Die Afrikaners. Hermann Giliomee

Читать онлайн.
Название Die Afrikaners
Автор произведения Hermann Giliomee
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624050759



Скачать книгу

kerke op daardie tydstip gedoen het nie. Maar die besluit is swak geformuleer en die frase “die swakheid van sommige” was ’n fatale flater – dit het die deur geopen vir bevooroordeelde wit mense om gekleurdes uit te sluit sonder om oor hul “swakheid” skuldig te voel.

      Min predikante het besef watter noodlottige weg die kerk hier ingeslaan het. Een van hulle was ds. P. Huet, ’n onlangse immigrant uit Nederland en ’n taamlik eksentrieke mens. Hy was in Natal gevestig, waar hy onder die Voortrekkers en hul kinders gewerk het – en waar die traumatiese en bloedige botsings tussen wit en swart nog vars in die geheue was. Hy het bevind dat dit amper onmoontlik was om ’n swart persoon aangeneem en deur die gemeente aanvaar te kry.

      Huet het die besware teen die aanwesigheid van swartes in die kerk ontleed. Een was die dwaalleer dat die Bybel die uitsluiting van basters regverdig. Nog ’n regverdiging was biologiese rassisme, wat neergekom het op die argument dat wit en swart apart gehou moet word omdat hulle verskillende menslike spesies verteenwoordig wat deur hulle kleur en hare onderskei word. Daar is ook gesê dat swart Christene op ’n veel laer vlak van beskawing staan en slegs die eenvoudigste preke kan begryp. En dan was daar die argument dat swartes ’n aparte “nasie” vorm en dus hul eie kerk moet hê. (Hierdie argument het in die twintigste eeu weer na vore getree in die ideologie van apartheid.)

      Huet self het nie beswaar gehad teen aparte gestigte nie, mits dit in die spesiale behoeftes van bruin of swart Christene voorsien, maar hy het geglo dat die sinode gefouteer het. Dit het gefokus op wit vooroordeel en het “swakheid van sommige” amper laat klink na ’n geldige oorweging. Daarmee het dit omtrent ’n blanko tjek gegee vir die “magtiges en trotses” om die swakkes en die kwesbares uit te sluit – juis daardie mense waaroor die kerk die meeste bekommerd moet wees. Soos hy dit gestel het, is die verwerping van gelykstelling, “daardie verskriklike, geheime woord wat deur soveel as die grootste van alle euwels beskou word”, nou as ’n riglyn in die kerklike organisasie ingevoer.

      Huet het geoordeel dat die kerk ’n veel sterker standpunt teen rassevooroordeel moet inneem as dit nie daardeur oorweldig wil word nie. Hofmeyr was in baie opsigte naïef in sy idealisme. Die wyse waarop die kompromis geformuleer is, het die weg vir rassistiese praktyke geopen. Soos David Botha dit ’n eeu later gestel het: “die vrome bedoelinge van eerlike idealiste” kon nie die mas opkom teen die “gevoelloosheid van die sondiges nie”.

      In 1859 het Hofmeyr en John Murray die eerste professore van die NG Kerk se kweekskool op Stellenbosch geword. Sendingwerk het nou vinnig uitgebrei. Baie van die godsdiensywer en ook die groot godsdienstige herlewing van die vroeë jare sestig is nou in sendingwerk gekanaliseer. As professor het Hofmeyr dikwels sy studente aan die kerk se roeping tot sendingwerk herinner: Christene moet persoonlike verantwoordelikheid aanvaar vir die miljoene heidene wat in Suid-Afrika leef en sterf sonder om gered te word. Hofmeyr het die kerk se sendingbeleid vir die volgende dekades bepaal. Ook die NG Kerk van die Oranje-Vrystaat is in ’n belangrike mate deur hom beïnvloed (sien “Die gees van apartheid”: die NG Kerk se geloof). Hofmeyr se geskrifte toon geen teken dat hy gevoel het dat die kerk ’n verkeerde pad ingeslaan het nie. In werklikheid was die kerk se rigting nog nie finaal bepaal nie. Gedurende die 1870’s het die sinode ernstige oorweging geskenk aan die opname van gemeentes van gekleurde mense wat deur die Rynse Sendinggenootskap gestig is. Dit was nie besware oor ras nie, maar geldelike oorwegings wat dit verhinder het. Die NG Kerk wou veral nie gemeentes opneem wat geen vooruitsig gehad het om finansieel self op die been te kom nie.

      Die patroon wat ontwikkel het, was nie konsekwent nie. By sommige gemeentes het gekleurdes in ’n gestig aanbid wat direk onder die beheer van ’n NG gemeente gestaan het. Ander gestigte het onder die gesag van die sinode se komitee vir binnelandse sending gestaan. Veral in Kaapstad het baie gekleurdes in ’n wit gemeente aanbid. Die sinode van 1857 het St. Stephens, ’n gekleurde gemeente in Kaapstad, aanvaar as ’n gemeente van die NG Kerk.

