Ужасы и Мистика

Различные книги в жанре Ужасы и Мистика

Vermis op Allesverloren

Anchien Troskie

"Die rykes kyk na mekaar, die armes moet na hulleself omsien. Of alle klein dorpies dit doen, weet ek nie, maar Allesverloren doen dit beslis. Aanmekaar. En die ergste van alles is dat hulle dit nie eens meer agterkom nie. Dit word net van geslag tot geslag so aangegee. Jy raak gewoond daaraan om saam met jou kliek te swem om bo te bly. Ek dink tannie Erta het moeg geraak vir swem. En omdat sy verkies het om anders te leef, het hulle haar verwerp." Wanneer Melinda een oggend opstaan, het haar tante Erta eenvoudig spoorloos verdwyn. Hoekom lê die skêr, verf en karton nog op die kombuistafel asof sy onderbreek is? Waarom het sy nie ’n briefie gelos soos sy altyd maak nie? Jare gelede is Erta deur die dorpenaars as ’n heks gebrandmerk oor haar kruierate en eksentrieke gedrag, veral nadat Oudominee begin het met sy vendetta teen haar. Melinda vermoed onraad en al plan wat sy het is om Barrie Barnard, privaatspeurder en buitestander, in te roep om Erta te vind voor dit te laat is.

Sondebok

Irma Venter

Adriana vra Ranna en Alex om onder die dekmantel van joernalistiek die storie van ’n jong vrou onder haar beskerming te ondersoek. Dit bring hulle op die spoor van ’n ou misdaad – die verdwyning van ’n talentvolle jong kunstenaar wat in haar matriekjaar spoorloos verdwyn het. Die meisie se destydse kêrel en haar kunsonderwyser is verdink, maar die saak is nooit opgelos nie. ’n Foto van die meisie naby ’n aborsiekliniek in Johannesburg speel ’n kardinale rol. In die foto kyk sy oor haar skouer, asof sy bang is sy word agtervolg. Alex dek ook ’n storie oor ’n jong onwettige immigrant wat van vervolging in sy eie land gevlug het om ’n nuwe lewe in Suid-Afrika te maak. Maar xenofobie dreig om sy drome te verwoes. AJ Williams is op dertig kaptein in die polisie, maar sy veg om die stereotipering te oorkom wat haar bruin vel en geslag ontlok. ’n Foto van Ranna in Pretoria sit AJ op dié se spoor.

Skoppensboer

Duane Aslett

“Want swart en droef, die hoogste troef . . . oor ál wat roer, is Skoppensboer” – die laaste woorde wat Skoppensboer se slagoffers hoor voor hy hulle “uitvee”. Want as hy van iemand ontslae raak, is dit asof hulle nooit bestaan het nie. En dus weet niemand wie Skoppensboer werklik is nie. Daarom word Rex Reynecke se hulp ingeroep. Sy opdrag: infiltreer die onderwêreld van georganiseerde misdaad en stel vas wie Skoppensboer is. Maar in hierdie onderwêreld is vertroue ʼn luukse wat niemand kan bekostig nie. Want almal het geraamtes in die kas. Soos Niel Campher, wat slegs sy samewerking gee om die Valke van sy rug af te hou. En wat is die beeldskone Alicia Vermeulen se geraamtes? Want die laaste ding wat Rex in sý omstandighede kan bekostig, is om op ʼn prostituut verlief te raak . . .

Kopskoot

Rudie van Rensburg

Reeksmoordenaar, of wraak?
Toe iemand Kaapstad se ses en vyftigjarige mans begin afmaai, is dít kaptein Kassie Kasselman se dilemma. Dit wil darem baie na ’n reeksmoordenaar lyk – almal dieselfde modus operandi, almal dieselfde ouderdom − maar Kassie is net nie oortuig nie . . . Boonop word hy aangesê om ’n skouspelagtige skilderyvervalsing te ondersoek, asof hy nie genoeg regte werk het nie.
En dan’s daar die glibberige aktuaris met die voorliefde vir prostitute – en hy’s óók ses en vyftig − wat die leisels van ’n groot maatskappy gaan neem, as sy afperser nie die oorhand kry nie. Sal Kassie sy aaklige nuwe gesondheidsdieet oorleef om te kan ondersoek hoe dit alles inmekaar steek?

Dubbelspel

Wilna Adriaanse

Hulle is almal in die land. Die Italianers met hulle Mafia-verbintenisse, die Chinese triades, die Nigeriërs, die Russe, Koreane, Indiërs, die hele lot, en dan natuurlik nog die plaaslike ouens ook. Niemand is hier vir die land en die Kaap se natuurskoon nie. Hulle het nie sentiment oor ’n politieke bestel of ’n reënboognasie nie. Geld is die enigste god wat aanbid word.
Toe Ellie McKenna instem om hierdie wêreld te infiltreer, het sy gedink sy weet waarvoor sy haar inlaat. Maar soos haar pa altyd gesê het, die duiwel deel nie visitekaartjies uit nie.
En nou is haar pa nie meer daar nie, en moet sy self besluit wie sy kan vertrou, en waartoe sy in staat is. Haar pa het ook gesê dis ’n job waaruit iemand dikwels nie lewend wegstap nie.
Wilna Adriaanse se Dubbelspel is die eerste opwindende deel van ’n beplande tweeluik.

Proteus

Deon Meyer

Tobela “Tiny” Mpayipheli, oud-KGB-sluipmoordenaar, ook bekend as “Umzingeli” (Die Jagter), het gedink hy het sy vorige lewe agtergelaat. Hy het vrede gevind, maar bevind hom skielik in ’n onmoontlike situasie. Want lojaliteit is belangrik – en hy moet nou binne 72 uur in Lusaka uitkom, anders sterf ’n ou vriend, ’n medestryder wat gyselaar gehou word.Maar die losprys wat hy saam met hom moet neem, is gevaarlik – ’n hardeskyf met sensitiewe inligting. Die plaaslike intelligensiediens gaan alles in hul vermoë doen om hom te keer.En nou word die jagter die prooi. Op ’n “geleende” BMW-motorfiets vat hy die lang pad. Maar hoe verder hy vorder, hoe stywer span die net om hom.Spanning uit die boonste rakke; ’n boek wat geen leser sal kan neersit nie.

Orion

Deon Meyer

’n Middelklas-meubelhandelaar is in sy voorstedelike huis met ’n blaasvlam gemartel en toe met ’n M16 doodgeskiet. Een skoot; agterkant van die kop. Laksmanstyl. Oudpolisieman Zatopek van Heerden het sewe dae om dié moord op te los en ’n testament te vind. En die moord het boonop al tien maande tevore plaasgevind, die spore is vaag, die enigste leidraad ’n stukkie papier waarmee hulle te lank gelede dollars toegedraai het. Miskien báie dollars . . . En wanneer alles skielik ontvlam, is daar snaakse gediertes wat uit die vuurlig probeer skarrel: Militêre Intelligensie, die CIA, Moord en Roof, georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte. Hoe dieper hy delf, hoe meer lae hy van dié ding afkrap, hoe meer smeer hulle toe.

Karoonag

Deon Meyer

Lemmer se Eerste Wet: Moenie Betrokke Raak Nie. Hy moes daarby gehou het toe hulle in die stikdonker aan sy voordeur kom hamer het. Maar toe staan hy op, vat sy Glock 37 onder die bed raak en neuk met sy nuwe Ford Ranger die godverlate veld in. Want daar was ’n plaasaanval, en as hy help, is dit dalk een stappie nader aan aanvaarding op Loxton. Wat hy so graag wil hê. En nou? Nou het “plaasaanval” ontvoering geword. Nou jaag hy soos ’n besetene om ’n skadumag te konfronteer, om driehonderd mense se lewens te red. Met ’n sekere wete dat die bloed vryelik gaan vloei voor hierdie Karoonag verby is. Heerlike verhale uit die pen van Deon Meyer, insluitende sy baie gewilde vervolgverhaal “Stiltetyd”.

Die derde graf

Calvyn van Niekerk

Gawie Calitz ontdek die afgeleë plaas waar ’n voorsaat in 1927 met ’n diamantfortuin verdwyn het – en dan verdwyn hý ook. Tromp Faber, eks-polisieman en familievriend, kan moontlik ’n martelende selfverwyt oor sy boesemvriend se dood besweer deur Gawie te vind, maar in sy weg lê ’n maalkolk van grootskaalse korrupsie en gewetenlose moord wat hom en ander na aan hom gaan insuig.

Kobra

Deon Meyer

Die laaste ding wat kaptein Bennie Griessel van die Valke nodig het, is moeilikheid. Want hy suip dalk al weer, hy lieg vir sy kollegas en sy AA-borg, en die intrek by Alexa Barnard was ’n fout. ’n Karnallie van ’n fout.
Maar die gastehuis-bloedbad buite Franschhoek was die werk van ’n professionele laksman – drie slagoffers, drie perfekte kopskote. En dis nie net die onverklaarbare gravering van ’n spoegkobra op die koeëldoppies – en die komende mediasirkus – wat Griessel laat bloed sweet nie.
Twee van die oorledenes is lenige militêre tipes. Spesmagte. Of Spoke.
Moeilikheid.
Heel agter, in die hoofslaapkamer, is tekens van ’n gestoei, en te veel bewyse dat iemand ontvoer is. Bes moontlik ’n buitelander.
Groter moeilikheid.
Maar die paspoort is vals, die Britse konsulaat speel spioenasiespeletjies, en dieselfde huurmoordenaar slaan toe by die Kaapse Waterfront. Boonop neem die staat se duistere Sekuriteitsagentskap die ondersoek oor, en die Valke moet ’n vlugtende, baie vaardige Kaapse sakkeroller dringend opspoor om hul eer – en die demokrasie – te red. Maksimum moeilikheid.