Название | Eggo's in die skimberge |
---|---|
Автор произведения | Kobie Kruger |
Жанр | Детская фантастика |
Серия | |
Издательство | Детская фантастика |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624068341 |
“Om te eet,” sê Mattie.
“Ek sien,” sê die man. “Hoekom strooi julle dit oor die woudvloer?”
“Ons het dit nie gestrooi nie!” sê Mattie.
Die man kyk weer na die flonkers op die mosvloer.
“Die fles het geval,” verduidelik Henk. “Toe val hulle uit.”
Die man knik, maar sy oë bly vol vrae. “Wie se gaste is julle?”
“Gaste?” sê Henk verward. “H’m … Nee, ons is nie –”
“Julle is op pad Loherin toe, nie waar nie?” sê die man.
“H’m – nee – ons … ek weet nie waar –” stamel Henk en raak stil.
Die man kyk vraend na Henk.
Henk skud net sy kop. Hy verstaan nie wat aangaan nie. Hoekom vra die man sulke snaakse vrae?
“Wie is julle dan?” vra die man met ’n frons. “Waar kom julle vandaan?”
“Ek is Henk,” herhaal Henk sy naam, dankbaar oor die maklike vraag. “Henk Velder. En sy’s Mattie Moolman. Ons kom van Gansdal af.”
Die man lyk dronkgeslaan.
“Gansdal?” sê hy. “In watter koninkryk is dit?”
Henk staar verward na die man.
“Wie is jul koning en koningin?” vra die man.
Henk begin wonder of hy droom. Hy loer na Mattie. Haar oë is groot en haar mond hang al weer oop.
“Is daar ’n rede waarom julle die vrae nie wil beantwoord nie?” vra die man met ’n frons.
“H’m … nee,” sê Henk. “Dis net … ons verstaan nie die vrae nie, Meneer. Gansdal is ’n dorpie – sommer ’n dorpie … in ’n boerdery-vallei … anderkant die berge –” Henk beduie in die rigting van die ondergaande son. “Ons het nie ’n koning of ’n koningin nie.”
Die man lyk geskok. Hy staan ’n rukkie doodstil, draai skielik na sy kollegas en praat saggies met hulle. Henk kan nie hoor wat hy vir die ander sê nie, maar hy kan sien hulle lyk ook geskok. Die man draai weer na Henk en Mattie.
“Wat kom maak julle hier?” vra hy ontsteld. “Hoe het julle hier gekom?”
“W-wat?” sê Mattie verward.
Henk skud net sy kop. Hy verstaan al hoe minder wat aangaan.
“Julle moet asseblief my vrae beantwoord,” sê die man. “Hoe het julle hier gekom?”
“Ons … ons het by die waterval afgeval,” sê Henk.
Die man skud sy kop. “Julle moet asseblief die waarheid praat.”
“Dit ís die waarheid, Meneer!” sê Mattie verontwaardig.
Die man kyk fronsend na Mattie.
Mattie kyk hom reguit in die oë tot hy knik en sê: “As dit so is, vra ek om verskoning. Dis egter belangrik dat ek moet weet hoe julle hier gekom het. Hoe het julle by die drakyne verbygekom?”
“Die … watsegoed?” vra Henk.
“Die drakyne – die wagte by die kloofingang.”
“O!” sê Henk. “Ja, ons het gewonder watse goed … In elk geval, dit was nie moeilik nie. Hulle’t beduie ons kan maar by die kloof ingaan. En toe gaan ons in.”
Die man skud sy kop. “Nee, ek glo dit nie.”
Henk haal sy skouers op.
Mattie gluur vir die man.
“Die drakyne sou julle nie ingelaat het nie,” sê die man en skud weer sy kop.
“Maar hulle hét,” sê Mattie. “En hier ís ons.”
Die man kyk weer na Mattie. Hy lyk verward. Ná ’n rukkie vra hy: “Hoe het dit presies gebeur?”
“Hulle het eers lank in ons oë gekyk,” antwoord Mattie. “Toe bied ons vir hulle flonkers aan, en gesels ’n bietjie, en toe laat hulle ons in.”
“Ek sien,” sê die man bekommerd. “En het hulle van die – h’m –” Hy beduie na die lekkertjies op die woudvloer. “Het hulle daarvan geneem?”
“Flonkers,” sê Mattie. “Ja, hulle het. En die een drakyn het vreeslik genies.”
Die man stel nie in die drakyn wat genies het belang nie. Hy kyk fronsend na die flonkers. “Tel dit op, asseblief. Sit hulle terug in die houer en gee dit vir my.”
Henk en Mattie skarrel rond om al die lekkertjies bymekaar te kry. Toe almal terug in die fles is, skroef Henk die deksel op en gee die fles vir die man. Hy gord dit aan sy pylkoker vas.
“Waar wou julle vannag slaap?” vra hy.
“H’m …” sê Henk en haal sy skouers op, “in die woud.”
“Kom liewer saam met my,” sê die man. “Ek kan vir julle slaapplek vir die nag gee.” Hy knik vir sy kollegas, draai om en begin stap. Henk en Mattie stap agter hom aan, gevolg deur die res van die mans.
Henk se kop voel deurmekaar. Hy verstaan nie waaroor die gesprek gegaan het nie. Hy besluit om eerder op die pad te konsentreer. Hulle het weggedraai van die waterstroom af, sien hy. Hulle stap nou in die rigting van die kranse aan die noordekant van die ravyn. Mattie stap doodstil langs hom. Hy wonder of sy ook so deurmekaar voel.
Dit word nou vinnig donker. Mens moet mooi kyk om nie in die bome vas te loop nie. Skielik gaan staan die man. Henk loop amper in hom vas. Die man stoot ’n gordyn van welige rankplante opsy. Agter die rankplante is daar ’n swaar houtdeur in ’n rotsmuur. Die man sluit die deur oop.
“Stap gerus binne,” sê hy.
Mattie en Henk gehoorsaam. Toe hulle binne kom, kyk hulle om hulle rond. Hulle is in ’n grot waarin ’n mistige, pêrelblou lig skyn. Die grot is smal en loop skuins opwaarts – dit lyk of dit ver opwaarts loop. Daar is ’n stel trappe in die rotsvloer uitgekap.
Toe almal binne is, stap die man weer voor en hulle volg hom teen die trappe op.
Niemand praat nie. Die enigste geluide in die grot is die sagte eggo’s van voetstappe op kliptrappe. Plek-plek hang daar lanterns teen die rotsmure. Almal se skaduwees gly soos spoke langs hulle teen die rotsmure op.
Hulle klim en klim. Henk wens die einde van die trappe wil nou in sig kom. Hy weet Mattie is moeg. Dit was ’n lang dag. Eindelik voel hy ’n koel bries bokant hulle by die grot inkom.
“Ons is amper bo,” fluister hy vir Mattie.
Kort daarna eindig die trappe in ’n smal bokamer van die grot. In die oorkantste rotsmuur is daar ’n ysterhek.
Die man stap nader, stoot die hek oop en beduie hulle moet uitstap.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС