Ena Murray Omnibus 22. Ena Murray

Читать онлайн.
Название Ena Murray Omnibus 22
Автор произведения Ena Murray
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624050278



Скачать книгу

waar die verhaal begin het.

      Dis stil tussen hulle. Salome voel vanaand soos iemand wat gedreineer is van alles wat binne-in haar was en haar blik rus dankbaar op die man oorkant haar. Nie eens met Rosalie, of met Madame, kon sy só uitpraat soos teenoor hierdie man nie. Sy voel nou nog verbaas dat sy dit kon doen. Sy was nog al die jare daarop bedag dat vreemdelinge nie diep in haar hart moes kyk nie. Maar hierdie man … Hy is soos ’n biegvader.

      Sy bekyk hom nou vir die eerste keer werklik, besef amper met ’n skok dat sy hom nog nooit as mens of man raakgesien het nie. Hy was net daar. Hy was die een wat net die regte knoppie op die regte oomblik gedruk het om die sluise in haar oop te trek sodat sy kan leegloop.

      Maar nou bekyk sy hom goed, besef sy dat sy ’n baie aantreklike man voor haar sien, die grys reeds skemerend teen sy slape. Wie ís Jaco Retief? wonder sy vir die eerste keer. Elke mens het ’n verhaal. Wat is syne?

      Hy kyk op van sy bord, sien haar oë peinsend op hom en glimlag sy rustige glimlag. “Is dit al?”

      “Al?”

      Hy lag verskonend. “Dis meer as genoeg, sou ek sê, vir een mens. Maar … is daar nog?”

      Sy glimlag, skud haar kop en voel meteens verleë voor sy reguit blik. “Nee. Dis die einde van die verhaal.”

      Salome, en so ook die man voor haar, besef nie op hierdie oomblik dat die slot van haar verhaal nog in die verre toekoms lê nie.

      “Miskien kan ek nog net byvoeg dat Madame ’n jaar gelede oorlede is. Ek was haar enigste erfgenaam. Ek bly nog steeds in haar huis. Ek het niks daar verander nie en alles gaan ook ou trant voort op die plaas. Selfs in haar ouderdom bly Ma so sterk soos ’n bees en ewe hardwerkend.

      “Jan het ’n rukkie gelede die huis vergroot en geriefliker gemaak en … Karel word vinnig groot. Hy is ’n lieflike seun, stil van geaardheid, met blou oë en ’n blonde kuif, effens aan die maer kant en lank en … hy is baie kunssinnig. Hy het glo met hul laaste skoolkonsert die dekor gedoen en die mense was in ekstase. Hulle kon net nie uitgepraat raak daaroor nie. Nou ja, verder is daar niks meer om te vertel nie.” Sy kyk hom vas aan. “Dankie, Jaco.”

      “Vir wat?”

      “Dat jy geluister het. Ek weet nie hoekom ek jou met my lewensverhaal opgesaal het nie.”

      Jaco glimlag en sê opreg: “Ek is só bly jy het, Salome, anders sou ek een van die mooiste en moedigste verhale wat ek nog ooit gehoor het, misgeloop het.”

      “En jy?” Sy glimlag effens verleë. “Dis nie dat ek nuuskierig is nie, maar jy het ’n liewe vriend geword en ek weet eintlik nog niks van jou af nie. Jy is my ouderdom, min of meer?”

      “Veertig.”

      “Jy is nie getroud nie?”

      “Ek was.” Hy kyk haar vas in die oë. “Ek het ook gedink dat ek ’n verhaal het om te vertel, maar noudat ek na jou geluister het, besef ek dat ek maar net een hoofstuk werd is. Maar as jy regtig wil hoor …”

      “Ek wil graag.”

      “My vrou is dood. Ons was net twee jaar lank getroud. Sy het bloedkanker gehad. Daar was nie kinders nie. Ná haar dood het ek nog nooit weer ’n vrou ontmoet met wie ek wou saamleef nie. Ek het net op my werk gekonsentreer.”

      “Jy is een van die beste joernaliste in die land.”

      “Dankie. Maar ek is nou moeg daarvan. Ek sal graag die joernalistiek vaarwel wil toeroep, my êrens vestig en begin skryf.”

      “Jy sal daarvan net so ’n groot sukses maak.”

      “Ek dink ook nogal so. Dis net om finaal weg te breek van die sogenaamde sekuriteit. ’n Mens verval in ’n groef.”

      Salome knik. “Dis waar. Ek is ook in ’n groef en ek weet ook nie hoe ek daaruit moet kom nie.” Sy glimlag na hom op. “Dis of ’n mens nie meer wil nie, maar jy het ook nie die moed om los te breek uit die roetine nie.”

      “Ja. Dis soveel makliker om maar net elke dag weer in gister se spore te trap.” Dan word sy oë peinsend, ondersoekend. “Salome, mag ek jou ’n baie persoonlike vraag vra?”

      Hy sien die skielike waaksaamheid in haar oë. Haar antwoord is ontwykend. “As dit van belang is, ja.”

      “Dis vir mý van belang.”

      Sy lyk eerlik verbaas. “Vir jou?”

      “Ja.” Sy oë is vas op haar gerig. “Wat beteken Flip Grimbeeck op hierdie oomblik nog vir jou?”

      Hy sien haar oë voor syne weifel en die vae vermoede wat reeds lankal in sy hart posgevat en wat hy met alle mag onderdruk het, tree nou sterker as ooit tevore op die voorgrond.

      “Ek … Hy behoort aan die verlede, Jaco. Dis dinge wat verby is.”

      “Is dit verby, Salome? Werklik verby?” Hy neem haar hand oor die tafel en die drang in sy stem dwing haar om weer na hom op te kyk. “Ek móét weet, Salome. Verstaan jy? Is Flip Grimbeeck werklik afgehandel – of dra jy hom nog al die tyd in jou hart rond?”

      Sy is meteens bleek en ontsteld. “Ek weet nie, Jaco. Ek … weet nie!”

      Hy sit terug, sy gesig baie stil. “Wanneer is julle geskei?”

      Daar volg ’n lang stilte op sy vraag. Dan kom haar antwoord: “Ons is nie geskei nie.”

      ’n Ervare joernalis leer met verloop van jare hoe om sy gevoelens weg te steek. Maar hy is onverhoeds betrap. “Nie geskei nie?” vra hy skerp.

      “Nee. Ek het toe nooit na daardie prokureur gegaan nie. Dit het net … agterweë gebly.” Haar oë sak voor die uitdrukking in syne en dan kyk sy moedig op, die trane blink in haar oë. “Goed, Jaco. Laat ek maar erken: ek kon nie. Ek kon dit nog nooit regkry om die band finaal tussen ons te verbreek nie. Flip het van sy kant af ook nooit iets gedoen nie. Ek weet nie hoekom nie. Miskien is dit maar net dat hy nie omgee nie.”

      “Of nog net soveel omgee soos wat jý omgee.” Hul oë ontmoet. “Dit help nie om van die waarheid weg te skram nie, Salome.”

      Sy is eers stil. Dan antwoord sy eerlik: “Ek weet nie wat om jou daarop te antwoord nie, my vriend. Dis nou veertien jaar sedert die dag dat ek die woonstel leeg gevind het. Veertien jaar is ’n lang tyd, Jaco.”

      “Ja, dit is, maar noudat ek jou ken … vir ’n vrou soos jy, Salome, is dit nie te lank nie.”

      “Te lank waarvoor, Jaco?”

      “Om nog steeds te bemin nie.” Hy staan op, stap om die tafeltjie, help haar op en sy hande klem om haar skouerknoppe. Dan staan hy terug, neem haar arm en glimlag in haar bekommerde oë af. “Kom, kom ons gaan huis toe.”

      Toe hulle voor die huis stilhou, nooi sy hom binne vir koffie.

      “Dankie, maar nie vanaand nie. Ek het nog die een en ander om te doen. Ek moet ook nog inpak.”

      Sy kyk verbaas na hom. “Inpak? Gaan jy dan weg? Jy het niks gesê nie.”

      “Nee, ek … was nie seker nie. Maar ek vertrek môre.”

      Sy lag na hom op, maar haar oë is ondersoekend. Sy waardeer hierdie man se vriendskap en sy wil dit nie graag verloor nie. “Jy klink baie geheimsinnig! Mag ek weet waarheen jy gaan?”

      “Nee. Dis ’n … sending.”

      “O.” Sy dring nie verder aan nie. “Sal jy lank weg wees?”

      “Ek weet glad nie. Dit hang van baie dinge af.” Hy kyk op haar af, sy hande op haar skouers. “Kyk mooi na jouself.”

      “Ek sal. En jy ook. Ek sal jou mis, Jaco.”

      Hy glimlag effens wrang. “Ek is bly om dit te hoor. Dan beteken ek darem tog iets vir jou?”

      Sy kyk fronsend na hom op. Jaco is vanaand so anders. “Maar natuurlik! Ek waardeer jou vriendskap baie.