar happe onderin die botteltjie. “Ek het vir jou souttert ingeskep. Sal dit genoeg wees?”
“Oorgenoeg.” Hy sit ’n pak geldnote voor haar neer. “Vir petrol, Maja se uitgawes en ’n nuwe rok, om dankie te sê dat jy my die afgelope tien dae gekeer het om van ’n krans af te spring.”
Suri raak nie aan die geld nie. Irene was onvoorspelbaar, en dit tref haar dat sy Hendro eintlik ook swak ken. Lief en gaaf, maar op sy eie bladsy … Hoeveel duiwels draai daar dalk rond agter daardie wye, gul glimlag?
“Was jy by die Wildekus-casino?” konfronteer sy hom. “Het jy gaan dobbel?”
“Dobbel?” Hy gee ’n snorklag. “Ek het baie verslawings: adrenalien, bongo-tromme en kitare, sigarette en hoofpynpoeiers … Maar dobbel is nie een van hulle nie.”
“Waar het jy dan dié klomp geld gekry?”
Hy trek ’n stoel langs haar uit en neem Suri se hand in syne. “Van ’n renoster wat ek verkoop het, skattebol, en van ’n voorskot op my salaris wat my baas gereël het.”
“Alles in kontant?”
“Irene en ek was in gemeenskap van goedere getroud en my bankrekening is gevries totdat die boedel afgehandel is. Dis hoekom ek daardie bankstate en kwitansies moet uitsoek.”
Dit maak sin. Suri staar na die geld en dan na Hendro. Hy jok nie. Die oop, eerlike gesig waarmee sy haar pa en tant Raal gerusgestel het, verberg nie allerhande duistere swakhede nie. Sy maak sy hand oop en dop dit om, vryf oor die sterk vingers en eelte wat deur hamers en beitels gelaat is, en druk ’n soen in sy palm. “Skies, broer, ek belowe ek sal nie weer nie.”
“Wát nie weer nie?”
“Jou van dobbel en duiwels en dekadensie verdink nie.”
Hy dink na. “Oukei, siende dat jy so eerlik is … Ek belowe ook.”
Dis haar beurt om agterdogtig te wees. “Belowe wát?”
“Om nie weer te dink jy is hardekwas, opstroppelis en obsternaat nie.”
Sy woordkeuse betrap haar onkant en sy byt op haar onderlip. “Is ek? Ek dink nie altyd voor ek praat nie. Vergewe my as ek nie verstaan wat jy deurmaak nie en jou in ’n blik wil druk.”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Jy verstaan my beter as enigiemand anders, en jy druk my in g’n blik nie. Ek het nie van jou en my gepraat toe ek gesê het jy is hardekwas nie. Ek het na Douw verwys, na die harde bene wat jy die arme man laat kou. Hy verdien dit nie, sus-ding. Hy’s baie ordentlik en probeer goed doen. Ek is bly jy het ingestem om saam te gaan kuier. Hy maak lekker kos.”
Suri weet hy is reg, maar sy bly stekelrig. Carl was ook “ordentlik”. So ordentlik dat selfs haar pa gedink het hy is ’n “goeie seun”. Sy is nie ’n vis wat twee keer dieselfde hoek sluk nie. Miskien was sy bevooroordeeld teenoor Douw, maar ’n man bly ’n man. Die feit dat sy ingewillig het om na sy renoster te gaan kyk, beteken nie sy vertrou hom nie. Hulle eerste ontmoeting was ’n ramp en hul tweede nie veel beter nie.
“Ek dag dan jy het die beeld vir Douw gegee?”
“Ek het, maar hy het aangedring om daarvoor te betaal en wou selfs nie eens tien persent afslag aanvaar nie. Hy het my verlofvorms gebring plus ’n voorskot. Ek was nogal platsak, maar nou is daar weer geld vir baked beans op toast. Gaan koop vir jou die rooiste rooi rok in die dorp en trek hom volgende Saterdagaand aan.”
