Название | Openbaring |
---|---|
Автор произведения | C. Johan Bakkes |
Жанр | Книги о Путешествиях |
Серия | |
Издательство | Книги о Путешествиях |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780795801136 |
Ons is ingeboek in ’n Fokker 50-vliegtuig op pad na Bahir Dar, so vierhonderd-en-twintig kilometer verder noord. Ek voel min of meer soos in daardie liedjie van Kris Kristofferson, “The last thing to go”. Hy sing van die bokser wat sê: “The first things to go are your reflexes, then your knees and then your friends.” Of so iets. In hierdie stadium hoop ek darem om nog my vriende te hê.
Dan word die vliegtuig vertraag. Ons wag vir die een of ander medereisiger. En ons wag en ons wag. Uiteindelik stap hy ’n uur laat so met ’n swier in en plak homself neer.
Dis toe dat Roland, wat langs my sit, vir my die storie van “Steyntjie” vertel: Dit was skynbaar op ’n SAL-vlug iewers heen. So is die vliegtuig ook vertraag, bloot omdat die een of ander bliksem nie na die lughaweaankondigings geluister het nie. Uiteindelik stap die man die moerige vliegtuig-sitruim binne. Almal kan sien hy’s stewig onder die prop. Afleiding: hy’t êrens op die lughawe in ’n kuierplek verstrengel geraak. Met sy instap, beur en druk die turbines al. Almal is al gereed en ingestrêp.
Oor die interkom kom dit: “Goeiedag, mense, ek is kaptein Steyn. Ons maak verskoning vir die oponthoud as gevolg van die passasier wat laat was. Ons sal probeer om die verlore tyd op te maak, en ons hoop u geniet die vlug.”
Die vliegtuig rol aanloopbaan toe, kaptein Steyn druk daai stok en die vliegtuig storm in die pad af. Toe die wiele lig, toe spring daai laatkommer-passasier so uit sy sitplek uit op en skreeu: “Steek hom, Steyntjie, steek hom!”
Dit het twee lugwaardinne gekos om hom weer te laat sit en hy’t net gelag en ’n dubbel-whiskey bestel.
En vliegvoos foeter ons dieper Ethiopië in. Vir wat?
Nuwejaarsaand op die Rooiplein
How many times in my sorrowful separation
In my wondering fate
Have I thought of you, O Moscow!
Moscow … how much there is in this sound
That flows together for the heart of the Russian!
How much echoes in it!
– Aleksander Poesjkin, Eugene Onegin
Dis drieuur die middag, ná ’n reis van amper twintig uur, dat ek vir die tweede maal in my lewe voet aan wal sit op Moskou se Domodedowo-lughawe.
Tweede maal? Ek het nog altyd aangevoer dat hoewel die wêreld klein is (as jy iemand bekends iewers op ’n vreemde plek raakloop), hy te groot is vir een leeftyd. Die gewone lewe is eenvoudig net te kort om elke plek in die wêreld te beleef. Daarom kan ek dit nie bekostig om vir ’n tweede keer na dieselfde plek toe te gaan nie. Maar daar is twee uitsonderings – Suidwes/Namibië en Rusland. Ek kan dit nie verduidelik nie, maar as daai mense en hulle land eers in jou hart en nerts in is, dan móét jy terug.
Die derde vers van Heinz Klein-Werner se “Das Südwesterlied”, geskoei op die deuntjie van Erwin Rommel se “Panzerlied”, vat op ’n manier die ding vas:
Und kommst du selber in unser Land
und hast seine Weiten gesehen
und hat unsre Sonne ins Herz dir gebrannt,
dann kannst du nicht wieder gehen.
Und sollte man dich fragen:
Was hält dich denn hier fest?
Du könntest nur sagen:
Ich Liebe Südwest!
Ek glo nie ek hoef dit te vertaal nie – lees dit net hardop vir jouself en jy sal verstaan.
Die voordeel van ’n tweede besoek maak dat ons wéét as ons deur Doeane en Aksyns is, sal alles met Russiese presiesheid gereël wees. Sergei Goerkin, ons vriend en organiseerder van ’n vorige ekskursie, vyf jaar gelede, na die Siberiese Altaigebergtes en die ellelange Trans-Siberiese treinrit, sal sorg dat alles foutloos verloop. En dis belangrik, veral in hierdie verskriklike land met sy vreemde Cirilliese skrif en niemand wat Engels kan of wíl praat nie.
Een-een beweeg ons deur Doeane. Grenskruisings was nog altyd vir my ’n nagmerrie – veral as daai geüniformde burokraat jou pasboek in sy hand het. Jy voel totaal uitgelewer aan die ou se bui en hoop van harte hy’t vanoggend met die regte voet uit die kooi geklim.
