.

Читать онлайн.
Название
Автор произведения
Жанр
Серия
Издательство
Год выпуска
isbn



Скачать книгу

hoofkantoor in Montague Gardens bestaan uit ’n paar administratiewe kantore, ’n ruim laboratorium, pakstoor en piepklein drukkery waar die verpakkingsmateriaal vir die wettige medisyne geproduseer word.

      As een van die klein farmaseutiese maatskappye in die land weet Claus hulle sou lankal die deure moes sluit of dramaties afskaal as wettige medisyne hulle kernbesigheid was. Maar met kreatiewe boekhouding subsidieer die grys been die moedermaatskappy – iets wat hom baie senuweeagtig maak. As daar ooit vrae oor Prins Pharmaceuticals se inkomste sou ontstaan, kan ’n deeglike oudit hulle kelder. Al rede waarom hulle nog met die gekookte syfers wegkom, is omdat die maatskappy jaarliks ’n gesonde wins wys, waarvan die Ontvanger sy sappige hap vat.

      Claus sal egter nooit kan wegdoen met die moedermaatskappy en net op die grys been konsentreer nie, want sonder die skans van die hoofkantoor in Montugue Gardens sal hul besigheid net té riskant wees. Die verspreiding van grys produkte in Afrika geskied onder die dekmantel van Prins Pharmaceuticals se wettige produkte. Uitvoere is net soveel makliker in die naam van ’n geregistreerde farmaseutiese maatskappy. Dit vergemaklik ook die taak van die string korrupte doeanebeamptes in Afrika – Claus noem hulle Ivan se Army – om die besendings sonder deeglike inspeksie die groen lig te gee.

      Wanneer die medisyne deur doeane is, word die wettige en grys produkte geskei. Die muile tel hul grys buit op en versprei dit deur die nieamptelike strukture. Alles tesaam is dit ’n waterdigte en uiters winsgewende sakeplan.

      Tot Fred Smuts die teendeel bewys het. Claus het wel nou gemoedsrus dat Smuts se moordondersoek nie na Prins Pharmaceuticals teruggespeur kan word nie, maar wie sê daar is nie ’n ander wetter wat in die toekoms snuf in die neus kan kry nie?

      Die kernafdelings van hul grys been in Parow en Paardeneiland – die Polkadot-handelsdrukkery, Waste Specialists en die pakstoor/ laboratorium wat as ’n afvalmetaalbergplek in die Geel Bladsye gelys is – kan met min moeite na die eienaar, Herklaas Prinsloo, getrace word. Maar dit gee Claus nie slapelose nagte nie. Die departement van binnelandse sake het destyds met sy naamsverandering ’n boggherop gemaak deur nie sy Herklaas Prinsloo-identiteit te skrap nie, en gevolglik is hy die houer van twee ID’s. Met die Prinsloo-naam kan hy die grys maatskappye inspan om dinge te doen wat andersins nie moontlik sou wees nie, soos geldwassery wat hul onwettige inkomste wettig maak.

      Boonop sal dit bitter moeilik vir die polisie of enigiemand anders wees om op Claus se spoor te kom deur die naam Herklaas Prinsloo. ’n Ou huisadres van sy oorlede oom en twee vals telefoonnommers is die enigste kontakbesonderhede gelys onder dié naam.

      Maar die wete dat Fred Smuts ’n verband tussen Polkadot en Prins Pharmaceuticals gekry het en op die punt was om hulle hele operasie te ontbloot, knaag onophoudelik aan Claus. Hy sal ’n meesterplan moet uitwerk wat hom en Macy genoeg tyd sal gee om oor die grens te verdwyn as die pawpaw ooit die fan strike. Brian en Ivan is groot genoeg om vir hulleself te sorg.

      * * *

      Die landlyn in Kassie se woonstel lui toe hy die voordeur oopmaak.

      Hy draf studeerkamer toe, swets toe hy die gangtafeltjie omstamp en oor ’n hoop bokse op die vloer struikel. Hy pluk die gehoorbuis van die mik af.

      “Hallo, Seunie,” kom sy ma se stem krakerig oor die lyn. “Hoe gaan dit met my verlore spruit?”

      Hy voel dadelik skuldig. Was drie weke laas by die ouetehuis.

      “Goed dankie, Ma. Net bitter besig.”

      “Dis nou ’n jammerte. Want ons het jou dienste dringend nodig.”

      “Ons?”

      “Die ouetehuis.”

      “Wat moet ek doen?”

      “Barend se medaljes is gesteel.”

      “Wie’s Barend, Ma?”

      “Barend Erasmus, ’n goeie vriend. Hy bly in dieselfde gang as ek, net drie kamers van my af.”

