Ys. Rudie van Rensburg

Читать онлайн.
Название Ys
Автор произведения Rudie van Rensburg
Жанр Триллеры
Серия
Издательство Триллеры
Год выпуска 0
isbn 9780795801518



Скачать книгу

in so ’n kort tydjie.”

      “Ek weet. Maar daarom is my kliënt bereid om so goed te betaal.”

      Die keep op Viking se voorkop verdwyn vinnig. Hy steek sy hand na Willie uit. “Oukei, ons het ’n deal.”

      Willie ignoreer die gebaar. “Jy’t my nog nie vertel van die partner wat jy én ek kan vertrou nie.”

      “Buiten jou ken ek net een man wat ek met my lewe trust. Hy’t in jou plek saam met my by die Skerpioene gewerk. Toe ek die pakket moes vat, is hy Valke toe.” Viking glimlag. “Maar nes ek is hy ook nou werkloos en fokken hard up vir geld.”

      “Ken ek hom?”

      “Dink nie so nie. Hulle’t hom van Mitchells Plain se stasie af gekry om die Skerpioene te join. ’n Paar jaar terug is hy by die Valke gefire omdat hy kwansuis met een van die vroue daar gelol het. Sexual harassment, maar hy’t vir my gesê die vrou was agter sý lyf aan. En toe hy haar moer toe stuur omdat hy happily married is, gaan fabricate sy stories.” Viking skud sy kop. “Geen geregtigheid meer in hierdie fokken land nie.”

      “Wie’s hy?”

      “Elton … Elton Fortuin. Hy was destyds ’n kaptein.”

      4

      Van: Jack MacArthur

      Aan: Mickey Rogers

      Mickey, ek verneem van een van my kollegas in die energiekomitee dat jy oortuig is die ryk oliebronne in Arktika is nie nou al ’n prioriteitsaak vir ander lande nie. Ek verskil ernstig. Die Russe het al in 2007 met ’n duikboot ’n Russiese vlag op die Arktiese seebodem gehys. Hulle is meer as enige ander land besig om kleims af te steek in die ondersese gebiede. Kanada het reeds ’n seehawe aan die mees noordelike punt van Baffin-eiland gebou. Dis kwansuis ’n militêre basis, maar onlangse CIA-inligting dui op bedrywighede eie aan olie-eksplorasie. Ook Groenland maak amptelik aanspraak op sowat 1,2 miljoen vierkante kilometer van die Noordpool-gebied. Ons kan nie bekostig om langer te talm nie. ’n Ja-stem vir ons voorgestelde wetswysigings is die eerste stap in die regte rigting.

      * * *

      Colyn en Piedt is reeds in die konferensielokaal toe Kassie en Rooi instap.

      “Jis, jis,” groet Rooi. “Hoe gaan dit vandag?”

      “Bestendig,” mompel Colyn, ’n lang, skraal kaptein van Kassie se jare, wat altyd lyk asof hy ’n swaar las op sy smal skouers dra. Sy sidekick, adjudant-offisier Piedt, glimlag net onderlangs terwyl hy oor sy ken streel. Dié gewoonte gaan oor in versnelde aksie wanneer die brigadier teenwoordig is, het Kassie al opgemerk.

      “Waar’s Malabe en Britz?” vra Rooi.

      “Pretoria toe,” sê Piedt. “Het glo met mense gaan chat wat vrinne was van die moordenaar op wie se case hulle werk.”

      Hulle sit in doodse stilte en wag op brigadier Fortuin. Kassie draai die proppie van sy Creme Soda oop en neem ’n sluk. Die gedempte atmosfeer stem hom onrustig. By Nuweland se terugvoersessies moes kolonel Daniels altyd sy stem verhef om die groep speurders tot bedaring te bring.

      Sy nuwe kollegas is ’n klomp suutjiespoepers, dink hy. Glad nie te vereenselwig met hoogs bekwame speurders wat almal van spesialiseenhede oorgeplaas is nie, soos die kolonel hom destyds met die werwing van die Spookeenheid verseker het. Hy het selfversekerde en luidrugtige kollegas verwag.

      Almal skuif reg in hulle stoele toe brigadier Fortuin inkom.

      Kassie hou haar onderlangs dop terwyl sy haar plek aan die hoof van die tafel inneem. Sy is ’n aantreklike vrou met pikswart hare en die gelaatstrekke van ’n Egiptiese skoonheid, maar vandag het sy ’n geswelde regterwang met ’n erg onooglike blou kol.

      “Sjoe, lyk my brigadier het seergekry,” sê Rooi.

