Название | Bruid uit die koue |
---|---|
Автор произведения | Ettie Bierman |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050711 |
Hy kyk Clio takserend op en af toe hulle voor hom tot stilstand kom. “Halló-halló!”
Aloma beskou dit as ’n groet en pomp Clio in die ribbes. “Jou mos gesê… Is jy Arnold van Deventer?” vra sy uitasem.
’n Grynslag krul om die man se mond. Hy weet nie wie die Arnold-vent is nie, maar dit maak nie saak nie. “Ek kan hy wees, as jy wil,” antwoord hy luiweg en staar na die boonste knoop van die blondine se bloes, wat lyk of dit uit die knoopsgat wil peul. Net genoeg om ’n man lus te maak…
“Jy is nie!” beskuldig Clio hom.
“Ek is beslis. Báie lus!” verseker hy haar entoesiasties.
Clio hou nie van sy insinuerende kyke en skimpe nie. Wat dink hy is sy?
Haar oë blits en haar ken lig parmantig. “Ek is nie ’n skouperd op ’n veiling nie, meneer!”
Hy klik sy tong. “Hoe jammer… Anders het ek jou gekoop en huis toe gevat.”
Clio gluur hom aan. “Kom, Aloma, ons loop,” beveel sy kil en pluk haar arm los.
“Bel my as jy Arnold van Deventer nie kan kry nie!” roep die ou haar agterna.
Clio ignoreer hom. “Doen dit ooit weer aan my, Aloma Bremer, en ek kla jou aan van kwaadwillige saakbeskadiging,” dreig sy.
“Dis nie mý skuld dat die ou ’n ander ou is nie. Ek wou maar net help om –”
Clio het nog nie afgekoel nie. “Help om ’n gek van my te maak!”
“Het jy nie ’n foto van Arnold nie?”
“Ek het, maar dis nie ’n duidelike foto nie, en dis heel onder in my tas.”
Meneer Bremer het die petalje dopgehou. ’n Blik na Clio se bedremmelde gesig maak dit onnodig om vrae te vra. “Is jy seker jy het vir jou vriend die korrekte datum en vlugnommer gegee?” wil hy weet.
Clio knik. Hulle het dit oor en oor bevestig en daar kan nie ’n misverstand wees nie.
In haar agterkop begin ’n onrustige stemmetjie met haar praat: As jý bedenkinge begin kry het, wie sê jy was die enigste een? Arnold is skaam en teruggetrokke. Jy was self verbaas toe hy so ondernemend was om jou plaas toe te nooi. Dalk was dit ’n impulsiewe daad, maar het hy agterna spyt gekry omdat hy so voortvarend was.
Aloma probeer vir netnou se misgissing vergoed. “Wag hy nie miskien vir jou in die kafeteria nie? Hy het dalk ’n sms gestuur wat jy nie gekry het nie.”
Die kans is skraal. Nul, dink Clio. Dis ’n strooihalm om haar te troos.
Die hele ding is ’n gemors… Sy moes van beter geweet het, moes nie gekom het nie. Arnold het die aftog geblaas. Hy is nie in die kafeteria nie, nie op die lughawe nie en nie in ’n verkeersknoop nie. Hy is ver weg op Vuurfontein, veilig tussen sy diere en verfkwaste. Arnold leef in sy eie wêreld, en sy kan hom nie dwing om haar te ontvang en vir haar lief te wees nie.
Maar vervlaks, hy kon haar darem vroeër laat weet het hy gaan die hasepad kies. Darem net die foon opgetel het! Om ’n introvert te wees, gee jou nie ’n vrypas vir swak maniere nie.
Of oordeel sy te gou? Moet sy hom kans gee om te verduidelik?
“Het jy sy selnommer? Bel die man,” stel meneer Bremer voor.
Natuurlik! Clio is vies omdat sy nie lankal daaraan gedink het nie. Die min slaap verlede nag op die vliegtuig het haar dom gemaak.
Arnold se foon lui en lui, sonder dat hy antwoord. ’n Tweede en derde probeerslag lewer dieselfde resultaat: die blikstem wat sê hy is nie beskikbaar nie.
“Het jy ’n boodskap gelaat?” vra Aloma.
Clio knik. “Ek het laat weet ek sit gestrand op die lughawe en hy moet my dringend terugbel.”
“Jy is nie gestrand nie,” protesteer mevrou Bremer. “Jy kom bly by ons. Ons het ’n huis vol leë slaapkamers, en jou geselskap sal Aloma opbeur.”