Weer eens bekyk ek my reisgenote. Buiten Fellies het ons al elkeen vyftig winters agter die blad. Ek en Kalie loop al amper dertig jaar saam. Roland en Fellies is twaalf jaar gelede se toevoeging tot ons reisende vriendekring. Ons het al harde avonture agter die blad en verstaan mekaar. Dít sluit in dat ons mekaar se individuele stront aanvaar en daarmee kan saamleef. Ons raak vir mekaar die hel in, maar kan net so mekaar die volgende dag weer om die hals val. En dis bitter belangrik as jou reise jou na woeste plekke neem – plekke met die risiko dat daar moontlik nie vir jou plek op die terugreis sal wees nie.
Dis interessant hoe ons tog verskil wat die reis betref. Ek en Roland het geen probleem as ons ’n keer of wat iewers in ’n kuierplek met ’n nes PB’s (plaaslike bevolking) opeindig nie. Fellies en by uitstek Kalie hou nie van baie mense nie en as hulle hul sin kon kry, het ons byvoorbeeld vanaand iewers buite Moskou gekamp. Ek geniet die onvoorsiene verandering van oomblik tot oomblik, terwyl Kalie alles in die fynste detail georganiseerd probeer hê. Roland gee nie om wie wat reël nie, solank daar net ordentlike beplanning gedoen is. Dis ’n ou militêre streek: “Know your enemy.” Fellies se uitgangspunt is dat dinge moet werk soos hy glo dit moet werk; en indien nie, dan is daar maniere om dinge in plek te kry, al huur jy die kavallerie in. Ons het egter een ding gemeen: ons het almal reeds genoeg kerke, katedrale, moskees, stoepas en abdye gesien. Hou verby.
Dis koud wanneer ’n vet, toegewikkelde Rus wat Duits praat ons gly-gly deur ys en sneeu na ’n wagtende bussie begelei. Dis so! Sergei, tans iewers in die Wes-Siberiese hoofstad Nowosibirsk, het gesorg.
Moskou met sy tienmiljoen inwoners is groot en uitgesprei, daarom het ek nie ’n idee binne die konsep en groter prentjie van oriëntasie waar ons ons bevind wanneer ons by die luukse Hotel Alfa in Izmailowo afgelaai word nie.
Het ek gesê “luuks”? Daar is nie ’n manier dat ek myself iewers in so ’n plek in Suid-Afrika sou inboek nie – dis eenvoudig buite my beursieverwysing. Oral trippel mooi meisies rond, geklee in skrapse vlootuniforms (dít in die dik koue van ’n Russiese winter). By elke pilaar staan ’n gestrenge KGB-uitsmyter, hande oor sy gesteroïede bors gevou. Ons – opgereisde, verwaarloosde Afrikane in stapbootse – word na luukse kamers ge-eskort. Soos gewoonlik is ek en Kalie kamermaats, en Fellies en Roland sal vir die res van die reis ’n kamer deel.
Opgereis? Watwo! Ons is net vanaand in Moskou. Môre vlieg ons oor drie tydsones wes na Sergei in Nowosibirsk. Moskou se Nuwejaarsnaglewe wag.
Fellies tree as gids op. Eie aan sy aard het hy die Russiese Cirilliese skrif foneties onder die knie gekry. Hy deel selfs vir ons elkeen ’n naamplaatjie uit. Myne lees: ËXAHH3C 6AKK3C. Wat staan vir “Johannes Bakkes”. Hy kan dus Russies lees, maar verstaan nie ’n woord nie.
Plaatjiegepantserd sak ons af in die ondergrondse moltreine in. Fellies het by Pavlo, die kroegman, ons eindbestemming in Cirillies op ’n papiertjie gekry en met sy kennis van Russies koop hy nét twee reiskaartjies Rooiplein toe. Toe ek en Roland net ná hulle deur die hekke wou beur, klap hulle toe en slaan strategies laag. Een van Confucius se wyshede kom by my op: “Man walking naked through swinging door is going to Bangkok.”
Moskou se metro of moltrein is ’n belewenis op sy eie. Die treine hardloop diep in die stad se maag. By party stasies roltrap jy tot honderd-en-vyftig meter onder die grond in. Maar die mooiste van alles is die stasies. Elke stasie is uitgelê in marmer en getooi met bas-verligtings, pleisterkalk-mosaïeke en kandelare. By die stasie genaamd Plosjtsjad Rewoljoetsii, byvoorbeeld, is die hele plek vol lewensgrootte bronsstandbeelde