      Sy kyk met yskoue oë na hom. “Ek het op die nat badkamervloer gegly en met my gesig teen die bad se rand geval.”

      Hy skud sy kop simpatiek. “So ’n nat vloer kan …”

      “Kom ons begin,” onderbreek sy hom bars. “Enige vordering, Colyn?”

      Colyn maak keelskoon. “Die patoloog se verslag het vanoggend gekom en …”

      “Hoekom moes ons so lank daarvoor wag? Die SGU is veronderstel om in alle gevalle voorkeurbehandeling te kry.”

      “Ek het hom gedruk, maar hy …”

      “Nie aanvaarbaar nie, kaptein Colyn! Jy moes my kom sê het sodat ek sy gat kon skop.”

      Colyn glimlag verleë. “Ek sal dit in die toekoms onthou, brigadier.”

      Haar uitdrukking bly koud en Kassie sien skrams hoe Piedt sy ken teen ’n asembenemende spoed poets. Die twee is skytbang vir haar, dink hy.

      “Die patoloog se bevinding is dat die moordenaar sy arm om Dippenaar se nek gehad het,” vervolg Colyn. “Só het hy drukking op die kopslagaar geplaas.” Hy kyk vlugtig na die verslag voor hom op die tafel. “Dis waar die baro- en chemoreseptors voorkom en dit speel ’n rol by die bloeddruk en hartklop. Die drukking het ’n hartaanval veroorsaak.”

      Die brigadier frons. “En julle het aanvanklik gedink hy’s verwurg?”

      “Wel, dit was ons eerste …”

      “Daar kon dus nie vingermerke aan sy nek gewees het nie. Hoekom het julle daardie afleiding gemaak? Dit verander die hele prentjie.”

      “Daar wás nie vingermerke nie, maar ek verstaan nie hoe dit die hele prentjie …”

      “Verwurging sou op ’n doelbewuste poging tot moord dui, maar die patoloog se bevinding sê vir my iemand het met Dippenaar gestoei. Dit kon een van sy beleggers gewees het wat in ’n woordewisseling met hom betrokke geraak het en toe het daar ’n stoeiery ontstaan. Daar was dus nie voorbedagte rade nie. Dit dui op ’n ongeluk wat nie aangemeld is nie, eerder as moord.”

      “Wel, dis seker so, maar …”

      “Dit verander die hele aard van die ondersoek. Julle sal nou baie wyer moet kyk vir ’n verdagte. Tot dusver het julle gefokus op beleggers wat al die wet oortree het. Nou sal julle na ál die beleggers moet kyk, behalwe dié wat te oud is om in so ’n stoeiery met Dippenaar betrokke te raak.”

      Hierdie girl is vlymskerp, dink Kassie. En sy vat nie kak van kabouters nie.

      Die brigadier staan op. “Laat kaptein Kasselman en sersant Els julle help om deur die beleggerslys te werk totdat hulle eendag ’n saak van hul eie kry.”

      * * *

      Frankie teken op die kaartjiestelsel die boeke aan wat hy in sy weeklikse selrondte by die gevangenes teruggekry het. Hy begin om die boeke op hulle regte plekke in die rakke te pak, maar blaai eers deur elkeen om seker te maak daar’s nie bladsye uitgeskeur nie. Die boeke word sommer maklik verniel vir zolpapier.

      Of sy plaasvervanger die tronkbiblioteek met dieselfde noukeurigheid gaan bestuur, betwyfel hy. Hy kon gou agterkom die knaap het nie sy aanvoeling of liefde vir boeke nie. Nie dat hy slapelose nagte daaroor gaan hê nie. Wanneer hy oor vyf dae hier uitstap, gaan hy sy tronkervaring diep begrawe. Die toekoms saam met Sue is al wat nou tel. Dít en sy boekwinkel.

      “Frankie’s Bookshop,” prewel hy saggies.

      Hy weet nou dat Ludick hom nie kan verbied om sy droom te verwesenlik nie. Volgens Smittie, wat al die vryheid van parool gesmaak het, kan Frankie hom op die paroolraad beroep as Ludick nie sy houding verander nie.

      “Ek het my eie backyard business gerun, weet jy. Motorbikes, grassnyers en fridges geservice. My parole officer was vir jou impressed, hoor! Hy’t nog gesê die parole board like dit dat ek vir myself ’n income generate.”

      Frankie sal môre in sy belbeurt vir Sue sê sy moet die ou tannie se boeke gaan koop. Volgens haar staan die spaarkamer al toegepak met boeke wat sy deur die jare aangeskaf het. En dis nie rubbish nie. Sy’t getrou vir