Watter ander keuse het Clio? Die vliegkaartjie het haar platsak gelaat. Sy het ’n klompie sakgeld, maar nie genoeg vir ’n hotel of gastehuis vir ’n paar dae nie, totdat sy plek kan kry op ’n vlug terug Kanada toe.
“Ek wil nie moeite veroorsaak nie…” sê sy verleë.
“Strooi!” knip Aloma haar kort. “Jy het so daarna uitgesien om weer in Suid-Afrika te wees, dit sal ’n sonde wees om terug te gaan sonder dat jy ten minste iets van Pretoria te sien gekry het.”
“Al is dit net ’n jakarandaboom,” sug Clio. “Ek wil ’n blommetjie pars, as ’n aandenking vir my ma. Sy is sentimenteel oor Pretoria, want dis hier waar sy en my pa mekaar ontmoet het. Albei het op Tukkies gestudeer. Ek onthou min van die stad. Al ons besigheid is op Bela-Bela gedoen, en ek was jonk toe ons weg is.”
“Hoekom is julle weg uit Suid-Afrika?” vra mevrou Bremer.
“My pa is nie éintlik ’n boer nie, eerder ’n wetenskaplike. Hy het ons plaas verkoop om in Kanada navorsing te gaan doen oor veeteelt en beesrasse. Calgary lê in die provinsie Alberta, wat die kern van Kanada se beesboerdery is en goeie studiefasiliteite bied. Ná hy sy doktorsgraad behaal het, het hy ’n baie goeie werksaanbod gekry en besluit om in Calgary aan te bly.”
“Sal julle ooit eendag terugkom?”
“Hopelik. Wanneer hy eendag aftree of die ysige winters hom begin onderkry, of wanneer hy te veel na Suid-Afrika se sonskyn verlang.”
Meneer Bremer kyk op sy horlosie en soek sy motorsleutels. “Ons moet ry. Ek sal op pad ’n paar besienswaardighede vir jou gaan wys,” bied hy aan. “Of wou jy nog ’n rukkie vir jou vriend gewag het?”
Clio sou graag wou, maar sy wil nie die mense verder verontrief nie. Sy kan langs die pad weer probeer bel. En as dit moet, kan Arnold haar môre in Pretoria kom haal. Mits hy bereid is… Dis nie hoe sy hom onthou nie – so onseker en wispelturig. Hy torring al so lank aan haar en het gretig geklink om haar te sien, selfs aangebied om haar vliegkaartjie te betaal. Iets rym nie…
Is hy dalk siek? As hy ’n skielike blindedermaanval gehad het of in ’n ongeluk was, sou hy nie kon bel nie. En Jurg sou hom nie verwerdig het om moeite te doen nie. Vir ander meisies, ja… Hy is bekend as ’n rokjagter, het glo altyd een of ander skoonheid op sleeptou. Arnold spot dat sy broer énigiets sal doen vir ’n mooi meisie, selfs sy laaste stukkie klere uittrek…
Maar nie vir háár nie, dit weet sy goed. Jurg beskou haar as ’n voorwerp wat in ’n rioolpyp uitgebroei het. En die gevoel is wedersyds.
Meneer Bremer draai van die snelweg af en ry ’n ompad om vir hul oorsese kuiergas die voorstede, Uniegebou en Voortrekkermonument te wys, asook ’n paar strate in Brooklyn waar die jakarandas op hulle beste lyk – oortrek met massas wasige pers blommetjies. Clio maak ’n plastieksakkie vol bloeisels vir haar ma; sy sal dit pars en saamneem later.
“Kan ek asseblief netnou julle telefoongids gebruik?” vra sy toe sy in die motor terugklim. “Ek wil Vuurfontein toe bel. Talien sal weet wat met Arnold aan die gang is.”
Aloma haal haar skouers op. “As jy so dink…”
Haar oë is nog pofferig, maar sy het die snesies gebêre, sien Clio. “G’n ploert is dit werd dat ek ’n enkele traan op hom mors nie,” het Aloma ’n rukkie tevore verklaar. “Ek het daardie hoofstuk van my lewe afgesluit en begin vandag op ’n nuwe bladsy. Ek sal huil oor my honde, my papegaai en my marmot, maar beslis nie weer oor flippen Rinus de Wet nie. Eendag gaan jy nog dieselfde voel oor Arnold van Deventer – dankbaar wees jou oë het betyds oopgegaan en jy is van die boef ontslae.”
Clio byt op haar onderlip. Miskien is Aloma reg. Miskien moet sy Arnold afskryf, hom