Название | Leeus met letsels (skooluitgawe) |
---|---|
Автор произведения | Fanie Viljoen |
Жанр | Учебная литература |
Серия | |
Издательство | Учебная литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798165112 |
Leeus met letsels
(skooluitgawe)
Fanie Viljoen
Human & Rousseau
1
Daar is bloed op Buyi se vuiste. En bloed op die ou voor hom se gesig. Sy naam is Jonathan. ’n Klomp leerders drom saam om hulle in die skoolgang. Jonathan lê nog op die vloer.
Hy kyk op na Buyi. Sy oë uitdagend. Hy glimlag toe hy die bloed van sy oogbank wegvee.
“Lucky shot!” sê hy.
“You want some more then?” Buyi onthou die vuishou wat Jonathan vloer toe gestuur het. Hy onthou die pyn in sy vuis en arm toe die hou val.
En toe kom die onderwyser.
Daar is moeilikheid aan die broei. Buyi weet dit net. Dit stoot op deur die koue strate. Oral waar hy gaan, asem hy dit in: die treine van die Londen Underground, die klaskamers en strate. Dit maak hom bang.
Dit is laatmiddag. Vrydag. Hy vat die roltrap en uiteindelik ontsnap hy uit die bedompige ondergrondse treintonnels. Die oggendreën lê steeds op die strate.
Terwyl hy loop, vang sy oog sy weerkaatsing in ’n winkelvenster. Swart gesig, kake geklem van die koue. Die sny op sy lip. En hy voel soos ’n vreemdeling. Hoekom? Hy woon nog sy hele lewe lank in Londen. Maar op ’n manier ís hy ’n vreemdeling.
Buyisiwe. Sy naam eggo in sy kop. ’n Vreemdeling se naam, hier in Londen.
“Zulu!” hoor hy nog Jonathan se stem in sy ore toe hy in die woonstel op sy ma wag. “What are you doing here, Zulu? Why don’t you go live with your people?”
Your people. Jou mense. Hierdie ís sy huis. Hy ken nie ’n ander plek nie.
Maar tog dis nie net Jonathan se woorde wat hom vandag pla nie. Daar is iets anders: “Ons moet praat,” het sy ma vanoggend gesê. Maar hy was laat vir skool en kon nie. “Vanaand dan. Wanneer ek terugkom van die werk af,” het sy toe gesê.
Buyi se ma sug toe sy by die voordeur instap. Donker merke kring onder haar oë. Haar gesig is bleek, haar blonde hare deurmekaar. In haar hand is inkopiesakke en ’n pizzaboks. “Jy kon ’n bietjie hier skoongemaak het,” sê sy toe sy die goed in die kombuis sit.
Buyi se oë val oor die stapels vuil borde en deurmekaar woonstel. “Ag, Ma kan mos môre skoonmaak.”
“Ek werk môre!” Sy ma sug en skielik is daar trane in haar oë. “Jy maak die lewe ook nie makliker vir my nie, weet jy, Buyi?”
“Dis net vuilgoed, Ma, niks om oor te stres nie.”
“Nee, dis meer as dit, Buyi. Jy help nie in die huis nie. Ek sukkel om kos op die tafel te hou, ’n dak oor ons koppe. Weet jy hoe moeg is ek al daarvoor? Maar ek sien nou ek het die regte besluit geneem.”
“Watse besluit?” Die vrees is dadelik terug. Dis amper asof sy ma moed opgegee het.
“Ek wou jou vanoggend vertel het, maar ek het besluit om weer te dink …” Die trane stroom nou oor haar gesig. “Dis seker die moeilikste besluit wat ek nog ooit geneem het.”
“Ma?” fluister hy.
“Die ding wat vandag by die skool gebeur het, het alles bevestig. Die skool het my gebel, Buyi. Dit was amper soos ’n teken. Ek kan nie meer twee mense aan die lewe hou met my klein salaris nie,” sê sy ma sag. “Dit is tyd dat jy jou pa ontmoet. Themba. Ek het hom vertel van ons finansiële probleme. Ons het alles deurgepraat …”
“Ma?”
“Ek weet hy was nie daar vir jou die afgelope jare nie. Maar dit gaan nou verander. Hy het ingestem om van nou af na jou om te sien. Jy gaan by jou pa in Suid-Afrika bly.”
2
Sy maag draai elke keer as hy net daaraan dink. Afrika? Waar is Afrika in elk geval? Hoekom moet hy Afrika toe gaan? Net omdat hy in ’n vuisgeveg was? Omdat hy anders is?
