Название | Brandwaterkom |
---|---|
Автор произведения | Alexander Strachan |
Жанр | Историческая литература |
Серия | |
Издательство | Историческая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624073376 |
Maar dis eintlik van ou Fourie se seun, Lewies, van wie sy notisie moet neem. Wat staat en lol sy met Vilonel? Lewies is die ene, nie Vilonel nie. As sy maar net na my wil luister. Want ná oubaas Fourie se dood trek die moeder toe mos by hom op Tepelkop in. As Lewies êrens heen ry, was dit met sy spaaider met ’n drywer, voorryer en agterryer. Dis die soort man wat hy was. Die drywer uitgevat met wit handskoene en al. Sy seuns het sommer vroeg al hul vader begin napraat. Soos de oude songe, so piepe de jonge. As hulle hulle voorgestel het, het hulle altyd bygevoeg “ryk Lewies se seun”.
Toe Lewies ’n splintenuwe Merryweather-wa koop, verdink sy broers hom mos dat hy hulle ma se geld steel. Onder haar katel haal hulle toe die trommel uit en maak die velsak met die geld in ’n looikuip leeg. Maar daar kort niks en hulle moet die trommel toe maar net weer gaat bêre.
Die een ding wat ek moet toegee, is dat Lewies Fourie net so lief vir perde was as Fanie Vilonel van Senekal. Dié twee mans het albei ’n oog vir ’n mooi dier gehad. Dis hoe dit gekom het dat Lewies vir hom ’n resiesperd ingevoer het. Blair Hasset was die perd se naam. Vanaf Kaapstad na Fouriesburg moes die perd oor land en dit het drie maande geduur. Blair Hasset het wel ’n resies in Durban gewen en daar het selfs ’n kiekie van hom in ’n kroeg in Pietermaritzburg gehang.
Nou het ek wel ook opgelet dat die Bloemfontein-nooi partymaal van Fouriesburg kortpad kies na die oorhangkrans by Meiringskloof. Sy wil nou gaan saat en wegkruip waar sy dink ons vroue teen die Engelse geskuil het. Maar dit is inderdaad verkeerd – ons het in Snymanshoekberg se holkrans weggekruip, ’n hele entjie verder van Fouriesburg af.
Hierdie holkrans het nie soveel oorhang as die een by Meiringskloof nie. Maar dit was moeiliker vir die Engelse om ons by te kom. Dis hoekom ons Boerevroue dit uitgekies het. Kakie se kind is bra lugtig vir die ruigtes, dit weet ons algar – hy wil mos nie in ’n hinderlaag vasloop nie. Dit het die Engelse ontmoedig om te ywerig na ons vroue te kom soek.
Boonop het die grot ’n geheim gehad – die steelpad. Wanneer ons bedreig was, kon ons deur ’n weggesteekte rotsuitgang oor die berge in die niet verdwyn of met vriendelike mense in aanraking kom.
Mettertyd was ons nie minder nie as drie-en-vyftig siele saam in die skuiling. Die dae was lank en om die tyd om te kry, het ons opvoerings gehou van Het zwart hennetje en het haantje. Later was daar selfs ’n onderwyseres, juffrou Scholtz, wat vir die spruite skoolgehou en resitasies laat opsê het.
Sy het die skoolkinders met ’n koper-weegskaal betower. Hulle het swart gewiggies opmekaar gepak en dan spoelklippies een vir een in die bak gegooi. Verkyk kon die kinders hulle verkyk as die koperbak beginne sak en die gewiggies styg totdat alles mooitjies in die lug balanseer.
Wie het die uitvindsel uitgedink, wou hulle weet? Juffrou Scholtz kon nie sê nie. Dié vraag was heeltemal bo haar vuurmaakplek. Dit was dalk ’n gogelaar uit ’n anner wêreld, het sy geraai.
Maar niks onder die holkrans kon hulle so bang-aandagtig boei as die spookstories wat ek, Catharina Venter, vertel het nie. Maar vir dié sou hulle altyd eers moes wag dat dit behoorlik donker is, want ’n spookstorie helder oordag is soos die duiwel sonder sy angel.
Só was ons dae onder die holkrans. Maar nou was daar ’n anner ding wat op my gemoed kom lê het. Die koms van die vreemdeling na die bergkom. Destyds onder die holkrans kan ek onthou hoe die maande verbygesleep het. Maar ons was steeds nie geneë om mansmense sommer net ’n kyk in onse lewe onder die oorhang te gee nie. Die ouer ooms wat kom skuiling soek het, moes hoër op teen die berg self vir hulle ’n lêplek uitskrop. En hoe nou gemaak met hierdie indringer wat op pad was na ons geweste toe? Ek kan die gevoel nie afgeskud kry nie. Maar dit lê vir my al hoe meer voor die hand dat dit juis hý sal wees wat onse vroue se skuilplek heel eerste gaan binnedring.
