Название | Veldiep |
---|---|
Автор произведения | Fanie Viljoen |
Жанр | Учебная литература |
Серия | |
Издательство | Учебная литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624085386 |
In sy kop woed ’n storm van gedagtes. Elkeen van hulle draai om Jess. Hy wil haar wegdink, maar so maklik is dit nie om van iemand ontslae te raak nie.
Hy trek al halfpad bushalte toe toe Edgar aangedraf kom. “Ons moet praat,” sê hy.
“Nie nou nie, Edgar. Ek gaan laat wees vir die bus.”
“Wat de hel is dit met jou, hè?” Edgar ruk hom aan sy tas se skouerband terug toe Tim vooruit wil loop. “Ek gaan nie soos ’n flippen desperate brak agter jou aanhol nie. Staan stil en vertel my. Jy het in die klas gesê ons praat later. Dit is nóú later. Praat!”
Tim sug. Hy draai na sy vriend toe. Hy het nie die woorde nie, en selfs al het hy gehad, kan hy hulle nie sê nie.
“Los my net ’n bietjie uit, oukei, Edgar?” vra hy sag. Hy probeer gerusstellend glimlag, want hy sien die kommer op Edgar se gesig.
“Is dit jou ma-hulle?” vra Edgar.
“Nee, hulle is oukei.”
“Iets by die skool?”
Tim skud sy kop. “Ek moet regtig nou gaan, die bus gaan ry en dan moet ek landgoed toe loop.”
“Dan is dit Jessica.”
“Drop dit net, oukei?” Tim voel of hy kan bars by die aanhoor van haar naam. Al die asem pers uit sy lyf soos die keer toe hy van sy perd, Apollo, afgeval het.
Dit het so vinnig gebeur. Hy het wind-uit op die grond gelê en geveg om asem.
Apollo het weggehol.
Na ’n ruk het klein teugies suurstof hortend begin deurkom. Dit was ook net betyds, anders sou Tim sy bewussyn verloor het, het hy later gehoor. Elke asemteug het hy dankbaar ontvang. Sy bors het geruk soos sy longe weer vol trek.
Hy het gedink hy gaan dood, maar dalk was dít nie hoe dood voel nie.
Dalk gaan ’n mens nie so maklik na die blou dak toe nie. Miskien wil ons net hê dit moet makliker wees, amper soos ’n noodknoppie wat jy druk wanneer jy uit hierdie lewe moet ontsnap.
Veral op dae soos vandag.
3
MUSIEK LAAT JOU ONTHOU
“Wil jy nie maar nog ’n paar snye brood vat nie, Tim? Ek is nie regtig honger nie,” bied Marli sarkasties aan.
Tim kyk vererg na sy jonger suster. “Daar is seker darem nog brood in die broodblik,” sê hy afgetrokke en sit nog twee snye brood in die rooster. Hy druk die handvatsel af en die brood sak weg in die warm binnekant van die broodrooster.
Hy het reeds ’n paar geëet en begin solank die twee snye wat hy pas uitgehaal het, botter smeer. Hy hou nie van konfyt of kaas of goed op sy roosterbrood nie. Net souterige warm botter. Saam met sterk koffie is dit koning. Vandag is dit boonop trooskos.
“Skies, ek wou nie lelik wees nie,” sê Marli. “Maar jy moet ’n bietjie aan ander mense ook dink.”
“Sorry, Marli. Vat jy daardie snye in die rooster wanneer hulle reg is.” Hy draai sy rug op haar en vat ’n hap van die roosterbrood met botter.
Marli vee ’n sliert blonde hare agter haar oor in. “Is jy oukei, Tim?” vra sy na ’n ruk.
“Sê maar so.” Hy draai na haar, maar probeer om die kommer in haar blou oë mis te kyk. “Ek gaan in die kamer eet.”
Hy wil nie praat nie. Hy kan nie hieroor praat nie. Netnou bars hy voor sy suster in trane uit. Hoe simpel sal dit nie wees nie?
“O ja, ek het môremiddag modelklasse as jy wil saamry,” roep sy agter hom aan. “Die sportwinkel daar naby het glo nuwe stuff gekry. Dalk wil jy gaan kyk. Lara se ma kom ons haal.”
“Ek sal daaroor dink, dankie,” kry hy met moeite uit.
