Gabriella en die Hertog van Harte. Marga Jonker

Читать онлайн.
Название Gabriella en die Hertog van Harte
Автор произведения Marga Jonker
Жанр Природа и животные
Серия
Издательство Природа и животные
Год выпуска 0
isbn 9780624073130



Скачать книгу

Itec by.

      Die klas se gelag vervaag toe Robert vir Duke in sy stal inlei.

      “Jy gaan moet ophou met hierdie woedebuie van jou, Duke, die onderwysers begin brom oor jy so gevaarlik is. Probeer asseblief om jou die res van die jaar beter te gedra.”

      Duke blaas sy asem uit en laat rus sy nek oor Robert se skouer.

      4

      Patricia op Big Sky

      “Jy’t omtrent hard gewerk, Gabi,” het haar pa gisteraand voor ete gesê toe hy na die administrasie kyk.

      “Ek kan nie glo jy het kans gesien vir so iets nie, Gabi. Al die papierwerk is so netjies gesorteer. Genade! Dit moes baie geduld gekos het,” het Claudia gesê.

      “Wel, nie dat dit gehelp het nie, want ek kry nie wat ek soek nie. Ek het nog geen inligting oor wie destyds Donnabelle se vullens gekoop het nie,” het Gabi gesê. “Hierdie klein hopie papiere is al inligting wat ek het oor die Oldenburgers.”

      Sy het weemoedig oor ’n handgeskrewe lysie van vier perdename in haar ma se handskrif en ’n paar foto’s van Donnabelle en haar ma gestreel.

      “Daardie lêers is die Nooitgedachters se papierwerk,” het sy beduie.

      “Duke en Jane was Donna se vullens,” het haar pa onthou en op twee name op die papier gedruk. “Die ander twee merries het ons toe pas gekoop; ons sou daardie jaar met hulle ook geteel het. Hulle teler het hulle teruggekoop.”

      “Ja, ek kan nie meer so goed onthou nie, die sportperde was Gail se kennisveld,” het Klaus vertel. “Ek het nooit van ruiterkuns gehou nie, so hoe sou ek perde kon teel wat goed moes wees in ruiterkuns? Ruiterkuns is vir my te moeilik; dis soos ballet.”

      Gabi se ma was ’n internasionale ruiterkunskampioen op haar perd Donnabelle,’n Oldenburger wat uit Europa ingevoer is. Sy is ’n direkte afstammeling van Donnerhall, ’n Duitse Oldenburger met ’n stamboek wat honderde jare terug strek.

      Oldenburgers is sportperde, maar ook gesonde, rustige perde wat daarvoor bekend is dat hulle kampioene word in ruiterkuns.

      Donnabelle, nou twintig jaar oud, is gesond, maar senior en afgetree. Sy is Gabi se geselsperd, haar luisterperd. Sy kan haar diepste geheime in Donnabelle se rooibruin perde-ore fluister. Wanneer sy met Donnabelle praat, voel dit of haar ma nog by haar is.

      Gabi spring op toe sy die son op ’n voertuig sien blink. Nali se pa se Hyundai-bussie kom stadig en versigtig met die oprit aangery. Pastoor Shikonda parkeer agter Klaus en Claudia se sleepwa en viertrekvoertuig. Hy klim uit en Klaus en Claudia groet hom vriendelik.

      Gabi storm opgewonde nader en skuif die bussie se deur oop. “Haai, haai!” groet sy. “Lê julle tog nie en slaap hier in die bus nie?”

      Nali en Lea sit onder komberse en lyk deur die slaap.

      “Weet jy hoe koud was dit vroegoggend in Windhoek? Ons het amper gevries, en dit nadat ons donkernag moes opstaan,” kla Lea.

      “Ek het al vergeet hoe mooi dit hier by julle is,” sê Nali.

      “Kom, ek wil na die perde toe gaan.” Lea, wat ’n oomblik tevore nog vas aan die slaap was, is skielik ongeduldig om uit die bussie te klim.

      “Kom, julle, klim uit, dra af, dan kan ons stalle toe gaan,” jaag Gabi hulle aan, bly om haar maats by haar te hê.

      Hulle haal die tasse en sakke agter uit die bussie en dra dit deur die huis na Gabi se kamer. “Wow, dit lyk fantasties,” sê Nali verwonderd.

      “Het julle aangebou?” vra Lea. “Alles lyk so oop en groot!”