Destyds onder die holkrans het ons op ons eie hier uitgehou en eers heelwat later besoek van onse mans ontvang. Op ’n keer ook van generaal De Wet wat van voor af die hoenders ingeja was oor die Engelse ons wonings afbrand. Ook die kultuurman, Onze Jan, het sy make kom maak. Of het ons hom dalkers met iemand anders verwar? Dié man het ons nietemin met groot ywer met die toneelopvoerings gehelp. Praat en beduie. Hy was heeltemal meegevoer oor die bamboeshuisies wat ons eiehandig onder die krans gebou het.
“Ek is diep ontroer!” onthou ek hoe hard hy die oggend uitgeroep het. “Uit soortgelyke hartbeeshuisies is ’n nasie gebore!”
Die afgelope dae was my gedagtes nie by die gebeurtenisse van doerdie dae nie. Anner dinge het my aandag geverg. Nee kyk, nooi van Bloemfontein, laat ek jou maar netsowel reguit aanspreek. Jy is darem gans te vrypostig hier in die Fouriesburg-omgewing. Sowaar as wat die dou soggens op die veld lê, dit is sweerlik jý wat my gedagtes die laaste ruk so vrylik op loop gesit het.
Sedert vanoggend al het ek ’n spesmaas hieroor. Of ek dit in die gehoe-hoe van die kransduiwe of iets anders agtergekom het, dié sal ek nie kan sê nie. Maar dit staan vir my uit soos ’n droë boomstomp bo ’n waterpoel. Die vreemdeling uit die noorde het nou sak en pak sy tog na die Brandwaterkom begin. Kort voor lank sal hy sy stof hier reg voor ons voete kom afskud. Laat ek liewers nie ontydige voorspooksels maak nie, maar hou jou gerus maar gereed hiervoor. Te lig gaan jy nie daarvan afkom nie. Dis nou as ek al die tekens reg gelees het.
HOOFSTUK 14
Uit alle rigtings kom die Vrystaatse kommando’s nou by Harrismith bymekaar om ’n hoofkommandant te kies. Ná die opwinding van die vertrek uit hul tuisdistrikte sorg die verkiesing vir ’n volgende hoogtepunt in die kommandolewe waaraan hulle nog maar stadigaan gewoond raak.
Marthinus Prinsloo, een-en-sestig en grys in die baard, lyk na die voor die hand liggende keuse. Soos baie Boere is hy in die Kolonie gebore, maar het hy sy tande op die Vrystaatse vlaktes geslyp. ’n Man van rype ervaring na wie almal geredelik kan opsien. Só reken die burgers wat ná die afsaal in groepies in die skadu van Platberg rondstaan om te bespiegel wie nou voortaan bevel gaan voer oor die algehele Vrystaatse mag.
Prinsloo se uitgebreide veegetalle en landerye in Ladybrand en Winburg se omstreke tel sterk in sy guns vir die benoeming. Buiten dat sy voorkoms juis lyk asof hy in die landbou tuis hoort, beskik hy oor die vermoë om besonder slim op begrafnisse en troues te kan praat. Dit is een van die hoofredes hoekom hy tot die Volksraad benoem is.
“Oom Martiens is nie op sy mond geval nie,” bevestig Kiewiet Jonkers wat almal dink. “Kyk hoe geredelik verkeer hy met wildvreemde burgers van buite sy distrik. Geen leier kan gaan staan en menssku wees nie. Oom Martiens het die regte temperament.”
Om in die openbaar te bid, kom vir hom soos tweede natuur, daarom dra hy die amp van ouderling in die kerk. Iedereen weet van sy heldhaftigheid tydens die toentertydse Basoeto-oorloë.
“As daar nou iemand is wat die slag ken om die Basoeto hand en tand te beveg, is dit hý,” sê oom Mooi Piet. “Die Ingelse is ver van ’n barbaarse mag – dit weet ons algar. Maar oorlog is oorlog. Martiens Prens het die regte ervaring om die kommando’s te lei. Net so vinnig as wat hy die Sotho’s destyds deurgekyk het, sal hy nou ook die Ingelse deurkyk.”
Hieroor het die burgers eenstemmigheid.
“My tent staan oop vir ’n ieder en ’n elk,” kondig Prinsloo direk ná sy benoeming tot hoofkommandant van die Vrystaatse magte aan. “Kom gerus oor as daar ’n neteligheid opduik.”
Hulle voorgevoel was so reg in die kol, besluit die burgers. Die eerste probleem lê reeds voor die hand. Diegene wat lanklaas in die saal was, gaan kla dadelik by oom Martiens Prens dat hulle blikners gery is. Prinsloo slaag sy eerste toets met vlieënde vaandels.
“Halfkrone,” druk hy sy vinger reg op die probleem.
Plat