      “Watse medaljes is dit?”

      “Atletiekmedaljes wat hy desjare gewen het. Hy was nogals ’n Springbok-atleet op sy dag.”

      Kassie sug. “Ma, ek kan julle nie help nie. Julle moet ’n klag van diefstal by die Bellville-polisiestasie aanhangig maak. Hulle sal die skuldige tjop-tjop kry. Seker ’n skoonmaker gewees.”

      “Dit was g’n skoonmaker nie,” sê sy ergerlik. “Dis iemand in ons gang wat die medaljes gesteel …”

      “Ma, ek kan nie help nie. Dis die Bellville-polisie se job.”

      “Hier was ’n konstabeltjie van Bellville by die ouetehuis.” Sy snork. “Nie gelyk of hy iets daaraan gaan doen nie. Hy’t skaars ’n verklaring afgeneem.”

      “Hulle is ook maar besig, Ma. Gee hom kans.”

      “Nee, Seunie, hy gaan g’n die saak oplos nie. Jy sal móét ingryp. Buitendien, ek het hulle klaar belowe jy sal beslis help.”

      “Hoe kon Ma so iets doen!” Kassie wil sy hare uit sy kop trek.

      “Omdat jy ’n goeie speurder is en omdat jy my seun is. En jy sal nóóit toelaat dat ’n dief jou ma se vriende besteel nie. Daarvoor is jy te ’n lojale seun en ’n trotse geregsdienaar.”

      Hy rol sy oë, haal ’n sigaret uit die pakkie en steek dit aan. “Oukei, Ma, ek sal een of ander tyd ’n draai daar maak. Ek’s nou net vrek besig.”

      “Dankie, Seunie. Ek het geweet ek kan op jou staatmaak.”

      Hy vat ’n lang trek. “Bye, Ma.”

      “Seunie, hoe klink dit vir my jy rook weer? Sê tog vir my ek hoor verkeerd!”

      Kassie sit die gehoorbuis neer. Hy loop badkamer toe en druk ’n paar druppels Rescue Remedy op sy tong uit.

      Hoekom kan mense hom nie met rus laat nie? dink hy gebelg. As dit nie ’n oudkollega is wat sy lewe met ’n enkele oproep opfok nie, of ’n bevelvoerder wat hom van rassisme beskuldig nie, is dit sy ma wat sy ritme met ouetehuis-stront versteur.

      14

      Die Pion trek swaar. Die inhoud van die polisiehandleiding loop sy spoke trompop. Dit verniel sy persepsie van homself, krap hom om en verwar hom.

      Is hy regtig gereed om met dié materiaal gekonfronteer te word? wonder hy. Maar vir hoe lank kan hy die spoke nog met slaappille weghou? Sy meditasiemuur verkrummel ook vinnig. Hy móét eenvoudig deurdruk.

      Daarom trek hy die ringlêer nader, klem die armleunings van sy stoel vas en begin lees waar hy laas opgehou het.

      Uretrale erotisme verwys na die plesier wat verkry word deur te urineer, terwyl uretrale retensie soortgelyk is aan die kind wat sy faeces probeer terughou. Kontrole is ook hier ter sprake. Baie van die anaal-sadistiese kenmerke word oorgedra na hierdie fase. Die kind beleef sy urine as ’n gevaarlike gifstof of suur wat in staat is om te vernietig.

      Die Pion se liggaam bewe onbeheers, maar hy dwing homself om voort te gaan.

      Indien daar gevind word dat die verdagte bo-op die lyk, of veral op die gesig, urineer, kan dit beteken dat die verdagte die identiteit (gesig) van sy moeder (vroulike slagoffer) probeer vernietig. Hy kan ook oor die vroulike slagoffer se geslagsdele urineer, wat beteken dat hy baie bedreig voel deur vroue, veral deur vroulike seksualiteit en dit op hierdie wyse probeer vernietig. So ’n persoon kon as kind deur ’n ouer vrou verlei gewees het …

      Die Pion kners op sy tande. Hy kan nie verder lees nie. Die letters op die bladsy sweef voor sy oë rond. Dit maak hom naar.

      ’n Onderdrukte kreet ontsnap deur sy saamgeperste lippe toe hy voel hoe sy onderlyf reageer. Hy skeur die bladsy uit en frommel dit in ’n bondeltjie op, prop dit in sy mond en begin kou. Sy kake maal onverpoos totdat hy die deurweekte stukke papier op die lessenaar uitspoeg.

      “Julle sal my nie as ’n reeksmoordenaar etiketteer nie,” prewel hy. “My omstandighede was anders. Heeltemal anders … anders …