Ingedagte gaan sit hy by sy rekenaar. Die kamerdeur is toe. Langs die rekenaarskerm staan die klein Batman-figuurtjie wat hy by Jess gekry het.
Hulle het altyd graag vir mekaar goed gegee. Sy het gehou van handgemaakte teddiebere en funky T-hemde, hy van strokiesprente, maar ook T-hemde.
Daar is ’n winkel in die stad wat die coolste vintage-klere verkoop. Jess het graag daar gesnuffel. As Tim sien sy hou van iets, het hy nie gehuiwer om dit vir haar te koop nie. Hy sou later teruggaan sodat hy haar daarmee kon verras.
Sy was nooit regtig iemand wat van blomme en sjokolade gehou het nie. Verder het hy haar bederf met goed soos die piekniek of ’n fliekaand.
Maar dit was nie genoeg nie.
Onsiende tuur Tim voor hom uit. Met ’n ping-geluid kondig sy rekenaar ’n nuwe e-pos aan, maar hy het nie eens lus om daarna te kyk nie.
Hy sit eerder musiek op sy selfoon aan. Die Beats Bluetooth-luidspreker stoot Spoegwolf se eerste klanke deur die kamer. Tim skuif die volume hoër. Dis die liedjie waarvan Jessica ook gehou het. Sy het nog so lekker daarop gedans.
Hy luister net na die eerste paar reëls, want skielik maak die onthou te seer. Hy spring na die volgende liedjie. Sy het van hierdie een ook gehou. Flippit, sy het van die hele album gehou.
Hy ook, maar nou gaan dit anders wees: elke keer wanneer hy na Spoegwolf se musiek luister, gaan hy aan haar dink.
Tim pluk sy skoene uit. Hy skop hulle bedkassie toe, en trek sy kouse en skoolklere ook uit. Hy gryp jeans, sy blou T-hemp met die motorfiets-ontwerp en sy tekkies uit die kas.
Terwyl hy aantrek, vang sy oog sy weerkaatsing in die spieël. Hy wil sy vingers deur sy koffiebruin hare laat gly sodat dit beter lyk, maar dan dink hy: Hoekom? Flippen hoekom? Dit maak nie saak of sy hare netjies is of soos dié van ’n willewragtige trol lyk nie.
Ingedagte gryp hy sy selfoon en pluk die kamerdeur oop. Spoegwolf se musiek stroom deur die hele huis.
Marli sit nog by die kombuistoonbank op een die hoë stoele toe hy verbykom. Haar roosterbrood is gelaai met vyekonfyt en kaas. “Waarheen is jy op pad?” vra sy. “Ma-hulle sal wil weet.”
“Ek gaan na Apollo toe,” sê hy oor sy skouer.
“Dit lyk nogal of jy dit nodig het.”
“Hoe bedoel jy?”
“As jy by jou perd was, is die kaste in jou kop weer netjieser reggepak.”
Tim glimlag effens. Sy suster is nogal reg.
4
APOLLO
Chantel Botha is besig om haar perd Comet te roskam toe Tim by die stalle aankom. Hier is ander mense ook: ’n Paar perdeversorgers dra water aan, en ’n man met ’n laphoed sny die gras voor die stalle. Om die grasperk strek die stewige klipmure van die stalle, die tuigkamer en ’n snoepie. Twee oefenkampe staan skuins voor die stalle.
Dit is Tim se tweede huis, sy wegkomplek.
Dit was ’n lang ent se stap deur die veld tot hier. Hy is nou al goed dors.
“Hi, Tim,” groet Chantel toe hy ’n sluk water by die kraan gaan drink. “Dis lekker om jou te sien.”
Chantel se lang swart hare blink in die middagson. Sy gee haar perd nog ’n paar borselhale en stap dan nader. Haar vosperd kap met sy voorpoot op die grond omdat hy nie meer aandag kry nie. Comet is ’n Amerikaanse saalperd waarop Chantel op die landgoed rondry. Hulle het ook twee warmbloedperde: Kutch en Flexor wat hulle net vir dressering gebruik.
Dressage, soos Chantel dit altyd noem.
“Hi, Chantel,” sê Tim. “Het jy klaar gery?”
“Jip.” Sy kom tot voor hom.
Haar houding verklap dat sy ook ’n model is, nes Tim se sussie. Daar is ’n effense draai aan haar skouers en heupe