Die soort ding wat Irene sou kwytgeraak het … Dis hoekom sy nie somber rouklere begrafnis toe gedra het nie. Soos Nessa gesê het: haar ousus het nie van suurknolle gehou nie. Klokhelder, het Douw haar lag beskryf. Snaaks, nou ná haar dood voel sy op ’n vreemde manier nader aan Irene as toe sy geleef het. Hulle het min gekuier, en Irene was nie ’n telefoonmens nie. Stempos en sms’e het onbeantwoord gebly. Dit was altyd maar Hendro wat die bande probeer behou het. Hendro wat kom koffie drink het, sommer net om te hoor of sy oukei is.
Hy trek die bord nader en proe aan die souttert. “Vra die resep!”
“Ek is bly jou eetlus is terug. En Maja s’n ook … Ek het haar klaar gevoer, maar ek dink sy is nog honger.” Suri tel die botteltjie op en gee die geelbruin mengsel ’n roer. Dan sit sy die lepel neer en spring op. “Ek het vergeet jy is seker dors … Gee jy om om haar gou ’n laaste mondvol of drie te voer, terwyl ek koffie maak?”
Hendro wil protesteer en aanbied dat hý liewer die koffie maak. Maar Suri is klaar besig om bekers reg te sit en water te tap. Hy het nie gedink babas snap wat om hulle aangaan nie, maar vind uit hy het syne onderskat. Maja weet uit daardie botteltjie het netnou lekker goed in haar mond gekom en sy wil nog daarvan hê. Haar handjies klap op die blad van die eetstoeltjie en sy skree blou moord.
“Hendro!” roep Suri uit. “Ek is besig … Jy is nie lam nie. Jy het twee hande en tien vingers. Gee jou kind kos!”
Hendro skrik. Dis die eerste keer dat Suri so kras met hom praat. Hy gryp die botteltjie, gryp die lepel en skep. Mik na die mond, laai in en wag … Skraap kos wat gemors het van die ken af, laai in en wag … Gelukkig is die botteltjie nie vol nie.
Suri onderdruk ’n proeslag. Sy gee vir Hendro ’n jammerlappie aan om Maja se borslap mee af te vee, maar hou haar verder besig met die koffie en help nie. Nie eens toe Maja knieserig raak nie. Maar sy hou die onwillige pa dop en is verlig om te sien dat hy die fopspeen soek en benut.
Sy grinnik breed toe sy ’n beker koffie voor Hendro neersit. “Veels geluk! Was dit nou so onmoontlik, Pa?”
Hy wil eers verwyt, maar ’n verleë laggie wen. “Het jy dit so beplan?”
“Natuurlik,” erken sy. “Jy het die watte in jou kop uitgepluis, nou het dit tyd geword om die watte waarin jy toegedraai was ook af te haal. Jy was voorheen handig met haar, hoekom is jy nou skielik bang sy breek as jy aan haar raak?”
Hendro se groot hand is teer toe dit om Maja se kop skulp en die blonde krulhare streel. Sy oë vertroebel en rou pyn slaan deur in sy stem toe hy sê: “Omdat ’n prentjie in my geheue gegraveer is van hoe Irene daar op die graswal gelê het – soos ’n gebreekte pop. En omdat ek bang was ek doen dieselfde aan ons kind, die stukkie van Irene wat agtergebly het …”
Suri voel verskeur. Sy kry hom bitter jammer … Haar eerste impuls is om hom te troos, soos sy al soveel keer met hom en haar pa gedoen het. Hy lyk gedaan en hy het chronies hoofpyn. Hy is soos ’n sieke wat van nuuts af moet leer loop, en as sy die krukke te gou wegneem, gaan hy val. Maar as sy die krukke te lank los, gaan hy verleer om self te loop. Haar eksperiment om hom uit sy groef te ruk, sy kind te laat raaksien en haar behoeftes bo sy eie te stel, was miskien drasties, maar dit het geslaag. Moet sy daarmee voortgaan, of hom los om teen sy eie tempo te herstel?
Dis Hendro self wat die besluit vir haar neem. Die fopspeen het geval en Maja huil, maar hy tel dit nie op nie, ook nie haar teddiebeertjie nie.