Название | Die Afrikaners |
---|---|
Автор произведения | Hermann Giliomee |
Жанр | Историческая литература |
Серия | |
Издательство | Историческая литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624050759 |
Die negatiewe indruk wat deur Philip en die kommissarisse geskep is, het die imperiale regering tot die slotsom laat kom dat die bestaande instellings nie aangepas kan word nie, maar dat hulle wortel en tak uitgeroei moet word. Tussen 1825 en 1834 het die regering feitlik ’n revolusie in die ekonomiese beleid, die administrasie en die regspraak van stapel gestuur. Op die kommissarisse se aanbeveling het die regering al die ou monopolieë afgeskaf wat slagters, bakkers, wynhandelaars en vendusiemeesters in die Kompanjiestyd geniet het. Hulle het ook baie van die ou huurgelde, tiendes en spesiale belastings beëindig. In die plek hiervan het hulle ’n vrye mark en vryhandel ingestel.
Die ou handelsklas van die Kompanjiestyd het vinnig veld verloor teenoor Engelssprekende handelaars, wat die vrye mark veel beter geken het en goeie handelsbetrekkinge met Engeland gehad het. Op die ou end het Britse vervaardigers, Britse rederye en Britse handelaars in die kolonies verreweg die meeste voordeel uit vryhandel getrek. Vir die Kaap het vryhandel aanvanklik lae tariewe op sowel Kaapse wyn in Brittanje as Britse invoere na die Kaap beteken, maar ná 1825 het eersgenoemde voordeel verdwyn. Brittanje self het vryhandel egter eers as beleid aanvaar nadat sy ekonomie die moeilikste groeifase agter die rug gehad het.
Die Britse bewind aan die Kaap het ook ’n nuwe regstelsel ingestel. Dit het die Raad van Justisie afgeskaf en in die plek daarvan ’n hooggeregshof ingevoer. Die regters sou almal uit die Britse balie aangestel word en alle regters moes hul graad in Engeland behaal. Die strafreg is nou op die Engelse regstelsel gebaseer. Die regering het ook aangekondig dat hy van plan is om die administrasie van die kolonies en die hofverrigtinge so gou as moontlik te verengels (sien Die vestiging van Engelse kultuur en Britse setlaars).
As deel van die administratiewe hervormings het die imperiale regering die kolleges van landdroste en heemrade en die Burgersenaat, wat ’n soort stadsraad vir Kaapstad was, afgeskaf. Laasgenoemde liggaam se funksies is oorgedra aan twee Britse amptenare totdat ’n vorm van munisipale regering in 1837 ingestel is. In die plek van die kolleges van landdroste en heemrade is twee amptenare aangestel: ’n resident-magistraat om regterlike funksies te vervul en ’n siviele kommissaris vir die administrasie van die distrik. Die veldkornette is behou, maar het hul regterlike funksies verloor.
Die enigste wyse waarop die imperiale regering die outokratiese regeringsvorm van die Kaap versag het, was ’n Raad van Advies, wat die arbitrêre optrede van lord Charles Somerset as goewerneur aan bande moes lê. Die hoofregter en die vernaamste siviele amptenare sou dien in dié raad, wat proklamasies en noodmaatreëls van die goewerneur kon hersien.
Al hierdie hervormings is van buite af opgedwing aan die burgers, wat nou feitlik geen vorm van verteenwoordiging gehad het nie. Die historikus Eric Walker het geskryf dat die hervormings groter doeltreffendheid teweeggebring het, maar dat die prys ’n amper totale gebrek aan deelname in die bestuurstelsel was.
Stockenstrom, die liberaalste Afrikaner, het hervorming sterk bepleit, maar dit was vir hom van die grootste belang dat daar breë aanvaarding daarvoor onder die burgers moes wees. Hy het dit as ’n groot flater beskou dat die kolleges van landdros en heemrade afgeskaf is, want die regering kon die burgergemeenskap die heel beste beïnvloed deur hierdie liggame te gebruik. Hy het later geskryf dat van die oomblik dat hulle verdwyn het “[all] confidence between the Government and the masses ceased, and many of the evils which have retarded our advancement and disturbed our peace may be traced to misunderstandings which the executive had not the means nor the channels of clearing up”.
Hand aan hand met hierdie hervormings het die kernidee van “progress” of vooruitgang gegaan. Die vertrekpunt was die veronderstelling dat die aanwending van rasionele denke en wetenskaplike ondersoek mense sou bevry van die kettings van bygeloof en tradisie. Dit was ’n soort sekulêre godsdiens. Elkeen wat as progressief beskou wou word, moes geesdriftig die vrye mark, vryhandel en private onderneming as deel van sy wêreldbeskouing aanhang. Dit is as vanselfsprekend beskou dat hy goed Engels moes kan praat. Progressiewe mense het neergesien op die burgers se beswaar teen gelykstelling op grond van hul burgerstatus, wat amptelik nie eens meer bestaan het nie. Hulle het dit as oudmodies en agterlik beskou en ’n klasseonderskeid as die enigste geregverdigde vorm van differensiasie aanvaar.
Vooruitgang vereis goeie inligting, waarvoor ’n vrye pers noodsaaklik was. In 1824 het twee Britse setlaars, John Fairbairn en Thomas Pringle, The South African Commercial Advertiser, die eerste Kaapse koerant, gepubliseer. Dieselfde jaar het ’n Hollandse tydskrif, Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (NZAT) onder die redaksie van Abraham Faure, predikant van die NG Kerk, verskyn. Faure het saam met Fairbairn en Pringle geveg teen die poging van die goewerneur, lord Charles Somerset, om die pers aan bande te lê. Teen 1827 was die stryd gewen. Die pers kon oor die politiek debatteer en krities verslag doen oor regeringsoptrede.
Die Britse handelaars aan die Kaap se belangrikste stem was Fairbairn en sy South African Commercial Advertiser. Die meeste handelaars het slawerny verwerp en wou hê dat die Khoisanarbeiders vry moes wees om kontrakte te sluit. Die handelaars het ’n nuwe ekonomie bepleit gebou op vrye handel en ’n vinnig uitbreidende verbruikersmark in die binneland, wat ook die inheemse mense betrek.
Fairbairn het kort ná sy aankoms in die kolonie in Philip se kringe begin beweeg en met sy dogter getrou. Hy het die credo van die nuwe handelsbelange goed geformuleer: “To stimulate Industry, to encourage Civilization, and to convert the hostile Natives into friendly Customers is a more profitable speculation than to exterminate or reduce them to slavery.”
Die bevryding van die Khoisan
Ordonnansie 50, wat in 1828 aangeneem is, het die Khoisanmense formeel op ’n gelyke voet met die burgers geplaas. Dit was ’n merkwaardige prestasie en hoofsaaklik die werk van twee individue, Philip, ’n Skotse sendeling, en Stockenstrom, ’n Afrikaner wat in die kolonie grootgeword het. Min ander koloniale samelewings in die wêreld het in so ’n vroeë stadium gedwonge arbeid by wyse van wetgewing afgeskaf en vrye arbeid en nierassigheid ingestel.
Die twee manne het in die jaar voor die ordonnansie sonder kontak met mekaar gewerk met dieselfde doel voor oë. Philip was in 1828 in Londen en het al sy invloed in filantropiese kringe gebruik om druk op die imperiale regering te plaas. Stockenstrom was in die kolonie en het plaaslike kanale gebruik. Hy is in Junie 1827 aangestel as lid van die Raad van Advies nadat dié liggaam vergroot is sodat twee lede van buite die amptenarekorps kon bykom. In 1828 het generaal-majoor Richard Burke hom in die pas gestigte pos van kommissaris-generaal vir die oostelike provinsie aangestel.
Stockenstrom het drie jaar tevore, toe Philip sy gas in Graaff-Reinet was (sien “Streng en gelyke geregtigheid”: Stockenstrom se beginsel), opgemerk dat alle ordentlike boere saamstem dat die Khoisanmense hul grond wreed ontneem is en swaar onder wetlike vorme van diskriminasie gebuk gaan. In ’n memorandum aan Burke het hy ’n wet gevra “embracing all free inhabitants without reference to colour or name of the tribe”. Die Raad van Advies het op eie houtjie op 17 Julie 1828 die maatreël wat Stockenstrom aanbeveel het, aangeneem. Die Britse parlement het dit die volgende jaar bekragtig. Philip se groot bydrae was die imperiale regering se besluit dat die ordonnansie nie sonder die Britse koning se toestemming verander kon word nie.
Stockenstrom het ordonnansie 50 beskryf as ’n maatreël wat “elke vrye ingesetene in die kolonie op dieselfde vlak plaas in die oë van die wet, wat betref persoonlike vryheid en die sekuriteit van hul eiendom”. Dit het alle diskriminerende maatreëls wat die Khoi-Khois aan bande gelê het, afgeskaf. Dit het al die proklamasies van die jare 1809-1819 herroep en daarmee die dra van passe en die inboek van Khoisankinders beëindig. Dit het werkgewers verbied om lyfstraf toe te dien of om veediewe self te straf.
Stockenstrom was ’n voorstander van ’n wet teen leeglêery, omdat dit daarsonder moeilik sou wees om veediefstal te verhoed. Stockenstrom het van die Khoi-Khois gesê: “They should be made to work unless they can prove that they can live without it, and in this respect they should be closely watched, for in a country where property, particularly large flocks of sheep and cattle, are so much exposed, it is easy to live by theft.”
Hy het ook die uitspraak verwerp dat die boere gegrief is