      “Nee, dis maar van rondskuif. Patricia hou van skuif en weggee. Sy het baie van my ma se meubels vir Klaus gegee om saam te neem Safari Lodge toe. Die gordyne is ook vervang met houtblindings.”

      “Goeie karma. Die energie van die plek is nou oop en blou,” sê Lea.

      “Het die huis goeie karma of is die huis se aura blou? Jy maak my deurmekaar, Lea,” kla Nali.

      “Dis oor jy nooit luister nie, Nali,” raas Lea. “Karma is die dinge wat mens doen; aura is die energie wat ’n plek of iemand uitstraal.”

      Gabi het gehou van die ou gordyne, die ou kussings en die baie meubels. Die huis was soos haar ma dit ingerig het. Sy voel sommer vies vir Lea en Nali wat dadelik van die veranderinge hou.

      Gabi se kamer is groot genoeg dat hulle al drie daar kan slaap.

      “Jou kamer lyk darem nog bekend. Hier is niks geskuif nie,” sê Lea. Sy gooi haar oranje-en-pers kunspelskussings op die boonste bed van die slaapbank en kondig aan: “Ek slaap bo!”

      “Ons kan vanaand uitpak. Kom sit net eers alles neer. Is julle lus om vir Donnabelle te gaan groet?”

      “Ja, kom, ek kan nie wag om haar te sien nie,” sê Nali.

      “Ek wil sommer al die perde sien,” sê Lea.

      “Ek moet net gou my pa groet, julle,” keer Nali.

      Gabi maak haar kamer se stoepdeur oop sodat hulle deur die tuin kan stap. Patricia en haar pa staan ook nou by Klaus en Claudia. ’n Gelag klink op terwyl hulle met pastoor Shikonda gesels. Patricia staan langs Gabi se pa, sjiek in ’n lang groen rok met bruin stewels en ’n bypassende bruin leerbaadjie. Sy dra haar hare in ’n groot, los krullebol om haar kop. Haar kleurvolle Afrika-oorbelle swaai langs haar nek. Sy troon bo Klaus en Claudia uit en lyk net so lank soos Nali se pa, wat ’n lang man is.

      “Sjoe, sy lyk steeds asof sy modelwerk doen,” sê Nali.

      “Ja-nee, jy sal nog sien, dis elke oggend se ding. Mens sou sweer sy’s op pad Parys toe vir ’n modevertoning. Whatever!”

      “En lyk sy regtig elke oggend so beeldskoon?” vra Lea bewonderend.

      “Ja, elke dag, met hoëhakskoene en grimering aan – kombuis toe of selfs stalle toe saam met my pa, asof sy nog nie agtergekom het ons woon in die middel van Namibië op ’n plaas kilometers van die naaste dorp af nie. Duhh!”

      Pastoor Shikonda groet hulle almal en gee Nali ’n ekstra druk.

      “Soet wees, julle,” sê hy.

      Hy klim in die bussie, reg om te ry. Voor Gabi nog kan keer, groet Klaus en Claudia ook. Hulle wil glo agter Nali se pa aanry om seker te maak hy verdwaal nie.

      Gabi weet dit is sommer omdat hulle nou kans sien om haar te groet terwyl haar maats hier is. Sy het gehoop hulle bly nog vir middagete, maar sonder dat sy aan die oomblik kan vashou, verdwyn Klaus en Claudia in ’n stofwolk in die pad af. Haar lewe soos sy dit geken het, sif vir altyd weg in die blou lug saam met die rooi sandstof wat die twee motors se bande opskop.

      Sy en haar maats bly op die grasperk staan saam met haar pa, ’n man van min woorde. Hy hou sy nuwe vrou se hand vas – ’n vrou met sprinkaan-arms en Afro-hare wat hoëhakskoene op ’n beesplaas in Namibië dra.

      “Al julle mensies daar op die gras, middagete sal oor ’n uur reg wees!” roep Thuti Garoep van die stoep af. “Julle moenie laat wees nie, ek het ’n spesiale spyskaart wat niemand wil mis nie,” voeg hy by. Hy klink soos ’n TV-advertensie.

      “Hallo, hallo, sjef Thuti! Ons is baie honger! Ek hoop jy het baie kos gemaak, mét poeding,” roep Lea opgewonde terug.

      “Leatjie, die karma van my kos sal jou aura in ’n reënboog verander.”

      Almal lag. “Wel, ek kan nie wag nie! Thuti, jy’s die beste,” sê Lea.

      “Kom, Gabi,” sê Nali en haak by haar in, “ek wil eers vir Donnabelle gaan hallo sê voor ete.”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен