Название | Ena Murray Omnibus 26 |
---|---|
Автор произведения | Ena Murray |
Жанр | Короткие любовные романы |
Серия | |
Издательство | Короткие любовные романы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624049548 |
Niemand sal raai hoe die matrone die ou hospitaalroetine mis nie. Hoe sy verlang na die tyd toe sy saam met Oudokter geskrop en haar plek langs hom by die operasietafel ingeneem het nie. Hoe sy verlang om weer saam met die dokters op hul rondtes te stap en deel te hê aan aktiewe verpleging nie. Niemand weet hoe verskriklik eensaam en uitgesluit matrone Cloete in haar kantoor voel nie.
Dis net snags wanneer sy rusteloos rondrol – iets wat deesdae meer die reël as die uitsondering is – dat sy maar opstaan en soos van ouds by die sale en privaat kamers inglip, dikwels sonder dat die nagsuster haar eens sien. Dis wanneer sy dan oor ’n pynverwronge gesig buk, ’n bietjie water aan droë, gebarste lippe bring, of sommer net ’n swak hand bemoedigend druk dat sy weer deel van haar hospitaal word, weer weet dit is háár wêreldjie hierdie; en dat sy haar nie deur Paul van Drüten daaruit gaan laat verdryf nie.
Die nagpersoneel wat haar soms gewaar, vind dit nie juis vreemd nie. Hulle weet dat matrone soms gedurende die nag by die ernstiger gevalle kom inloer. Dis die een gebruik wat klaarblyklik die totale metamorfose vrygespring het.
Anmar is dankbaar dat niemand dit nog nodig geag het om dokter Van Drüten van hierdie besoeke te verwittig nie, want sy is oortuig daarvan dat hy wel daarmee fout sal vind. Daar is niks, op die aarde niks, waarmee hy tot dusver nié fout gevind het nie.
Anmar maak ook altyd baie seker dat daar nie die vaagste moontlikheid bestaan dat sy die superintendent miskien laatnag raakloop nie. Dit sou haar dus tot in haar siel geskok het as sy moes hoor wat tant Liefie een oggend aan ’n geïnteresseerde Paul van Drüten te vertelle het.
“Jy sal haar nooit herken as jy haar snags hier moet raakloop nie, Dokkie. Bedags lyk sy so . . . hoe sal ek sê? So beduiweld en sonder gevoel. Maar snags is sy ’n ander mens, mooi en sag en . . . raai, ek wil al sê soos ’n engel. Miskien is dit maar die sagte lig wat haar so laat lyk, maar nietemin.”
“Kom sy elke nag?” wil hy sameswerend weet.
“Nee. Nie altyd nie. Maar veral Saterdag- en Sondagnagte. Dan kom sy gereeld.”
Hy kom orent toe die suster in die saaldeur verskyn en kyk waarskuwend na tant Liefie. “Moenie sê dat tante my vertel het nie, hoor? En oom Gielie stuur groete,” sê hy harder toe die suster by hulle aansluit. “Ek het die ou ook nou op behandeling en tante sal moet sokkies optrek om by te bly wanneer ek met hóm klaar is. Hy jaag nou al wat weduwee is daar in die ouetehuis rond.”
“Dit glo ek! En hulle sal hulle ook maar te graag laat vang, die lawwe ou goed!”
“Hm. Ja. Dan is oom Gielie gelukkiger as ek. Ek is besig om my bene af te hardloop om ’n sekere persoon in die hande te kry. Ek sal dankbaar wees as sy net ’n slag sal gaan staan.”
Anmar kom onwillig tot stilstand. Daar is ’n oproep vir hom in haar kantoor en terwyl sy iets met die saalsuster wil bespreek, het sy gedink om sommer self die boodskap te kom gee.
Niemand het haar in die deur sien verskyn nie, want almal is diep geïnteresseerd in die gesprek tussen hom en tant Liefie. Sy kan duidelik sien hoe tant Liefie se kraalogies blink van nuuskierigheid.
“Wie is sy, Dokkie? Ken ek haar? Hoe lyk sy?”
“Nee, tante. Só maklik gaan ek myself nie verraai nie. Maar sy is pragtig, hoor. Ek wil amper sê soos ’n engel in gedempte lig.”
“Nou wat beteken dit?”
Hy skud sy kop en draai laggend om. “Probeer dit maar self uitredeneer.” Die glimlag verdwyn uit die groen oë toe hy haar gewaar.
“Daar is ’n oproep in my kantoor vir u, dokter.” Sy draai dadelik na die saalsuster. “Suster, mevrou Viljoen se man het gebel.”
Anmar maak seker dat ’n redelike tyd verloop voordat sy weer na haar kantoor terugstap, maar tot haar misnoeë sien sy dat hy steeds agter haar lessenaar sit toe sy binnestap, sy oë peinsend en opsommend.
“My pa stuur groete. Ek het met homself gepraat. Dit gaan goed.”
“Dankie. Ek is bly om dit te hoor.”
Sy stap na die deur, maar toe sy haar hand op die knop sit, staan hy agter haar en heel besadig vra hy: “Hoekom is jy altyd aan die weghardloop?”
Sy staan verstok, draai dan om. “Dis my etensuur, dokter, maar as u my wou spreek oor iets . . .”
“Ek wil jou oor niks spreek nie, maar daar is baie waaroor ons moet praat, nie waar nie? Ek was ontsettend besig die afgelope weke, maar dinge begin nou stadigaan vorm aanneem. Van nou af sal daar meer tyd vir ons twee wees.”
“Vir ons twee?”
“Ja, matrone. Vir ons twee.”
Anmar lyk weer bleek. “As u klagtes oor my het, moet u dit voor die hospitaalraad lê, dokter.”
“Ek sien kans vir jou sonder om die hospitaalraad se hulp in te roep.” Die groen oë is meteens nie meer fronsend en skerp nie, maar opsommend. “Jy sál pragtig lyk in gedempte lig.”
“Ek . . . skuus?”
“Nee. Net ’n gedagte. Iets wat tant Liefie gesê het. Nou ja, matrone, ons praat later. Ek is besig om te onderhandel vir nog ’n vennoot. Ek het alle hoop dat dit suksesvol sal wees, en dan sal ek tyd hê vir die belangrike dinge wat tot dusver noodgedwonge agterweë moes bly.”
Vir die eerste keer vandat sy haar oë die eerste maal op hom laat rus het, glimlag hy. En hy lyk skielik so jonk, so heeltemal anders as die man met wie sy tot dusver te doene gekry het, dat sy voel hoe haar hart meteens saamruk. Terselfdertyd lyk hy ook weer so bekend, so pynlik bekend, dat haar gesig werktuiglik verstrak.
Teen haar eie reëls in stap sy reguit na haar woonstel sonder om af te draai na die eetsaal. Dis een van haar strengste reëls: alle verpleegsters moet alle etes bywoon. Maar die afgelope tyd het sy self al hoeveel keer oortree. Somber staar sy voor haar uit terwyl sy vir haar ’n koppie tee maak.
Hy sê dat hy haar nóú eers onder hande wil begin neem. Besef hy dan nie dat hy reeds haar hele bestaan só ontwrig het dat sy soos ’n vreemdeling in die vertroude hospitaalgange voel nie? Ook haar private lewe het hy totaal beduiwel.
Hy het skielik hier aangekom met ’n paar oë en ’n mond wat vir haar so hartverskeurend intiem bekend was dat sy elke keer as hy voor haar verskyn het intuïtief teruggedeins het van die herinneringe wat dit in haar wek. Elke keer as sy hom die hospitaalgange sien afstap het, moes sy haar staal teen die vloed van herinneringe wat haar wou oorval. Selfs die manier waarop hy sy kop skuins draai wanneer ’n swart haar moedswillig oor die hoë voorkop val as hy vooroor buk om ’n pasiënt te ondersoek, het haar heeltemal oorstuur.
O, so baie dingetjies aan hom het die verlede weer skielik teruggeplaas in die hede. En netnou, toe hy skielik met haar geglimlag het, was dit asof ’n ysterhamer haar hart getref het daar waar die letsels van gister se wonde nog lê, ou wonde wat sy net begin glo het uiteindelik heeltemal genees het. Nou weet sy dat die genesing net bolangs was; dat daar êrens, diep binne-in, nog ’n rou kol lê.
Watter groter ontwrigting beoog hy nóg vir haar? Wat kan hy nog meer doen om die skaduwees van gister terug te bring?
Nie vir die eerste keer nie speel sy met die gedagte om liewer te bedank en weg te gaan. Hy vind haar ’n hopelose matrone en was brutaal genoeg om dit sommer reguit in haar gesig te sê. Hy het haar nou al so uit die hospitaalbedrywighede uitgewerk dat sy kwalik nog haar salaris verdien. Elke dag voel sy meer nutteloos en oorbodig. Kruisrivier se hospitaal kan nou voorwaar sonder haar dienste klaarkom.
Voordat hy gekom het, was sy die spil waarom die hospitaal gedraai het. Sy was hier en daar en oral. Niemand sou droom om sonder haar ’n operasie te doen nie. Ernstige gevalle het haar persoonlike aandag geniet. Haar vinger was gedurig op die pols van alles in “haar” hospitaal.
Nou is dit nie meer “haar” hospitaal