Название | Susanna M Lingua-keur 10 |
---|---|
Автор произведения | Susanna M. Lingua |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624052128 |
Toe Natasha se snikke later bedaar, lig sy haar kop en droog haar trane af. Die hartseer lê vlak in haar mooi, sagte oë toe sy met ’n effense hees stem sê: “Jy sal nooit weet wat dit vir my beteken om jou vir ’n vriendin te hê nie, mevrou Hugo. Dankie vir jou liefde en vriendskap. Dit is bemoedigend om te weet dat hier darem iemand in die huis is na wie ek kan gaan wanneer die probleme van die lewe vir my te veel word. Gee my gerus raad as jy voel ek het dit nodig. Ek het geen ondervinding van hierdie soort dinge nie; ek weet glad nie wat om te doen nie.”
Natasha staan van die vloer af op en gaan weer op die stoel voor die kaggel sit. Sy hou haar koue hande na die vuur toe uit. “Vertel my, wat moet ek doen, mevrou? Moet ek my man sy vryheid gee, of moet ek hom liewer teen daardie listige vrou beskerm? Sy kan tog nie met hom trou terwyl hy nog met my getroud is nie.”
“Dis waar,” stem die ouer vrou saam, “maar vir haar soort beteken die huwelik minder as niks. Sy sal in sonde saam met hom lewe sonder om ’n enkele slapelose nag daaroor te hê. Dit hang dus uitsluitlik van meneer De Meyer af of jul huwelik hom teen haar sal kan beskerm. Maar ek sal jou nogtans aanraai om nie haastig te wees met ’n egskeiding nie. Dit is net moontlik dat meneer De Meyer se oë vroegtydig oopgaan.”
Daardie aand, terwyl Natasha alleen in die groot dubbelbed lê, dwaal haar gedagtes knaend na Dewalt wat die naglewe iewers in Durban saam met sy geliefde Esna geniet. Sy wonder of hulle in Durban gaan oornag of nie. Haar gedagtes dwaal terug na haar en mevrou Hugo se gesprek vroeër die aand. Nou wonder sy of Dewalt werklik so roekeloos sy beginsels oorboord sal gooi om in sonde saam met Esna te lewe. Sy kan nie glo dat hy graag in so ’n skandaal betrokke sal wil raak nie.
Natasha lê tot laat daardie nag en dink aan hul huwelik en hul toekoms. Sy het Dewalt met haar hele wese lief en sy sal graag wil sien dat hy gelukkig is. Maar Esna, weet sy, is nie die soort meisie wat hom gelukkig sal kan maak nie. Sy sal moontlik met hom trou en spandabel lewe totdat sy bankrekening uitgeput is. Daarna sal sy hom weer net so in die steek laat, soos verlede keer, en vir haar ’n ryker man gaan soek.
Na ure se getob besluit sy eindelik dat sy nie van Dewalt gaan skei nie. Sy dink aan die vier gelukkige weke wat hulle in Sonskynbaai deurgebring het en aan al haar mooi drome wat sy vir die toekoms gekoester het. Dan begin sy opnuut huil oor die groot ramp wat hulle vandag getref het.
Dit is byna eenuur toe Natasha eindelik aan die slaap raak. Nog steeds is Dewalt nie tuis nie. Sy het die een nagmerrie na die ander.
Die volgende oggend merk sy dat Dewalt se plek langs haar nog steeds leeg is. Dit laat haar opnuut hartseer voel.
Later bring die huishulp vir haar ’n koppie koffie en sy drink dit afgetrokke terwyl sy wonder of Dewalt in Esna se woonstel of in ’n hotel oornag het. Sy weet dat ’n wensdenkery haar niks sal baat nie, maar sy wens nogtans dat Dewalt liewer die nag in ’n hotel deurgebring het. Waarom weet sy self nie, want dit sal tog niks aan die gemors waarin Esna hulle gedompel het, verander nie.
Daar is ’n vreemde traagheid in Natasha se bewegings toe sy later uit die bed opstaan. Sy gaan sit aan vir ontbyt, maar drink net ’n glas lemoensap.
“Mevroutjie, jy moet asseblief nie toelaat dat hierdie onaangename besigheid jou van jou eetlus ontneem nie,” sê mevrou Hugo bekommerd omdat Natasha geen ontbyt eet nie. “Glo my, jy sal al jou kragte nodig hê om hierdie krisis die hoof te bied.”
“Ek glo jou, mevrou Hugo,” laat Natasha met ’n verwese glimlaggie hoor. “Ek sal sorg dat ek ’n goeie middagete eet. Maar sê my, is my man nog nie tuis nie?”
“Hy het ongeveer vieruur vanoggend hier aangekom en sommer in een van die gastekamers gaan slaap. Hy wou jou bepaald nie steur nie,” meen die ouer vrou.
Natasha skud haar kop stadig. “Dit is nie die rede nie, mevrou. Ek vermoed hy sal nou elke aand in een van die gastekamers gaan slaap.”
“Dis waar, daardie flerrie sal hom nou elke aand saam met haar na die jolytplekke toe sleep en hy sal seker nou altyd eers na middernag tuis kom,” laat mevrou Hugo met ’n swaarmoedige sug hoor. Sy weet nie waarom hierdie ding nou juis met die De Meyers moes gebeur het en waarom daar sulke meisies soos Esna moet wees wat nie omgee hoeveel hartseer hulle ander berokken nie.
“Ek vermoed dat Dewalt my vandag om ’n egskeiding sal vra,” meen Natasha. Sy kan nie glo dat hy, nadat sy hom en Esna so intiem saam in die koffiekroeg gesien het, nog ’n dag sal laat verbygaan sonder om haar oor ’n egskeiding te pols nie.
“Wel, neem nou my raad aan en moenie aan sy wens toegee nie, mevrou,” doen die ouer vrou aan die hand. “Hulle kan nie al die geluk aan hul kant hê nie.”
“Ek het reeds besluit om nie in te gee nie, mevrou. My antwoord is en bly nee,” antwoord Natasha ietwat afgetrokke.
Na ete gaan was Natasha haar hare. Terwyl sy hiermee besig is, stap Dewalt die badkamer binne. Aan sy voorkoms is dit duidelik dat hy ’n baie jolige aand in Durban deurgebring het. Sy oë is bloedbelope en hy lyk bleek en moeg.
“O, hier is jy,” sê hy kortaf en ongeduldig. “Ek het al die hele huis deur na jou gesoek. Waar is die hoofpynpille?”
“Ek weet nie. Ek gebruik nooit hoofpynpille nie,” antwoord sy bedaard.
“Nou gee my asseblief enigiets wat jy wel gebruik – voordat my kop oopbars,” kom dit afgemete en duidelik ongeduldig.
Natasha draai ’n handdoek om haar kop, tap ’n glas vol water en gee dit aan Dewalt.
“Ek gebruik gewoonlik hoofpynpoeiers. Dit is in die spieëlkas se laai,” sê sy. “Kom, laat ek vir jou een gee …”
“Nee, gee my sommer ’n paar.”
Sy neem die dosie uit die laai en gee dit vir hom aan.
“Neem maar almal,” sê sy sag. “Ek sukkel nie juis met hoofpyn nie.”
Hy neem die dosie by haar, haal een poeier uit en sluk dit met die water af. Toe, sonder om na haar te kyk, sê hy: “Jy moet asseblief na my studeerkamer toe kom, Natasha. Ek wil met jou praat.”
“Toemaar, Dewalt, ek weet jy wil my om ’n egskeiding vra,” laat sy met ’n vreemde kalmte hoor terwyl sy die spieëlkas se laai toestoot. Sy weet nie waar sy die krag vandaan haal om so kalm met hom te praat terwyl haar hart voel of dit wil breek nie.
Hy kyk haar vlugtig, sydelings aan en sit die leë glas op die bedtafeltjie neer. “Jy het gelyk, dit is presies wat ek met jou wil bespreek,” sê hy gespanne. “En ook –”
“Ek is bevrees daar is niks om te bespreek nie, Dewalt,” val sy hom sag in die rede. “Sedert gisteroggend het ek baie tyd gehad om oor hierdie saak na te dink. Na vele oorwegings het ek eindelik besluit om nie van jou te skei nie.”
’n Dreigende, ergerlike frons verskyn meteens op Dewalt se voorkop. “Wat sê jy? Jy weier om van my te skei?” roep hy bars uit. “Ek sal jou nie aanraai om onredelik te wees nie, noudat Esna gewillig is om met my te trou. Trouens, jy het van die begin af geweet ek het Esna lief –”
“Presies,” val sy hom sag in die rede, “jy het dit ook geweet; maar jy het nogtans besluit om met my te trou. Ons was ook heeltemal gelukkig, totdat jou gewese minnares besluit het dat jou bankrekening nou aantrekliker is as haar verloofde s’n – dié man vir wie sy jou die trekpas gegee het toe sy bankrekening joune ver oortref het.”
Dewalt se staalblou oë is nou so hard soos metaal en so koud soos die Suidpool.
“Moenie dat sy jou bluf nie, Dewalt. Esna het jou nie lief nie. Sy is net lief vir die weelde wat jou geld haar kan bied. Sy sal jou uitroei en jou daarna weer net so laat staan soos verlede keer. Esna het geen man lief nie, Dewalt, sy het net geld –”
“Bly stil!” val hy haar woedend in die rede. “Jy weet nie waarvan jy praat nie! Dit is nie Esna wat met my ter wille van