      Tussen die jare 1878 en 1881 was daar ’n belangrike ontwikkeling. Soos in die geval van die sinodebesluit van 1857 was die dryfkrag agter die besluit nie ’n doelbewuste strewe om kleurskeiding te bevorder nie. Dit was eerder die produk van ’n proses wat in 1878 begin het toe Wellington se kerkraad reëlings getref het om die kerk se gekleurde gemeente, wat deur die Paryse Sendinggenootskap gestig is, in sy geledere op te neem. Die kerkraad het voorgestel dat ’n raad van wit direkteure aangestel word om toesig oor die sendinggemeente te hou. Op tipies paternalistiese wyse het die kerkraad aanvaar dat die bruin gemeente geneë sou wees met beheer deur hul blanke base se kerkraad. Die base sou in elk geval ’n groot deel van die toekomstige fondse verskaf.

      Die predikant van die gekleurde gemeente het onmiddellik beswaar aangeteken. Hy was ds. Jacobus Cornelis Pauw, ’n Nederlandse sendeling, wat die voorafgaande vyftien jaar uitstekende werk gedoen het. Pauw het sy kerkwet geken. Geen gemeente en predikant kon aan ’n ander gemeente en predikant ondergeskik wees nie. Die enigste beheer wat hy sal aanvaar, is die sinode se komitee vir die binnelandse sending, wat ’n hoër gesag in die kerkstruktuur as die Wellingtonse kerkraad verteenwoordig. As daar dan skeiding moet wees, moet dit berus op gelykheid tussen gemeentes binne die liggaam van die kerk, was Pauw se betoog.

      In 1881 het Pauw die leiding geneem toe vier sendinggemeentes besluit het om die NG Sendingkerk te stig. Pauw en sy kollegas wou slegs ’n organisatoriese probleem oplos, wat daaruit gespruit het dat geen band die verskillende gekleurde gemeentes en gestigte in die NG Kerk aan mekaar verbind het nie. Die dryfkrag vir hierdie stap het nie uit die NG leierskap self gekom nie, hoewel sy sinode van 1880 die wetlike grondslag verskaf het vir die stigting van ’n sendingkerk. Geen alternatief vir die stigting van ’n sendingkerk is oorweeg nie. De Christen, wat daardie tyd die lyfblad van die NG Kerk was, het die mening uitgespreek dat die kerk nog nie ryp is om kleurlinggemeentes as gewone NG gemeentes op te neem nie, maar dit was slegs die mening van die redakteur.

      Twee feite het die skeidingsproses bevorder. Vir eers was daar die begeerte van sommige kerkrade om van hul gekleurde lidmate ontslae te raak. Party kerkrade het hul gekleurde lidmate opdrag gegee om die sakramente in die gestig te ontvang. Die polarisasie het ná die Anglo-Boereoorlog versnel, toe die Afrikaners en die gekleurdes in baie distrikte aan verskillende kante was.

      Die ander dryfkrag was die wens van gekleurde mense om weg te kom van die diskriminasie wat hulle in die wit gemeente ervaar het. Sommige gekleurde mense in gevestigde kerke het ’n behoefte aan ’n aparte gemeente gehad waar hulle verkies kon word tot diaken en ouderling en self predikant kon word. Een van die vier stigters van die Sendingkerk in 1881 was ds. Ruytenbeek, ’n Hollandse predikant van die gemengde gemeente Wynberg. Hy het implisiet erken dat baie kleurlinglidmate na die kantlyn geskuif is deur op te merk dat hy in die nuwe sendinggemeente baie lidmate vir die eerste keer in agtien jaar leer ken het en dat hy verheug is oor die kwaliteit van die mense wat tot die kerkraad verkies is.

      Daar was geen teenstand of openbare protes teen die stigting van die Sendingkerk nie. Dit sou in elk geval baie jare duur voor die groot meerderheid van die kleurlinggemeentes daarby sou aansluit. Die ZAZG het dit eers in 1937 gedoen. As ’n belangrike finansiële skenker het die NG Kerk tot 1975 ’n vetomag oor veranderings in die Sendingkerk se grondwet behou.

      Die NG Kerk het reeds in die derde kwart van die negentiende eeu ’n rigting ingeslaan wat verskil het van dié in die vernaamste Engelstalige kerke in die Kaapkolonie. In dié kerke was daar ook afsonderlike gemeentes vir wit en swart, maar skeiding is nooit onbuigsaam opgedwing nie en die kerkeenheid het bewaar gebly. Anders as in die NG Kerk, was daar geen groot getalle slawe-eienaars en hul nasate onder die lidmate nie, mense wat sterk op die eerbiediging van statusverskille sou aandring. (Die Britse setlaars van 1820 is verbied om slawe te besit.)

      In die suidelike state van die Verenigde State van Amerika was die kerklike toestand soortgelyk aan dié in die NG Kerk. Hier het die swart mense ná die vrystelling van die slawe in 1864 in groot getalle die oorheersend wit kerke verlaat en hul eie kerke gestig. Die wit geestelikes het min gedoen om dit te verhinder en baie het dit aangemoedig. Selfs die Rooms-Katolieke biskoppe het in 1866 besluit dat aparte kerke waar moontlik vir swart Katolieke gebou moet word. In Brasilië, in die grootste Katolieke Kerk in die Europese kolonies, is rasseskeiding nooit toegepas nie en het die kerk verenig gebly. Die Katolieke Kerk se hele organisasie was so sterk hiërargies dat daar geen