Hartland. Deon Opperman

Читать онлайн.
Название Hartland
Автор произведения Deon Opperman
Жанр Сказки
Серия
Издательство Сказки
Год выпуска 0
isbn 9780624056928



Скачать книгу

>

      HARTLAND

      Deon Opperman

      soos oorvertel deur

       Kerneels Breytenbach

      Tafelberg

      Hierdie roman is ’n verwerking van die TV-reeks Hartland wat deur kykNET gebeeldsend is.

      Jan Cilliers

      Jan Cilliers is die patriarg – maar hy hou nie van dié woord nie. Jan Cilliers is ’n strateeg. Die velle papier voor hom is vol met sy strategiese beplanning. Dít wat hy daar geskryf en geteken het, sal die lotgevalle in die komende maande bepaal van baie mense in die uitgebreide Cilliers-familie. Bloed en aangetroud.

      Jan staan by een van die groot vensters in sy sitkamer, van waar hy ’n blik op die silhoeëtte van die wolkekrabbers van die middestad het. Dan draai hy van die venster weg, sodat mens reguit in die kommer in sy oë vaskyk:

      “Ons almal verloor ... op die ou end.

      “Maar dis nie waar ek wil begin nie. Ek wil eers besigheid praat. My vrou sou sê: ‘Hoe dan anders? Dis jou hele lewe.’ Waarop ek dan antwoord: ‘Hoe dan nie? Alles is besigheid.’ ”

      Jan het ’n rustigheid in sy stem – waarskynlik danksy die baie jare wat hy al die pasaangeër in sy familie is. Maar as ’n mens fyn luister, kan jy die moegheid daarin hoor. Maar niemand sal hom betrap waar hy toelaat dat daardie moegheid oorgaan in moedeloosheid nie.

      “’n Mens se lewe is ’n balansstaat. Jy het jou bates en jou laste – dit wat jy het en dit wat jy skuld. Aan die een kant is daar dit wat jóú dra, en aan die ander dit wat jy moet dra. En dit moet balanseer – ’n bate vir elke las en ’n las vir elke bate. Presies gelyk. Wanneer jy begin, is jou laste klein; jou bates ook. Maar met verloop van tyd word die getalle aan beide kante van daardie lyn al hoe groter – meer wat jou dra, meer om te dra.

      “En dis waar die inkomstestaat sy bydrae maak – die dryfveer van die balansstaat. Want sonder profyt – of verlies – staan alles tjoepstil. Om ’n profyt te wys is eenvoudig – jou inkomste moet jou uitgawes oorskry, jy moet meer inkry as wat jy uitgee. Eenvoudig, maar nie maklik nie. Kry dit reg, dan wys jy ’n profyt en jou bates groei. Kry dit verkeerd, en jou bates krimp.

      “En so is dit met alles: met geld, met die politiek, met die liefde – met die lewe self.”

      — I —

      Jan Cilliers het sy huis self gebou. Self gekontrakteer, tyd afgeknyp by die werk, seker gemaak dat dit is presies soos hy en Maria dit wil hê. Genoeg ruimte vir die kinders, wat nog op skool was, en ekovriendelik lank voordat die mens bewus was van sy vergrype teen die natuur. Destyds was hier niks anders nie, net Hannes Meiring se plekkie onder in die driffie, en oorkant teen die golwing van die Oos-Pretoriase hoëveld het Garsfontein se eerste huise begin opskiet. Vandag, wanneer jy by die eerste sekuriteitshek verby is en die Bosveldse doringbome langs die lang oprit jou herinner waar jy presies is, staan die imposante grasdak-kompleks skielik om ’n draai tussen ’n koorsboom en ’n paar kiepersolle, witkaree en witstinkhoutbome. Die grasdak is al vaal gebak deur die Laeveldse son en laat die huis lyk soos ’n groot skilpaddop wat wyd oor die rug van die rantjie neergesit is.

      Twee weerligafleiers steek hoog bo die dak hul metaalpunte na die hemele. Een keer in al die jare moes hulle hul werk doen. Met welslae. Maria sê dis die veiligste grasdakhuis in die land, veilig genoeg selfs vir ma Cilliers.

      Daarmee bedoel sy niks snaaks nie.

      Ma Cilliers is soos ’n hand vol patrone wat in ’n oop vuur gegooi word. Mens weet nooit in watter rigting sy gaan skiet nie. Haar tong is vlymskerp – en dodelik.

      Dit reën vandag, druppels wat hier voor Jan se gesig van die dekgras drup in een van Maria se vele strategies geplaaste blombeddings. Dit was ’n warm oggend, en die reënbui, soos Pretorianers gewoond is hier vroeg in die jaar, maak die strate skoon en laat mens koel en skoon voel.

      Jan sien die reëndruppels nie raak nie. Waar hy staan, lyk hy nie soos die hoogs suksesvolle sakeman wat hy is nie. Hy het sy kortgeskeerde baard effens laat uitgroei, sodat hy lyk soos ’n sakeman se idee van ’n buitelugmens: sy hare effens deurmekaar, sy klere dié van ’n jagter gereed vir spoorsny. Maar dis sy velkleur wat hom verraai. Effens bleek. Jan het ’n ligte vel, wat hom dwing om die sonval goed vanuit die skadu te beheer, of met heelwat sonbrandroom. Nou lyk dit of hy té veel tyd op kantoor deurbring, sy buitedrag net oorblyfsels van ’n ander, meer opwindende lewe.

      Sy gedagtes is elders.

      Hier is dit nou, dink Jan. Die ou end. Hy verbeel hom hy kan voel hoe die onheil aan hom knaag. Binnekort sal hy dit nie net meer verbeel nie.

      Hy dwing homself om aan iets aangenaams te dink. Hy verjaar môre. Nóú is dit tyd vir die gemeste kalf en die ramshoring. Vandag bring hy sy familie en naastes bymekaar. Hy sal juig en hy sal jubel. Laat húlle wat wil meedoen, dit uit volle bors doen! Sy nuwe lewensjaar met ope arms ontvang. Maar sy vreugde sal lê in die weersien van Elna, sy dogter, wat uit Kanada op besoek is saam met Bertus, haar man, en hul seun, Neil. Net vir sy verjaarsdag!

      Jan kan sy bestuursgewoontes nie afskud nie. Hy verdeel die res van die gastelys oudergewoonte in “Moeilik” en “Maklik”. Rika, sy suster, en haar gesin is onder laasgenoemde. Minsame, pligsgetroue Rika, eggenote van dominee Rudi Naudé, ma van Gerhard en Esmé. Christene sonder bedrog, soos ma Cilliers altyd sê.

      Boetjan, sy genant, val miskien onder “Moeilik”. Nie vanweë sy probleme nie. Drankprobleme. Maar Boetjan is nou al baie maande sober, dalk al by ’n jaar verby, hy kan nie onthou nie, en Jan weet Boetjan het koers in die lewe gekry en hy vertrou hom. Maar daar is steeds spanning tussen Boetjan en Maria – en omdat Maria dit veroorsaak, is hy nog altyd bang om iets daaraan te doen. Hy voel intens skuldig daaroor. Wie weet, binnekort dalk kan hy met Maria daaroor praat.

      Sy laatlammetjie-broertjie, Adriaan, sal hier wees, en sy familie. Adriaan val onder “Maklik”. Jan wil nie té veel dinktyd op Adriaan mors nie. Hy hou nie van Adriaan se kruiperigheid nie, maar dit is nou sy broer en hy het hom om dié rede lief. Maar sy vrou, Antoinette, val beslis onder “Moeilik”. Antoinette in haar eie huis is geen probleem nie. Hier by hulle sit sy altyd dikbek rond, hou elke beweging van Maria met arendsoë dop. Hy en Maria maak altyd grappies daaroor, maar Jan wantrou mense wie se afguns só sigbaar is. Meer as ’n bietjie.

      Elna sal “Maklik” wees, maar Bertus “Moeilik”, afhangende van hoe hulle gevlieg het en hoe gemaklik hy daarmee is om weer in die land te wees wat hy so verfoei.

      Maria, die stem van sy gewete, is bo alle verdenking en is “Maklik”, behalwe met Boetjan in die omgewing. En ma Cilliers? Sekerlik “Moeilik”, dink Jan. Haar mond is soms gevaarliker as ’n begeleide missiel.

      “Jan, die kinders gaan nou-nou hier wees ...”

      Hy swaai om. Maria, sy skone Maria, staan met ’n hand vol proteas wat sy by Safari duskant Wilgers gaan koop het vanoggend.

      “... dink jy nie jy moet met jou vuur begin nie?”

      Hy is só bly hy het destyds daarop aangedring om soveel moontlik binnemure te bou uit die klippe wat hulle hier in die rantjies kon versamel uit die uitgrawings vir die huis. Teen die agtergrond van die klipmuur oorweldig Maria se voorkoms hom vir die soveelste maal in sy lewe: haar natuurlike blonde hare, fyn en sag, nes haar vel. Maak nie saak hoe ver sy op haar lewensweg is nie, vir Jan lyk sy altyd soos ’n jong Grace Kelly. Haar helderblou oë, wat tog soveel emosie en smeuling kan oordra. Haar pragtige sagte vel. Haar lippe nog sensueel en vol, en die merke wat die jare gemaak het om haar mondhoeke en oë laat Jan net weer besluit dat hy waarlik, waarlik genade ontvang het met sy keuse van lewensmaat.

      “Ons gaan tog seker nie eet sodra hulle hier aankom nie?”

      “Nee, maar ons kan ook nie eers vieruur vanmiddag eet nie. En die res van die mense sal ook binnekort hier wees.”

      Jan maak vinnig ’n aftelsom in sy kop – die mense wat hy hier wil hê. Hy onthou laaste van sy vennoot, die swart man