Hy ken nie eens sy pa nie. Waar was hy al die tyd? Hoekom sal Buyi hierdie man wat hom nog altyd ignoreer nóú wil ontmoet?
Oor die volgende paar weke beplan sy ma alles. Sy reël sy paspoort, vra sy pa om die vliegtuigkaartjie te betaal, pak Buyi se tasse en toe, een reënerige aand, sit hulle af na Heathrow-lughawe.
Die afskeid is swaar. Sy ma belowe om hom te bel sodra hy daar aankom.
“Ek is lief vir Ma,” sê Buyi net voor hy die vertreksaal moet binnegaan. Hy dink nie hy het dit al voorheen gesê en dit regtig bedoel soos nou nie.
“En ek is lief vir jou, Buyi,” sê sy toe sy hom in haar arms toevou en hom teen haar vasdruk. Hy wens hy kon vir altyd daar in haar arms bly. Maar dis tyd om te gaan.
En later, toe die vliegtuig opstyg, is sy ma al waaraan hy kan dink. Hoe sy teruggaan na ’n leë woonstel. Huilend en hartseer.
Die vliegtuig land na ’n vlug van elf ure op O. R. Tambo Internasionale lughawe. Hier is dit nou. Die oomblik wat Buyi gevrees het. En toe sy voete Afrika se grond raak, verwag hy ’n plotselinge skok. Dalk ’n gevoel dat hy tuisgekom het in die land van sy vaders.
Maar daar is niks.
Hy weet in ’n oogwenk dat hy ook nie hier hoort nie.
Toe hy die aankomssaal binnestap, is daar ’n see van gesigte voor hom. “Jou pa sal jou kom haal.” Dis wat sy ma gesê het.
Buyi weet nie hoe hy lyk nie. Meteens vang ’n bordjie sy oog. Dit het sy naam op. Buyisiwe. Die man met die bordjie het ’n netjiese uniform aan. En toe sy oë Buyi s’n ontmoet, glimlag hy. So, dan is dit nou hy, dink Buyi. Dit is Themba.
3
“Sawubona!” roep die man en hou sy hand uit na Buyi. “Ngiyakwemukela!”
Buyi frons. Hy het geen idee wat die man sê nie. “Sorry?”
“I said: ‘Hello, and welcome!’ ” Die man glimlag breed.
“Uh … hi, thanks,” antwoord Buyi versigtig. Sy hart jaag steeds. Om jou pa vir die eerste keer te ontmoet, is verskriklik angswekkend.
Die man se hand is steeds na Buyi uitgestrek. Buyi vat dit. Die greep is sag. Toe doen die man ’n vreemde ding. Sy greep wissel van ’n normale handdruk na ’n duimgreep, weer sagkens, en terug na ’n normale handdruk.
“Oh,” sê Buyi, onkant gevang. “Jy is Themba? My pa?”
“Nee, ek is Lwazi. Ek werk saam met jou pa. Hy het nog werk gehad om te doen, toe vra hy ek moet jou kom haal.”
“Jy is hier!” hoor Buyi ’n meisiestem uitroep. “Buyisiwe!”
’n Seun en meisie kom aangehardloop. Hulle is omtrent Buyi se ouderdom. “Jammer ons het jou gemis,” sê die seun met die sproetgesig en rooi hare. Buyi is dankbaar hulle praat Engels, anders het hy weer nie ’n woord verstaan nie, soos toe Lwazi hom gegroet het.
“Simoshile moes badkamer toe gaan en ek moes keer dat sy nie verdwaal nie. Sy het glad nie ’n sin vir rigting nie.”
Die meisie se oë rek. “André! Sies vir jou!”
“My naam is André,” kom dit opgewek.
Die meisie glimlag. Haar donkerbruin oë is vriendelik toe sy sê: “En ek is Simoshile.” Sy kyk ’n ruk lank na hom sonder om ’n oog te knip, toe kyk sy skamerig af.
“Buyisiwe,” sê hy, “maar hulle noem my Buyi.”
Hulle baan hulle weg deur die lughawe en toe hulle by die motor kom, sien Buyi dis ’n veldvoertuig, een van daardie 4x4’s wat hy al in tydskrifte gesien het. Lwazi pak sy tasse agterop en Buyi en André klim agterin. Simoshile spring voorin, langs Lwazi.
Toe Lwazi die voertuig aanskakel, woel daar steeds ’n vae vrees vir die onbekende binne Buyi. Maar daar is ook ’n sprankie van opwinding. Dit was ’n uitputtende dag en hy kan later nie meer sy oë