Ужасы и Мистика

Различные книги в жанре Ужасы и Мистика

Koors

Deon Meyer

Die Koors het byna almal gevat. Maar nie dertien jaar oue Nico Storm en sy pa, Willem, nie. Deur ’n Suid-Afrikaanse landskap feitlik sonder mense, met al hoe minder blikkieskos in die verlate winkels, Koeberg-bestraling in die Wes-Kaap en al hoe meer moorddadige hondebendes – én mensebendes – swerf Nico en sy pa, op soek na ’n plek om die samelewing weer te vestig. Wanneer hulle dit eindelik sover het by die ou Vanderkloof – nou Amanzi – met ’n groepie swerflinge wat saam van voor af wil begin, steek al die ou sondes van die mensdom kop uit. Gou is Amanzi op geloofs- en politieke lyne verdeel, en verdediging teen die swaar gewapende motorfietsbendes wat dwarsoor Suid-Afrika plunder en moor raak al hoe moeiliker. En wat van die geheimsinnige, yskoue Domingo, wat by Amanzi aangery kom op ’n motorfiets van sy eie en spoedig as paramilitêre leier ontpop – kan hý ooit vertrou word? Dis nie lank nie, of moord kom inderdaad ook na Amanzi … In Koors vertel die volwasse Nico Storm die verhaal van die moord op sy pa. Dit is ’n aksiebelaaide nuwe rigting vir Deon Meyer, met al die aspekte wat lesers van sy spanningsfiksie verwag en nog vele nuwe lekkertes daarby.

Pirana

Rudie van Rensburg

KASSIE SE VYANDE IS TOT DIE TANDE GEWAPEN … Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met twee ander sake − ’n ontvoering én ’n moord − op sy lessenaar? Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselige visdam en die glans-en-skanswêreld van diplomasie moet Kassie sy pad voel-voel vind – of Rooi Els se vrou is visvoer.

7 Dae

Deon Meyer

Ek sal elke dag ʼn poliesman skiet, tot julle die moordenaar van Hanneke Sloet aankla, lees die dreigbrief aan die SAPD. En dan begin hy. Bennie Griessel is die een wat die dossier moet heropen. Die saak is 40 dae oud, die spoor is koud. Daar’s geen motief nie, geen leidrade, net ʼn reeks naakfoto’s, ʼn uiters ingewikkelde saketransaksie, en onmenslike druk van topbestuur, die media en die meedoënlose, onpeilbare sluipskutter. En deur dit alles moet Griessel sy nuwe vriendin, die sangeres Alexa Barnard, weghou van die bottel voor haar groot terugkeerkonsert, sy seun keer om nie skandes te maak nie, sy kollegas daarvan weerhou om die ondersoek te kelder, en sy eie, verterende lus vir die helende kragte van drank in toom probeer hou. Sewe dae van hel.

Skarlaken

Irma Venter

Haar pa het buite gaan asemskep toe hy haar gesien het. Die boonste laag van die pan was gevries ná die vorige nag. Dit het onder sy voete gekraak en fyn spinnerakke gemaak soos hy geloop het. Versigtig al nader aan die rooi fiets en die vrou wat op haar sy, halflyf – presies halflyf – in die modderige ys vasgevang was. Die fiets was nie hare nie, maar die trourok wel. Afgetrede polisieman Jaap Reyneke vra Sarah Fourie, ʼn rekenaargenie met ʼn kriminele rekord, om die raaisel rondom die dood van sy peetdogter, Janien Steyn, op te los. Janien was op die oog af geliefd, ʼn suksesvolle kunstenaar met ʼn slag vir besigheid, en op die punt om met haar universiteitsliefde te trou. Was dit selfdood of moord? Waarom is die toneel om haar liggaam so sorgvuldig, amper kunstig, gerangskik? En hoekom is haar rekenaar se geheue voor die tyd so sorgvuldig skoongevee?

Vlakwater

Ingrid Winterbach

’n Buitengewone avontuur – iets verrrassends en nuut in Winterbach se oeuvre. – Thys Human Die middag kry Niek ’n poskaart in sy posbus. Dis ’n afbeelding van El Greco se skildery van Vincenzo Anastagi. Die boodskap agterop lui: Enige ekstra eksemplare van Vlakwater? V.S. V.S., nè?! Dit kan net Viktor Schoeman wees. ’n Suid-Afrikaanse posseël. Hier gepos dus. Dit voorspel niks goeds nie. Ná die verbrokkeling van sy verhouding vestig die kunstenaar Niek Steyn hom in Kaapstad. Wanneer een van Marthinus Scheepers se varke in Niek se tuin beland, raak hulle bevriend. Charelle Koopman, ’n belowende fotografiestudent wat by Niek loseer, verdwyn eendag sonder waarskuwing, en ’n welaf kunstenaar maak ’n verdagte aanbod op Niek se huis. Op Stellenbosch skryf ’n vrou met ’n haaslip ’n monografie oor die videokuns van die Olivier-broers, en word op ’n dag ooggetuie van ’n moord. Kort hierna nader ’n holwangkêrel met ’n maniese blik in sy oë haar met ’n vreemde voorstel . . .

Judaskus

Rudie van Rensburg

Iemand se beendere word gevind op ’n stortingsterrein . . . Skielik moet kaptein Kassie Kasselman nuut dink oor moordsake van jare gelede, en die moorde kom vinnig opmekaar. Tussendeur die aantreklike nuwe buurvrou wat Kassie aan die swymel het, en sy enorme posseël-meevaller weens nóg ’n sterfte, moet hy uitwerk waarom ’n geheimsinnige witboordjie-bende van binne uitgeroei word. Is dit dalk nié doodgewone bende-oorlog soos Kassie se kollegas glo nie? Wie kan die verraaier in hul midde wees − die een met die vlymskerp broodmes? Elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op, en Kassie en Rooi kan nie voorbly nie . . .

Boomkastele

Schalk Schoombie

Dit het begin met ’n wit moerbeiboom en ’n witstinkhoutboom. Hartvormige blaar en blinkgroen dunblaar. Celtis africana en Morus alba. Twee reuse wat drie meter uitmekaar geplant is en met verloop van dekades inmekaar gewroet het. ’n Afgetrede navorser sweer wraak nadat sy buurman twee reusagtige bome tussen hul erwe laat afkap. Terselfdertyd kom ’n Johannesburgse misdaadverslaggewer op die spoor van die berugte Sirkelman, ’n graffiti-kunstenaar wat Da Vinci se Vitruviaanse Man op geheimsinnige wyse op stadsmure aanbring. Die spoor lei uiteindelik na ’n bouval in Hillbrow . . . maar wat het ’n magdom verstrengelde stories en raaisels werklik met mekaar gemeen? ’n Verhaal oor monsterbome, scammers, sonde met die bure, donker perde – en die absurde.

Ikarus

Deon Meyer

Op 17 Desember spoel die lyk van Ernst Richter oop in die duine anderkant Parklands – dié Ernst Richter, berugte internet-entrepreneur, baas van die omstrede webwerf Alibi.co.za, wat ’n maand gelede so onverklaarbaar en sensasioneel verdwyn het. Selfs in normale omstandighede sou die Valke Bennie Griessel en Vaughn Cupido gesukkel het – by Alibi.co.za lieg almal soos tannetrekkers. Maar die omstandighede is nie normaal nie. Want Griessel het weer aan die suip gegaan. En Cupido is verlief. Op een van die verdagtes. En op 24 Desember begin ’n jong wynboer bieg voor ’n advokaat in Kaapstad, wat die hele saak op sy kop keer. Kersfees sal nooit weer dieselfde wees nie.

Infanta

Deon Meyer

“My naam is Bennie Griessel en ek is ’n alkoholis.” “Hallo, Bennie,” sê die twee en dertig stemme in ’n blymoedige koor. “Ek het gisteraand ’n bottel Jack Daniel’s uitgesuip en my vrou geslaan. Sy het my vanoggend uit die huis uit gesit. Ek is nou een dag sonder drank. Ek is hier omdat ek nie my drinkery kan beheer nie. Ek is hier omdat ek my vrou en my kinders en my lewe wil terughê.” Terwyl hy die desperate vasberadenheid in sy eie stem hoor, begin iemand hande klap en dan dawer dit in die afgeleefde kerksaaltjie. Maar om sy lewe terug te kry, moet speurder-inspekteur Griessel van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid eers vir Artemis keer: die vigilante wat die doodstraf teruggebring het, wat besig is om misdaad teen kinders met ’n lang lem en ’n skrikwekkende meedoënloosheid te wreek. En met die media wat skree, die politici wat druk toepas, ’n span onbeholpe jong speurders en verskeie kollegas wat hom in die rug steek, stel Bennie Griessel ’n lokval. Maar hy het nie rekening gehou met die liefde van ’n sekswerker vir haar kind, die haat van die Sangrenegra-dwelmkartel en sy eie smagting na die helende kragte van die bottel nie.

Ester

Kerneels Breytenbach

’n Meesleurende roman oor ’n verbode passie en ’n politieke intrige. Dis gebaseer op ’n werklike historiese insident, en die gevolge daarvan: Die ontmoeting in 1940 tussen Dr DF Malan en ’n Duitse spioen, mev Thyra Denk. Nou, in 1946, kry Dieter Bergman, ’n senior polisieman, instruksies om mev Denk per trein van Windhoek na Kaapstad te vergesel, waar sy voor ’n Gekose Komitee van die Parlement moet getuig. As daar bewys kan word dat Malan met die Nazi’s meegewerk het tydens die Tweede Wêreldoorlog, kan hy van hoogverraad aangekla word en sal dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. Tydens die lang reis per trein ontstaan daar ’n verhouding tussen Bergman en die beeldskone spioen. Op die trein is egter ook ene adv Doerkstra. Sy missie: hy moet die spioen in die geheim te sien kry en haar oorrreed om nie met haar getuienis Malan se loopbaan te vernietig nie . . .