Malene Breytenbach

Список книг автора Malene Breytenbach


    My redder, my beminde

    Malene Breytenbach

    Die beeldskone Adela Morgan staan aan die begin van ‘n belowende loopbaan as aktrise in Brittanje, maar dan gebeur iets wat haar toekoms kan kelder. Haar mede-akteur ry byna ‘n ruiter raak en bots sy sportmotor, met Adela in die passasiersitplek, teen ‘n boom. Adela is beseer en het ’n diep sny oor haar wang wat sekerlik ‘n letsel sal laat. Dan stel die ongedeerde ruiter homself as dokter James Beresford, ‘n plastiese chirurg, voor. Hy bied aan om haar gesig by sy kliniek te behandel sodat die sny daarna byna onsigbaar sal wees. Adela voel veilig by die lang donkerkopman wat boonop, soos sy, ‘n immigrant van Suid-Afrika is. Maar by die luukse kliniek kry Adela te doen met katterige vrouens wat om James se aandag meeding. En wanneer Adela ongewenste media-belangstelling na die kliniek trek, lyk dit asof dinge nooit tussen haar en James sal werk nie. Die dokter is gesteld op privaatheid, maar enigeen wat by Adela betrokke raak, sal gereed moet wees vir ‘n lewe in die kollig.

    Hoe kwesbaar die hart

    Malene Breytenbach

    In Hoe kwesbaar die hart vertrou dokter Brenda Wiechers nie aantreklike mans nie. Daarom onderdruk sy die gevoelens wat die dodelik aantreklike dokter Charl Naudé in haar wakker maak. Hy is boonop getroud, des te meer rede vir Brenda om hom te vermy. Tog kom sy mettertyd agter dat daar ʼn ánder storie agter sy suksesvolle uiterlike lê.

    Hartklop Omnibus 1

    Malene Breytenbach

    In Hoe kwesbaar die hart vertrou dokter Brenda Wiechers nie aantreklike mans nie. Daarom onderdruk sy die gevoelens wat die dodelik aantreklike dokter Charl Naudé in haar wakker maak. Hy is boonop getroud, des te meer rede vir Brenda om hom te vermy. Tog kom sy mettertyd agter dat daar ʼn ánder storie agter sy suksesvolle uiterlike lê. In Dokter van drome moet Anastasia de Wit desnoods vir die plastiese chirurg dokter Juan Harmse werk. Wat haar betref, is hy bloot ʼn aantreklike geldwolf wat vroue se ydelheid uitbuit en al die pad bank toe lag. Daar is ʼn gedrewe passie in hom wat haar bang – en ook opgewonde – maak… In Tango met ʼn chirurg is mediese student Salome keelvol vir alles en almal by Chirurgie: Hoekom is die briljante maar befoeterde dr. Bart de Lange, haar studieleier, so snaaks met haar – en dit terwyl sy net oë het vir hom? En professor Tjaart Dekker? Wat voer hy in die mou met al sy bedekte insinuasies? Daarom wend sy haar tot die een ding wat sy kán doen – tango.

    Met die oog op liefde

    Malene Breytenbach

    Jong dokter Naomi Harker doen aansoek om werk op ’n mobiele oogkliniek, en reeds tydens haar onderhoud is sy diep aangetrokke tot die trein se hoofspesialis, die uiters aantreklike Tony Baxter. Sy is verheug toe sy gekeur word, maar van meet af aan is daar wrywing op die oogtrein: Naomi se eks werk ook as spesialis daar, en sy jaloesie oor Naomi en Tony se goeie werksverhouding is duidelik te sien. En dan is daar die apteker, wat weer een van Tony se ekse is . . . Alles kan egter nog gaan tot hulle Louis Trichardt bereik. Daar verleen Tony en Naomi hulp aan ’n vlugteling-gesin van Zimbabwe, en die gevaar van dié middernagtelike avonture vorm ’n hegte band tussen hulle twee, wat verdiep wanneer die trein se mense later by die Baxters se familieplaas uitspan. Naomi bly egter huiwerig om haar ware gevoelens vir Tony te wys, want hoe kan ’n adonis soos hy werklik in so ’n doodgewone vrou belangstel? Sal die oogtrein se spore vir Naomi na ware liefde lei, of is daar net te veel duwweltjies in die pad?

    Eiland van drome

    Malene Breytenbach

    Wanneer Irene Basson, ’n bekwame jong psigiater van Kaapstad, deur haar baas, Nicholas Barton, kleinseun van die skatryk Georgios Nikos, gevra word om ’n posisie te aanvaar by sy familie se nuwe luuksekliniek op ’n Griekse eiland, stem sy ná oorweging in – wie sal só ’n glansryke lewe nou versmaai? Aanvanklik is sy en Nicholas op formele voet. Wanneer hy egter vir Irene vra om sy halfbroer Gary, wat met skisofreniese steuring gediagnoseer is, te behandel, leer sy hom en die glansryke Nikos-familie beter ken. Dan daag Irene se voormalige pasiënt, die oorlogskorrespondent Bob Butcher, by die kliniek op. Nét Irene mag sy behandeling vir posttraumatiese stres verder hanteer, en hy is duidelik persoonlik te geheg aan haar. Terwyl Bob struweling tussen Irene en Nic veroorsaak, leer Irene ook meer van die Nikos-clan se troebel familieverhoudinge. En móét daar tog soveel vroue om die aantreklike Nic draai? Wanneer Irene hom verdink van ’n affair met ’n bekende aktrise en pasiënt, struikel die nuwe verhouding tussen haar en Nic byna. Sal hierdie haakplek, en Bob se voorbarigheid, nie dalk genoeg wees om sake tussen hulle twee te laat skipbreuk ly nie? En dan’s daar nog Georgios Nikos se familiedinge …

