Название | Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg |
---|---|
Автор произведения | Lilian Paramor |
Жанр | Секс и семейная психология |
Серия | |
Издательство | Секс и семейная психология |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798159043 |
PRAKTIESE PLANNE
Dit is noodsaaklik om kort blaaskansies van jou kinders te neem om jou kragte op te bou en jou verhouding met jou lewensmaat lewendig en gesond te hou.
Konsentreer daarop om ’n betroubare ondersteuningstelsel te skep.
Dit mag beteken dat jy ’n voltydse kinderoppasster moet kry om jou te help, dat ’n ouma gereeld kom help, dat elke maat snags na een kind omsien of dat julle selfs ’n nagsuster huur om te sorg dat julle genoeg slaap kry.
Ek besef dat laasgenoemde ’n duur opsie is en dat julle dit dalk nie kan bekostig nie. Die meeste veelvuldige swangerskappe word egter reeds vroeg in die swangerskap ontdek, en jy en jou maat moet alles in jul vermoë doen om betyds vir hierdie onvermydelike uitgawe te beplan.
BORSVOEDING VAN MEERLINGE
Dit is heeltemal moontlik om ’n tweeling uitsluitlik te borsvoed, maar dit sal onvermydelik meer tyd in beslag neem as om ’n enkelbaba te voed. As jy daarop voorbereid is en jou program drasties inkort in die eerste paar maande kan jy baie suksesvol borsvoed. Ek stel voor dat jy soveel moontlik van die huishoudelike pligte aan iemand anders delegeer sodat jy nie soos ’n werkesel voel nie! Soos met enkelbabas sal borsvoeding ná vier of vyf maande minder tydrowend raak. Meerlinge het dikwels ’n laer geboortegewig en allerlei gesondheidsprobleme en sal dus aansienlik baat vind by borsmelk, daarom wil ek jou regtig aanraai om jou uiterste bes te doen.
Drielinge en meer is heel verstaanbaar baie moeiliker om te borsvoed. Jou liggaam sou teoreties in staat wees om genoeg melk te produseer, maar prakties kan dit in ’n logistieke nagmerrie ontaard. Een moontlikheid is om te roteer sodat elke baba elke derde voeding borsmelk kry. Dit is nie so maklik nie, aangesien hulle al hoe meer aan die bottel gewoond sal raak, maar dit kan jou kinders beslis minstens vir ’n tydjie die voordele van borsmelk bied.
MEERLINGE EN VOORTYDIGE GEBOORTE
Ouers van meerlinge het dikwels ook met die probleme van voortydige geboorte te kampe. Jy gaan ’n groot dosis kry van die normale vreugdes én beproewinge wat met die grootmaak van vroeggebore kinders gepaardgaan. (Verwys na die volgende afdeling, vir nog raad.)
ROETINE, SLAAP EN MEERLINGE
Ek begryp werklik dat dit nie maklik is om meerlinge groot te maak nie en ek veroordeel nie die noodsaaklikheid om ’n vaste roetine vir jou babas te vestig nie, maar ek wil jou graag op die hart druk dat jy baie versigtig moet wees om nie jou kinders se gees (of jou eie!) te verwoes in jou poging om in hul uiteenlopende daaglikse behoeftes te voorsien nie. Wat jy ook al probeer doen, hulle sal elkeen volgens hul aard reageer; as jy dit sover moontlik met grasie aanvaar, sal hulle meer waarskynlik by jou behoeftes inval. Babas wat snags rusteloos is, slaap dikwels baie beter wanneer hulle naby iemand is wat hulle ken en liefhet. Dit kan ’n ouer wees (hulle slaap dolgraag saam met Ma en Pa!), maar dit kan ook dikwels ’n groot verskil maak om hulle twee-twee in ’n bedjie te laat slaap. Dit herinner hulle waarskynlik aan die tyd toe hulle ineengestrengel in die baarmoeder was!
Voortydige geboorte
Baie min paartjies dink ernstig na oor die moontlikheid dat hulle skielik vroeër as die verwagte geboortedatum gekonfronteer kan word met die kraamproses en geboorte van ’n kind wat waarskynlik baie siek gaan wees. As dit wel gebeur, word ’n mens meestal heeltemal onverhoeds betrap en is jy totaal onvoorbereid.
DIE AARD VAN VOORTYDIGE GEBOORTE
Uit ’n mediese oogpunt word sowel die geboortegewig van die baba as die duur van die swangerskap in ag geneem wanneer die aard van voortydige geboorte beoordeel word. Die wesenlike faktor vir die meeste ouers is die skok dat die kraamproses soveel vroeër as verwag begin, en daarmee saam die onmiddellike vrees vir die baba se veiligheid en normaliteit. ’n Mens kan jou op geen manier behoorlik hierop voorberei nie. Hoewel sommige vroeggebore babas baie min spesiale aandag nodig het, moet jy voorbereid wees op die moontlikheid dat jou pasgebore baba miskien intensiewe mediese sorg sal moet kry.
Baie vroeggebore babas is nogal ’n skokkende gesig vir hul ouers. Dit sal dalk vir jou voel asof jy dwarsdeur jou baba se persrooi, plooierige velletjie kan sien – hy sal trouens ook nog heeltemal verrimpeld wees.
Die meeste ouers van voltermynbabas staan verstom omdat hulle so klein is; stel jou dus voor wat alles deur die ouers van ’n vroeggebore baba wat ’n skrale 1–2 kg weeg se gedagtes moet flits! Aan die een kant is jy bang om dié klein flentertjie mens te hanteer, en aan die ander kant het jy ’n intense behoefte om ook jou baba vas te hou en te vertroetel, hom te bad en te voed soos al die ander ma’s in die saal. Hierdie teenstrydige emosies plaas ’n verdere las op die ouers van vroeggebore babas.
OUERS SE EMOSIES
Ouers in hierdie posisie moet dikwels die moontlikheid in die oë staar dat hul kind dalk nie gaan oorleef nie. Die een dag lyk dinge miskien positief, en net die volgende dag word jy dringend ontbied omdat die mediese personeel vir jou kind se lewe vrees. Niks kan jou voorberei op die gesig van jou eie ou babatjie wat daar in die steriele, meganiese omgewing van ’n neonatale intensiewe eenheid lê, verbind aan al wat ’n lewensondersteuningstelsel is nie. Fisieke aanraking met ’n baie siek vroeggebore baba sal tot die minimum beperk word weens die gevaar van infeksie, hoewel daar deesdae gelukkig besef word dat die teenwoordigheid van ’n ouer, en veral die ma, ’n uiters belangrike faktor in die baba se vordering is. Ek sou ouers aanmoedig om soveel moontlik tyd saam met hul baba (wat ook haar eie skok moet verwerk) deur te bring. ’n Liefdevolle grootouer kan ook help met die waak, en die atmosfeer vul met hoop en ’n persoonlike element.
Voortydige geboorte kan veelvuldige gevolge hê. Jy mag moontlik benewens jou eie siek kind ook met die teëspoed van ander ouers en hul babas gekonfronteer word. Jou hele bestaan gaan deur talle onverwagte wendings beïnvloed word. Jy mag oorweldig voel deur uiterste uitputting, en jy sal waarskynlik een of ander tyd vervul word met woede teenoor die lewe, teenoor God, jou lewensmaat, die mediese personeel en vriende en familie vir wie die ervarings van swangerskap en geboorte met die grootste gemak en sonder komplikasies verloop het. Moenie hierdie gevoelens ontken nie; dit is heeltemal normaal en baie algemeen.
BABA SE BEHOEFTES
Omring jou baba met ’n gevoel van liefde en hoop, streel hom en sing soveel moontlik vir hom. Speel gereeld musiek en gesels onbevange met jou baba – jou stem is vir hom baie bekend en sal hom troos. Doen jou bes om borsmelk uit te pomp: hoewel Baba heel waarskynlik aanvanklik nog nie aan jou sal kan drink nie, het sy die heilsaamheid en immuniteit van moedersmelk nou nodiger as ooit.
Natuurlik verkeer baie babas wat “voor hul tyd” gebore word nie in soveel gevaar as wat hier geskets word nie. Tog is daar ouers wat hul babas verloor, soms ná ’n lang stryd. Trooswoorde mag in hierdie ontsettende tyd vir jou hol klink, maar moenie wegskram van jou gevoelens nie. Moenie die paar spesiale herinneringe wat jy dalk aan jou baba het, wegstoot nie, en moenie die woede en hopeloosheid wat jy dikwels ervaar, ontken nie. Praat gereeld met ’n spesiale persoon in jou lewe hieroor. Rou oor jou baba, en oor jouself. Mans en vroue hanteer hul