    Locum vir liefde

    Malene Breytenbach

    Laura het onlangs weduwee geword, en die Russiese skeepsreis na St. Petersburg was veronderstel om haar wonde te help heel. In plaas daarvan is daar die sjarmante dog lastige skeepsdokter Andrei en haar ontstemmende Ierse reisgenote, en veral Kyle Barrymore met sy bloubloed-verloofde. Maar ná die kort reis is dit alles iets van die verlede; sy sal Kyle nooit weer sien nie. Tot sy ’n locum-pos in Ierland aanvaar om van haar hartseer te probeer ontvlug. Ten spyte van al haar reëlings, wat ontwerp was om Kyle te vermy in sy tuisland, beland sy tog in sy dampkring. Binnekort leer sy hoe die omstandighede in Ierland met menselewens kan werk wanneer bomme in Derry ontplof en die Barrymore-familie, wat sy intussen leer ken het, ook onder skoot kom. In die vreemde stad en tussen mediese mense van allerlei lande – maar ook die Suid-Afrikaanse dokter Ertjies du Plessis, wat sy belangstelling in Laura baie duidelik maak – moet sy haar hart oppas en haarself gedurig herinner aan die ander vroue in Kyle se lewe. Dan kom haar eie lewe boonop in gevaar, en sy leer die krag van vrouejaloesie . . . maar ook van ware liefde.

    Dokter van ver

    Malene Breytenbach

    By ’n gedenkdiens vir Italiaanse krygsgevangenes in Suid-Afrika ontmoet dokter Rafaella Continari die oorrompelende dokter Giulio di Mareneschi. Hy is op besoek in die land en ná ’n kort kennismaking moet hy terug Italië toe. Maar nie voordat Rafaella en haar ouers na sy familielandgoed op die Italiaanse platteland genooi is nie . . .Later gaan Rafaella en haar ouers Italië toe sodat haar ma op die Di Mareneschi’s se landgoed, waar daar ’n nuwe rusoord is, kan gaan rus ná borskanker-behandeling. Hier ontmoet Rafaella die sjarmante maar opdringerige operaster Luigi, Giulio se broer, asook die pragtige jong erfgenaam wat dink Giulio behoort aan háár. Luigi en Giulio het ’n geskiedenis van wedywer om ’n vrou. Sal Rafaella en Luigi se verhouding vlamvat, soos die arrogante Luigi glo, of is Giulio die regte dokter vir Rafaella se hart?

    Bloedgrond

    Malene Breytenbach

    Grondeise tref die gemeenskap van Nieu-Skotland in Mpumalanga. Dit, en die ou seer van die uitwissing van ’n gesin, het almal op hol: Daar’s stadskind Erin wat nou haar familie moet kom ondersteun, oud-soldaat Andrew Buchanan, wie se gesin jare gelede uitsonderlik wreed uitgemoor is, die plaasadel-MacFarlanes met hul spogplase, wrokkige werkers met verbintenisse in hoë plekke en die plaaslike polisiediens – nie aldag ewe bedrewe of eerlik nie, maar sersant Elsie Redelinghuys vat nie nonsens nie.Dan word ’n bekende boer vermoor. Is dit ’n “gewone plaasmoord”, verbind aan die smagting na land, ’n plekkie van jou eie – of skuil hier iets anders? Waarom is die grond van Nieu-Skotland so deurdrenk van bloed?

    Hartstog op see

    Malene Breytenbach

    Nuweling-skeepsverpleegster Justine was allermins op ’n manvang-missie toe sy die pos op die luukseskip die Moon Goddess aanvaar het. Sy wil ’n bietjie die wêreld sien en interessante mense ontmoet – en, as sy eerlik is, ontsnap van haar dokter-eks, Jacques. Maar wat gebeur sodra sy aan boord stap? Dis net mans oral: die sexy Griekse eerste-offisier George Klopas, vrolike offisier Jim Sylvester, wat dadelik ’n ogie op haar het, die gladde Ierse dobbelaar Pat O’Neil, en haar belangrikste pasiënt, sir Geoffrey Percy en sy snobistiese familie wat saam reis. Natuurlik is daar ook die onweerstaanbare hoofdokter, Ruben Barnard, maar hy is heeltemal onbeskikbaar. Al is dit ook juis hý wat Justine bevriend en haar hart so vinnig laat klop . . . Spoedig is Justine betrokke in die mengelmoes verhoudings wat op so ’n vakansieskip kan ontstaan. Daar’s mans wat vra om met haar te trou, skimme uit haar verlede wat hoogs onverwags opdaag, en boonop lastige passasiers wat links en regs verlief raak op mediese personeel. Dit alles teen die romantiese agtergrond van ’n Mediterreense skeepsvaart. Hoe gaan Justine se hart dit hou?

    In jou hande

    Malene Breytenbach

    Die jong fisioterapeut Michelle Judson beseer haar hande in ’n ernstige ongeluk wat haar vriendin, Sunette, in ’n koma laat. Met elke operasie wat sy ondergaan, word Michelle meer depressief, want dit was sý wat die motor bestuur het. Gelukkig het dokter Douw Hefer, haar chirurg, verbasende empatie met haar. Hy het immers self tragedie ervaar. Teen haar sin raak Michelle aangetrokke tot die aantreklike chirurg. Maar Douw blyk klaar ‘n vrou in sy lewe te hê: Annette – die sielkundige wat Michelle vir depressie behandel. En dan gooi Michelle se beeldskone, bedorwe stiefsuster, Nicci, ook nog haar flikkers vir hom. . .